Sagaria 1:1-2:13 – Sagaria se visie op God wat herstel na buite bring
Die eerste deel van Sagaria, die priester-profeet, se boodskap, hoofstuk 1-8, word gedateer tussen 520-518 v.C. Dit neem ‘n aanvang so twee maande ná Haggai met sy boodskap rondom die herstel van die tempel begin het, êrens in Oktober 520 v.C. Soos Haggai roep Sagaria die volk op tot gehoorsaamheid in die geloofsgemeenskap met die herbou van die tempel, maar nog meer spesifiek tot ‘n heilige en gehoorsame lewe.
Hy spel spesifiek in die eerste perikoop, Sag. 1:1-6 uit: “Moenie soos julle voorvaders wees nie.” Hulle was aan God ongehoorsaam en het die straf gekry soos die verbond uitgespel het. Die les wat die geskiedenis die volk nou moes leer, is die volgende: “Die Here die Almagtige het met ons gedoen wat Hy Hom voorgeneem het om te doen, presies volgens ons lewe en ons dade.”
Die ongehoorsame voorvaders het dus in ballingskap gegaan soos die profete voorspel het. Die uitsprake van die profete het die voorvaders ingehaal. “Bekeer julle tot My, sê die Here die Almagtige, dan sal Ek weer julle wees.”
Hierna volg Sagaria se agt visioene wat deur ‘n engel vir hom geïnterpreteer word. Dit is moontlik dat dit by een geleentheid in opeenvolgende gesigte na hom gekom het, omdat net die eerste visioen gedateer word. Die visioene word gedateer in 1:7 op die 24ste dag van die 11de maand van die Joodse kalender, ongeveer twee maande ná Haggai sy laaste boodskap gelewer het. Indien my verstaan van die Joodse kalender reg is, is dit die nag van die 15de Februarie 519 v.C.
Onthou die konsentriese patroon van die agt visioene wat in die volgende 6 hoofstukke vertel gaan word:
- Visioen 1 en 8 fokus op God se wêreldheerskappy.
- Visioen 2 en 3 fokus op die gevare van buite.
- Visioen 6 en 7 fokus op die gevare van binne.
- Visioen 4 en 5 fokus op die herstel van die tempel en die stad.
Ons lees die eerste drie visoene vandag.
1:7-17 – Visioen 1: ruiters op perde wat die wêreld deurkruis as teken van God se heerskappy
Die eerste visioen behels ruiters op drie kleure perde – bruin (rooi), vos (gespikkeld), en wit – waarvan die eerste ruiter as die leier aangedui word. Hulle was tussen die mirtestruike in ‘n diep kloof. Dit beteken dat hulle self rustig was, soos die engel dan ook aan Sagaria verduidelik dat dié perde die hele wêreld deurkruis het en aan die Here gerapporteer het dat ook die wêreld rustig en stil is.
Teen die agtergrond van die tempel en die stad wat herbou word om vir God se terugkeer na die stad gereed te maak, is dit dus ‘n belangrike boodskap vir die volk. Die Here se heerskappy oor die hele aarde is nie in gedrang nie. Hulle kan voortgaan om die werk te doen wat Hy deur Haggai aan hulle beveel het. Dit is ‘n belangrike boodskap aangesien die fondament van die tempel twee maande terug voltooi is en die rêrige bouwerk stewig aan die gang was.
God gee Homself dus volledig vir die werk in Jerusalem en sal dit ook in die res van Juda doen. Let op hoe God se hart vir hulle geteken word: “Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion.” Die Here gaan hulle dus voortaan beskerm teen die nasies. Trouens, sy toorn gaan oor hulle losbreek, omdat hulle verder gegaan het as wat die Here bedoel het met die ballingskap: “My toorn teen Jerusalem was nie so groot nie: dit is die heidennasies wat dit so ‘n groot ramp laat word het.”
Die Here gee daarom ‘n prentjie van oorvloed en seën: “My stede sal weer oorstroom word deur voorspoed.” In sy genade sal Hy hulle en hulle land volledig herstel.
1:18-20 – Visioen 2: vier horings wat verstrooi het en vier ambagsmanne wat alles weer herstel
Die tweede visioen behels twee prentjies. Die eerste prentjie is van die vier horings wat verstrooi wat op die ballingskap dui. Die tweede prentjie is van die vier ambagsmanne wat die verstrooiing tot ‘n einde bring en die volk nou help om die gevaar van die nasies te kan trotseer, hulle: “die skrik op die lyf te ja en hulel tot ‘n val te bring.” Die Here belowe hiermee dat hulle teen die gevare van buite af beskerm sal word.
2:1-13 – Visioen 3: man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak om die gevare van die nasies te trotseer
Die derde visioen is ‘n uitgebreide gesig van ‘n man met ‘n maatlyn wat Jerusalem gereed maak vir herstel om sodoende die gevare van die nasies van buite af te kan hanteer. Die proses slaag egter nie, omdat: “Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees.” Die Here self: “sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees.” Sy magtige teenwoordigheid sal van binne-af hulle beskerm.
Dié boodskap is egter nie net bedoel vir die mense van die stad nie. Dit is bedoel vir almal van die volk wat na die vier windstreke van die aarde verstrooi is. Die Here se liefde word op ‘n besondere wyse uitgedruk: “Wie aan julle vat, vat aan my oogappel.” Hy belowe dat die situasie van onderdrukking omgekeer sal word.
Die visioen hou egter nie net in dat dinge reggestel sal word vir Juda en Jerusalem nie. Dit sluit in dat die situasie vir die nasies ook sal verander: “Daardie dag sal baie nasies hulle aan die Here verbind: hulle sal my volk wees, en Ek sal in jou woon, Sion.”
Voor dié God kan ‘n mens maar buig en Hom aanbid: “Wees stil voor die Here, al wat leef.”
Boodskap
Sagaria gebruik dié drie visioene om die Here se direkte en indirekte betrokkenheid by alles wat gebeur, te verkondig. Dit is bedoel om hulle te motiveer en van God se teenwoordigheid in alles te verseker. Sagaria fokus daarom aanvanklik op die groter prentjie van God se koningskap oor die hele aarde wat die boodskap dra dat die Here die gevare van buite, van die nasies af, hanteer en namens die volk uitsorteer. Daarna fokus Sagaria op dié dinge wat die Here ook binne Jerusalem sal doen wat ook ‘n inspirerende uitwerking daarbuite sal hê onder die nasies. Hulle invloed sal nie gemeet kan word nie!
Hierdie drie bemoedigende visioene verseker dus dat die volk nie net sal fokus daarop om die tempel te herbou nie, maar sal kan fokus op die geloofslewe van die geloofsgemeenskap in gehoorsaamheid aan God. Hulle is soos ‘n “stad sonder mure” wat ‘n baken van God se teenwoordigheid as teken aan die hele wêreld sal wees. Dié visie kan hulle aangryp en met oorgawe uitleef.
View all posts in this series
- Sagaria – Berei julle voor op die koms van die Messias-Koning - March 19, 2015
- Sagaria 1:1-2:13 – Sagaria se visie op God wat herstel na buite bring - March 20, 2015
- Sagaria 3:1-4:14 – Sagaria se visie op die leiers wat God se plan uitvoer - March 23, 2015
- Sagaria 5:1-6:15 – Sagaria se visie op God wat herstel na binne bring - March 24, 2015
- Sagaria 7:1-8:23 – Gehoorsaamheid aan God in die geloofsgemeenskap trek die nasies na Hom toe - March 25, 2015
- Sagaria 9:1-11:17 – Die Messiaanse Koning verenig God se mense met Hom - March 26, 2015
- Sagaria 12:1-14:21 – Die Messiaanse Koning vestig God se finale koninkryk - March 27, 2015
Paul
Ek vind dit verstommend hoe koherent die boodskappe in die Bybel is, maw. die inhoud. Drie voorbeelde
_ Eerstens die rolmodel van koning-en-priester wat by begin by Melgisedek in Abraham se Ou Testamentiese tyd en Jesus self, in die Nuwe Testament. Hoewel Jesus self nie ‘n aardse koning was in Sy omwandelinge nie, het Hy kragtige bevele gegee wat net van een Koning kon kom: Voorbeelde (1) Die storm is tot rustigheid beveel; (2) Laserus is beveel om uit die graf te kom; (3) Eintlik die mees ontsagwekkende: “Jou sondes is jou vergewe”.
_ Tweedens die herhaling van Sagaria se profetering, in die boek Openbaring. Die ooreenkom is verstommend.
_ Derdens die getal 40: Die sonvloed, dit het 40 dae geneem voordat die water gesak het. Maw van “straf aksie” tot versoening. In die NT, Jesus se opstanding tot hemelvaart.
Die Bybel is met mensehande geskrywe, maar mense kon nooit die inhoud so fyn uitgedink het.
Calley
Dankie vir RSG, want dis waar ek van julle gehoor het , gewoonlik is ek al lankal op maar toevallig vanoggend luister ek na die program. Dis lekk om bybelstudie te doen in jou eie taal.