Skip to main content

Handelinge 11:1-18 – God gee ook aan heidene wat in Jesus glo die bekering tot die lewe

10 Mei

Handelinge 11:1-18 – God gee ook aan heidene wat in Jesus glo die bekering tot die lewe

1Die apostels en die broers dwarsdeur Judea het gehoor dat ook die heidene die woord van God aanvaar het. 2Toe Petrus na Jerusalem opgegaan het, het diegene wat besny is, met hom geargumenteer 3en gesê: “Jy was by onbesnede mans aan huis en het saam met hulle geëet.” 4Daarop het Petrus dit soos volg stap vir stap vir hulle begin uitlê: 5“Ek was in die stad Joppe besig om te bid, en in ekstase het ek ‘n visioen gesien: iets soos ‘n groot linnedoek wat afsak en wat aan sy vier hoeke uit die hemel neergelaat word; en dit het tot by my gekom. 6En ek het aandagtig daarna gekyk, en opgemerk, en viervoetige diere van die aarde en wilde diere en kruipende diere, asook voëls van die hemel gesien. 7Ek het ook ‘n stem vir my hoor sê, ‘Staan op, Petrus, slag en eet!’ 8Maar ek het geantwoord, ‘Onder geen omstandighede nie, Here! Want niks wat besoedel of onrein is, het al ooit by my mond ingegaan nie.’ 9Die stem het toe ‘n tweede keer uit die hemel geantwoord, ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.’ 10Dit het drie maal gebeur, en toe is alles weer in die hemel opgetrek. 11En kyk, skielik het daar drie mans wat van Caesarea af na my gestuur is, aangekom by die huis waar ons was. 12En die Gees het vir my gesê dat ek sonder aarseling saam met hulle moes gaan. Hierdie ses broers het toe saam met my gegaan en ons het die man se huis binnegegaan. 13Daarop het hy ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê, ‘Stuur manne na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. 14Hy sal vir jou ‘n boodskap meedeel waardeur jy verlos sal word – jy en jou hele huis.’ 15En toe ek begin praat, het die Heilige Gees op hulle neergedaal, net soos aanvanklik ook op ons. 16Ek het egter die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het, ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het as aan ons wat in die Here Jesus Christus glo, wie was ek dan dat ek God sou verhinder?” 18Toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: “So het God dus ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

Die gebeure in Sesarea is van só ’n paradigma-skuiwende aard dat Petrus homself en die werk wat God onder die heidene (nie-Jode) gedoen het, moet gaan verantwoord teenoor die “moeder”-gemeente in Jerusalem. Dié werkswyse sou ’n patroon word wat later ook met die uitbreiding deur Paulus se sendingreise gevolg moes word, waar die seël van goedkeuring deur die gemeente in Jerusalem geplaas moes word op die oorsteek van nuwe grense met die evangelie (Hand 15). Dit is dan ook die begin van die idee van ’n verband van kerke soos deur die meeste gemeentes regdeur die wêreld gevolg word. ’n Mens sien hier ook die groot vraag oor die plek van die besnydenis wat gelowiges uit die Jodedom in Jerusalem bly vra het, iets wat wel later in Handelinge 15 se vergadering geantwoord is (dat besnydenis nie nodig was vir gelowiges uit die heidene nie – vgl ook Gal 2:3). Dit sou egter op baie plekke in die wêreld ’n sleutelkwessie tussen gelowiges uit die Jodedom en die heidendom bly.

Die bekering van die heidene word deur Petrus hier op twee maniere beskrywe. Aan die een kant word bekering met die aanvaarding / aanneming (letterlik ontvangsvan die woord (logosvan God (vers 1) beskrywe. Dws – bekering is iets wat gebeur met die luister na die woord van God wat lei na gehoorsaamheid. Bekering is dus iets waartoe jy instem, wat jy aangryp, wat jy doen. Jy verander jou lewe om in ooreenstemming te kom met God se woord. Maar, dit is net een kant daarvan. Die menslike kant van gehoorsaamheid.

Aan die ander kant word bekering ook as ’n bekering tot die lewe wat God gee beskrywe. Bekering is dus nie net iets wat jy doen nie waar jy omdraai van jou verkeerde lewenswyse en God se woorde aanneem wat in ‘n nuwe lewenstyl gestalte in jou lewe kry nie. Bekering is ook iets wat God jou gee. Natuurlik in reaksie op en as uitvloeisel van sy woorde. Maar, steeds ‘n geskenk. Let ook op dat bekering ook direk met die ontvangs van (doop met) die Heilige Gees verbind word wat hierdie punt onderstreep. Om die waarheid te sê, die doop met die Heilige Gees vind voor die doop met water plaas, soos ons in die vorige hoofstuk kan sien. Die doop met water is dus nie noodsaaklik vir die ontvangs van die Heilige Gees nie, want dit is God se gawe wat Hy op soewereine wyse uitdeel. Ons sien ook hier hoe God die bekering van die heidene nie net self aanvoer nie, maar dan op die koop toe deur Petrus laat verdedig by die leiers van die vroeë kerk. Soos Gamaliël vroeër al voorspel het in die Joodse Raad: “as hierdie plan of onderneming die werk van mense is, sal dit tot niet gaan; maar as dit van God af kom, sal julle hulle nie kan keer nie – moenie dat dit blyk dat julle teen God veg nie!” (Hand 5:38-39).

Lees meer: https://bybelskool.com/handelinge111-18-god-gee-aan-nie-jode-die-bekering-tot-die-lewe/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.