Skip to main content

Sagaria 7:1-8:23 – Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap trek die nasies na Hom toe

prayer-shawlDit is die 7de Desember 518 v.C. volgens ons jaartelling, ongeveer twee jaar ná Sagaria die agt visioene van die Here af ontvang het. Die herbouing van die tempel is waarskynlik omtrent halfpad. Die mense van die heiligdom Bet-El raadpleeg die Here deur Sagaria om uit te vind of hulle nog moet rou en vas vanweë die ballingskap. In ‘n uitgebreide antwoord wat baie aspekte van hulle verhouding met die Here dek, en waarin sy keuse van Jerusalem en die tempel op Sionsberg duidelik blyk, beveel die Here die hele land om hulle vasdae in feesdae te verander, solank hulle net die waarheid praat, liefde en barmhartigheid sal bewys aan mekaar en reg sal laat geskied sodat daar vrede onder hulle kan heers.

Die impak daarvan sal só groot wees dat dit die nasies nader sal trek aan die Here. Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap sal die nasies inspireer om God saam met die Godsvolk te aanbid. In die proses bemoedig die Here die volk ook om die werk aan die tempel te voltooi, iets wat twee jaar later uiteindelik gebeur het.

Die twee hoofstukke is weereens konsentries opgedeel soos dit die geval was met die agt visioene en fokus dus op die belofte en bemoediging van die Here dat Hy hulle sal help om die herbouing van die tempel klaar te maak (die indeling is gebaseer op Douglas Stuart se insigte):

  • 7:1-3 – Die vraag: Moet ons nog rou en vas vanweë die ballingskap?
    • 7:4-14 – Vasdae sonder gehoorsaamheid aan die Here beteken niks
      • 8:1-8 – Die Here belowe om Jerusalem te herstel as plek van sy trou en geregtigheid
      • 8:9-13 – Die Here praat hulle moed in om die werk aan die tempel te voltooi
    • 8:14-17 – Die Here belowe om goed te wees vir hulle as hulle gehoorsaam is
  • 8:18-19 – Die antwoord: Vasdae sal feesdae word as hulle gehoorsaam bly

Die vraag en antwoord boodskap word afgesluit met ‘n toekomsvisie dat gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap die nasies sal inspireer om God saam met die Godsvolk te aanbid (8:20-23).

7:1-3 – Die vraag: Moet ons nog rou en vas vanweë die ballingskap?

Die mense van Bet-El stuur ‘n afvaardiging om by Sagaria te hoor of hulle nog in die vyfde maand – die maand toe Nebukadnesar se amptenaar Nebusaradan Jerusalem ingeneem het in 586 v.C. (sien 2 Konings 24-25 – Die Here wou dit nie vergewe nie) – moet vas om die vernietiging van Jerusalem en die wegvoering na Babel te herdenk.

Bet-El was so 18 km noord van Jerusalem, in die suide van die voormalige noordryk, en ‘n heiligdom wat positief met Jakob (Gen. 28) sowel as negatief met Jerobeam (1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here) geassosieer is. Die versoek het dus meer om die lyf gehad as maar net om die vraag rondom die vas uit te sorteer. Implisiet vra hulle ook of Bet-El die guns van die Here wegdra.

Wat mooi is vir my van die antwoord van die Here, is dat Hy die vraag antwoord, uitvoerig, maar nie negatief oor die vraagstellers of hulle heiligdom reageer nie. Tog is Hy ook duidelik dat Jerusalem die plek is wat Hy uitgekies het en bemoedig daarmee die Jode wat besig was om die tempel te herbou.

7:4-14 – Vasdae sonder gehoorsaamheid aan die Here beteken niks

In die eerste deel van die antwoord van die Here fokus Hy op die feit dat vasdae sonder gehoorsaamheid aan die Here eintlik niks beteken nie. Hy wys in sy reaksie dat Hy weet dat hulle ook in die sewende maand vas – die maand wat die nuut aangestelde goewerneur Gedalja net ná die vernietiging van Jerusalem vermoor is (lees ook hierbo in 2 Kon. 24-25 asook in Jeremia 40:7-41:18 – Juda word verder lamgelê in ’n leierskapstryd). Dié vas, al is dit nou al meer as sewentig jaar dat hulle dit doen, geskied egter nie tot sy eer nie. Hulle doen dit eintlik maar net vir hulleself.

Die Here verwys daarom na die profete wat al van lank vóór die ballingskap al uitgespel het wat die Here van hulle vra. Hy vra van hulle: “Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; 10moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie.” (Sag. 7:9-10).

Die ballingskap het juis gebeur omdat dié eise van die Here nie nagekom is nie. Die volk was moedswillig en het hulle doof gehou vir die wil van die Here. Geen vasdag sal dié situasie omkeer as dit nie met gehoorsaamheid gepaard gaan nie. Daarom het die pragtige land ‘n verwoeste wêreld geword.

8:1-8 – Die Here belowe om Jerusalem te herstel as plek van sy trou en geregtigheid

Die Here se verkiesing van Jerusalem word egter téén sy aanklag van hulle ongehoorsaamheid gehandhaaf: “Ek is hartstogtelik begaan oor Sion, Ek het woedend geword vir sy vyande, so begaan is Ek oor hom.” Die Here se liefde vir sy mense triomfeer altyd in sy oordeel. Trouens, sy oordeel geskied vanuit sy liefde om die situasie van ongehoorsaamheid te herstel.

Daarom verander die Here die lot van Jerusalem en herskep nie net die tempel op die berg van die Here nie, maar herskep ook weer ‘n veilige voorspoedige gemeenskapslewe. Al lyk dit vir die mense van die tyd onmoontlik, is niks vir die Here onmoontlik nie. God sal vir die teruggekeerdes ‘n God wees en hulle vir Hom ‘n volk, presies wat die verbondsluiting lank gelede bedoel het. Hy sal sy trou en geregtigheid aan hulle bewys, uiteraard as aanmoediging dat hulle self in trou en geregtigheid sal wandel, soos die vorige deel uitgespel het.

8:9-13 – Die Here praat hulle moed in om die werk aan die tempel te voltooi

Daarom dring die Here by die Jode aan om moed te skep en die werk aan die tempel te voltooi, al lê dit soos ‘n berg voor hulle. Die Here se gesindheid het teenoor hulle verander. Daar sal nou voorspoed wees. Hulle hoef nie bang te wees nie. Hulle kan moed skep uit die Here se beloftes.

8:14-17 – Die Here belowe om goed te wees vir hulle as hulle gehoorsaam is

Die Here herhaal wat Hy van hulle verwag, soos in 7:4-14 al uitgespel is. God se bedoeling is nou anders as toe Hy die straf oor Juda gebring het. Hy belowe om goed te wees vir hulle as hulle net gehoorsaam aan Hom sal bly. Dit sluit in hoe hulle teenoor mekaar optree: “16Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. 17Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here.

8:18-19 – Die antwoord: Vasdae sal feesdae word as hulle gehoorsaam bly

Die antwoord aan die mense van Bet-El word afgerond deur die aankondiging dat vasdae nou feesdae sal word as hulle maar net gehoorsaam sal bly. Maak nie saak watter gebeure hulle uit die verlede gedenk nie, dit sal dae van vreugde en vrolikheid word, omdat dit in die teenwoordigheid van die Here gevier sal word. Maar dit sluit gehoorsaamheid in, nie uit nie.

8:20-23 – Die nasies sal saam met die Godsvolk die Here in Jerusalem aanbid

In ‘n ongelooflike toekomsvisie – in aansluiting by Jesaja 2 (Geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God) en Miga 4 (Die Here bring verlossing vir die hele wêreld onder sy heerskappy) – skets die Here die moontlikhede wat oopgaan as die Godsvolk regtig gehoorsaam word aan Hom. Die nasies sal met geloof reageer as die Godsvolk hulle net eendragtig en met oorgawe sal toelê op ‘n gehoorsame geloofsverhouding met God en mekaar: “Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.’” (Sag. 8:23). Gehoorsaamheid in die Godsvolk trek die nasies na God toe.

Boodskap

Dit tref my hoe die Here die Godsvolk aan die een kant aanmoedig met sy beloftes as bemoediging om die werk wat Hy hulle gegee het, te voltooi. In hulle geval die tempel. Aan die ander kant is Hy helder in die tipe verhouding wat Hy met hulle wil hê en hoe Hy wil hê hulle met mekaar moet saamlewe.

Sagaria gebruik woorde om dié verhouding met God en mekaar te beskryf wat herinner aan Hosea 12:7 (troue liefde, geregtigheid en wag op God), Miga 6:8 (reg laat geskied, liefde en trou bewys, bedagsaam lewe voor God) en Sefanja 2:3 (vra na en doen die wil van die Here, streef na geregtigheid en nederigheid). Dit begin dus ‘n refrein word in die Twaalf Kleiner Profete.

Die Here vra van hulle, sê Sagaria: “Laat reg geskied aan almal, bewys liefde en barmhartigheid aan mekaar; 10moenie die weduwee en die weeskind, die vreemdeling en die arme verdruk nie; moenie bose planne teen mekaar bedink nie.” (Sag. 7:9-10).

Dié boodskap geld vir alle tye. Die toppunt van die boodskap is die toekomsvisie dat die nasies sal reageer as die Godsvolk hulle sal toelê op dié tipe geloofsverhouding met God en mekaar: “Daardie tyd sal uit al die nasies tien man een Judeër aan die klere gryp en sê: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.’” (Sag. 8:23). Inderdaad. Dit is ook ‘n belofte en bemoediging vir ons eie gehoorsaamheid aan God in ons hele geloofslewe.

Gehoorsaamheid in die Godsvolk trek die nasies na God toe.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Sagaria


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.