Sagaria 7:1-8:23 – Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap trek die nasies na Hom toe

prayer-shawlDit is die 7de Desember 518 v.C. volgens ons jaartelling, ongeveer twee jaar ná Sagaria die agt visioene van die Here af ontvang het. Die herbouing van die tempel is waarskynlik omtrent halfpad. Die mense van die heiligdom Bet-El raadpleeg die Here deur Sagaria om uit te vind of hulle nog moet rou en vas vanweë die ballingskap. In ‘n uitgebreide antwoord wat baie aspekte van hulle verhouding met die Here dek, en waarin sy keuse van Jerusalem en die tempel op Sionsberg duidelik blyk, beveel die Here die hele land om hulle vasdae in feesdae te verander, solank hulle net die waarheid praat, liefde en barmhartigheid sal bewys aan mekaar en reg sal laat geskied sodat daar vrede onder hulle kan heers.

Die impak daarvan sal só groot wees dat dit die nasies nader sal trek aan die Here. Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap sal die nasies inspireer om God saam met die Godsvolk te aanbid. In die proses bemoedig die Here die volk ook om die werk aan die tempel te voltooi, iets wat twee jaar later uiteindelik gebeur het.

Die twee hoofstukke is weereens konsentries opgedeel soos dit die geval was met die agt visioene en fokus dus op die belofte en bemoediging van die Here dat Hy hulle sal help om die herbouing van die tempel klaar te maak (die indeling is gebaseer op Douglas Stuart se insigte):

  • 7:1-3 – Die vraag: Moet ons nog rou en vas vanweë die ballingskap?
    • 7:4-14 – Vasdae sonder gehoorsaamheid aan die Here beteken niks
      • 8:1-8 – Die Here belowe om Jerusalem te herstel as plek van sy trou en geregtigheid
      • 8:9-13 – Die Here praat hulle moed in om die werk aan die tempel te voltooi
    • 8:14-17 – Die Here belowe om goed te wees vir hulle as hulle gehoorsaam is
  • 8:18-19 – Die antwoord: Vasdae sal feesdae word as hulle gehoorsaam bly

Die vraag en antwoord boodskap word afgesluit met ‘n toekomsvisie dat gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap die nasies sal inspireer om God saam met die Godsvolk te aanbid (8:20-23).

7:1-3 – Die vraag: Moet ons nog rou en vas vanweë die ballingskap?

Die mense van Bet-El stuur ‘n afvaardiging om by Sagaria te hoor of hulle nog in die vyfde maand – die maand toe Nebukadnesar se amptenaar Nebusaradan Jerusalem ingeneem het in 586 v.C. (sien 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie) – moet vas om die vernietiging van Jerusalem en die wegvoering na Babel te herdenk.

Bet-El was so 18 km noord van Jerusalem, in die suide van die voormalige noordryk, en ‘n heiligdom wat positief met Jakob (Gen. 28) sowel as negatief met Jerobeam (1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here) geassosieer is. Die versoek het dus meer om die lyf gehad as maar net om die vraag rondom die vas uit te sorteer. Implisiet vra hulle ook of Bet-El die guns van die Here wegdra.

Wat mooi is vir my van die antwoord van die Here, is dat Hy die vraag antwoord, uitvoerig, maar nie negatief oor die vraagstellers of hulle heiligdom reageer nie. Tog is Hy ook duidelik dat Jerusalem die plek is wat Hy uitgekies het en bemoedig daarmee die Jode wat besig was om die tempel te herbou.

7:4-14 – Vasdae sonder gehoorsaamheid aan die Here beteken niks

In die eerste deel van die antwoord van die Here fokus Hy op die feit dat vasdae sonder gehoorsaamheid aan die Here eintlik niks beteken nie. Hy wys in sy reaksie dat Hy weet dat hulle ook in die sewende maand vas – die maand wat die nuut aangestelde goewerneur Gedalja net ná die vernietiging van Jerusalem vermoor is (lees ook hierbo in 2 Kon. 24-25 asook in Jeremia 40:7-41:18 – Juda word verder lamgelê in ’n leierskapstryd). Dié vas, al is dit nou al meer as sewentig jaar dat hulle dit doen, geskied egter nie tot sy eer nie. Hulle doen dit eintlik maar net vir hulleself.

Die Here verwys daarom na die profete wat al van lank vóór die ballingskap al uitgespel het wat die Here van hulle vra. Hy vra van hulle: “Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; 10moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie.” (Sag. 7:9-10).

Die ballingskap het juis gebeur omdat dié eise van die Here nie nagekom is nie. Die volk was moedswillig en het hulle doof gehou vir die wil van die Here. Geen vasdag sal dié situasie omkeer as dit nie met gehoorsaamheid gepaard gaan nie. Daarom het die pragtige land ‘n verwoeste wêreld geword.

8:1-8 – Die Here belowe om Jerusalem te herstel as plek van sy trou en geregtigheid

Die Here se verkiesing van Jerusalem word egter téén sy aanklag van hulle ongehoorsaamheid gehandhaaf: “Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom.” Die Here se liefde vir sy mense triomfeer altyd in sy oordeel. Trouens, sy oordeel geskied vanuit sy liefde om die situasie van ongehoorsaamheid te herstel.

Daarom verander die Here die lot van Jerusalem en herskep nie net die tempel op die berg van die Here nie, maar herskep ook weer ‘n veilige voorspoedige gemeenskapslewe. Al lyk dit vir die mense van die tyd onmoontlik, is niks vir die Here onmoontlik nie. God sal vir die teruggekeerdes ‘n God wees en hulle vir Hom ‘n volk, presies wat die verbondsluiting lank gelede bedoel het. Hy sal sy trou en geregtigheid aan hulle bewys, uiteraard as aanmoediging dat hulle self in trou en geregtigheid sal wandel, soos die vorige deel uitgespel het.

8:9-13 – Die Here praat hulle moed in om die werk aan die tempel te voltooi

Daarom dring die Here by die Jode aan om moed te skep en die werk aan die tempel te voltooi, al lê dit soos ‘n berg voor hulle. Die Here se gesindheid het teenoor hulle verander. Daar sal nou voorspoed wees. Hulle hoef nie bang te wees nie. Hulle kan moed skep uit die Here se beloftes.

8:14-17 – Die Here belowe om goed te wees vir hulle as hulle gehoorsaam is

Die Here herhaal wat Hy van hulle verwag, soos in 7:4-14 al uitgespel is. God se bedoeling is nou anders as toe Hy die straf oor Juda gebring het. Hy belowe om goed te wees vir hulle as hulle net gehoorsaam aan Hom sal bly. Dit sluit in hoe hulle teenoor mekaar optree: “16Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. 17Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.

8:18-19 – Die antwoord: Vasdae sal feesdae word as hulle gehoorsaam bly

Die antwoord aan die mense van Bet-El word afgerond deur die aankondiging dat vasdae nou feesdae sal word as hulle maar net gehoorsaam sal bly. Maak nie saak watter gebeure hulle uit die verlede gedenk nie, dit sal dae van vreugde en vrolikheid word, omdat dit in die teenwoordigheid van die Here gevier sal word. Maar dit sluit gehoorsaamheid in, nie uit nie.

8:20-23 – Die nasies sal saam met die Godsvolk die Here in Jerusalem aanbid

In ‘n ongelooflike toekomsvisie – in aansluiting by Jesaja 2 (Geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God) en Miga 4 (Die Here bring verlossing vir die hele wêreld onder sy heerskappy) – skets die Here die moontlikhede wat oopgaan as die Godsvolk regtig gehoorsaam word aan Hom. Die nasies sal met geloof reageer as die Godsvolk hulle net eendragtig en met oorgawe sal toelê op ‘n gehoorsame geloofsverhouding met God en mekaar: “Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.’” (Sag. 8:23). Gehoorsaamheid in die Godsvolk trek die nasies na God toe.

Boodskap

Dit tref my hoe die Here die Godsvolk aan die een kant aanmoedig met sy beloftes as bemoediging om die werk wat Hy hulle gegee het, te voltooi. In hulle geval die tempel. Aan die ander kant is Hy helder in die tipe verhouding wat Hy met hulle wil hê en hoe Hy wil hê hulle met mekaar moet saamlewe.

Sagaria gebruik woorde om dié verhouding met God en mekaar te beskryf wat herinner aan Hosea 12:7 (troue liefde, geregtigheid en wag op God), Miga 6:8 (reg laat geskied, liefde en trou bewys, bedagsaam lewe voor God) en Sefanja 2:3 (vra na en doen die wil van die Here, streef na geregtigheid en nederigheid). Dit begin dus ‘n refrein word in die Twaalf Kleiner Profete.

Die Here vra van hulle, sê Sagaria: “Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; 10moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie.” (Sag. 7:9-10).

Dié boodskap geld vir alle tye. Die toppunt van die boodskap is die toekomsvisie dat die nasies sal reageer as die Godsvolk hulle sal toelê op dié tipe geloofsverhouding met God en mekaar: “Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.’” (Sag. 8:23). Inderdaad. Dit is ook ‘n belofte en bemoediging vir ons eie gehoorsaamheid aan God in ons hele geloofslewe.

Gehoorsaamheid in die Godsvolk trek die nasies na God toe.

Sagaria


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: