Lukas 6:20-26 – Ons beloning in die hemel is groot
Lukas 6:20-26 – Ons beloning in die hemel is groot
20Toe het Hy sy oë op sy dissipels gerig en gesê: “Gelukkig is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle. 21Gelukkig is julle wat nou honger ly, want julle sal versadig word. Gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag. 22Gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en verstoot en uitskel en julle name deur die modder sleep ter wille van die Seun van die Mens. 23“Wees bly op daardie dag, en spring op van vreugde, want kyk, julle beloning in die hemel is groot. Hulle voorvaders het immers die profete net so behandel. 24“Maar wee julle wat ryk is, want julle het reeds julle troos weg. 25Wee julle wat nou versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. 26Wee julle wanneer al die mense net goed van julle praat, want hulle voorvaders het die vals profete net so behandel.”
Jesus is steeds besig om met die dissipels te praat ná die gesprek op die berg (die Bergrede – Matt 5-7). Sommige noem dit daarom die Vlakterede, want Jesus staan hier op ‘n gelyk plek (vgl vers 17). Hierdie keer met ‘n groter skare mense wat inluister. Dis is duidelik in hierdie gedeelte dat Jesus elkeen beloon wat bereid is om te luister na sy woorde EN dit te doen. Dit is waarom daar aan elke saligspreking ‘n belofte gekoppel is. Soos ons bereid is om te doen wat Hy vra, só is Hy bereid om ons daarvoor te beloon
Jesus spel vier gevolge uit wat getrouheid aan Hom en sy boodskap – luister en doen – vir hulle sal inhou, maar koppel dit ook telkens aan die loon wat Hy uiteindelik vir hulle in die hemel sal gee. In die eerste plek laat Hy die armes onder hulle die koninkryk van God erf, dié wat ter wille van Jesus nie rykdom nagejaag het nie, of van hulle besittings beroof is. Die koninkryk is hulle s’n, die enigste ware rykdom wat vir ewig sal hou (vgl Hebr 10:34). In die tweede plek sal Hy dié versadig wat nou honger het. Dit sluit natuurlik die honger na geregtigheid in, maar die fokus is sterker op die fisiese honger weens hulle getrouheid aan die Here (vgl 1 Kor 4:11; 2 Kor 6:5; 11:27; Fil 4:12). In die derde plek sal Hy dié vertroos wat nou hartseer is. Dit sluit ook die hartseer oor die verval in die wêreld in, maar die fokus is ook sterker op die hartseer oor dinge wat verkeerd loop, in hulle lewens weens hulle getrouheid aan die Here, sowel as in ander s’n weens hulle onvermoë om die goeie nuus in Jesus raak te sien (vgl Paulus se hartseer oor die Jode – Rom 9:2). In die vierde plek sal Hy dié beloon wat nou gehaat, verstoot, beledig en verag word ter wille van Hom. Trouens, Hy beveel hulle om verheug te wees en van vreugde op sulke tye te spring, want dit dra die boodskap dat hulle loon groot is in die hemel. Dit is immers presies wat die Jode met die profete in die verlede gemaak het. Hulle is dus in groot geselskap. Die teendeel is waar vir rykes, versadigdes, laggendes en dié waarvan ander mense net goed praat. Hulle het hulle loon reeds in hierdie lewe weg.
Ons moet twee aspekte van hierdie boodskap ter harte neem. Die een is dat geluk in die koninkryk van God nie direk eweredig is aan geluk in die wêreld nie. “Wealth is no mark of God’s favor. Poverty is no mark of God’s displeasure.” (JC Ryle). Trouens, dit is soms juis dié wat hartseer in hierdie wêreld beleef wat regtig gelukkig is. Veral as ‘n mens dit uit die perspektief van die hiernamaals beskou. Soos Jesus dit hier vir ons onderstreep. Die ander is dat daar regtig beloning is vir dié wat nou arm, honger, hartseer of verag is. Daar is niks wat ‘n mens in die navolging van die Here Jesus ly wat nie deur Hom raakgesien word en direk beloon sal word nie. Soms is daardie beloning al in hierdie lewe midde in die lyding (Mark 10:20), maar meer gereeld is dit in die hiernamaals (Luk 12:33; vgl ook die boodskap aan die ryk jongman – Luk 18:22). Die nadeel van beloning in hierdie lewe is dat dit altyd tydelik is. Die voordeel van beloning in die lewe hierna is dat dit vir ewig is. Laat dit jou vandag bemoedig en versterk.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-61-49-luister-en-leef/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar