Wedergeboorte en bekering
Ek het ‘n navraag gekry oor wedergeboorte en bekering: Wat is die wedergeboorte? Wat is die verskil tussen wedergeboorte en bekering? Hoe toets jy of ‘n persoon wedergebore is of nie?
Hier is ‘n kort antwoord daarop met talle Skrifverwysings vir nadenke.
Wedergeboorte
Die wedergeboorte vind plaas as die Heilige Gees geloof in jou hart werk deur die Woord van God (Joh 3:5-8; Rom 10:8-13; 1 Pet 1:22-25). Die wedergeboorte was jou skoon van jou sonde (Tit 3:4-7; 1 Joh 1:5-10) en gee jou die sekerheid van die ewige lewe (Joh 3:16; 3:36; 1 Joh 5:12). Daardeur weet jy dat jy ‘n kind van God is (Joh 1:12-13; Rom 8:14-17).
Wedergeboorte en bekering
Die wedergeboorte is volledig God se werk, terwyl die bekering beide God se werk en jou gehoorsaamheid behels. Bekering kom deur die prediking – God se werk – wat jou aanspoor om gehoorsaam te word aan God se wil – jou werk (Matt 3:22; 4:17; Mark 6:11; Luk 24:47; Hand 2:38; 3:19; 17:30; 2 Kor 4:16-18; 7:9-10; Fil 2:12-13; Openb 2:5, 16, 21; 3:3, 19).
Vrug van wedergeboorte
Wedergeboorte raak sigbaar deur die vrug wat gelowiges dra (Matt 13:1-9; Joh 15:1-8). Dit behels dat jy doelbewus gehoorsaamheid en heiligmaking najaag (Gal 5:16-26; Rom 6:19-23; 12:1-2; Ef 5:1-21; Fil 1:9-11; Kol 1:3-14; Hebr 12:12-15; Jak 3:13-18).
Johan
Wonderlik Chris baie baie dankie dit bly n wonderwerk.
Vrede en seen vir jou.
Twyfel
Liewe ds Chris,
As ‘n prediker vir iemand sê dat hy ‘n ‘EMOSIONELE BEKERING’ gehad het, sou jy nie dink dat mens wel emosioneel raak dat die trane spat die dag as jy jou lewe aan die Skepper oorgee nie? Want sedertdien twyfel ek erg aan my bekering!
Chris van Wyk
Hi Bertie, emosies is baie keer deel van die proses van bekering. Soms ‘n intense hartseer en berou oor jou sonde, soms ‘n groot verligting en blydskap dat jou sondes vergewe is. Maar, sonder dat daar vrug in ‘n mens se lewe is – ‘n afstand doen van sonde, ‘n liefde vir die Here en sy Woord, ‘n liefde vir God se mense, ‘n commitment om die Here in hierdie wêreld te dien – kan ‘n bekering oppervlakkig wees (Hand 26:20; 2 Kor 12:21). Maar, die enigste sekerheid wat ons het, lê in die Here Jesus en sy barmhartigheid en vergifnis opgesluit. Lees weer 1 Johannes 5 deeglik en vind jou sekerheid in die Here Jesus Christus.
Hans De Lange
Chris. Ek het vanoggend juis ingegaan op die internet om te sien of my eie siening van wedergeboorte ooreenstem met medegelowiges. Daar is egter baie dinge wat gesê word wat myns insiens nie diep genoeg oopgevlek word om ‘n behoorlike verstaan tot gevolg te hê nie. Ek neem as voorbeeld: “geloof in Jesus”. Jesus is die Woord van God wat vlees geword het. Jesus is die Beeld van die onsienlike God. God is Gees. In Jesus woon die volheid van die godheid liggaamlik. Jesus in die vlees is die openbaarder van die Gees van God, die openbaarder van die Gees van die Woord van God. Wanneer ons glo in Hom (Jesus Christus) beteken dit dat ons glo in elke woord wat God geuiter het, en nie net oppervlakkig nie, maar in die Gees van die waarheid van daardie woord. Wanneer so ‘n geloof tot stand kom is dit die Gees van God in sy Woord wat ons wederbaar. Hoekom sommige nie so ‘n geloof ondervind nie is omdat sy eie wil en begeertes hom verhoed om die waarheid te aanvaar wat hom kan red van ‘n bose lewe sonder God. Ons praat later dalk weer.