Raak stil voor die Here in gebed.
Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.
12 Wie kan die waters in die holte
van sy hand afmeet,
die hemel met sy handspan peil,
met ‘n derde van ‘n efa die stof van die aarde opvang,
met ‘n handskaal die berge weeg,
die heuwels met ‘n weegskaal?
13 Wie kan die Gees
van die Here peil,
wie is die mens wat aan Hom
sy raadsbesluit bekend maak?
14 Met wie beraadslaag Hy,
en wie hou Hom op hoogte,
wie onderrig Hom oor die verloop
van ‘n regsaak?
Wie dra aan Hom kennis oor,
en die pad van wyse beskikking,
wie maak dit aan Hom bekend?
15 Kyk, nasies is soos ‘n druppel
uit ‘n leersak; m hulle word beskou as net
‘n lagie stof op ‘n weegskaal.
Kyk, eilande weeg Hy
asof dit fyn stof is.
16 Die Libanonbos se hout
is nie genoeg
om ‘n vuur te maak,
en sy wilde diere nie genoeg
vir ‘n brandoffer nie.
17 Al die nasies is soos niks
voor Hom;
deur Hom word hulle beskou as
minder as iets niksseggends,
minder as ‘n nietigheid.
18 Met wie wil julle God vergelyk?
Watter afbeelding wil julle
langs Hom stel?
19 ‘n Afgodsbeeld wat ‘n vakman
gegiet het,
wat ‘n smid met goud
oorgetrek het,
‘n smid met silwer beslaan het?
20 As ‘n wydingsgeskenk
kies mens ebbehout, hout wat nie verrot nie.
‘n Vaardige vakman
soek hy vir hom
om ‘n afgodsbeeld te maak
wat nie omkantel nie.
21 Weet julle nie?
Hoor julle nie?
Is dit nie van die begin af
aan julle bekend gemaak nie?
Het julle nie begrip van die aarde
se fondamente nie?
22 Dit is Hy wat troon
bo die ronde skyf van die aarde;
die bewoners daarvan
is soos koringkrieke.
Dit is Hy wat die hemel oopspan
soos ‘n doek,
dit oopsprei soos ‘n tent,
sodat mense daar kan woon.
23 Dit is Hy wat maghebbers
tot niks maak;
die regeerders van die aarde
maak Hy ‘n nietigheid.
24 Skaars is hulle geplant,
skaars is hulle gesaai,
skaars skiet hulle steggies
wortel in die grond,
of Hy het reeds op hulle geblaas,
en hulle verdor;
dan lig ‘n stormwind hulle op
soos strooi.
25 “Met wie wil julle My vergelyk,
sodat Ek net soos hulle sal wees?”
vra die Heilige.
26 Kyk boontoe en sien!
Wie het hierdie dinge geskep?
Dit is Hy wat die hemelse leër
een vir een uitlei,
hulle almal op die naam roep.
Deur die toedoen van Hom
wat groot vermoëns
en geweldige krag het,
ontbreek nie een nie.
27 Waarom sê jy dan, Jakob,
en beweer jy, Israel:
“My lewenspad is verborge
vir die Here, my reg gaan by my God verby”?
28 Weet jy dit nie?
Het jy dit nie gehoor nie?
‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes
van die aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie –
ondeurgrondelik is sy insig.
29 Dit is Hy wat vermoeides krag gee,
wat lewenskrag vermeerder
vir dié wat geen vermoëns het nie.
30 Jong seuns word moeg
en raak afgemat;
jong manne struikel en val.
31 Maar wie op die Here wag,
herwin hulle krag;
hulle kry nuwe vere soos arende.
Hulle hardloop,
maar raak nie afgemat nie,
hulle loop,
maar word nie moeg nie.
Onlangse kommentaar