Skip to main content

Openbaring 3:7-13 – Ek het voor jou ‘n oop deur gegee wat niemand kan sluit nie

12 Mei

Openbaring 3:7-13 – Ek het voor jou ‘n oop deur gegee wat niemand kan sluit nie

7“Skryf ook aan die boodskapper van die gemeente in Filadelfia: “Dit sê die Heilige, die Ware, wat die sleutel van Dawid hou, wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie, wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie. 8“ ‘Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou ‘n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie. 9Kyk, Ek laat toe dat daar mense uit die sinagoge van Satan kom wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg; kyk, Ek sal sorg dat hulle kom, en voor jou voete neerbuig, en erken dat Ek jou liefhet. 10Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie. 12“ ‘Wie oorwin, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam. 13Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”

Die boodskap aan Filadelfia is: “Gaan deur die oop deur.” Filadelfia – Alaşehir vandag – was bekend as ‘n sentrum wat ‘n groot rol gespeel het om die Griekse taal en denke te versprei. Nou, sê Jesus, sou hulle die gemeente word wat op ‘n veerkragtige manier die Christelike geloof versprei. Hulle sou spesifiek effektief raak in hulle bediening aan die Jode. Want, die weegskaal in die brief aan Filadelfia het die gemeente aan hulle gehoorsaamheid gemeet, en die gemeente het die toets van Jesus geslaag met vlieënde vaandels. Wat beteken, die Here sluit deure oop vir mense wat kies om gehoorsaam te wees. Solank ‘n gemeente immers verdeeldheid oor die boodskap van die evangelie ervaar, kan daar geen effektiewe getuienis na buite toe wees nie. Solank ‘n gemeente wêreldgelykvormig leef – sodat jy later nie meer weet of jy met ‘n kerk of ‘n klub te make het nie – is dit beter dat niemand daar buite iets van hulle af hoor nie. Die boodskap gaan net nie helder oorkom nie. Gee vir die Here ‘n arm gemeente wat getrou bly, soos Smirna en Hy kan hulle voorbeeld gebruik om sy naam te eer; deur hulle lyding lewe bring vir ‘n verloregaande wêreld. Gee vir die Here ‘n gehoorsame gemeente, soos Filadelfia, en Hy kan hulle gebruik om die evangelie die wêreld in te stuur; die grense van geloof te versit.

Wat ons moet raaksien, is dat Filadelfia ‘n gemeente was wat wel aanvegting van buite ervaar het, maar nie van binne af nie. Almal het saamgetrek en in liefde by die waarheid gebly, selfs al het dit vir hulle sommige deure in die Joodse gemeenskap toegemaak. Die Here volg daarom die belofte van ‘n oop deur op met ‘n sewetal verdere beloftes. 1) Die belofte dat die teenstanders tot insig en selfs moontlike inkeer sal kom – die Here sal sorg dat lede van die “sinagoge van die Satan” – die Joodse teenstanders – voor hulle sal kom neerbuig (vgl Jes 60:14). Die Here sal dus die reg handhaaf, en Hy sal die vervolgers tot insig en moontlik selfs geloof laat kom. 2) Die belofte dat Hy hulle sal bewaar “gedurende” die uur van beproewing wat aan die kom is. Hulle moet net vashou wat hulle het, totdat die Here Jesus kom. 3) As beloning sal hulle as ’n pilaar in die tempel van God opgerig word. Vir die mense van Filadelfia wat geteister is deur aardbewings, sou dit ‘n geweldige bemoediging en aansporing gewees het om getrou en gehoorsaam te bly. 4) Die Here belowe verder dat hulle vastigheid en permanensie in die huis van God sal kry, die plek wat Jesus vir hulle voorberei. Trouens, hulle sal – by wyse van spreke – deel van die las-draende struktuur wees van die plek wat Jesus vir hulle voorberei. Op die koop toe sal Jesus op drie verskillende wyses toon dat hulle aan Hom behoort. 5) Hy sal die Naam van sy God op hulle graveer. 6) Hy sal die naam van die stad van sy God op hulle graveer. 7) En Jesus sal sy eie nuwe Naam op hulle graveer. ‘n Baie effektiewe metafoor, want die naam van Filadelfia is twee keer in sy geskiedenis verander. Eers is dit na Tiberius vernoem vir ‘n paar jaar (Neocaesarea) en ‘n tyd later na Vesapsian (Flavia). Soos Filadelfia telkens egter weer hulle naam teruggeneem het, só sal die naam van God vir ewig geskryf word op dié wat oorwin. Daarmee verklaar Jesus onteenseglik dat hulle totaal en al aan Hom behoort, dat Hy trots is op hulle, dat Hy Hom met hulle assosieer, en dat Hy hulle nooit sal versaak nie.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar