Jesaja 43:1-7 – Jy is kosbaar in God se oë; jy behoort aan Hom

3 Januarie
In die volgende agt weke fokus ons steeds (met enkele uitsonderings) op die betekenis van Jesus Christus se “Godsverskyning”, sy Epifanie. Al die beloftes in die Bybel, soos ons reeds gesien het, is vervul, en kry hulle vervulling in die Seun van God (2 Kor 1:20). Hy is die spilpunt van God se belofte, die opsomming van alles wat God verkondig en voorsien het in die skepping en geskiedenis van hierdie wêreld vir die mensdom. En Hy sal ook die spilpunt van die nuwe skepping wees wat gebaseer is op God se belofte. In Hom hou al die beloftes stand: verlede, hede en toekoms. Ons fokus dus op Hom tot en met die verhaal van sy Verheerliking op die Berg (27 Februarie 2021), waarna die Lydenstyd ‘n aanvang sal neem (wat natuurlik steeds met Hom te make sal hê!).
Jesaja 43:1-7 – Jy is kosbaar in God se oë; jy behoort aan Hom
1“Maar nou,” so sê die Here, jou Skepper, Jakob, die Een wat jou gevorm het, Israel, “moenie bang wees nie, want Ek het jou losgekoop, Ek het jou op jou naam geroep – aan My behoort jy. 2As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie. 3Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou verlosser. Ek gee Egipte as jou losprys, Kus en Seba gee Ek in jou plek. 4Omdat jy kosbaar is in my oë, geëer is, omdat Ek die Een is wat jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. 5Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Uit die ooste bring Ek jou nageslag, uit die weste maak Ek jou bymekaar. 6Ek sê vir die noorde, ‘Gee!’ en vir die suide, ‘Moenie gevange hou nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af. 7Elkeen wat na my Naam genoem is – tot my eer het Ek hom geskep, hom gevorm, ja, hom gemaak.’ ”
Jesaja 43 is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. Daar is soveel beloftes hierin opgesluit, selfs net in die Name en beskrywings van God wat Jesaja hier gebruik: Skepper, Formeerder, Losser, Heilige, Verlosser, Liefhebber, ensomeer. Elke Naam van God is ten diepste ‘n belofte. Nie net vir Israel nie, maar vir elkeen wat sy Naam aanroep. En jy kan daarop staatmaak dat Hy altyd in ooreenstemming met sy Naam en die talle beskrywings van Hom sal optree.
‘n Mens luister natuurlik in die eerste plek na hierdie beloftes uit die hoek van ’n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor. Maar die wonderlike boodskap daarvan inspireer ‘n mens om dieselfde van God te verwag in jou eie situasie. As God hierdie verstote ballinge uitgekies het om aan hulle liefde te bewys en hulle bymekaar te maak, dan kan Hy dit ook vir jou doen in jou eie verlatenheid. As Hy belowe om die ballinge in ‘n Tweede Eksodus uit alle windstreke weer terug na die Beloofde Land te bring, kan Hy ook jou vasgevalde situasie omkeer, want die vervulling van hierdie beloftes sal juis ‘n getuienis wees aan alle nasies wat sal moet erken dat God sy mense werklik liefhet. Die getuienis is ook bedoel om die nasies tot inkeer te bring om self ‘n verbintenis aan hierdie Beloftegewer te maak.
Let ook op dat dit alles in die eerste persoon geskryf is. Jy kan “Ek” twaalf keer net in hierdie sewe verse alleen tel. God self staan dus in vir sy beloftes. Dit is genade; dat Hy jou op jou naam geroep het; dat jy aan Hom behoort; dat Hy by jou is deur gevare; dat jy kosbaar is in sy oë; dat jy tot sy eer geskep is. Niemand kan dit van jou wegneem nie. God self staan in vir hierdie beloftes ook aan jou.
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-42-43-die-dienaar-van-die-here-leer-mense-om-god-te-ken/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar