Skip to main content

Sagaria 12:1-14:21 – Die Messiaanse Koning vestig God se finale koninkryk

prayer-shawlDie tweede deel van Sagaria word afgesluit met ‘n laaste profesie wat die boodskap herhaal dat God sy finale koninkryk vestig deur die Lydende Messiaanse Koning – hfst. 12-14. ‘n Mens is nie altyd seker hoe die onderskeie dele by mekaar pas nie, en die argumentasie binne die perikope is soms moeilik om te volg, maar die breë boodskap is duidelik. God sal sy koninkryk op aarde vestig op só ‘n wyse dat sy teenwoordigheid die sentrum van alles raak, ook die sentrum van die nasies. Die Lydende Messias speel daarin ‘n beslissende rol.

Hoewel ‘n mens die drie hoofstukke ook fyner kan indeel, lees ons dit aan die hand van die volgende vyf perikope:

  • 12:1-9 – God bevry Juda en Jerusalem deur die nasies uit te roei wat hulle aanval
  • 12:9-14 – God bring ‘n gees van welwillendheid en berou deur die impak van ‘n martelaar
  • 13:1-6 – God reinig Jerusalem van hulle sonde en vuilheid
  • 13:7-9 – God suiwer die oorblyfsel deur die impak van die dood van die herder
  • 14:1-21 – Die dag van die Here kom en maak van Jerusalem die sentrum van God se teenwoordigheid

12:1-9 – God bevry Juda en Jerusalem deur die nasies uit te roei wat hulle aanval

Die opskrif van dié gedeelte kan verkeerd verstaan word. Die Profesie word nie “teen” Israel gelewer nie soos dit in die NAV vertaal is nie, maar “oor” Israel soos in die voorgestelde BDV vertaling, sowel as in die OAV en al die Engelse vertalings.

Die Here fundeer sy optrede in dié gedeelte in sy reg as Skepper van alles – beide die stoflike van die hemel en aarde as die gees van die mens. Hy voer sy besluit uit om Juda en Jerusalem te beskerm van die nasies wat hulle sal aanval in die toekomstige dag van die Here. Met treffende metafore word die stryd beskryf – Juda is ‘n bak wyn wat die nasies dronk maak, ‘n rots wat jou rug breek as jy dit probeer optel, ‘n bak vuur onder die hout, ‘n vlam onder die koringare.

Israel sal in die proses besef dat hulle krag in God self lê, en die nasies dat God in staat is om sy volk te beskerm. Selfs die swakste Israeliet sal soos ‘n held uit die verlede optree. Daar sal geen onderskeid wees tussen plattelanders en stedelinge nie. Trouens, hulle sal soos hemelwesens word. Almal wat Jerusalem aanval, sal uitgeroei word.

12:9-14 – God bring ‘n gees van welwillendheid en berou deur die impak van ‘n martelaar

Soos die vyand van buite af die hoof gebied word in die proses, só sal die Here na binne ‘n gees van welwillendheid en berou bring om hulle van binne af te reinig. Die innerlike genesing word verbind aan die impak wat ‘n martelaar op hulle sal hê. Dit is onseker na watter martelaar dit verwys, maar een interpretasie hiervan wat vir my sin maak, is dat die martelaar op God self dui. Hulle het Hom as’t ware metafories doodgemaak of afgeskryf, maar juis Hy verander nou die situasie en bring hulle terug na Hom toe. Dit maak nog meer sin in die lig van die NT wat dié teks aanhaal en as ‘n verwysing na die Here Jesus Christus beskou, soos Joh. 19:37 dit vir ons verklaar aan die hand van die gebeure by die kruis. Deur die kruis bring Jesus lewe selfs vir dié wat Hom deurboor het.

Die treurliedere wat eenmaal met Josia se dood in die Megiddovlakte aangehef is (moontlik op ‘n plek wat met die naam Hadad-Rimmon [afgelei van die name van twee Kanaänitiese gode] beskryf word), word waarskynlik hier as vergelyking gebruik om die treurliedere oor die martelaar en sy impak op hulle te beskryf (2 Kronieke 35 – Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid). Die hele land in al sy stamme – die koninklike en priesterlike families word by name genoem, maar dit sluit almal in – sal deur dié martelaar geraak word.

‘n Mens dink onmiddellik aan die Pinkstergebeure en die Jode wat aan die hart gegryp is deur Petrus se boodskap dat die skuld vir Jesus se dood vierkantig voor hulle deur lê. Hy verkondig egter ook die genade van die Here wat juis deur dié tragedie van die kruis verlossing vir hulle bewerk het. Hulle is diep daardeur getref en vra: “Wat moet ons doen?” Op Petrus se uitnodiging om dié Gekruisigde as hulle Here en Heiland te aanvaar, kom drieduisend van hulle tot bekering, saamgestel uit ‘n deursnit van die Joodse bevolking vanoor die hele wêreld wat daar vir die Pinksterfees (OT – fees van die weke of oesfees) bymekaar was (Hand. 2).

13:1-6 – God reinig Jerusalem van hulle sonde en vuilheid

Dié gebeure sluit ‘n fontein oop vir die volk wat hulle van sonde en vuilheid sal reinig. Die impak daarvan sal só groot wees dat die gees van onreinheid uit die land verwyder sal word en enigiemand wat probeer om leuenagtig te profeteer sal deur sy eie mense verwerp word.

‘n Mens dink weereens aan die Here Jesus wat vir die Samaritaanse vrou water aanbied wat soos ‘n fontein sal word wat opborrel en aan haar die ewige lewe gee (Joh. 4). Hy herhaal dié aanbod op die huttefees: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh. 7:38 – Jesus verwys waarskynlik na Jes.58:11). Jesus verbind dit met die werk van die Heilige Gees. Johannes verwys ook in sy Openbaring na die Lam wat as herder sy mense na die fonteine met die water van die lewe lei en die Here wat die trane van hulle oë sal afdroog (Openb. 7:17).

13:7-9 – God suiwer die oorblyfsel deur die impak van die dood van die herder

Hierdie deel van die profesie gryp weer terug op die idee van die martelaar wat verlossing bring vir sy mense. Hy word hier ‘n herder genoem wat deur God aangestel is om nie net naby aan Hom te lewe nie, maar aan die dood oorgelewer te word, ter wille van ‘n suiweringproses van die volk, die skape. God gebruik dié oordeel om hulle te suiwer sodat hulle Hom sal aanroep en Hy weer hulle gebede kan verhoor. Só word die verbond tussen God en sy volk herstel.

Jesus maak dié gedeelte direk op Homself van toepassing wanneer Hy sy dood tegemoetgaan in die tuin van Getsemane. Hy verklaar aan die dissipels dat Hy, die herder, doodgemaak sal word, en dat hulle, die skape, uitmekaar gedryf sal word (Mark. 14:27). Hulle sal dus almal van Hom afvallig word, maar verseker Hy hulle, Hy sal wel weer opstaan uit die dood, en hulle sal Hom in Galilea weer sien.

14:1-21 – Die dag van die Here kom en maak van Jerusalem die sentrum van God se teenwoordigheid

Die finale deel van Sagaria se boodskap fokus op die koninkryk van God wat in Jerusalem gevestig sal word sodat sy teenwoordigheid die hele aarde kan transformeer. Dit word in die konteks van ‘n eskatologiese oorlog van die nasies teen Jerusalem geplaas, waarin dit aanvanklik lyk asof die nasies die oorhand kry. Die Here self sal egter beskerming bring vir sy mense en die oorwinning namens die volk oor die nasies behaal.

Hy sal op die Olyfberg – die plek waar Jesus die aande van die Heilige Week deurgebring het en die worsteling in Getsemane gehad het – uitkoms gee vir die mense van die stad, om die vyand te kan trotseer. Onthou dit is metaforiese taal wat nie in elke detail met iets konkreets verbind kan word nie. ‘n Mens wonder wel in watter mate dié beskerming wat die Here Jesus aan sy mense op die Olyfberg gebied het – Hy het namens hulle daar doodsmarte gely en op Golgota daarnaby die vyand aan die kruis oorwin – nie met dié gedeelte verbind kan word nie. Terloops: die plek Asal is onbekend.

Die res van die beskrywing fokus egter op die eindtyd met God wat met sy hemelwesens sal opdaag. Op dié besondere dag – waarvan niemand weet presies wanneer dit sal wees nie (onthou Jesus self gesê het dat Hy nie weet wanneer die Wederkoms sal wees nie) – sal alles verander. God sal die lig wees en die bron van alles wat lewe gee, ‘n soortgelyke prentjie as wat Openbaring teken.

Een besondere kenmerk van dié tyd sal wees die totale reiniging wat God sal bewerk. Die beeld van die fontein word uitgebrei en as ‘n vars rivier geteken wat die hele wêreld sal reinig – voorgestel deur ontsouting van die see in die weste en die Dooie See in die ooste – en onder God se heerskappy sal bring. Ten spyte van verdere grusame skermutselings sal die Here sy mag en gesag handhaaf. Jerusalem sal uittroon bó alles en almal, presies die tipe prentjie wat met die nuwe Jerusalem in Openbaring geteken word. Alle nasies sal God moet aanbid in Jerusalem, omdat hulle volledig afhanklik van Hom sal lewe. Hemel het op aarde aangebreek. Sela.

Boodskap

Met die nader kom van die Heilige Week van hierdie jaar se Lydenstyd, het dié gedeelte in Sagaria natuurlik vir ons besondere diep betekenis. Die metafoor van die martelaar en die dood van die herder laat ons die betekenis van die Here Jesus Christus op ‘n nuwe manier waardeer.

Wat my besonderlik tref, is aan die een kant die wyse waarop dié dinge deur groot stryd en ontwrigting tot stand gebring word. Daar is nie kortpaaie na die vestiging van God se koninkryk nie. Aan die ander kant tref dit my hoe volledig God sy koninkryk in alles en vir almal wil bring. Hy wil alles reinig, voorgestel met die ontsouting van die Mediterreense- en die Dooie See. Hy wil die sonde uitwis, sodat almal Hom sal aanbid en in afhanklikheid van Hom sal lewe.

Waar Sagaria egter oor dié dinge geskryf het lank vóór enigiets hiervan ‘n werklikheid begin word het, weet ons presies wat in die Heilige Week en die Paasnaweek gebeur het. Die Here Jesus hét vir die sonde op Golgota betaal en daardie boodskap het nie net ons lewe verander nie, maar ons na die wêreld gestuur met die goeie nuus. Elkeen wat in Jesus glo, kan dié lewe ontvang, gratis en verniet.

Mag jou lewe weer opnuut vlam vat met dié boodskap, en mag ons die boodskap van die evangelie regoor die wêreld verkondig totdat die Here Jesus inderdaad weer kom. Sela.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Sagaria


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.