Sagaria 3:1-4:14 – Sagaria se visie op die leiers wat God se plan uitvoer
Onthou wat op die spel is in die stad Jerusalem. Haggai het ‘n nuwe motivering gebring met sy vier profesieë ‘n skrale ses maande voor hierdie gesigte van Sagaria. Haggai het ook spesifiek met die leiers gepraat en hulle geïnspireer om voor te vat en leiding te neem om die tempel te herbou. Maar net die fondamente is al gelê, en dit sou nog 4 jaar neem om die projek af te handel. Die werk was nog baie en die pad na die einde nog lank en swaar.
Daarom gee die Here vir Sagaria hierdie twee volgende visioene, die een gemik op die geestelike leier in die tempel, Jesua die hoëpriester, en die ander gemik op die politieke leier, Serubbabel die goewerneur. Niks minder as God se teenwoordigheid in die tempel en in die aanbidding van Juda is op die spel. Sy teenwoordigheid in die gemeenskap en in die wyse waarop die volk teenoor mekaar en teenoor die ander nasies optree, hang tot ‘n groot mate af van dié twee leiers. Jesua en Serubbabel is dus van kardinale belang in die herbou van die geloofsgemeenskap sowel as die breër gemeenskap van Jerusalem en Juda.
3:1-10 – ‘n Gereinigde Jesua kry die verantwoordelikheid vir God se heiligdom
Die eerste gesig aan die leiers – die vierde gesig dié nag – is bedoel vir Jesua. Soos Aäron eenmaal met die inwyding van die tabernakel in die woestyn gereinig is (Eks. 29), só doen die Here dit hier ook met Jesua. Maar, soos die geval was ook met vorige priesters, is die reiniging nie net iets wat persoonlik is nie. Jesua word gereinig as teken daarvan dat die volk deur God vergewe en gereinig word.
Dié vergifnis is ‘n baie belangrike deel van die herstel van die teenwoordigheid van God in die midde van die volk, want hulle is immers weens hulle sonde uit die land gesit met die ballingskap. Die Satan se aanklag moet dus deur die reinigende handeling van God getroef word. Daarom word Jesua skoon klere aangetrek. Sagaria is só opgeneem in die visioen dat hy ook voorstel dat Jesua ‘n nuwe tulband op die kop kry.
Dié visioen lei dan tot ‘n profesie wat messiaanse trekke kry. Aan die een kant belowe die Here dat Jesua nou sy teenwoordigheid in die tempel kan fasiliteer vir die volk. Hy sal nie net die nodige gesag hê om sy verantwoordelikheid na te kom nie. Hy sal ook vrye toegang hê tot God om vir die volk in te tree. Voorwaar ‘n besondere belofte.
Aan die ander kant sien Sagaria ook verder. Hy gebruik twee metafore:
- God gaan sy dienaar “Loot” (takkie) stuur wat as Messiaanse Koning sal optree (vgl. Jes. 11; Jer. 23).
- God gaan ook ‘n “klip” (vgl. Ps. 118:22: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” wat deur Paulus met Christus en die kerk verbind word in Ef. 2:19-22 ) met sewe oë (prentjie van God se alwetendheid en universele heerskappy soos ook in Sag. 4:10) en ‘n graveersel waarop die boodskap aangebring word dat God die sonde van hierdie land “op een dag gaan wegneem”.
Daardie dag sal die vredesryk van God ‘n aanvang neem met die mense wat: “weer rustig oor en weer na mekaar roep onder die wingerdstokke en die vyebome.”
Die boodskap hiervan moes Jesua inspireer om sy posisie in te neem as God se gesagsdraer en intersessor in die geestelike bediening in die geloofsgemeenskap. Let op dat dít ook ‘n getuienis vir die toekoms is: “van iets wat kom”. Nuwe Testamenties dui dit op die verlossingswerk van die Here Jesus Christus wat as “Loot” en “klip” die verlossing vir die hele geloofgemeenskap gebring het. In Sagaria 8 sal die betekenis van dié boodskap verder uitgespel word.
4:1-15 – ‘n Begeesterde Serubbabel kry die belofte dat hy die tempel sal kan klaarmaak
Die tweede gesig aan die leiers – die vyfde gesig dié nag – is bedoel vir Serubbabel. Dit lyk asof Sagaria ‘n bietjie geslaap het voor die engel hom weer wakker gemaak het om verder te sien-hoor wat die Here vir hom wou wys-sê. Hy was egter onseker of dit nie miskien ook deel van die visoen was nie.
Hy sien ‘n goue kandelaar (menora) met sewe arms – die klassieke prentjie van die geloofsgemeenskap (vgl. Openbaring 1-3) – en twee olyfbome – simbole van die twee leiers, godsdienstig en polities – regs en links.
Die boodskap van die visioen – veral die kandelaar deel – word in die eerste rondte deur die engel as volg uitgespel:
- Eerstens sal Serubbabel nie met mag en krag slaag nie, maar deur God se Gees (vers 6). Soos die olie in die bak die lamppitte voed om lig te gee, só doen die Gees dit in sy mense.
- Tweedens verseker die Here vir Serubbabel dat hy die werk sal klaar maak. Die werk wat, metafories, soos ‘n berg voor hulle staan, sal “voor Serubbabel ‘n gelykte word”. Trouens: “As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: ‘Mooi, mooi!’” Soos dit inderdaad vier jaar later gebeur het in 516 v.C.
- Derdens sal die herboude tempel ‘n teken wees dat God se woord deur Sagaria eg was. Die volk sal dan weet dat hulle die: “dag van klein dingetjies”, nie gering moet ag nie. Die blydskap sal toeneem soos die bouwerk vorder. Dat daar nou net fondamente lê, moet hulle op geen manier ontmoedig nie.
Sagaria gee ook tussen-in ‘n verklaring vir die vorige visioen van die sewe oë, waarskynlik om seker te maak mense verstaan dit reg. Dit dui op God se alomteenwoordigheid.
Die boodskap van die visioen – die twee olyfbome – word in die tweede rondte verder deur die engele verklaar. Daar kom ook ‘n bietjie meer detail van die visioen by met die beskrywing van twee bondels olyftakkies langs twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom wat waarskynlik die oliebak voed.
Dié twee olyfbome dui op die twee gesalfdes wat: “in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.” ‘n Mens dink onmiddellik aan die twee gesalfdes wat ook in Openbaring 11 vermeld word, maar in die konteks dui dit hier eerstens op die twee leiers, Jesua en Serubbabel – letterlik “seuns van olie”, d.w.s. gesalfdes soos dit telkens met die bevestiging van die hoëpriester en die koning uitgevoer is. Jesua kom uit die priesterlike lyn en Serubbabel uit die koninklike lyn van Dawid. Hulle is die twee gesalfdes van die Here, die twee olyfbome, wat op politiese en godsdienstige vlak leiding (moet) neem. Saam verteenwoordig hulle die volk by God en God weer by die volk.
Sommige verklaarders interpreteer hulle daarom egter ook as simbole van die priesterlike getuienis (Jesua) en die koninklike getuienis (Serubbabel) van die kerk, soos dit inderdaad ook van die kerk in Openbaring gesê word (1:6; 5:10; 20:6). Ander verklaarders (bv. Du Rand) verbind die twee getuies van Openbaring 11 egter met die getuienis van Moses (wet) en dié van Elia (profete) omdat hulle die twee figure uit die OT bedeling was wat as getuies van Jesus se status as God se Seun op die Berg van Verheerliking opgetree het (Mark. 9:2-8; Matt. 17:1-8; Luk. 9:28-36). Daar het hulle die OT getuienis van die wet en die profete verteenwoordig. Lees meer in my bydrae oor Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis.
Watter interpretasie ook al ‘n mens se voorkeur is, dit is duidelik dat met hierdie visioen die hand van die Here op Jesua en Serubbabel beklemtoon word, sowel as sy verkiesing van hulle om in sy diens te staan.
Boodskap
Sagaria 3 het vir my persoonlik besondere betekenis. Vers 7 was een van my roepingstekste wat my oortuig het tot ‘n bediening in die NG Kerk. Die twee opdragte daarin – verantwoordelikheid neem vir die geloofgemeenskap en om getrou te bly in gebed – bly steed vir my hoekstene van my eie bediening.
Wat ek egter vandag beter verstaan daarvan is die konteks waarbinne dit vir Jesua gemotiveer het om sy verantwoordelikheid na te kom – beide in gesag dra en gebed – om vir die geestelike herlewing van die volk te beplan en te bid. Wat my egter vandag nog dieper tref, is hoe die visioen en die beloftes wat daaraan gekoppel is die bediening van Jesus voorafgaan en beskryf. Hy is werklik die diepste vervulling hiervan.
Sagaria 4 gee ons ‘n diep kykie in God se krag wat deur sy Gees in ons lewe aan die werk is. Dit is gemik op groot dinge – die herbou van die tempel wat soos ‘n berg voor hulle gelê het – maar word bewerk deur die klein dingetjies wat in gehoorsaamheid gedoen word. Sagaria leer ons dat deur te fokus op die stukkie vir stukkie vordering met die werk wat elke dag gedoen word, word alle berge uiteindelik gelyktes. Ook in jou lewe.
View all posts in this series
- Sagaria – Berei julle voor op die koms van die Messias-Koning - Mar 19, 2015
- Sagaria 1:1-2:13 – Sagaria se visie op God wat herstel na buite bring - Mar 20, 2015
- Sagaria 3:1-4:14 – Sagaria se visie op die leiers wat God se plan uitvoer - Mar 23, 2015
- Sagaria 5:1-6:15 – Sagaria se visie op God wat herstel na binne bring - Mar 24, 2015
- Sagaria 7:1-8:23 – Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap trek die nasies na Hom toe - Mar 25, 2015
- Sagaria 9:1-11:17 – Die Messiaanse Koning verenig God se mense met Hom - Mar 26, 2015
- Sagaria 12:1-14:21 – Die Messiaanse Koning vestig God se finale koninkryk - Mar 27, 2015
Nico
Goeiemôre Chris
Nou die dag oor RSG na jou geluister. Ons BS-groepie doen tans ook Sagaria. Ek lees ook hoe NT/Tom Wright skryf oor hoe God koning word. Hoe Jesus die temple vervang in die nuwe bedeling, as ek dit bietjie simplisties kan stel. Verwys “Simply Jesus”.
N.a.v. al die sake besef mens die herbou van die tempel is geskiedenis. Belangrik vir sy tyd, maar dit praat oor ’n era wat verby is. Ons leef in die nuwe skepping/versoening/voortgaande geskiedenis.
Kommentatore verwys na aanhalings in die NT uit Sag om te sê dit is vervulling van dié profesie/sieë.
Tom benader dit vanuit die hoek dat toe Jesus besig was om sy opdrag/missie uit te voer dele uit bv. Sag hom gehelp om te weet hoe om Jerusalem in te ry, op die rug van ’n donkie.
In die sin word die profesie vervul as mens vorentoe kyk en Jesus weet wat om te doen as hy terug kyk. Die groot plan sien. Daar is ’n koppeling. Alles deel van die groot prentjie/plan/verloop.
Ek hoop nie ek lê woorde in NT se mond nie, maar dit is die strekking wat ek kry. Maak vir my as 21e eeuse gelowige sin.
Dankie en seën. Nico
Chris van Wyk
Dankie vir die interessante kommentaar. Leonard Sweet en Frank Viola maak dieselfde punt in hulle boek Jesus, A Theography waarin hulle hierdie verbande, en nog baie meer, tussen die OT en NT uitlig. Dit is vir my ook regtig versterkend vir my geloof. Ek onthou ook ‘n bydrae van Elliot waarin hy die verdere skuif wys van die tempel na die huise van gelowiges as plek waar God teenwoordig is in Lukas-Handelinge. Hy sê die tempel word in die NT: “an alienating form of collective institutional life” terwyl die huise van gelowiges: “a creative form of integrative group life” word. God woon nou in sy mense, soos Paulus later sal skryf in 1 Korintiërs 6:19-20: “Of besef julle nie dat julle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.”
Danielle Steenkamp
Goeiemiddag dominee. Vertrou dit gaan goed. Ek vertrou egter u kan my help.
Ek doen NBI en moet n visie en misoe verklaring skryf. En dit inpas by God se plan om die wereld nuut te maak.
Ek sal hoog op prys stel as u my help asb…
Chris van Wyk
Hi Danielle. ‘n Visie het te make met jou droom vir die wêreld, en ‘n missie met jou doelwitte om daarby uit te kom. Anders gestel: visie het te make met wie jy is of wil wees; missie het te make met wat jy wil doen of wat jou doelwitte is.
Kies daarom vir jou ‘n Bybelteks wat God se plan vir die wêreld uitdruk. Bv Jesus se aankondiging in Lukas 4 wat op Jesaja 61:1-2 berus wat die genadejaar van die Here aankondig, vir armes, blindes, gevangenes en verdruktes.
Ek het net vanoggend ‘n paar woorde daaroor geskrywe. Jy is welkom om dit te gebruik:
Jesus is die Messias wat die Jubeljaar van die Here aankondig
Die woorde uit Jesaja 61 – aangevul met opmerkings oor die herstel van die sig van blindes uit Jes 42:7 – was ‘n beskrywing van die bediening van die Messias. Die visie was dat Hy in die krag van die Gees sal optree om die Goeie Nuus van God se genade te bring aan armes (mense in nood), gevangenes, blindes en verdruktes.
Jesus sal hierdie boodskap later ook aan verlamdes (Luk 5:17-26) bring, sowel as vroue wat in sonde vasgevang is (Luk 7:36-50; 8:2-3), demoon besetenes (Luk 8:26-39), melaatses (Luk 17:11-19) en ryk belastinggaarders, soos Saggeus (Luk 19:1-9). Trouens, aan almal wat genade en genesing nodig het.
Nadat Jesus dié belofteryke gedeelte gelees het, het Hy gaan sit – die normale posisie van ‘n prediker in daardie tyd. Almal se oë was op Hom gerig.
Jesus lewer dan ‘n eenvoudige, maar diepsinnige, preek: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”
Daarmee sê Jesus twee goed van Homself. Dat Hy die Messias is. Dat Hy die Jubeljaar aankondig:
1. Die eeuelange verwagting vir die Messias was verby. Die belofte van God is vervul. Die Messias is hier.
Jesus verklaar dus dat Hy die Messias is deur die teks uit Jesaja 61 op Hom van toepassing te maak. Dié teks funksioneer daarom as ‘n soort roepingsteks vir Jesus, alhoewel dit van talle ander gedeeltes in die profete, trouens van die hele OT, gesê kan word (vgl Luk 24:27).
2. Jesus kondig daarmee ook die genadejaar van die Here aan. Daarmee sluit Hy by die klassieke OT tradisie van die Jubeljaar aan.
Die Jubeljaar
Die tradisie van die Jubeljaar was eintlik die enigste manier waarop armes uit die wurggreep van armoede kon ontsnap. Dit is elke sewende jaar gehou. Daar was ook ’n baie groot Jubeljaar elke 49ste jaar.
Volgens Levitikus 25:9–17 moes die volgende in die Jubeljaar gebeur:
Die Jubeljaar was dus goeie nuus vir armes, slawe, mense met baie skuld, en ander slagoffers van die samelewing en van omstandighede. Die Jubel– of hersteljaar was inderdaad ’n “genadejaar”.
Droom!!! Doelwitte!!! En skryf!!!