Joël 1:1-20 – Die Here roep die volk op tot bekering deur verwoestende bedreigings

prayer-shawlHierdie eerste deel van Joël begin met ‘n oproep tot aandag. Dit word gerig aan die leiers sowel as aan al die inwoners van die land. Aan hulle word ook die belangrike opdrag gegee om dié boodskap aan die komende geslagte deur te gee: “aan julle kinders, en laat hulle dit weer aan húlle kinders vertel, en dié weer aan húlle nageslag”.

In drie dele word die boodskap aan hulle deurgegee:

  • Die verwoesting van die sprinkane is ‘n teken van die verwoesting deur die vyand – 1:4-7.
  • Treur en rou oor die verlies en vernietiging wat julle ervaar – 1:8-12.
  • Kom by mekaar en roep saam na die Here – 1:13-20

1:4-7 – Die verwoesting van die sprinkane is ‘n teken van die verwoesting deur die vyand

Die Here vestig hulle aandag op vier verwoestende sprinkaanplae ná mekaar wat die wingerde vernietig het. Al die wynsuipers, sê die Here, gaan ontnugterd nugter word. Die wyn is op!

Dít is ‘n metafoor vir die vyand wat teen die land optrek en hulle sal vernietig. Aan die een kant is dit werklike sprinkane wat aan die hand van hulle vreeslike vreetlus beskryf word. Maar aan die ander kant is dit ook ‘n tekening van die politieke vyand, soos hoofstuk 2 verder op sal uitbrei.

Indien Joël nét voor die ballingskap na Babel geskryf is, dui dié vyand op die Galdeërs. Die vier sprinkaanplae is moontlik as metafore gebruik vir die verskillende veldslae teen Jerusalem tussen 609 v.C. en 586 v.C. Josia sterf in 609 v.C. in die konflik tussen die Galdeërs en Egipte, Daniël en ander hooggeplaastes word weggevoer in 605 v.C. na ‘n veldtog van Nebukadnesar teen Juda, Jojakim word weggevoer in 597 v.C na Babel in ‘n volgende veldtog, en in 586 v.C. val Jerusalem finaal in die tyd van Sedekia en word Juda in ballingskap weggevoer.

Let ook op dat die vernietiging wel in landbou terme uitgespel word, maar dit is ook ‘n metafoor vir die volk, want dit is “my” wingerd wat verwoes is, “my” vyeboom wat afgebreek, kaalgestroop, en die bas afgevreet is. Dit raak ‘n mens ook dat selfs in hulle vernietiging die Here hulle met Hom identifiseer. Hulle is steeds syne.

1:8-12 – Treur en rou oor die verlies en vernietiging wat julle ervaar

Die skade wat die sprinkane/nasie aanrig word steeds in landbou terme uitgespel. Die graan, drank, weiding, veld, koring, wyn, olywe, gars, vrugte, vye, granate, dadels en appels het alles ten gronde gegaan. Dit is ‘n totale skade vir die ekonomie van die plaaslike saai- en vrugteboere, maar ook ‘n skade vir die tempel ekonomie: die priesters treur omdat daar niks in die tempel is om te eet nie! Die veeboere het ook swaar gekry, soos later genoem word, maar die beweeglikheid van hulle kuddes het waarskynlik ‘n groter ramp vir hulle voorkom.

Weens die verwoesting, raai die Here hulle aan om te rou – soos ‘n bruid rou oor haar bruidegom (“die verloofde van haar jeug” – d.w.s iemand wat aan haar beloof is, maar wat óf nie tot trou kom nie, óf dood is) – want die krisis moet vierkantig in die oë gestaar word. Hulle moet treur en kla “want daar het ‘n einde gekom aan die vreugde van die mense.

1:13-20 – Kom by mekaar en roep saam na die Here

Die krisis wat die Here stuur, is gemik daarop dat daar ‘n nuwe eendragtigheid onder die volk onder leiding van die priesters gevestig kan word. Die priesters moet daarom ‘n vasdag bepaal waar al die leiers en die inwoners van die land bymekaar kan kom om na die Here te roep. Wat hulle beleef, is ‘n “dag van die Here”, ‘n dag waarin Hy verwoestende bedreigings gebruik om hulle tot bekering te roep.

Die verwoestende effek daarvan word weereens in terme van die tempel ekonomie uitgespel, sowel as in terme van die saaiboere se skade, maar nou ook bykomend in terme van die veeboere wie se vee bulk en blêr.

Die profeet self roep hartroerend tot die Here en wys dat hy raaksien wat gebeur, dat dit hom diep raak en verklaar dat hulle almal, soos die diere, “wag op uitkoms van U af.

Boodskap

Dit is regtig fundamenteel dat die boodskap van die Here van geslag tot geslag oorgedra moet word, nie net in goeie tye nie, maar ook in tye van verlies en vernietiging. ‘n Mens sou selfs kon sê, veral in tye van vernietiging. Ons staan immers in ‘n geloofsverbintenis nie net met die gelowiges wat saam met ons aanbid nie, maar veral en in die eerste plek in ‘n geloofsverbintenis met ons kinders en kleinkinders en selfs verder aan in die geslagte.

Dit is ook net so fundamenteel deel van die boodskap van die Here dat verlies en vernietiging ‘n oproep tot samehorigheid en eendragtigheid is vir die hele geloofsgemeenskap. Dit is hierdie tye wat deur die Here gebruik word om mense tot inkeer en ‘n herverbintenis aan Hom te bring wat só noodsaaklik is as soeke na en die wag op die uitkoms van die Here. Soos Joël kan ons dan ook uitroep dat ons “wag op uitkoms van U af.

Joël


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: