Skip to main content

1 PETRUS 3:18-22

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

1 PETRUS 3:18-22

Ons lees die teks in die konteks van die hele perikoop.

Riglyne vir optrede 

8 Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, 9 mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar, inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.

10 Immers, “wie die lewe wil liefhê, 

en goeie dae wil beleef – 

laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, 

en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, 

11 en laat hy afwyk van die kwaad, 

en die goeie doen, 

laat hy vrede soek en dit najaag; 

12 want die oë van die Here 

is op die regverdiges, en sy ore is oop 

vir hulle gebedsversoeke, 

maar die aangesig van die Here 

is teen dié wat verkeerde dinge doen.” 

13 Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? 14 Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. 15 Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. 16 Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met ‘n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. 17 Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen. 

18 Immers, ook Christus 

het eens en vir altyd vir sondes gely,

Hy, die Regverdige, 

ter wille van onregverdiges, 

sodat Hy julle na God kon bring. 

Hy is wel liggaamlik doodgemaak, 

maar deur die Gees is Hy lewend gemaak. 

19 Deur die Gees het Hy ook gegaan 

en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig. 

20 Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. In die ark is net ‘n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered.

21 Die doop, wat ‘n teenbeeld hiervan is, red ook julle nou. Die doop dien nie as ‘n verwydering van die vuilheid van die liggaam nie, maar as ‘n smeekgebed tot God om ‘n skoon gewete, op grond van die opstanding van Jesus Christus – 22 Hy wat aan die regterhand van God is, nadat Hy die hemel binnegegaan het, en engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is. 

Teks en konteks

Continue reading

MARKUS 1:9-15

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

MARKUS 1:9-15

Doop van Jesus 

(Matt 3:13-17 ; Luk 3:21-22 ) 

9 In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10 g Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. 11 En ‘n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!”

Jesus word versoek 

(Matt 4:1-11 ; Luk 4:1-13 ) 

12 Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. 13 Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg. 

Begin van Jesus se verkondiging 

(Matt 4:12-17 ; Luk 4:14-15 ) 

14 Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. 15 Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.” 

Teks en konteks

1:9-10 Net ná Markus ons kort en kragtig vertel het van Johannes die Doper se tweeledige boodskap – sy doop met water en Jesus se doop met die Heilige Gees (Markus noem nie van die vuur nie) – gebeur beide met die Here Jesus self! Jesus word gedoop met water en direk daarna gedoop met die Heilige Gees. Dit is eintlik twee kante van dieselfde gebeure. Terwyl Jesus uit die water opkom, sien Johannes hoe die hemele oopskeur en die Gees sigbaar soos ‘n duif op Jesus neerkom.

Die indruk wat ‘n mens dus van Markus se verhaal van Johannes die Doper kry – in vergelyking met die ander drie evangelies – is dat hy net die sentrale punt van Johannes die Doper se bediening wil vertel: die noodsaak van bekering en die te wagte doop met die Heilige Gees, om by die hart van sy verhaal uit te kom, die evangelie van Jesus Christus. Hy kan amper nie wag om die verhaal van voorloper na Verlosser te laat vorder nie.

Maar, dié mededeling oor Jesus is uiters belangrik. Al is dit kort en kragtig. Hoekom? Want, Jesus se doop met water verbind Hom aan mense wat bekering nodig het. En Jesus se doop met die Heilige Gees verbind Hom aan God die Vader wat deur Jesus die Heilige Gees in dié bekeerdes se lewens aan die werk sal sit.

Lateraan is daar wel meer inligting oor Johannes die Doper in Markus se evangelie. Jesus verbind hom aan Elia (Mark 9:13), soos voorspel is in Maleagi 4:5. Maar dit is eintlik uit die ander evangelies wat ons ‘n bietjie meer van hom weet.

1:11 God sit sy seël op hierdie tweeledige doop. Waar Johannes die Doper Jesus met water gedoop het, doop God sy Seun met die Heilige Gees. Die goddelikheid van dié oomblik word bevestig met God se woorde: “Jy is my geliefde Seun, oor Jou is Ek bly.”

Betekenis en boodskap

Soos Jesus deur die doop van bekering en die doop met die Heilige Gees gereed gemaak is vir sy bediening, só werk dit ook in ons geestelike lewe.

  • Deur die doop ontvang ons vryspraak van ons sonde. Word ons ingesluit in die liggaam van gelowiges.
  • Deur die doop met die Heilige Gees ontvang ons die vrug van bekering, ‘n lewe van heiligmaking.

Soos Petrus dit uitspel in sy toespraak op Pinksterdag toe die Heilige Gees op gelowiges uitgestort is:

“Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” (Hand 2:38-39).

Hierdie belofte is ook vir jou. Die belofte van die Heilige Gees is vir jou. Dit maak nie saak nie:

  • Óf jy net die doop van Johannes ontvang het (die twaalf apostels – Joh 1 en ander verwysings; Apollos – Hand 18);
  • Óf jy beide die doop van Johannes en die doop van Jesus ontvang het (die twaalf gelowiges in Efese – Hand 19);
  • Óf jy net die doop van Jesus ontvang het (dié wat deur die dissipels gedoop is – Joh 4; asook die eunug van Ethiopië – Hand 8 – en Saulus/Paulus – Hand 9);
  • Óf deel van ‘n huisgesin was wat gedoop is (Kornelius en sy huisgesin – Hand 10; Lidia en haar huisgesin, sowel as die tronkbewaarder en sy huisgesin in Filippi – Hand 16; Stefanus en sy huisgesin – 1 Kor 1);
  • Óf die Gees ontvang het vóór jy en jou huisgesin gedoop is (Hand 10).

Die belofte van die Heilige Gees is regtig vir jou!

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

GENESIS 17:1-16

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

GENESIS 17:1-16

Ons lees weereens die hele hoofstuk ter wille van konteks.

Besnydenis 

17:1 Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik! 2 Ek wil my verbond tussen My en jou bekragtig en jou buitengewoon laat vermeerder.”

3 Abram het neergeval met sy gesig teen die grond, en God het met hom gepraat:

4 “Wat My betref, kyk, my verbond met jou is: Jy sal die vader van ‘n menigte nasies word. 5 Jy sal nie meer Abram genoem word nie. Jou naam sal Abraham wees, want vader van ‘n menigte nasies maak Ek jou. 6 Ek sal jou besonder vrugbaar maak en jou tot nasies maak. Konings sal uit jou voortkom. 7 Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. 8 Ek gee aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap, die hele land Kanaän, as eiendom vir altyd, en Ek sal vir hulle ‘n God wees.” 

9 God het ook vir Abraham gesê: “En jy, my verbond moet jy nakom, jy en jou nageslag ná jou deur hulle geslagte heen. 10 En dit is my verbond tussen My en julle en jou nageslag ná jou wat julle moet nakom: Elke manlike persoon onder julle moet besny word. 11 Julle moet besny word aan die vlees van julle voorhuide. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en julle. 12 Op die ouderdom van agt dae moet elke manlike persoon by julle besny word, deur al julle geslagte heen – ook ‘n kind uit die huishouding, en dié wat met geld gekoop is van enige vreemde en wat nie deel is van jou nageslag nie. 13 ‘n Kind uit die huishouding en dié wat met geld gekoop is, moet beslis besny word. My verbond moet aan julle liggame wees as ‘n ewige verbond. 14 ‘n Onbesnede manlike persoon wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie – daardie persoon moet van sy mense afgesny word; my verbond het hy verbreek.” 

15 God het vir Abraham gesê: “Sarai, jou vrou, moet jy nie meer Sarai noem nie; want haar naam moet Sara wees. 16 Ek sal haar seën, en boonop sal Ek uit haar vir jou ‘n seun gee. Ek sal haar seën, en sy sal tot nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.”

17 Abraham het neergeval met sy gesig teen die grond, maar hy het gelag en in sy hart gesê: “Kan daar vir ‘n honderdjarige ‘n kind gebore word? Of sal Sara, ‘n negentigjarige, kan geboorte skenk?” 18 Toe sê Abraham vir God: “As Ismael maar net voor U kan leef!”

19 Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as ‘n ewige verbond vir sy nageslag ná hom. 20 Wat Ismael betref: Ek het jou verhoor. Kyk, Ek sal hom seën, hom vrugbaar maak en hom buitengewoon talryk maak. Twaalf leiers sal hy verwek, en Ek sal hom ‘n groot nasie maak. 21 Maar my verbond sal Ek handhaaf met Isak, wat Sara teen hierdie tyd volgende jaar vir jou in die wêreld sal bring.”

22 Nadat Hy klaar met hom gepraat het, het God opgevaar, weg van Abraham af. 

23 Abraham het sy seun Ismael geneem, ook al die kinders uit sy huishouding en almal wat met sy geld gekoop is, elke manlike persoon onder die mense van Abraham se huishouding, en hy het die vlees van hulle voorhuide besny – nog daardie selfde dag, soos God vir hom gesê het.

24 Abraham was nege-en-negentig jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid, 25 en sy seun Ismael was dertien jaar oud g toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid. 26 Op dieselfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny, 27 en ook al die manne van sy huishouding, die kinders uit sy huishouding en dié wat met geld gekoop is van vreemdes. Hulle is saam met hom besny. (Die Bybel 2020-vertaling)

Teks en konteks

Continue reading

PSALM 22:23-32

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

PSALM 22:23-31

Weereens lees ons die teks in sy konteks.

22:1 Vir die musiekleier . Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. ‘n Psalm. Van Dawid. 

2 My God, my God, 

waarom het U my verlaat?

Waarom is U ver daarvan 

om my te verlos, 

ver van die woorde 

wat ek uitskreeu? 

3 My God, ek roep bedags, 

maar U antwoord nie, 

ook snags, 

maar daar is geen rus vir my nie. 

4 U is tog die Heilige , 

U heers waar die lofliedere 

van Israel opklink. 

5 Op U het ons voorouers vertrou, 

hulle het vertrou 

en U het hulle bevry. 

6 Tot U het hulle om hulp geroep 

en hulle het ontvlug; 

op U het hulle vertrou 

en hulle het nie beskaamd gestaan nie. 

7 Maar ek is ‘n wurm en nie ‘n mens nie, 

bespot deur die mense, 

verag deur die volk. 

8 Almal wat my sien, 

dryf met my die spot; 

hulle gryns en skud die kop:

9 “Wend jou tot die Here !” en 

“Laat Hy hom bevry, 

laat Hy hom red 

as Hy hom goedgesind is!”

10 U is immers die Een wat my 

uit die baarmoeder gehaal het, 

my op die borste 

van my moeder laat vertrou het. 

11 Op U is ek aangewese

van die moederskoot af; 

van my geboorte af is U my God. 

12 Moenie ver van my bly nie, 

want die nood is naby; 

daar is immers niemand wat help nie! 

13 Baie bulle het my omsingel; 

die sterkes van Basan het my vasgekeer. 

14 Hulle het hulle monde 

teen my oopgesper 

soos ‘n leeu wat verskeur en brul. 

15 Soos water is ek uitgestort, 

my hele gebeente val uitmekaar; 

my hart het geword soos was, 

dit het in my liggaam gesmelt. 

16 My krag het uitgedroog 

soos ‘n potskerf, 

en my tong kleef 

aan my verhemelte;

in die stof van die dood laat U my lê. 

17 Inderdaad, honde het my omsingel. 

‘n Bende kwaaddoeners het my omring; 

hulle het my hande en my voete 

deurboor.

18 Ek kan al my bene tel. 

Hulle staar my aan met leedvermaak. 

19 Hulle verdeel my klere 

onder mekaar, 

en hulle loot oor my boklere.

20 U, Here, moet tog nie 

ver van my bly nie; 

my bron van krag, 

kom my gou te hulp. 

21 Red tog my lewe van die swaard, 

my enigste lewe uit die mag 

van die honde.

22 Red my uit die bek van die leeu,

en van die horings van buffels.

o U het my geantwoord. 

23 Ek wil u Naam verkondig 

aan my broers; 

in die byeenkoms wil ek U loof: 

24 “Julle wat vir die Here ontsag het, loof Hom!

Julle, die ganse nageslag 

van Jakob, vereer Hom! 

Vrees Hom, ganse nageslag van Israel! 

25 Want Hy het die lyding 

van die magtelose 

nie geminag of misken nie; 

Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; 

maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, 

het Hy gehoor.” 

26 U is die rede vir my lofprysing 

in ‘n groot byeenkoms; 

my geloftes sal ek nakom 

in die teenwoordigheid 

van dié wat vir Hom ontsag het. 

27 Die verdruktes kan dan eet 

en versadig word; 

wie Hom raadpleeg, 

kan die Here loof. 

Mag julle harte vir altyd leef! 

28 Almal tot aan die uithoeke 

van die aarde 

moet daaraan dink 

en hulle tot die Here bekeer. 

Al die familiegroepe van die nasies 

moet voor U in aanbidding buig; 

29 want aan die Here behoort die koningskap, 

en Hy heers oor die nasies. 

30 Ja, voor Hom sal almal 

wat oordadig leef, 

in aanbidding neerbuig; 

voor Hom sal alle sterflinge kniel, 

elkeen wat nie die lewe kan behou nie. 

31 ‘n Nageslag sal Hom dien; 

hulle sal van my Heer vertel 

aan die volgende geslag. 

32 Hulle sal kom en sy geregtigheid 

bekend maak aan mense 

wat nog gebore moet word: 

Hy het dit gedoen. (Die Bybel 2020-vertaling)

Teks en konteks

Dit is moeilik om dié Psalm te lees, sonder om die lyding, kruisiging en opstanding van Jesus so duidelik hierin te hoor. En natuurlik is dit ‘n Messiaanse Psalm wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar dan vergeet ons te maklik dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het.

Dit is ook ’n lied wat in die liturgie van die geloofsgemeenskap gebruik is (vers 23), spesifiek by die offermaaltyd (vers 26-27) waartydens ook na die armes omgesien is (vgl 1 Kor 11 waar dieselfde sentimente gegeld het vir die nagmaal, dat vir die armes omgegee is).

Die Psalm begin met die diep en donker klag van Dawid dat hy deur God self verlaat voel (vers 2–3).  Hy kan dit nie klein kry dat hy bid, en daar is geen antwoord nie, selfs nie as hy dag en nag daarmee volhard nie.

Dié klag word opgevolg deur ’n belydenis van vertroue, gebou op sy ervarings van die verlede, dat God teenwoordig is waar Sy lof besing word, en dat Hy Hom op soveel wyses al in die verlede bewys het vir die verbondsvolk (vers 4–6).

Daarna beskryf Dawid sy lyding, nie net in sy eie ervaring van minderwaardigheid nie: “ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie”, maar ook in terme van hoe mense hom laat voel met hulle spot en venyn (vers 7–9).

Maar sy diepste krisis is eintlik dat sy verhouding met God só anders was in die verlede.  Van sy geboorte af was hy in God se sorg (vers 10–11) en hy kan nie anders as om sy lot te bekla voor dié God en om hulp te smeek nie (vers 12).

In pynlike metafore beskryf hy sy smart en lyding, waarin ‘n mens natuurlik nie anders kan as om die kruisigingstoneel van Jesus te herken nie … maar probeer om dit eers net met Dawid te verbind (vers 13-19).  Die vyande is soos ‘n trop beeste wat hom toestaan.  Soos ‘n trop oop-bek leeus storm hulle op hom af.  Hy is soos uitgestorte water wat in die sand verdwyn, sy bene val uitmekaar, sy hart smelt weg uit sy binneste, sy tong kleef aan sy verhemelte … hy is soos iemand wat dood is. Soos ‘n trop honde omsingel hulle hom, en soos ‘n trop misdadigers sak hulle op hom toe.

Maar weereens is sy grootste klag dat in hierdie onhoudbare lyding, hy die ervaring van God se teenwoordigheid verloor het, en vra hy dat God hom sal red, van die honde, die leeus en die wilde beeste (vers 20–22a).  Uitnemende digwerk!

En dan kom die wending in die Psalm met die belydenis dat die Here sy gebed verhoor het (22b). En is Dawid se eerste reaksie om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het (vers 23).

Maar dié oproep slaan gou oor in ‘n oproep tot die geloofsgemeenskap om saam met hom die Here te loof (vers 24–27).  Wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is.  Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie; Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie.

En dan breek die universele boodskap hiervan deur, dat dié God regoor die wêreld geëer sal word, gerugsteun deur die getuienis van sy mense van geslag tot geslag.  En in eskatologiese taal word uitgesien na dié dag wat selfs die rykes sal aansit by God se maaltyd, trouens alle mense, selfs al is hulle sterflik en verganklik (vers 28-32).

Boodskap en betekenis

Mensig!  Dit is ’n Psalm dié!  Van die beste digkuns ooit!  En die vergesigte van Dawid, wat die grense van sy eie beperktheid en dié van sy geloofsgemeenskap, trouens van sy volk en tyd oorspoel … Joe, dit maak my opgewonde!

Maar, terug by die Psalm, Messiaans is die Psalm wel.  En dit is verstommend om in die verloop van die Psalm eintlik die hele evangelie van Jesus Christus te hoor, selfs die verwagting van die universele impak van Sy boodskap.  Lees weer vers 13-19 asof dit deur Jesus aan die kruis gesê is, en aanbid Hom vir die pyn wat Hy bereid was om vir ons te vat …

Terloops: die keuse om die Psalm op die wysie: “Die wildsbok van die daeraad” te sing, wys waarskynlik daarop dat geestelike liedere soms op gewone wysies gesing is.

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

Leesrooster bydraes op Whatsapp is terug!

My bydraes vir Bybellees op Whatsapp is terug. Stuur jou naam, van en selnommer na nul-agt-twee-574 9191. Sorg dat my selnommer op jou telefoon is. Ek sal sorg dat jy die bydrae ontvang.

Ek gebruik hierdie jaar die RCL Leesrooster. Ek stuur Maandag tot Donderdag die Skrifgedeelte vir die dag (meesal 2020-vertaling; soms ASV) sowel as my bydrae daaroor. Elke week is daar ‘n gedeelte uit die Evangelies, die OT, die Psalms en die res van die NT. Sondae se eredienste sal telkens handel oor een van hierdie tekste (Familiediens, Net die preek, Ligkids, Pulse).

Vorige bydraes kan jy hier bereik.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlDankie! Waardeer.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlDankie Chris, jou uiteensetting is baie goed en help om die tye waarin ons leef beter te hanteer. Volharding en gebed.
  • Chris van Wyk on DaniëlEk is bly die pennie het vir jou gedrop. Dit is só 'n kosbare boek.
  • originalblizzard19aaa84c56 on DaniëlChris, dankie vir jou studie leiding. Ek het, of die Here se redding vir my het gekom in Mei 1973. Baie geleer uit die Heilige Skrif, maar Daniël vermy, behalwe die maklike begin dele. Vir die eerste keer maak Daniel 8 ev baie sin met jou studiegids. Baie, baie dankie. Dolf
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Dankie vir die verduideliking.
  • Chris van Wyk on Openbaring 21Nee, dit is ook nie wat die teks sê nie. Dit gaan oor mense wat towerspreuke en dwelms gebruik om met geeste kontak te maak en nie dit aflê en tot bekering kom nie.
  • Chris van Wyk on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefEk hoop jy geniet dit, Elsie.
  • Marinda Hattingh on Openbaring 21Sekerlik kan die afleiding tog nie gemaak word dat dwelmverslaafdes nie hemel toe gaan nie?!
  • Elsie on Gebruik die Bybellees metodiek: Lees, luister, leefDankie sien uit na die saamreis om te lees, te leer en te leef
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My voorreg.
  • Doreen Snyders on Openbaring 22Net om baie baie dankie te sê vir die wonderlike voorreg om elke dag se reis mee te maak . Dit is só insiggewend en besonders. Ek besef dit verg baie tyd en toewyding en waardeer dit opreg . Sien uit na die volgende aflewerings. Met dank. Doreen Snyders.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22Ek is dankbaar.
  • Chris van Wyk on Openbaring 22My vreugde.
  • Albertus Van Schalkwyk on Openbaring 22Dankie Chris, ek het teen die einde van die Ou Testament eers ingeval, maar dit was (is) voorwaar sielsvereikend en het die Woord soos nooit tevore vir my oopgemaak. Bybel lees in die konteks van die tydlyn om die Drie-enige God waarlik te leer ken. Weer dankie!
  • runawayjoyous2427b27b07 on Openbaring 22Dankie Dr. Chris, vir die voorreg om saam met jou en ander gelowiges deur die Woord van God te stap. Ek het redelik laat (by Handelinge) van Bybelskool gehoor, en het begin om dit saans en soggens te lees. Ek leer so baie. Erna.