Sagaria 5:1-6:15 – Sagaria se visie op God wat herstel na binne bring

prayer-shawlHierdie twee hoofstukke bevat die laaste drie gesigte van Sagaria oor die herstel wat God in die geloofsgemeenskap sal bring sowel as ‘n opdrag aan Sagaria om die twee leiers te bemoedig wat die proses sal begelei (6:9-15).

  • Die vlieënde boekrol stel God se optrede teen wetteloosheid, onreg en oneerlikheid, voor (5:1-4).
  • Die graanmandjie se verbanning na Babel stel God se optrede teen goddeloosheid voor (5:5-11).
  • Die strydwaens stel God se beheer oor die wêreld voor as bemoediging vir die volk om met die herstelwerk aan die tempel voort te gaan (6:1-8). Hy sal vrede oral en vir almal bring.

5:1-4 – God belowe dat wetteloosheid uitgewis sal word

Die sesde visioen is van ‘n vlieënde boekrol wat besonder groot is en die vervloeking van wetteloosheid – diefstal en oneerlikheid – wat tot dusver ongestraf gegaan het, voorstel, d.w.s. gevare wat die volk van binne af bedreig. Die Here keer dié situasie om deur hulle in eie munt terug te betaal en onreg en oneerlikheid op dié manier uit te wis. Hy bring die situasie in die land weer onder beheer en herstel die gemeenskap om in harmonie met mekaar te kan lewe.

5:5-11 – God belowe dat goddeloosheid verban sal word

Die sewende visioen is van ‘n vlieënde graanmandjie met ‘n vrou daarin wat die goddeloosheid en sonde van die hele wêreld voorstel. Dié graanmandjie word deur twee ander vroue na Sinar, die vorige naam van Babel (Gen 11), geneem. Goddeloosheid word dus ironies genoeg na Babel verban (vgl. Openb. 18 waar Babel met goddeloosheid vereenselwig word), nie die mense nie! Dit dui op God se mag oor die sonde en sy hantering daarvan in die lewe van dié wat aan Hom behoort. Hy maak sy mense rein en bring hulle in die regte verhouding met Homself.

6:1-8 – Die Here bemoedig die leiers om voort te gaan met die herstelwerk

Die agste en laaste gesig is van vier strydwaens met verskillende kleure perde (bruin, swart, wit, skimmel). Vgl. Openb. 6 wat verwant is hieraan, maar ‘n eie interpretasie gee: Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls. Dié strydwaens trek vanaf God se plek (twee berge van koper wat ‘n voorstelling is van die plek vanwaar die son opgekom het en op God se woonplek dui) in die vier windrigtings. Aan die een kant bevestig God daarmee sy beheer oor die wêreld, maar aan die ander kant ook sy belofte dat hy die goddelose Babel sal uitwis deur die werk van sy Gees.

Dit is ‘n bemoediging vir die volk om met die herstelwerk aan die tempel voort te gaan. God sal vrede skep oor die hele aarde en vir almal. Dit is ook ‘n bemoediging vir alle gelowiges van alle tye dat God uiteindelik die goddeloosheid tot ‘n einde sal bring en sy koninkryk sal vestig vir ewig.

6:9-15 – Sagaria bemoedig die leiers om die werk voort te sit

Die Here gee die opdrag aan Sagaria om ‘n kroon vir Jesua te maak van die geskenke uit Babel wat drie ballinge gebring het. Vgl. die beskrywing van die proses in Esra 1 – God beweeg Kores en die volk om na Juda terug te keer (vgl. ook Eks. 6 waar dieselfde gebeur het). Die drie ballinge se vrygewigheid word daarmee deur die Here op prys gestel: Geldai, Tobija en Jedaja. Josia word in een asem met hulle vereer, wat waarskynlik beteken dat hy ook bygedra het.

Jesua kry daarmee die gesag om vir Serubbael te bemoedig om die werk aan die tempel te voltooi. Hulle is die uitverkore span wat die werk van die Here moet begelei. Let op dat Serubbabel “Loot” genoem word, waarmee hy eintlik as ‘n Messias beskryf word, soortgelyk as in die vierde visioen in hfst. 3, die een wat in hulle tyd uitkoms sal bring.

Dit moes ongelooflik inspirerend gewees het, al was die verantwoordelikheid daarvan ook baie groot. Die belofte was ook dat ander mense sal bykom om met dié werk te help, omdat die leiers en die werk waarmee hulle besig is, hulle daartoe sal inspireer. As hulle net gehoorsaam sal bly, natuurlik.

Boodskap

Dit is opmerklik hoe die laaste drie gesigte telkens ‘n betekenis vir die tyd van Sagaria het, sowel as ‘n betekenis vir latere geslagte. Aan die een kant belowe die Here dat wetteloosheid en goddeloosheid aangespreek sal word, en dat Hy Babel sal straf vir hulle goddeloosheid. Dit gee moed vir die volk om die werk aan die tempel te voltooi en hulleself aan die Here en mekaar te verbind.

Die kroon van gesag wat aan Jesua gegee word – dit is waarskynlik waarom Jesua in die vierde visioen nie vanuit die staanspoor ‘n tulband gekry het nie, hy sou ‘n werklike kroon kry – sowel as die spanwerk wat die Here beveel tussen hom en Serubbabel tref ‘n mens. Die Here gee nie net alles wat nodig is vir die werk wat Hy beveel nie, maar Hy gee ook mense wat die pad saam kan loop!

Aan die ander kant is dit duidelik dat die visioene se boodskap gemik is op ‘n totale en finale uitwissing van wetteloosheid en goddeloosheid. Dit is immers die wêreld se sonde wat in daardie graanmandjie aangetref word en uiteindelik uitgewis word deur dit na Babel te verban en dan Babel uit te wis. Daarop kan ons as gelowiges hoop as ons die wetteloosheid en goddeloosheid wat so gedy in ons eie land en in die wêreld gade slaan.

Ons kan mekaar bemoedig dat God se koninkryk uiteindelik gevestig sal word. Ons kan met mekaar saamwerk om dié werk wat die Here vir ons het – dié tempel wat ook soos ‘n berg voor ons lê, by wyse van spreke – te voltooi. Die Here sal ons die oorwinning laat behaal.

Sagaria


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • Goeiedag Chris

    Ek het hierdie jaar met ‘n leesplan begin om die Bybel in een jaar deur te lees (M’Cheyne).
    Ek het op jou Bybelskool afgekom en is so dankbaar en verwonderd oor die enorme werk wat jy gedoen het met die bydraes oor al die Bybelboeke! Mag jy nog steeds vorentoe uitermate seën ontvang op jou werk!

    Groete en Christusliefde
    Anneke.

    • Hi Anneke. Die Bybelskool was in die eerste plek ‘n uitvloeisel van my eie pad met die Here binne die gemeente. Ek is só bly dat dit vir baie ander gelowiges in die koninkryk iets kan beteken. Aan Hom wat ons roep al die eer.

  • Magdalena van Vuuren

    Goeiedag…. Terwyl ek vanoggend Sagaria lees ‘GOOGLE’ ek paar woorde en plekke om veral verduideliking te verkry oor die 8 gesigte. U pragtige en duidelike uiteensetting aan die einde van Sagaria 6 het my geweldig gehelp om die boodskap daarvan te verstaan. Daar word tans so baie gepraat ook van tempel wat weer gebou gaan word en mense beplan selfs verhuising na Israel.
    Ook dat Israel steeds God se uitverkore volk bly. Ek glo nie dit gaan oor die stad Israel of sy mense nie.
    Openbaring 21:9 vertel my van ‘n nuwe Jerusalem en vers 22 ‘En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie……,,,
    Is ek verkeerd. ?
    Weereens dankie. Seëninge

    • Hi Magdalena – dankie! Jy is nie verkeerd nie. Die fisiese tempel het reeds verdwyn deurdat ons die geestelike tempel van die Heilige Gees is (1 Kor 6) en Openbaring tereg sê dat die fisiese tempel nie meer nodig is nie, want God is volledig daar in die nuwe hemel en nuwe aarde.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d