Joël – God se dag bring verwoesting en voorspoed
Die datum van die profeet Joël se optrede word nêrens aangedui nie. Daar is ook niks meer oor hom bekend as wat ons in die boek self lees nie. Al wat ons daar van hom lees, is dat hy die seun van Petuel was (1:1). Meer weet ons nie van hom af nie.
Dit wil voorkom asof Joël ná die tyd van die noordryk optree aangesien hy net oor Juda en Jerusalem praat. Die noordelike tienstamme ryk is in ballingskap deur die Assiriërs in 722 v.C. weggevoer. Joël se klem op Sion en Jerusalem beteken verder dat hy waarskynlik ‘n profeet van die suidelike tweestamme ryk was. Só ‘n argument uit stilswye is egter nooit iets waarop ‘n mens alleen kan staatmaak nie.
Daarom verwys sommige geleerdes na Joël se gebruik van die “vyand uit die noorde” (2:20) wat ooreenkom met verskeie van die profesieë van Jeremia (Jesaja praat egter ook daarvan) waarmee Jeremia veral na die bedreiging van die Galdeërs onder Nebukadnesar verwys. Joël se skildering van dié bedreiging as ‘n vlaag opeenvolgende sprinkaanplae (1:4 – hy noem vier swerms), gekoppel aan die onafwendbare nabyheid van die finale veldslag, die “dag van die Here” (1:15), sowel as die feit dat die tempeldiens nog in volle swang is (1:13 – al roep hy die priesters op om te treur oor die bedreiging!), laat ‘n mens dink aan ‘n optrede net voor die val van Jerusalem, 588-586 v.C.
Indien dié argument water hou, was Joël dan waarskynlik ‘n 6de eeu v.C. tydgenoot van Jeremia, Obadja en Habakuk. Hy tree waarskynilk op net ná Sefanja en Nahum, en weer net voor Esegiël wat eers in ballingskap deur die Here geroep word.


Onlangse kommentaar