Skip to main content

1 Petrus 4:12-19 – As jy ter wille van Christus beledig word, rus die Gees van God op jou

11 Februarie

1 Petrus 4:12-19 – As jy ter wille van Christus beledig word, rus die Gees van God op jou

12Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer ‘n vurige beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie; 13wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. 14As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. 15Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; 16as iemand egter ly omdat hy ‘n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam. 17Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? 18Want: “As die regverdige beswaarlik verlos word, wat sal van die goddelose en sondaar word?” 19Dus moet ook hulle wat, in ooreenstemming met die wil van God, ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.

In die verdere ontwikkeling van Petrus se lering oor geestelike groei fokus hy nou op die interne en eksterne uitdagings wat hierdie geloofsgemeenskappe in die noorde van die hedendaagse Turkye sal moet trotseer. Hulle sal vervreemding ervaar beide in terme van die verleiding van hulle eie menslike begeertes sowel as in die versoekings van ‘n samelewing wat losbandig lewe. Selfs wanneer hulle dié verleiding en versoeking weerstaan, sal dit egter nie die druk van hulle afhaal nie. Vurige beproewings en lyding – net omdat hulle Christene is – is deel van die pad van verlossing wat vir hulle voorlê. ‘n Belangrike aspek van hulle standvastigheid lê daarom in hulle insig in die redes vir en doel van hierdie tipe lyding. Hy stel hulle gerus dat dit nie iets vreemds is nie. Trouens, die lyding is ‘n teken van God se seën wat op hulle rus. Hoekom? Want, die Here belowe dat onregverdige lyding: “ter wille van Christus se Naam”, óf doodgewoon die feit dat iemand ly: “omdat hy ‘n Christen is”, by sal dra tot die verheerliking van God se Naam.

Die 1983-vertaling het in vers 19 die lyding geïnterpreteer met die vertaling as dat dit gebeur: “omdat God dit wil“. Dit kan egter beter vertaal word as: “vanweë God se wil”, of soos die 2020-vertaling dit het: “in ooreenstemming met die wil van God.” Dit gee ‘n ander betekenis aan die lyding wat meer hoopvol is. Dit is nie soseer dat God besluit dat ons moet ly nie. Petrus verwys immers hier na lyding omdat ons God se wil doen. As ons weet dat ons aan God gehoorsaam is, hoef ons nie op sulke lyding met aggressie te reageer nie. Ons kan doodgewoon voortgaan om God se wil te doen, terwyl ons ons lewe aan God toevertrou en veral aanhou om goed te doen! Dit is immers hoe Jesus dit gedoen het. Wanneer ons dus ly vir sy Naam, volg ons sy voorbeeld, en het ons deel aan sy lyding. Ons dra dus die lyding namens Hom. Op ‘n paradoksale manier bewys die lyding ter wille van Christus dat dieselfde Gees van heerlikheid wat op Christus gerus het, ook op ons rus.

Petrus draai egter nie doekies om nie. Om God se wil te doen en daarin te volhard, is nie kinderspeletjies nie. Dit vra vashou en vasbyt. Wat ons bemoedig in dié uitdagende opdrag is die volgende. In die eerste plek die sekerheid van wat God wil. Waar ons seker is van ons roeping, help dit ons om gefokus te bly (1 Pet 4:1-6). In die tweede plek help dit dat ons mekaar nie net bedien met ons gawes nie – met woorde van God en vanuit die krag van God – maar mekaar ook só lief sal hê dat ons ‘n genadige ruimte vir mekaar skep om die Here te kan bly dien, selfs al struikel ons ook vele kere (1 Pet 4:7-11). In die derde plek inspireer die voorbeeld van Christus ons om aan God gehoorsaam te bly en nooit op te hou om goed te doen nie, selfs al ly ons juis omdat ons God se wil doen óf net omdat ons die naam Christen dra (1 Pet 4:12-19).

Lees meer: https://bybelskool.com/1-petrus-4-bo-alles-moet-julle-mekaar-innig-liefhe/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar