Psalm 148 – Hy bepaal ‘n vaste orde in die hemele; Hy maak sy volk op aarde sterk om Hom te volg
Psalm 148 – Hy bepaal ‘n vaste orde in die hemele; Hy maak sy volk op aarde sterk om Hom te volg
1Halleluja! Loof die Here uit die hemel; loof Hom in die hoogtes! 2Loof Hom, al sy engele; loof Hom, al sy hemelse magte! 3Loof Hom, son en maan; loof Hom, al die helder sterre! 4Loof Hom, hoogste hemele en die water wat bo die hemelkoepel is! 5Laat hulle die Naam van die Here loof, want dit is Hy wat bevel gegee het – en hulle is geskape. 6Hy het hulle gevestig vir altyd, vir ewig. Hy het ‘n vaste orde bepaal wat nie verbygaan nie. 7Loof die Here vanaf die aarde – seemonsters en al die diep waters, 8vuur en hael, sneeu en newels, stormwind wat sy bevel uitvoer; 9berge en al die heuwels, bome wat vrugte dra en al die seders; 10wilde diere en al die vee, diere wat kruip en voëls wat vlieg; 11konings van die aarde en al die volke, aanvoerders en al die regeerders van die aarde; 12jong mans en ook jongmeisies, oumense saam met jongmense. 13Laat hulle die Naam van die Here loof, want sy Naam alleen is hoog verhewe; sy luister reik oor aarde en hemel. 14Hy het sy volk sterk gemaak – ‘n rede tot lof vir al sy troue volgelinge, die Israeliete, die volk wat na aan Hom is. Halleluja!
Psalm 146-150 sluit die vyfde Psalmboek, trouens die hele boek van die Psalms, af met vyf Halleluja-lofliedere. Dit is wonderlike liedere wat die Here loof vir sy karakter, sy versorging, sy betroubaarheid, sy goedgesindheid en sy grootheid. Psalm 148 sluit in hierdie groep Psalms die hele heelal in – skepsels en skeppings. Almal moet God loof, want Hy is bekend vir sy betroubare bevestiging van alles wat leef. Dié lof word in die eerste plek gevra – vers 1-6 – van alles wat in die hemel gemaak is. Dit sluit die lewende skepsels in: engele en hemelse magte. Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: son, maan, sterre, selfs die water wat uit die hemelkoepel op die aarde reën verskaf. Die Psalmis gee drie redes waarom alles in die hemel God moet loof: 1) God het hulle gemaak. Hy is die oorsaak en oorsprong van alles. Van alles wat bestaan. Skepsels en skeppings. Regdeur die heelal. 2) God het hulle vir altyd gevestig. Hy het bepaal wie hulle is, wat hulle doen, wat hulle doel sou wees. Sy ewige vastigheid gee aan hulle hulle stabiliteit, hulle permanensie. 3) God het ‘n vaste orde bepaal wat nie verby sal gaan nie (“waarbuite hulle nie kan beweeg nie” – 1983-vertaling). Die sterre en die planete sal nie uit hulle bane gaan tot die Here die nuwe hemel en aarde geskep het nie. Dieselfde geld die hemelwesens. Hulle kan net in ‘n regte verhouding met God wees solank hulle binne die orde beweeg wat God neergelê het.
Dié lof word in die tweede plek gevra – vers 7-14 – van alles wat op die aarde gemaak is. Dit sluit die lewende skepsels in – beide die diere as die mense: seemonsters, wilde diere, vee, kruipende diere, voëls, konings, aanvoerders, regeerders, al die volke, jong mans en jongmeisies, jongmense en oumense. Dit sluit ook die gepersonifieerde skeppings in: vuur, hael, sneeu, newels (miswolke), stormwind, berge, heuwels, vrugtebome, seders, en selfs die diep waters (oseane). Die Psalmis gee ook drie redes waarom alles op die aarde God moet loof: 1) God se Naam alleen is hoog verhewe. Hy is die enigste Een wat die moeite werd is om te aanbid. Hy moet vir sy Naam, sy reputasie, sy woorde en werke geloof word. Hy het Homself oor en oor bewys. Hy alleen is lof waardig. 2) God se luisterrykheid strek oor die hele aarde en hemel. Elke deel van die skepping roep dit uit dat Hy daar is. In die skoonheid daarvan sowel as in die sorg waarmee dit gemaak is. Soos Paulus lank hierna sou skrywe: “Want sy onsienlike dinge word van die skepping van die wêreld af in dit wat gemaak is, begryp en raakgesien, sowel sy ewige mag as sy goddelikheid.” (Rom 1:20). 3) God het sy volk sterk gemaak as getuienis aan almal wat Hom getrou volg. Dit bedoel doodgewoon, Hy het Homself, sy magtige wese, aan hulle gegee. Geen wonder die Psalmis roep dit uit: “Dit is die roem van al sy troue dienaars, die Israeliete, die volk naby wie Hy is.” God wys dus sy mag in dié wat: “na aan Hom is“.
Die hele skepping het dus hulle bestaan aan God te danke. Daar is niks uitgesluit wat nie God as Skepper moet loof nie. Die hele skepping is vir hulle voortgaande bestaan van God afhanklik. Daar is niks uitgesluit wat nie God se betroubare bevestiging nodig het nie. Dit is na alles waaroor dit ook gaan in ons geestelike lewe. Oor God en oor wat Hy doen. Alles hang van Hom af en vind hulle sin en betekenis in Hom. En dit is die dinge waarvoor jy die Here moet loof. Dinge wat jy ook van God kan verwag. Dat Hy kongruent sal optree. Dat Hy sal sorg. Dat Hy jou sal bevestig. Dat Hy goedgesind sal wees teenoor jou. Dat Hy sy grootheid in jou lewe sal wys. Hy doen “amazing things!” Daarom moet jy saam met die hele skepping God loof. Dit is die bepaalde bestemming van alles wat leef en beef, veral van dié wat “na aan Hom is”. Halleluja!
Lees meer: ‘n bydrae by Bybelskool: https://bybelskool.com/psalm-148-alles-en-almal-loof-die-here-uit-hemel-en-aarde/ of ‘n vroeëre preek van my: https://ngkerksomerstrand.co.za/psalm-148-roep-die-hele-heelal-op-tot-lofprysing/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar