Jesaja 3:16-4:6 – Die Here red almal wat vir die lewe opgeskryf is
Vandag se RCL (Revised Common Lectionary) gedeelte is Jesaja 5:1-7, ‘n begrafnislied oor verworde mense. Jy kan my bydrae daaroor hier lees: https://bybelskool.com/jesaja-5-n-begrafnislied-oor-verworde-mense/. Ek kies egter ‘n belofte uit Jesaja 4 in die plek daarvan.
Jesaja 3-4 vorm ’n eenheid. Dit word saamgebind deur die klem op “daardie dag” (Jes 3:7, 18; 4:1, 2) en verdeel in 4 perikope:
- Jerusalem en Juda gaan in duie stort – Jesaja 3:1-12;
- Die Here begin ’n strafregtelike saak teen die volk en sy leiers – Jesaja 3:13-15;
- Die Here oordeel selfs die vrouens van die volk – Jesaja 3:16-4:1;
- Die Here sal egter ’n oorblyfsel laat bly en met hulle nuut begin – Jesaja 4:2-6.
Ons lees net die laaste twee perikope.
Jesaja 3:16-4:6 – Die Here red almal wat vir die lewe opgeskryf is
3:16Die Here sê: “Omdat die vroue van Sion hovaardig is, met uitgestrekte nek rondloop, en met verleidelike oë al trippelend wegstap, met ringe wat klingel aan hulle enkels, 17sal my Heer die vroue van Sion se skedels met skurfte aantas; die Here sal hulle voorhoofde ontbloot.” 18Op daardie dag sal my Heer die versierings wegneem: die enkelringe, sonnetjies en halfmaantjies, 19die oorbelle, armbande en sluiers, 20die kopbande, enkelkettings en lyfserpe, die reukflesse, amulette, 21ringe en neusringe, 22die feesklere, mantels, skouermantels en handsakkies, 23die deurskynende klere, linnehemde, tulbande en sjaals. 24In plaas van die geur van speserye sal daar stank wees, in plaas van ‘n gordel ‘n tou, in plaas van haarlokke ‘n kaal kop, in plaas van deftige klere, ‘n roukleed, in plaas van skoonheid ‘n brandmerk. 25Jou manne, Sion – deur die swaard sal hulle val, jou sterk manne in die oorlog. 26Sion se ingange sal weeklaag en treur, kaalgestroop van mense, sal sy op die grond sit. 4:1Op daardie dag sal sewe vroue een man vasgryp en sê: “Ons eie brood sal ons eet en ons eie klere sal ons dra, laat jou naam net oor ons genoem word; neem ons bespotting weg!”
2Op daardie dag sal die loot van die Here pragtig en luisterryk wees; en die opbrengs van die land sal die trots en roem wees van dié Israeliete wat ontkom het. 3Dié wat oorbly in Sion, wat agtergelaat word in Jerusalem, sal heilig genoem word, almal wat vir die lewe opgeskryf is in Jerusalem. 4As my Heer die vuilheid van die vroue van Sion afgewas, en die bloedskuld van Jerusalem uit haar midde weggespoel het, deur ‘n gees wat oordeel en ‘n gees wat wegvee, 5sal die Here oor die hele gebied van die berg Sion en oor die byeenkoms by Sion bedags ‘n wolk skep, en snags rook en die glans van vuurvlamme. Ja, oor alles wat luisterryk is, sal dit ‘n gewelf vorm. 6‘n Takskerm sal dit bedags wees as skaduwee teen die hitte, en ‘n skuilplek en beskutting teen stortbuie en reën.
Die oordeel van die Here is skrikwekkend. Dit het nie net ‘n effek op die burgerlike samelewing nie (Jes 3:1-12), maar laat selfs die modewêreld – versierings, reukwater, handsakkies ensomeer – in duie stort. Die leiers wat standvastigheid en omvattende welvaart bring sowel as die middele wat die lewe mooi maak, word weggeneem. Die gevolg van die gebrek aan leierskap is verwarring en anargie. Die gevolg van die gebrek aan estetiese (luukse) voorwerpe (Jesaja noem 21 voorwerpe hier!) is verwaarlosing en ’n fokus op oorlewing. Sewe vroue wat ’n man beetpak ter wille van sy naam en sekuriteit, wys op absolute desperaatheid. En hulle bring hulle eie kos en klere … dit is wat gebeur in ’n samelewing wat nie meer reg funksioneer nie en niemand meer veilig voel nie.
John Watts se kommentaar hieroor in die Word reeks het my nogal diep laat nadink oor aspekte van ons eie leefwêreld. Hy sê:
“All society is held together by invisible bonds—common concerns that have a moral base. When these disappear, the body politic disintegrates. Judgment on a people may be passive. It does not have to come by external invasion. It may, and often does, come through internal atrophy. The passage suggests that God is responsible for this deterioration. It is his judgment on those who forget that they are all ultimately dependent on him.”
Wat my egter hoop gee in hierdie gedeelte is dat Jesaja juis in hierdie wanhopige konteks God se oordeel – passief of aktief – nie beskryf as ‘n totale vernietiging nie, maar ‘n suiwering. God se belofte is dat daar altyd ‘n oorblyfsel bly wat weer sy genade en sorg sal ervaar. En dit is ongelooflik om te hoor dat dié oorblyfsel dié mense is: “wat vir die lewe opgeskryf is.” (Jes 4:3). Daarby tref dit my dat die Here die belofte van sy teenwoordigheid gee juis in dieselfde terme as eens in die woestyn. Hy sal Homself egter nou nie net op een plek in die midde van die volk laat blyk deur die wolk bedags en vlammende vuur snags nie, maar by elke woonplek van sy mense. Sy teenwoordigheid sal alles en almal beskut. Hy sal skuiling bied regdeur die dag en nag, selfs teen stortbuie en reën.
Dit sê vir jou dat God ook by jou teenwoordig is – maak nie saak hoeveel verval daar in die samelewing is nie – in die persoon van sy Gees wat in jou bly. Met só ’n bewussyn kan jy enige uitdaging in hierdie lewe pak en selfs begin om iets positiefs te doen aan die verwarring en anargie, sowel as die verwaarlosing en fokus op oorlewing in ons samelewing!
Lees meer: https://bybelskool.com/jesaja-3-4-god-se-oordeel-laat-altyd-n-oorblyfsel/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar