Rigters 10 – Tola en Jaïr lei Israel vir 45 jaar maar die Here raak onwillig om te red
Die volgende drie hoofstukke beskryf vir ons eers twee kleiner rigters, Tola en Jaïr. Daarna word die verhaal van die groot rigter Jefta in al sy kleur en geur vertel. Die laaste hoofstuk sluit met die verhaal van drie kleiner rigters, Ibsan, Elon en Abdon. Vir die eerste keer sien ons dat die siklus van verval en verlossing die Here se geduld begin beproef … Hy begin onwillig raak om te red sonder dat die volk in ‘n volhoubare verhouding met Hom bevestig word.
Tola hou die naam van Issaskar hoog
Na Abimelek het Tola na vore gekom om die Israeliete te red. Hy was uit Issaskar en was vir 23 jaar lank ‘n rigter van Israel. Geen ander detail is oor hom bekend nie.
Jaïr verwerf vir hom ‘n naam met sy 30 seuns en hulle tentdorpe
Na Tola het Jaïr uit Gilead (die halwe stam Manasse oos van die Jordaan) na vore gekom wat 22 jaar lank ‘n rigter van Israel was. Oor hom is daar meer bekend. Hy het 30 seuns gehad en elkeen van hulle het op ’n jong donkie gery, voorspoedige vername mense. Hulle het ook 30 dorpe besit wat met die skrywe van die boek steeds die tentdorpe van Jaïr genoem is, soos die geval was met van hulle voorsate (Num 32:41; Deut 3:14; Jos 13:30). Meer as dit is nie oor hom bekend uit die boek Rigters nie.
Die Here raak onwillig om in te tree om die volk van hulle afvalligheid te red
Die werk van Tola vanuit Issaskar en dié van Jaïr vanuit Manasse het wel betekenis gehad vir die Israeliete, maar waarskynlik op ‘n meer lokale skaal. Dit kon nie voorkom dat die Israeliete oor hulle hele gebied in hulle ou gewoontes verval om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie.
Hierdie keer het hulle nie net die Baäls en die Astartes vereer nie, maar ook ‘n hele reeks van vyf ander: die gode van Sidon, dié van die Arameërs, dié van die Moabiete, dié van die Ammoniete en ook dié van die Filistyne. Sewe gode of godedomme in totaal. Hulle was op ‘n groot skaal ontrou aan die Here. Trouens, hulle het nie eers meer voorgegee dat hulle Hom dien nie.
Uiteraard het die Here vir hulle kwaad geword en hulle dié keer oorgegee in die mag van die Filistyne en die Ammoniete, maar hierdie keer nie in die hoop dat hulle tot inkeer sou kom nie. Nee, Hy het onwillig begin raak om die herhaalde afvalligheid om te keer. Terloops, die verhaal van die Filistyne sal natuurlik met die verhaal van Simson verder aangeraak word. Dit kan wees dat die verhaal van Jefta en Simson moontlik gelyklopend afgespeel het.
Onlangse kommentaar