Skip to main content

Psalm 80:9-19 – Maak ons lewend! Net ú Naam sal ons aanroep

9 Augustus

Ons het al Psalm 80:1-8 gelees. Jy kan my bydrae hier lees: https://bybelskool.com/psalm-801-8-god-is-ons-herder-en-heerser/ Hier is die tweede deel van die Psalm.

Psalm 80:9-19 – Maak ons lewend! Net ú Naam sal ons aanroep

9U het in Egipte ‘n wingerdstok uitgetrek; U het nasies verdryf en hom geplant. 10U het voor hom skoongemaak; hy het wortel geskiet en die land vol gerank. 11Berge is deur sy skadu oordek, die magtige seders deur sy takke. 12Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see, en sy lote tot by die Rivier. 13Waarom het u sy tuinmuur afgebreek, sodat almal wat daar verbygaan, sy vrugte pluk? 14Wildevarke uit die bos vreet hom kaal; bosvarke uit die veld vreet hom op. 15O God, Heerser oor alle magte, kom tog terug! Kyk uit die hemel en sien dit raak! Versorg hierdie wingerdstok, 16die steggie wat u regterhand geplant het, die spruit wat U vir Uself grootgemaak het. 17Hy is met vuur verbrand, afgekap. Laat hulle vergaan weens die bedreiging van u teenwoordigheid. 18Hou tog u hand oor die man aan u regterkant, oor die mensekind wat U vir Uself grootgemaak het. 19Ons sal nie van U wyk nie. Maak ons lewend! Net ú Naam sal ons aanroep. 20Here, God, Heerser oor alle magte, herstel ons; laat skyn die lig van u aangesig, sodat ons verlos kan word.

Psalm 80 is ‘n uitstekende Psalm om in voorbidding vir mense in die geloofsgemeenskap te gebruik. Elke gebedsversoek in hierdie Psalm is gebaseer óf op die vervulling van ‘n belofte in die verlede –die uittog uit Egipte en die intog in die Beloofde Land – óf op die openbaring van God se wese en werk – Hy is die “Heerser oor die magte” en kan “uittrek” en “plant” – in die hoop dat God weer só sal optree. Die Psalmis maak ‘n appèl op God om in ‘n nuwe situasie herstel te bring deur die metafoor van Israel as God se wingerdstok wat Hy uit Egipte gaan haal het om in Israel te kom plant, in te span. Dit is ’n metafoor wat gereeld in die profete van die OT gebruik is (Jes 5:1-7; Jer 2:21; 12:10; Eseg 19:10-14; Hos 10:1 – ook Jakob verwys na sy nageslag met dié metafoor in sy gebed in Gen 49:22). Die Here het tog self vir Israel ’n plek reggemaak, hy kon floreer in sy gebied en sy lote uitstoot tot aan die Eufraat. In vervulling van sy beloftes aan die aartsvaders. Maar, nou is die mure om die land, by wyse van spreke, afgebreek en stroop al die verbygangers, wildevarke en gediertes uit die veld, God se wingerd. Dit kan tog nie, God moet mos optree! Soos in die verlede. Hy span dus die beeld van Israel as wingerdstok in om die Here tot aksie te beweeg, om tog uit die hemel af te kyk (vers 15) en Hom oor Israel, oor sy wingerdstok, te ontferm en weer onder sy sorg te neem. “Versorg hierdie wingerdstok, die steggie wat u regterhand geplant het, die spruit wat U vir Uself grootgemaak het.” (vers 15-16).

Daarom bid Hy dat die Here Hom nie net oor die heelal sal bekommer nie, maar oor sy mense met wie Hy in ’n intieme verhouding is; Hom oor hulle sal ontferm en weer onder sy sorg sal neem. “Dán sal ons nie weer van U af wegdraai nie … dan sal ons u Naam aanroep!” (vers 19 – 1983-vertaling). Verandering kom net van God af. Waar Hy ingryp in ons lewe, kry ons dit reg om Hom, en Hom alleen, te aanbid.

’n Subtiele boodskap is verskuil in vers 18 wat ‘n mens met die werk van Jesus in verband kan bring. Die Psalmis praat van ’n individu wat die Here uitkies om verandering te bring: “Hou tog u hand oor die man aan u regterkant, oor die mensekind wat U vir Uself grootgemaak het.” Dit dui op ‘n verskuilde manier op die belofte van die Messias wat sal kom. Die band met die Psalm word versterk as Jesus Homself as die wingerdstok openbaar in Johannes 15:1-8. Hy is in die NT die Een wat die fundamentele verandering in die verhouding met God bring vir elke loot wat in Hom bly. Wat ingryp in ons lewe, ons reinig, ons heilig, sodat ons vir God kan lewe.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-80-laat-dit-weer-met-ons-goed-gaan-verskyn-tog-tot-ons-redding/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar