Skip to main content

Joël – God se dag bring verwoesting en voorspoed

prayer-shawlInleiding

Die datum van die profeet Joël se optrede word nêrens aangedui nie. Daar is ook niks meer oor hom bekend as wat ons in die boek self lees nie. Al wat ons daar van hom lees, is dat hy die seun van Petuel was (1:1). Meer weet ons nie van hom af nie.

Dit wil voorkom asof Joël ná die tyd van die noordryk optree aangesien hy net oor Juda en Jerusalem praat. Die noordelike tienstamme ryk is in ballingskap deur die Assiriërs in 722 v.C. weggevoer. Joël se klem op Sion en Jerusalem beteken verder dat hy waarskynlik ‘n profeet van die suidelike tweestamme ryk was. Só ‘n argument uit stilswye is egter nooit iets waarop ‘n mens alleen kan staatmaak nie.

Daarom verwys sommige geleerdes na Joël se gebruik van die “vyand uit die noorde” (2:20) wat ooreenkom met verskeie van die profesieë van Jeremia (Jesaja praat egter ook daarvan) waarmee Jeremia veral na die bedreiging van die Galdeërs onder Nebukadnesar verwys. Joël se skildering van dié bedreiging as ‘n vlaag opeenvolgende sprinkaanplae (1:4 – hy noem vier swerms), gekoppel aan die onafwendbare nabyheid van die finale veldslag, die “dag van die Here” (1:15), sowel as die feit dat die tempeldiens nog in volle swang is (1:13 – al roep hy die priesters op om te treur oor die bedreiging!), laat ‘n mens dink aan ‘n optrede net voor die val van Jerusalem, 588-586 v.C.

Indien dié argument water hou, was Joël dan waarskynlik ‘n 6de eeu v.C. tydgenoot van Jeremia, Obadja en Habakuk. Hy tree waarskynilk op net ná Sefanja en Nahum, en weer net voor Esegiël wat eers in ballingskap deur die Here geroep word.

Continue reading

Joël 1:1-20 – Die Here roep die volk op tot bekering deur verwoestende bedreigings

prayer-shawlHierdie eerste deel van Joël begin met ‘n oproep tot aandag. Dit word gerig aan die leiers sowel as aan al die inwoners van die land. Aan hulle word ook die belangrike opdrag gegee om dié boodskap aan die komende geslagte deur te gee: “aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel, en dié weer aan húlle nageslag”.

In drie dele word die boodskap aan hulle deurgegee:

  • Die verwoesting van die sprinkane is ‘n teken van die verwoesting deur die vyand – 1:4-7.
  • Treur en rou oor die verlies en vernietiging wat julle ervaar – 1:8-12.
  • Kom by mekaar en roep saam na die Here – 1:13-20

Continue reading

Joël 2:1-32 – Die Here belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer

prayer-shawlHierdie hoofstuk is in twee dele opgedeel, telkens ingelei deur die frase: “Blaas die ramshoring in Sion” (2:1 en 2:15). Dit fokus op die “dag van die Here” wat onafwendbaar kom en oordeel en redding sal inhou. Die kosmiese tekens wat dit begelei (2:10, 20, 30-31; vgl. ook 3:15), dui op ‘n vervulling wat nie net vir hulle tyd betekenis het nie.

In albei rondtes word die volk uitgenooi in die hoop dat daar tog miskien ‘n herroeping van die straf van die oordeel vir die volk kan wees.

  1. In die eerste rondte – 2:1-14 – volstaan die profeet met die oproep tot bekering en eindig met ‘n vraag of dit die gewenste uitwerking sal hê.
  2. In die tweede rondte – 2:15-32 – bars die visioen deur dat die verootmoediging van die volk (2:15-17) die gewenste uitwerking sal kan hê. Die redding van die Here sal in drie transformasies gesien kan word:
    1. die vyand sal verdryf word (2:18-20),
    2. die volk sal volledig herstel word (2:21-27), en
    3. God se Gees sal op alle mense uitgestort word (2:28-32).

Continue reading

Joël 3:1-21 – God bring oordeel oor die nasies, maar redding vir sy volk in Sion

prayer-shawlHierdie laaste hoofstuk vestig die aandag op die tyd ná die ballingskap wanneer die Here die lot van Juda en Jerusalem sal verander. Die kosmiese tekens wat dit vergesel (3:15-16) beteken dat dit nie net vir die afsienbare toekoms betekenis het nie, maar ook vir die oordeelsdag: “die dag waarop die Here sal straf in die beslissingslaagte” (3:14).

Dit kan opgedeel word in die volgende vier dele:

  • 3:1-3 – God verander die lot van sy volk
  • 3:4-8 – God vergeld die nasies volgens hulle dade
  • 3:9-17 – God voer sy finale kosmiese oordeel uit in beslissingslaagte
  • 3:18-21 – God gee oorvloed vir sy volk in sy blywende reddende teenwoordigheid

Continue reading

Die boodskap van Joël vir vandag

The End of the World, also known as The Great Day of His Wrath by John Martin.

Ek het ‘n navraag gekry oor die toepassing van die boodskap van die boek Joël vir ons as Nuwe Testamentiese Christene.

“Noudat vir ons sondes aan die kruis betaal is, is God se bedoeling nog steeds dat daar inkeer en omkeer van ons lewens moet wees voordat God sal help? Moet die verhoudings wat tussen ons en God en ons en ander mense verbreek is eers herstel word voordat God sal help? ( Ek verstaan dat God soewerein is en enige tyd kan help). As mens bogenoemde manier van verstaan deur trek na die huidige omstandighede in Suid Afrika, kan mens die afleiding maak dat ons as die volgeling van Jesus Christus ons voortgaande (nuwe onbelyde) sondes weer moet erken, bely en ons gedrag verander (omkeer) en voluit met dankbaarheid leef, voordat God die omstandighede in Suid Afrika sal verander?

Hier is ‘n kort antwoord wat die rigting aandui waarin ‘n mens moet dink hieroor.

Die sentrale tema in die boek van Joël is die koms van die “dag van die Here”. Dit het drie toepassings.

Continue reading

Onlangse kommentaar