LEES
Raak stil voor die Here in gebed.
Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.
PSALM 22:23-31
Weereens lees ons die teks in sy konteks.
22:1 Vir die musiekleier . Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. ‘n Psalm. Van Dawid.
2 My God, my God,
waarom het U my verlaat?
Waarom is U ver daarvan
om my te verlos,
ver van die woorde
wat ek uitskreeu?
3 My God, ek roep bedags,
maar U antwoord nie,
ook snags,
maar daar is geen rus vir my nie.
4 U is tog die Heilige ,
U heers waar die lofliedere
van Israel opklink.
5 Op U het ons voorouers vertrou,
hulle het vertrou
en U het hulle bevry.
6 Tot U het hulle om hulp geroep
en hulle het ontvlug;
op U het hulle vertrou
en hulle het nie beskaamd gestaan nie.
7 Maar ek is ‘n wurm en nie ‘n mens nie,
bespot deur die mense,
verag deur die volk.
8 Almal wat my sien,
dryf met my die spot;
hulle gryns en skud die kop:
9 “Wend jou tot die Here !” en
“Laat Hy hom bevry,
laat Hy hom red
as Hy hom goedgesind is!”
10 U is immers die Een wat my
uit die baarmoeder gehaal het,
my op die borste
van my moeder laat vertrou het.
11 Op U is ek aangewese
van die moederskoot af;
van my geboorte af is U my God.
12 Moenie ver van my bly nie,
want die nood is naby;
daar is immers niemand wat help nie!
13 Baie bulle het my omsingel;
die sterkes van Basan het my vasgekeer.
14 Hulle het hulle monde
teen my oopgesper
soos ‘n leeu wat verskeur en brul.
15 Soos water is ek uitgestort,
my hele gebeente val uitmekaar;
my hart het geword soos was,
dit het in my liggaam gesmelt.
16 My krag het uitgedroog
soos ‘n potskerf,
en my tong kleef
aan my verhemelte;
in die stof van die dood laat U my lê.
17 Inderdaad, honde het my omsingel.
‘n Bende kwaaddoeners het my omring;
hulle het my hande en my voete
deurboor.
18 Ek kan al my bene tel.
Hulle staar my aan met leedvermaak.
19 Hulle verdeel my klere
onder mekaar,
en hulle loot oor my boklere.
20 U, Here, moet tog nie
ver van my bly nie;
my bron van krag,
kom my gou te hulp.
21 Red tog my lewe van die swaard,
my enigste lewe uit die mag
van die honde.
22 Red my uit die bek van die leeu,
en van die horings van buffels.
o U het my geantwoord.
23 Ek wil u Naam verkondig
aan my broers;
in die byeenkoms wil ek U loof:
24 “Julle wat vir die Here ontsag het, loof Hom!
Julle, die ganse nageslag
van Jakob, vereer Hom!
Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!
25 Want Hy het die lyding
van die magtelose
nie geminag of misken nie;
Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie;
maar toe hy Hom om hulp gesmeek het,
het Hy gehoor.”
26 U is die rede vir my lofprysing
in ‘n groot byeenkoms;
my geloftes sal ek nakom
in die teenwoordigheid
van dié wat vir Hom ontsag het.
27 Die verdruktes kan dan eet
en versadig word;
wie Hom raadpleeg,
kan die Here loof.
Mag julle harte vir altyd leef!
28 Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29 want aan die Here behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.
30 Ja, voor Hom sal almal
wat oordadig leef,
in aanbidding neerbuig;
voor Hom sal alle sterflinge kniel,
elkeen wat nie die lewe kan behou nie.
31 ‘n Nageslag sal Hom dien;
hulle sal van my Heer vertel
aan die volgende geslag.
32 Hulle sal kom en sy geregtigheid
bekend maak aan mense
wat nog gebore moet word:
Hy het dit gedoen. (Die Bybel 2020-vertaling)
Teks en konteks
Dit is moeilik om dié Psalm te lees, sonder om die lyding, kruisiging en opstanding van Jesus so duidelik hierin te hoor. En natuurlik is dit ‘n Messiaanse Psalm wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar dan vergeet ons te maklik dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het.
Dit is ook ’n lied wat in die liturgie van die geloofsgemeenskap gebruik is (vers 23), spesifiek by die offermaaltyd (vers 26-27) waartydens ook na die armes omgesien is (vgl 1 Kor 11 waar dieselfde sentimente gegeld het vir die nagmaal, dat vir die armes omgegee is).
Die Psalm begin met die diep en donker klag van Dawid dat hy deur God self verlaat voel (vers 2–3). Hy kan dit nie klein kry dat hy bid, en daar is geen antwoord nie, selfs nie as hy dag en nag daarmee volhard nie.
Dié klag word opgevolg deur ’n belydenis van vertroue, gebou op sy ervarings van die verlede, dat God teenwoordig is waar Sy lof besing word, en dat Hy Hom op soveel wyses al in die verlede bewys het vir die verbondsvolk (vers 4–6).
Daarna beskryf Dawid sy lyding, nie net in sy eie ervaring van minderwaardigheid nie: “ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie”, maar ook in terme van hoe mense hom laat voel met hulle spot en venyn (vers 7–9).
Maar sy diepste krisis is eintlik dat sy verhouding met God só anders was in die verlede. Van sy geboorte af was hy in God se sorg (vers 10–11) en hy kan nie anders as om sy lot te bekla voor dié God en om hulp te smeek nie (vers 12).
In pynlike metafore beskryf hy sy smart en lyding, waarin ‘n mens natuurlik nie anders kan as om die kruisigingstoneel van Jesus te herken nie … maar probeer om dit eers net met Dawid te verbind (vers 13-19). Die vyande is soos ‘n trop beeste wat hom toestaan. Soos ‘n trop oop-bek leeus storm hulle op hom af. Hy is soos uitgestorte water wat in die sand verdwyn, sy bene val uitmekaar, sy hart smelt weg uit sy binneste, sy tong kleef aan sy verhemelte … hy is soos iemand wat dood is. Soos ‘n trop honde omsingel hulle hom, en soos ‘n trop misdadigers sak hulle op hom toe.
Maar weereens is sy grootste klag dat in hierdie onhoudbare lyding, hy die ervaring van God se teenwoordigheid verloor het, en vra hy dat God hom sal red, van die honde, die leeus en die wilde beeste (vers 20–22a). Uitnemende digwerk!
En dan kom die wending in die Psalm met die belydenis dat die Here sy gebed verhoor het (22b). En is Dawid se eerste reaksie om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het (vers 23).
Maar dié oproep slaan gou oor in ‘n oproep tot die geloofsgemeenskap om saam met hom die Here te loof (vers 24–27). Wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is. Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie; Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie.
En dan breek die universele boodskap hiervan deur, dat dié God regoor die wêreld geëer sal word, gerugsteun deur die getuienis van sy mense van geslag tot geslag. En in eskatologiese taal word uitgesien na dié dag wat selfs die rykes sal aansit by God se maaltyd, trouens alle mense, selfs al is hulle sterflik en verganklik (vers 28-32).
Boodskap en betekenis
Mensig! Dit is ’n Psalm dié! Van die beste digkuns ooit! En die vergesigte van Dawid, wat die grense van sy eie beperktheid en dié van sy geloofsgemeenskap, trouens van sy volk en tyd oorspoel … Joe, dit maak my opgewonde!
Maar, terug by die Psalm, Messiaans is die Psalm wel. En dit is verstommend om in die verloop van die Psalm eintlik die hele evangelie van Jesus Christus te hoor, selfs die verwagting van die universele impak van Sy boodskap. Lees weer vers 13-19 asof dit deur Jesus aan die kruis gesê is, en aanbid Hom vir die pyn wat Hy bereid was om vir ons te vat …
Terloops: die keuse om die Psalm op die wysie: “Die wildsbok van die daeraad” te sing, wys waarskynlik daarop dat geestelike liedere soms op gewone wysies gesing is.
LUISTER
Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.
LEEF
Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.
Like this:
Like Loading...
Onlangse kommentaar