Skip to main content

1 Konings 19 – God ly nooit aan uitbranding nie!

Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, kom na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense.  In só ’n situasie werk ’n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie!  Hoe ironies dat ’n leë dreigement só ’n uitwerking op Elia kon hê.

Elia sou egter ook nie veilig wees in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ’n goeie verhouding gehad het (hulle veg bv. saam in ‘n oorlog 1 Kon 22) en vlug daarom na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl die frase “van Dan tot Berseba” wat die vêrste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20).  Hier was ook ’n heiligdom waarteen Amos in die tyd van Jerobeam II uitgevaar het (Amos 5:5).

Dit is egter ook die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Melgisedek gesluit is (Gen 21:27 vv), waar Elia self nou ’n ontmoeting met ’n engel het.  Dit is ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen 21).

En dit is veral ook die plek waar Moses wonderwerke beleef het.

Let op hoe Elia ’n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11).  Die Here versterk hom egter deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses) wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die (ge)berg(te) Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ’n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen 3), hy later water uit ’n rots in die woestyn laat loop (Gen 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks 19-24).  Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg.

Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self.  Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33).  Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie.  Hy is in die fluistering in die windstilte.

Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?”  Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …”  Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom: Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit.  Om die waarheid te sê, Elisa sou eintlik vir Gasael salf en iemand uit sy groep sou Jehu salf tot koning.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie.  Dit is eintlik vir my die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte.

God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie!

1 Konings 20 – Die Here bewys Homself aan Agab, sonder effek

Ek kan dit op ’n manier nie kleinkry dat soveel onomwonde bewyse van God se mag aan Agab gewys word nie, en hy steeds nie tot gehoorsaamheid aan God alleen beweeg word nie.  Twee keer kondig die Here aan wat in die oorlog gaan gebeur, en verslaan die Arameërs voor Israel uit, baie spesifiek om aan Agab te wys dat Hy Here is.  Maar steeds is Agab ongehoorsaam deur nie vir Ben-Hadad dood te maak nie, en eerder ’n verdrag met hom te sluit (vgl Asa in 1 Konings 15), en die Here te ignoreer.

Dit wil voorkom asof Israel op dié stadium onderhorig aan die Arameërs (Sirië) was.  Dit wil ook voorkom asof die skrywers van die Koningsboek Agab minag, deur net 2 keer sy naam te gebruik, en die res van die tyd slegs van die koning van Israel te praat.

Die Here tree egter deur ’n onbekende profeet tot die stryd toe en begelei Agab met die regte strategie in die oorlog teen Ben-Hadad.  Let op hoe Ben-Hadad die oorwinning reeds vier deur saam met die ander konings (van kleiner koninkrykies) te drink.  Dit bekom hom egter suur.

Dieselfde lot tref Ben-Hadad met die tweede oorlog in die vlakte, maar hy word teen die wil van die Here deur Agab begenadig.  Die profeet se optrede om die Here se toorn oor Agab te verkondig is ietwat bisar, maar tog baie effektief, en laat Agab bedruk, ’n bedrukking wat ook in die volgende verhaal van Nabot en sy wingerd ’n rol sal speel.

1 Konings 21 – Die Here handhaaf geregtigheid

Dit tref my hoe baie moeite die Here met Agab doen om hom te bereik.  In die vorige hoofstuk het die Here hom 2 keer in die oorlog gehelp, met telkens ’n duidelike boodskap daaroor aan hom.  Hier bewys die Here ’n stukkie genade aan hom, self in die oordeel wat Agab oor homself bring, deurdat die oordeel eers na sy dood voltrek sou word.

Nabot se verhaal speel in Jisreël af, tussen die Gilboa- en Karmelgebergtes.  Agab het heel moontlik ook daar ’n paleis gehad.  Agab se poging om Nabot se grond in die hande te kry, druis egter teen die eeue-oue erf-tradisie van Israel in (Lev 25), terwyl Nabot ook emosionele bande met die grond had weens sy ouers wat daar begrawe is.

Isebel tree uit haar Feniciese grondbeskouing op – alle grond behoort aan die koning – en laat Nabot vermoor.  Die uitroep van ’n vasdag kan heel moontlik met die droogte van 1 Konings 17-18 verbind word, daarom dat Elia ook hier op die toneel verskyn.  Sommige geleerdes verbind die volksvergadering se optrede dan ook met die soeke na ’n sondebok vir die droogte.

Let op hoe Isebel se optrede steeds tot Agab se skade is, hoewel hy nie direk daarmee iets te doene gehad het nie.  As koning kon hy ’n ter dood veroordeelde se grond in besit neem, maar die Here stuur Elia om die oordeel oor Agab aan te kondig oor hierdie moord.  Sy bloed sou by die wingerd van Nabot opgelek word (Agab sterf op pad na Samaria, maar Joram, sy seun, se lyk word wel hier neergegooi – 1 Kon 21; 2 Kon 9) en Isebel sal in Jisreël aan haar einde kom (deur die toedoen van Jehu – 2 Kon 9).  Agab se huis word ook getref in terme van die kollektiewe verantwoordelik wat in Israel gegeld het in terme van families, ’n oordeel wat voltrek word met die dood van Joram (2 Kon 3) waarmee die Omri dinastie tot ’n einde kom.

Mag korrupteer, absolute mag korrupteer absoluut.  Maar die Here slaap nie, en Hy laat geregtigheid geskied.

1 Konings 22 – 2 Konings 1 – Die Here bepaal die gang van sake

Daar was ’n goeie verhouding tussen Josafat van Juda en Agab van Israel, onder andere omdat hulle kinders, Joram en Atalia, met mekaar getroud is.  Dié dat Josafat ja sê om Agab te help teen die bedreiging van die Arameërs. Die profete wat gevra word om die Here te raadpleeg was almal in diens van koning Agab en daarom aan hom lojaal.  Josafat wil dus ’n ander stem ook hoor, waarop Miga geraadpleeg word.

Die onderonsie tussen hom en Sedekia illustreer iets van die moeite wat mens telkens gehad het om tussen valse en ware profesie te onderskei.  Miga se profesie word deur die uitkoms as die ware stem van die Here bevestig, maar nie sonder dat hy nie verguis en aanvanklik opgesluit word deur Agab nie.  ’n Mens wonder ook of hy nie selfs doodgemaak is op die bevel van die koning nie.

Die prentjie wat Miga gee van wat regtig gebeur in die hemelse raadsaal boei my.  Dit sê in geen onseker taal nie, dat dit die Here is wat die gang van sake bepaal en nie mense nie.  Dat die 400 profete se voorspellings egter van ’n gees (onbepaalde lidwoord) af kom wat doelbewus ’n leuen in hulle monde lê, gaan teen ons grein in, wat die waarheid met God en die leuen met die duiwel assosieer.

Ons moet egter onthou dat dié siening spruit uit die gangbare perspektief van daardie tyd dat alles van God af kom, die goeie en die kwade.  Die duiwel, en daarom die leuen, het ’n baie kleiner rol gespeel as wat in die tussen-testamentêre en Nuwe Testamentiese tyd die geval was.  Soos Job 9:24 sê: ”Hy gee die wêreld oor in die mag van die goddelose, en Hy maak die regters partydig. As dit nie Hy is wat dit doen nie, wie dan?”

Agab misbruik dan vir Josafat, deur homself te vermom, maar Josafat sy koninklike gewaad te laat aanhou, wat amper tot Josafat se dood lei.  Die Here voer egter sy besluit uit deur ’n onbekende soldaat wat ’n pyl afskiet wat Agab se dood veroorsaak.

2 Konings 1 begin vreemd genoeg met ’n verwysing na Moab, maar die saak word nie verder aangeroer nie, sonder dat ’n mens enige idee het hoekom.  Die verhaal van Ahasia, wat reeds in die laaste hoofstuk van 1 Konings begin is, word voortgesit met die klem op sy dwaasheid om die Here te ignoreer en eerder vir Baäl-Sebub te raadpleeg.

Die Here laat hom nie onbetuig in die proses nie en deur die profeet Elia se “vurige” teenwoordigheid handhaaf God sy eer teenoor die goddelose koning.  Let op dat die Engel van die Here die hele tyd by Elia is.

WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer

Elia wil die einde van sy lewe sonder Elisa tegemoet gaan, miskien om alleen te wees, anders juis as ’n toets aan Elisa of hy sy leier alleen sal laat of nie.  Ons weet nie regtig nie.

Die wonder by die Jordaan herinner ’n mens weer aan die ooreenkomste tussen Elia en Moses.  Maar let op dat die simboliese handelinge met die mantel begelei word deur die aanroep van die Here, beide hier met Elia en later met Elisa.  Die mantel het dus nie magiese krag wat outomaties wonderwerke doen nie.  Dit is God wat in beheer is en wonderlike dinge doen.

Elisa se versoek vir ’n dubbele deel van Elia se gees verwys moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17), waarmee hy eintlik net vra dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as Elia te wees nie.  Dit herinner ook aan die oordrag van die Gees op die 70 oudstes in Moses se tyd (Num 11).

Let op dat Elia in die stormwind weggeneem word, en nie in die wa en perde van vuur nie, soos dikwels verkeerdelik aangeneem word.  Die versoek van die profete om Elia te gaan soek, hoewel vrugteloos, het te make met die gebruik van daardie tyd dat ’n lyk begrawe moet word.

Die vloek oor Jerigo, wat ook die water besoedel het, word in ’n wonder deur Elisa opgehef.  Let weereens op dat die sout nie magiese krag het nie, maar dat dit die Here is wat die water bruikbaar maak.

Die straf vir die aantasting van Elisa se gesag as profeet klink vir ons baie wreed.  Hou egter in gedagte 1) dat dit die Here se eer is wat in gedrang is as ’n profeet geminag word en 2) dat dit in Bet-El gebeur waar sinkretisme beoefen is.  Die tragiese verhaal is dus ’n harde woord aan ’n omgewing wat die Here nie wil dien nie en bevestig ook die gesag van Elisa.

Die stryd tussen Moab en Israel is ook bekend uit ’n inskripsie op ’n gedenksteen wat by Dibon ontdek is.  Weereens is daar samewerking tussen Israel en Juda.  Elisa word egter opgesoek as die manskappe se water opraak.  Dat hy nie ontbied word, soos ons soms by Elia gesien het nie, wys dat die voorafgaande gebeure by die Jordaan en Jerigo, sowel as die tragiese gebeure met die kinders ’n ontsag vir Elisa geskep het, selfs by die konings.

Ons kom agter uit die lierspeler wat ingespan word, dat Elisa ’n ekstatiese profeet was wat ’n atmosfeer geskep het waarin hy die stem van die Here kon hoor.  Sy voorspelling dat die Here sal voorsien word waar, en hulle kan Moab verslaan.  Die kinderoffer vervul Israel egter met soveel afgryse dat dit hulle keer van ’n totale verwoesting van Moab.  Mesa interpreteer dit, volgens die inskripsie, as ’n oorwinning vir homself.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda