Skip to main content

Die boodskap van Joël vir vandag

The End of the World, also known as The Great Day of His Wrath by John Martin.

Ek het ‘n navraag gekry oor die toepassing van die boodskap van die boek Joël vir ons as Nuwe Testamentiese Christene.

“Noudat vir ons sondes aan die kruis betaal is, is God se bedoeling nog steeds dat daar inkeer en omkeer van ons lewens moet wees voordat God sal help? Moet die verhoudings wat tussen ons en God en ons en ander mense verbreek is eers herstel word voordat God sal help? ( Ek verstaan dat God soewerein is en enige tyd kan help). As mens bogenoemde manier van verstaan deur trek na die huidige omstandighede in Suid Afrika, kan mens die afleiding maak dat ons as die volgeling van Jesus Christus ons voortgaande (nuwe onbelyde) sondes weer moet erken, bely en ons gedrag verander (omkeer) en voluit met dankbaarheid leef, voordat God die omstandighede in Suid Afrika sal verander?

Hier is ‘n kort antwoord wat die rigting aandui waarin ‘n mens moet dink hieroor.

Die sentrale tema in die boek van Joël is die koms van die “dag van die Here”. Dit het drie toepassings.

1. Die eerste toepassing is op die Joodse volk.

Die Here roep die Joodse volk op tot bekering deur die boodskap van oordeel wat in die “dag van die Here” opgesluit lê (1:1-20). Hy belowe medelye en voorspoed vir dié wat na Hom toe terugkeer (2:1-32). Vir dié wat egter nie luister nie, wag daar verwoesting, die verwoesting van die ballingskap.

Dit is dan ook wat gebeur het met die volk van Juda. Hulle het nie geluister nie, en God het hulle gestraf. Hulle land is verwoes deur vier verwoestende sprinkaanplae (1:4-7) en die volk is in ballingskap weggevoer.

Joël het egter ook gepraat van ‘n herstel van die volk (2:21-27), ‘n verandering van hulle lot (3:1-3), en oorvloed in die teenwoordigheid van die Here (3:18-21). Dit het ook waar geword met die terugkeer uit ballingskap.

2. Die tweede toepassing is op alle mense.

Die boodskap van die “dag van die Here” word in die NT na alle mense uitgebrei. Dit neem sy aanvang reeds met die koms van Jesus en sy kruisdood en opstanding (Joël 2:28-32; Matt 27:45-66), sowel as met die uitstorting van die Heilige Gees (Joël 2:28-32; Hand 2:14-36).

Die Here roep deur hierdie boodskap almal op om tot inkeer te kom, soos Petrus dit eksplisiet uitspel in die tweede deel van sy toespraak op Pinksterdag (Hand 2:37-47). Dié wat gehoorsaam, ontvang vergifnis en die belofte van die Heilige Gees. Dié wat ongehoorsaam is, bly onder die toorn en straf van die Here.

Dit is dus die hoofboodskap wat die boek van Joël nie net vir Christene het nie, maar vir alle mense. Bekeer julle, laat julle gedoop word tot vergifnis van sonde, en ontvang die Heilige Gees as gawe van God die Vader. Anders bly julle onder die oordeel van God.

Die geestelike betekenis van hierdie boodskap oorheers dus in die NT, hoewel die “dag van die Here” vir seker ook politieke, ekonomiese en selfs ekologiese implikasies vir mensegroepe kan inhou.

God praat immers nog steeds deur dinge soos oorlog, misoeste en droogte (Matt 24:1-14; Jak 5:17-18; Openb 11:1-14). Waar ‘n volk of land dus tot inkeer kom, sal die beloftes van Joël ook vervul kan word in ‘n lotsverandering en oorvloed in die teenwoordigheid van die Here.

3. Die derde toepassing is op die kosmos.

Die boek van Joël praat ook oor kosmiese veranderinge wat die einde van die tyd sal aankondig (Joël 2:1-11, 28-32; 3:9-17; Matt 24:29-35; Openb 6 – die kosmiese tekens; 9:1-12 – die sprinkane; 14:14-20 – die sekel en die parskuip). Die vervulling daarvan is nog uitstaande, maar net so relevant vir ons om mee rekening te hou vir die toekoms. Dit sal die hele kosmos betrek.

Lees gerus hoe die Here my een keer gelei het om die boodskap van Joël vir ‘n biddag vir reën te gebruik: Wie weet of Hy nie weer voorspoed sal gee nie – Joël. Ons het direk daarna die voorreg van ‘n antwoord van reën gehad.

Joël


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar