Skip to main content

Joël 2:1-32 – Die Here belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom terugkeer

prayer-shawlHierdie hoofstuk is in twee dele opgedeel, telkens ingelei deur die frase: “Blaas die ramshoring in Sion” (2:1 en 2:15). Dit fokus op die “dag van die Here” wat onafwendbaar kom en oordeel en redding sal inhou. Die kosmiese tekens wat dit begelei (2:10, 20, 30-31; vgl. ook 3:15), dui op ‘n vervulling wat nie net vir hulle tyd betekenis het nie.

In albei rondtes word die volk uitgenooi in die hoop dat daar tog miskien ‘n herroeping van die straf van die oordeel vir die volk kan wees.

  1. In die eerste rondte – 2:1-14 – volstaan die profeet met die oproep tot bekering en eindig met ‘n vraag of dit die gewenste uitwerking sal hê.
  2. In die tweede rondte – 2:15-32 – bars die visioen deur dat die verootmoediging van die volk (2:15-17) die gewenste uitwerking sal kan hê. Die redding van die Here sal in drie transformasies gesien kan word:
    1. die vyand sal verdryf word (2:18-20),
    2. die volk sal volledig herstel word (2:21-27), en
    3. God se Gees sal op alle mense uitgestort word (2:28-32).

2:1-14 – Sal ‘n hartgrondige bekering die gewenste uitwerking hê?

2:1-11 – Die dag van die Here is ‘n stikdonker nag

Die konsep van die “dag van die Here” word nou verder uitgespel. Daar was waarskynlik ‘n wydverspreide gedagte vaardig onder die volk dat die “dag van die Here” ‘n positiewe inhoud vir hulle gehad het; dat dit redding vir hulle ingehou het. Amos het dit egter alreeds in die 8ste eeu v.C. heftig bestry: “Ellende wag vir dié wat smag na die dag van die Here … Dit sal donker bring, nie lig nie.” (Amos 5:18 vv.)

Daarop het die ander profete uitgebrei wat dit duidelik gemaak het dat die “dag van die Here” ‘n dubbele betekenis inhou. In die eerste plek ‘n dag van oordeel vir dié wat sondig en in die tweede plek ‘n dag van redding vir die oorblyfsel wat die Here uitkies, soos onder andere reeds in:

Hier fokus Joël ons aandag op die karakter van dié dag as ‘n stikdonker dag, ‘n dag waarop die vyand hulle omsingel en oorval wat soos sprinkane niks laat oorbly nie. Die eksplisiete ooreenkoms met die sprinkaanplaag van die eerste hoofstuk val op. Let ook op die vergelyking van die ramp wat hulle tref met die tuin van Eden wat soos ‘n woestyn word.

Dit is hulle voorland, totale vernietiging. Die vyand verander nie van rigting nie, elkeen bly op sy pad. Almal in hulle pad: “word wit van angs”.

Die diepste kommer oor dié dag lê egter in die feit dat dié sigbare bedreiging ‘n onsigbare oorsprong het: “Die Here laat sy stem weeerklink voor sy leërmag uit … dié wat die Here se bevel uitvoer, is sterk.

Let ook op die kosmiese tekens waarmee dié beskrywing van oordeel geteken word: “Die aarde skrik vir hulle, die hemel bewe; die son en die maan word donker, die sterre verloor hulle glans” (2:10). Dit dui daarop dat Joël in sy beskrywing van die oordeel al reeds rekening hou met die feit dat dié profesie nie net op sy eie tyd slaan nie.

Die punt wat Joël egter hiermee maak, is steeds in die eerste plek gemik op sy eie mense, in die hoop dat hulle tot bekering sal kom.

2:12-14 – “Kom met julle hele hart terug na My toe”

Die Here roep hulle dus op om van harte terug te keer na Hom toe, een van die roerendste bekeringsboodskappe wat ons in die Bybel het. Die volk word tot ‘n vas van die hart opgeroep: “Skeur julle harte, nie julle klere nie.

Let op dat die Here nie soseer op ‘n lys van hulle sondes fokus in sy boodskap nie. Trouens, nêrens in die boek Joël vind ons só ‘n lysie van sondes nie. Die nasies word wel aangespreek oor hulle aandeel in die ballingskap en berowing van Jerusalem (hfst. 3; “Hulle sondes [boosheid] is baie.” – 3:11). Maar Juda word nie op soortgelyke wyse aangespreek nie.

Dit is meer asof Joël in ag neem dat die volk eintlik self weet wat fout is. Die omstandighede is benard genoeg dat hulle kennis geneem het dat hier groot fout is, moontlik veral deur die sprinkaanplae. Joël hoef hulle sondes dus nie in ‘n lysie uit te spel, soos van die vorige profete uitvoerig gedoen het nie. Hulle weet eintlik goed dat hulle die verbondsverhouding met die Here versaak het, dat hulle laks geraak het, soos “dronkaards” (1:5), in hulle verhouding met Hom. Daarom beleef hulle terugslag op terugslag. Die ontberinge – sprinkane, mislukte oeste, bedreiging deur die nasies – is immers dinge wat uitgespel is as strawwe van die verbond (Deut. 28). Dit weet hulle goed.

Die Here het daarom sy teenwoordigheid van hulle onttrek en wil deur die ontberinge wat hulle ekonomies en polities beleef hulle terugwen vir Homself. Hy fokus dus meer op hoe om dinge reg te maak, as op dié dinge wat die probleem in die eerste plek veroorsaak het. Bekering lê hier dus nie soseer in die toeëining van die sondelysie nie, maar in die terugkeer met hulle hele hart na die Here toe.

Let ook op hoe die beskrywing van God ooreenkom met die beloftes wat Moses met die Intog in die land aan die volk oorgedra het: “Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek (Moses) jou voorgehou het, oor jou kom … en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, sal die Here jou God jou omstandighede verander.” (Deut. 30:1-2). Kyk ook na die woorde van die Here reeds op die berg Sinai: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.” (Eks. 34:6-7).

Dít is wie God is, selfs in sy oordeel. Hy kan van plan verander en sy straf herroep. Hy kan red, sê Joël, maar nie sonder meer nie. Daar is genade vir dié wat hulle resloos op Hom verlaat. Sy genade troef dus steeds sy oordeel, soos ons nog helderder in die NT sien. Maar dan, sê Joël: “Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig …

2:15-32 – Bekering sal die vervulling van God se rykste beloftes oopsluit

In die tweede rondte van Joël se aankondiging met die ramshoring bars die visioen deur dat die verootmoediging van die volk (2:15-17) die gewenste uitwerking sal kan hê. Die redding van die Here sal in drie transformasies gesien kan word:

  • die vyand sal verdryf word (2:18-20),
  • die volk sal volledig herstel word (2:21-27), en
  • God se Gees sal op alle mense uitgestort word (2:28-32).

Die kosmiese tekens wat albei gedeeltes, die oproep tot bekering (2:1-14) en hierdie visioen van Joël (2:15-32), vergesel – “Die aarde skrik vir hulle, die hemel bewe; die son en die maan word donker, die sterre verloor hulle glans” (2:10), die vyand se “voorpunt sal in die Dooie See beland en sy agterhoede in die Middellandse See” (2:20), en “Ek sal tekens gee, in die hemel en op aarde: bloed, vuur en rookwolke” (2:30) – laat ‘n mens al reeds besef dat hier eskatologiese trekke ingebou is waarvan die vervulling op ‘n later tyd dui. Uit die NT weet ons, dat dele hiervan dui op die tyd van Jesus en die Gees, veral met die uitstorting op Pinksterdag (Hand. 2).

Uit die geskiedenis weet ons ook – natuurlik indien Joël inderdaad net voor die ballingskap geleef het – dat dié hoop op verlossing, vóór die vyand sy sin in Juda gehad het, nie gerealiseer het nie. Die hoop op verlossing is egter nie daarmee uitgewis nie, want ná die ballingskap het al drie dié dele van die visioen op verskillende maniere en tye in vervulling gegaan.

2:15-17 – Betoon medelye met u volk, Here

Die profeet roep die hele gemeente bymekaar, jonk en oud, “self dié wat nog drink”!, leiers, priesters en volgelinge, om hulle te reinig voor die Here. Die normale gang van die lewe – selfs die uitsonderlike gang daarvan (wittebroodskamer) – moet onderbreek word om die Here te smeek om medelye en om die openbaring dat Hy hulle God is. Niemand is te jonk (suigelinge) of te oud, te belangrik of te onbelangrik, te besig of te ontspanne, om die ontmoeting met die Here te mag mis nie. Die hoop is dat die Here die straf sal herroep, sodat hulle nie ‘n bespotting onder die nasies sal word en wees nie.

2:18-20 – Die vyand sal verdryf word

Die uitkoms wat die Here sal gee – wat eers in die toekoms vervul sal word, maar hier geskilder word asof dit reeds gebeur het – word in gloeiende terme uitgespel wat ooreenkom met die seëninge wat as deel van die verbondsbeloftes in Deuteronomium aangedui word.

Die Here herstel hulle land: ekonomies en polities. Hulle sal weer oorgenoeg hê om van te lewe.

2:21-27 – Die volk sal volledig herstel word

Die Here herstel hulle volk: ekologies en godsdienstig. Die boere sal weer gelukkig wees omdat alles weer groen raak weens die reën wat op sy tyd sal kom. Die rykdom van hulle oeste sal die verlies van die sprinkaanswerms (steeds ook nog ‘n metafoor vir die vyand) vergoed. Hulle sal die Here weer kan dien soos van ouds: “Dan sal julle besef … dat Ek die Here julle God is, dat daar buiten My nie ‘n ander is nie.

Daar is ‘n baie interessante ander manier om te kyk na vers 23 in dié teks. Daar word tans vertaal dat die Here “die reëns betyds laat kom” (NAV), terwyl dit ook vertaal kan word met “gee julle die leraar tot (of van) geregtigheid” (OAV – so ook The Message).

Die woord hammôrêh word normaalweg met leraar vertaal, maar op voetspoor van Ps. 84:7 waar die woord wel met reëns vertaal word (ook in die OAV), en die parallelle gebruik van die vroeë en laat reëns in die volgende reël van vers 23, vertaal die meeste vertalings dié woord met reëns (KJV, NRSV, NIV ensomeer).

Indien die primêre betekenis van die woord as leraar egter gekies word, open dit die interessante moontlikheid dat hier ‘n verskuilde messiaanse verwysing na die bediening van die Leraar by uitnemendheid, die Here Jesus Christus, in die teks gegee word. Dit pas ook goed aan by die uitstorting van die Gees wat in die volgende deel vermeld word. Die keuse is joune, watter betekenis vir jou die meeste sin maak!

2:28-32 – God se Gees sal op alle mense uitgestort word

Die toppunt van die belofte is egter geestelik: “Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense …” Die Here herstel hulle geestelike gemeenskap met Hom.

Daar word ‘n hele paar plekke in die OT gepraat oor die Gees wat op individue gekom het. Vgl. die volgende:

  • Kunstenaars – Eks. 31:3: Besaleël;
  • Leiers – Num. 11:16-29: Moses as profeet en leier van die volk, sowel as ‘n deel daarvan op die sewentig leiers van die volk waaronder Eldad en Medad wat as profete opgetree het, wat Moses laat opmerk het: “Ek sou wou wens dat die hele volk van die Here profete was, en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” – dit gebeur later ook met Josua (Num. 27:18);
  • Rigters – Otniël (Rigt. 3:10); Gideon (Rigt. 6:34); Jefta (Rigt. 29); Simson (Rigt. 13:25; 14:6, 19; 15:14);
  • Konings – Saul (1 Sam. 10:10; 19:23- die Gees het ook gewyk van Saul – 1 Sam. 16:14); Dawid (1 Sam. 16:13; 2 Sam. 23:2 – Hy bid dat die “Heilige Gees” nié van hom sal wyk nie – Ps. 51:13)
  • Boodskappers – Saul s’n (1 Sam. 19:20)
  • Leiersoldaat – 1 Kron. 12:18: Amasai as aanvoerder van Dawid se voorkeur soldate.
  • Profete – bv. Asarja (2 Kron. 15:1) – Nehemia dink terug aan die verlede en sê: “U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete …” (Neh. 9:30)
  • Priesters – bv. die Leviet Jagasiël (2 Kron. 20:14) en die priester-profeet Sagaria (2 Kron. 24:20);
  • Messias – bv. Jes. 11:2.

Hier is egter die eerste aanduiding dat die Gees op alle mense uitgestort gaan word, ‘n antwoord op die wens van Moses! Joël brei dus die prentjie van die werk van die Gees op beduidende radikale en nuwe wyse uit, iets wat met Pinksterdag in vervulling gegaan het (Hand. 2).

Let op dat die Gees op jonk en oud – d.w.s. multigenerasioneel – manlik en vroulik – d.w.s. multigender – op alle sosiale klasse van die samelewing – “selfs op dié wat nie in aansien is nie”– en op alle mense – “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” – uitgestort word. Die Gees se werking sluit inderdaad niemand uit nie, wat ook beteken dat ons niemand mag uitsluit wat die Here se Naam aanroep nie. Later sou Esegiël ook soortgelyke dinge sê oor die uitstorting van die Gees oor die volk (Eseg. 37), maar Joël se belofte troon uit as ‘n unieke skets van wat in die toekoms sou wag.

Die kosmiese tekens, soos vroeër genoem, bevestig dat dié belofte eers in ‘n latere tydsgewrig vervul sal word, soos inderdaad gebeur het.

Boodskap

Die gevaar is altyd groot dat ons deur die bril van die ballingskap na God kyk en net ‘n God sien wat oordeel, wat agter die skerms werk en verlies en vernietiging bewerk weens mense se ongehoorsaamheid en afvalligheid. Joël help ons verstaan met dié twee gedeeltes dat God se bedoeling altyd op inkeer en omkeer gemik is. Hy wil herstel bring, omvattend en vir almal.

Hy red egter nie sondermeer nie, want redding sonder ‘n herstel van die verhouding met die land, met ander nasies, met mekaar en veral met Hom is ‘n redding wat nêrens gaan nie. Daarom dat die profeet hulle so innig smeek om tot inkeer te kom, want: “Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie?” Dieper nog, Joël weet uit die verlede: “Hy is bereid om straf te herroep!” Maar dan moet hulle van binne-af tot inkeer kom: “Skeur julle harte, nie julle klere nie.

Dít is wie God is, reeds in die OT, eintlik veral in die OT! Dit ontroer ‘n mens as jy die oorgawe van God om omvattend te seën in die tweede gedeelte raaklees. Dit is nie net die land wat herstel nie; dit is ook die verhouding met die nasies (waaroor hfst. 3 verder gaan uitbrei); dit is ook die omgewing waar hulle bly, en hulle ekonomie: “Ek stuur vir julle koring en wyn en olie. Julle sal oorgenoeg hê.

Die diepste seën lê egter in die uitstorting van sy Gees op almal. Dit omsluit generasies, gender, klasse, en alle mense wat die Here aanroep. Dit sluit ook die mense in wat die Here sal roep uit die nasies uit om deel van sy herstelde wêreld te wees, iets waarop die NT natuurlik omvattend uitbrei.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Joël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar