Lukas 12:22-40 – Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees
Lukas 12:22-40 – Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees
22Hy het toe vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle, moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. 23Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. 24Let op die kraaie: Hulle saai nie en hulle maai nie, hulle het nie ‘n stoorkamer of ‘n skuur nie. Tog sorg God vir hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! 25Wie van julle kan, deur hom te bekommer, een el by sy lewe voeg? 26As julle nie eers so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die res? 27“Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie, en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. 28En as God die gras in die veld wat vandag nog daar staan en môre in ‘n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges! 29“Moet ook nie soek na dit wat julle moet eet of drink en daaroor besorg wees nie. 30Dit is immers alles dinge waarna die nasies van hierdie wêreld soek; maar julle Vader weet wat julle nodig het. 31Soek eerder sy koninkryk, en hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 32Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om die koninkryk aan julle te gee. 33Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ‘n onuitputlike skat in die hemel, waar ‘n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. 34Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” 35“Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. 36En wees soos mense wat vir hulle eienaar wag om van die bruilofsfees terug te kom, sodat hulle, wanneer hy tuiskom en klop, dadelik vir hom kan oopmaak. 37Gelukkig is daardie slawe vir wie die eienaar wakker aantref wanneer hy terugkom. Amen, Ek sê vir julle: Hy sal sy gordel vasmaak, hulle vir ete laat aanleun en hulle kom bedien. 38En as hy in die tweede of derde nagwaak kom en hulle só aantref – gelukkig is daardie slawe. 39Maar dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het op watter tydstip die dief kom, sou hy nie by sy huis laat inbreek het nie. 40Wees julle ook gereed, want die Seun van die Mens kom op ‘n tyd wanneer julle dit nie verwag nie.”
Jesus moedig die dissipels op pad na Jerusalem toe ook aan om hulle bekommernisse oor kos en klere agter te laat, want Hy is in staat om vir hulle lewe en liggaam te sorg. Hy gebruik weer voëls as ‘n voorbeeld van God se sorg, maar noem spesifiek die kraaie. Jesus praat ook weer oor die futiliteit van bekommernis, omdat ‘n mens nie daardeur selfs ‘n klein dingetjie (vir God) kan regkry nie, bv om jou lewe te verleng. Waarom sal jy jou dan kwel oor die res van jou behoeftes. Jesus gebruik ook weer die voorbeeld van die lelies en die gras om die sorg van God te beklemtoon, selfs in terme van skoonheid (lelies) en in terme van dít wat op die korttermyn belangrik is (gras). Weereens moedig Hy hulle aan om nie kleingelowig te wees nie.
Jesus kontrasteer hier twee maniere van lewe. ‘n Soeke na lewensmiddele en ‘n soeke na die koninkryk van God. Gelowiges moet hulle lewe laat bepaal deur laasgenoemde en eersgenoemde sal deur God self vir hulle bygevoeg word. Dan brei Jesus ‘n bietjie meer uit, veral met die oog op die afskeid wat wag in Jerusalem. Hulle is wel nog ‘n klein kuddetjie (‘n unieke beskrywing van die dissipels), maar God die Vader het reeds besluit om aan hulle die koninkryk te gee. Wat ‘n belofte! Trouens, Jesus is só oortuig daarvan dat God soos ‘n Goeie Herder vir sy kuddetjie kan sorg dat Hy hulle aanraai om hulle besittings te verkoop en aalmoese te gee. Dit beteken nie dat hulle niks mag besit nie, maar doodgewoon dat hulle dit kan bekostig om in die hemel te belê eerder as in hulle aardse bestaan, want God sorg vir hulle. Hulle kan dit waag om ‘n afstand te handhaaf van hulle besittings en vrygewig daarmee om te gaan. Só ‘n lewe sal vir hulle beursies gee wat nie oud word nie, ‘n onuitputlike skat in die hemele waar dit nie verlore of vernietig kan raak nie. Ouderdom, diefstal en vernietiging sal hulle lewe nie kan bedreig nie. Die punt is dat jou hart is by jou skat. Dit is beide ‘n waarskuwing as ‘n belofte.
Jesus borduur dan verder voort op wat vir sy dissipels nodig is in ’n lewe vir die koninkryk. Hulle moet aan die werk bly in die koninkryk uitgedruk met die beeld van ‘n gordel om hulle heupe waarvan die onderste deel van hulle klere daarby ingedruk is sodat hulle beweeglik kan wees. Hulle moet ook waaksaam wees vir sy terugkoms uitgedruk met hulle lampe wat aan die brand moet bly, soos in die gelykenis van die tien meisies (Matt 25:1-10). Jesus onderstreep dan hierdie noodsaak van toewyding aan Hom met die gelykenis van die waaksame slaaf. Die dissipels moet wees soos mense wat vir hulle heer wag wanneer hy terugkeer van ‘n feestelike bruilof, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy aan die deur klop. Teen die verwagting in sal hy dan kom om hulle te bedien. Watter onverwagse seën! Maar, hulle moet gereed wees daarvoor, selfs as hy in die tweede of selfs as hy in die derde nagwaak kom, anders sal hulle dit mis. ‘n Beeld van die lang wagtyd vir die Wederkoms. Dan volg Jesus hierdie oproep tot waaksaamheid op met nog ‘n gelykenis, die gelykenis van die huiseienaar en die dief. Nogal ‘n vreemde een! Die huiseienaar sal net die dief kan keer as hy wakker bly tot hy kom, want die dief adverteer nie sy planne wanneer hy deur die huis se kleistene sal inbreek nie! Op ‘n soortgelyke wyse moet die dissipels ook gereed wees vir Jesus se Wederkoms, want die Seun van die mens kom op ’n tyd wat hulle dit nie verwag nie, soos ‘n dief in die nag.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-121-1335-god-sorg-vir-sy-kinders-in-gevaar/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar