Skip to main content

1 Konings 5-7 – Salomo bou die tempel in vervulling van die belofte aan Dawid

Let op hoe Salomo erkenning verleen nie net aan wat sy pa vermag het in die vestiging van die koninkryk nie, maar veral die rol van God daarin uitlig.  Die belofte van die Here dat Salomo die tempel sal bou, word nou Salomo se roeping wat hy op uitnemende wyse binne 7 jaar uitvoer (ongeveer 960 vC is bouwerk begin).  Beloftes het immers baie keer ook ons samewerking nodig!  Let ook op met hoeveel wysheid Salomo die versoek om hout aan koning Hiram van Tirus rig.  Salomo het ook ’n uitstekende plan met die houtkappery.  Hy span nie net Hiram se mense teen betaling in nie, maar gee sy mense, dws sy dwangarbeiders, skofte om te werk: 1 maand weg met die kappery in Libanon en 2 maande terug by die huis.

Die dwangarbeid sou egter op die lang duur nie deug nie.  Die breuk na Salomo se dood met die koningskap van Jerobeam I was veral as gevolg van die dwangarbeid.  Interessant is dat volgens 2 Kronieke 2:17 en 18 baie van die arbeiders nie volksgenote was nie.  ’n Mens wonder in watter mate dit ook tot spanning aanleiding gegee het.

’n Nuwe belofte word nou ook aan Salomo gemaak (6:11-13) dat God tussen die Israeliete sal woon en hulle nie sal verlaat nie.  Let op hoe ’n groot verantwoordelikheid die Here tog ook met die belofte op Salomo lê: “As JY volgens my voorskrifte leef … sal Ek my beloftes nakom teenoor jou.”

Van een kant gesien sou die tempel die godsdiensbeoefening in Israel verenig, en was dit inderdaad die ideaal wat reeds in Deuteronomium uitgespreek is.  Van ’n ander kant gesien het die tempel juis in Jerusalem die stad in konflik en kompetisie met die ander heiligdomme in Israel gebring.  Die impak daarvan sou lank hierna nog gevoel word.

Salomo skeep ook nie af met die bou van sy paleis nie, maar die fokus bly op die bou van die tempel.  Hiram van Tirus was die vakman (verband met die koning – 2 Kron 2:1-16).  Soos die skrywers sê, daar is so baie brons gebruik dat dit nie geweeg kon word nie.

Salomo was by net een veldslag betrokke (2 Kron 8:3) en dit nadat hy die tempel gebou het.  Die tempel kon net in ’n tyd van rus en vrede gebou word.

1 Konings 8-9 – Die tempel ‘n huis van gebed

Met die ark se skuif binne die tempel in, vul die wolk van die Here, sy magtige teenwoordigheid, die huis van die Here, sodat die priesters nie hulle werk behoorlik kan doen nie (vgl 2 Kron 5:2-14 waar meer inligting oor die priesters gegee word).  Salomo spreek dan die volk toe waarna hy ’n roerende gebed bid, die langste opgetekende gebed in die Bybel.  In sy toespraak fokus hy op die belofte wat die Here teenoor Dawid nagekom het in terme van die bevestiging van Salomo se koningskap.  In sy gebed fokus hy op die transformatiewe krag wat gebed sal hê, selfs van vreemdelinge af.  Oral waar mense die Here dien en sy aangesig soek, sal Hy ontvanklik wees vir hulle gebede.  Laat ‘n mens dink aan Jesus wat van die tempel as ‘n huis van gebed gepraat het (Mark 11:17 en Jes 65:7).

Hiermee het Salomo die godsdiensbeoefening van Israel verenig waarmee die Intog in Kanaän uiteindelik afgehandel is.  Wat my egter tref van sy gebed is dat dit wel fokus op die tempel en God se teenwoordigheid daar, maar dat dit nie tot ’n verheerliking van die tempel as sodanig lei nie.  Jy hoef nie eers by die tempel te wees om te bid nie,  Jy kan op enige plek bid na die God wie sy teenwoordigheid deur die tempel bevestig word, en geantwoord word.  Salomo is ook baie duidelik daaroor dat God nie beperk word deur die tempel nie: “selfs die hoogste hemel kan U nie bevat nie.” (1 Kon 8:27)

Nadat Salomo die volk geseën het, is daar 14 dae lank fees gevier met ’n geweldige hoeveelheid beeste en kleinvee.

Die tempelwyding word afgesluit met ’n waarskuwing van die Here dat Hy gehoorsaamheid wil hê, anders sal Hy sy beskermende hand terugtrek van die volk.  Dit demp ’n bietjie die uitbundige atmosfeer wat in die vorige hoofstuk geskep is.  Die hoogtepunt van Salomo se regering, die bou van die tempel, word immers in hoofstuk 11 gevolg deur sy laagtepunt, die dien van afgode.

Hoofstuk 9 sluit af met ’n paar mededelings oor Hiram van Tirus en die farao van Egipte wat Salomo se “standing” in die koninklike geledere bevestig.  Let ook op na die formalisering van ’n (dwang)arbeidersklas uit die oorblyfsels van die Kanaänitiese volkere, waarskynlik die punt waaruit baie van die moderne konflik tussen die Palestyne en die Jode spruit.

1 Konings 10-11 – Die Here is lief vir Salomo, maar hy is lief vir perde en vroue

Salomo was regtig ’n besondere koning.  Nie net kom die koningin van Skeba ondersoek instel na sy vermoëns nie, maar ook ander konings: “Die hele wêreld het probeer om hom te sien te kry en die wysheid wat God hom gegee het, aan te hoor.”  Skeba hou moontlik verband met Dedan, ’n Noord-Arabiese nomadestam (vgl. Gen. 25:1–3). Die koningin het dus uit die suide gekom.

Die moeilike vrae wat sy aan hom stel was heel moontlik raaisels, ’n gewilde tydverdryf in die Midde-Ooste.  Let veral op hoe die koningin van Skeba Salomo nie net loof vir sy wysheid en die prag en praal van sy koningskap nie, maar ook spesifiek vir God loof wat soveel liefde aan hom bewys het.  Hoe mooi sê sy dit nie: “Dit is omdat die Here Israel vir altyd liefhet dat Hy u as koning oor hulle aangestel het om die orde en reg te handhaaf.” (10:9).

Hoe ironies dat die skrywer in hoofstuk 11 vir ons vertel dat Salomo baie lief was vir uitlandse vroue.  En dit is dié vroue wat hom verlei het – veral in sy ouderdom (middel-vyftigs!) – om ander gode te dien, sodat hy God nie meer met dieselfde toewyding gedien het soos Dawid nie.  Salomo beantwoord God se liefde met ’n liefde vir ander gode wat lei tot die skeuring van sy ryk.  Hy het selfs ’n hoogte gebou op die berg teenoor Jerusalem wat in direkte konflik met die tempeldiens gekom het.

Terloops, dit wil lyk asof die farao se dogter met minder argwaan bejeën word as die vroue uit van die nasies waarmee Israel veral in sy beginjare baie konflik gehad het.  Die Egiptiese gode was ook nooit so geredelik aanvaarbaar vir die Israeliete as van die ander Kanaänitiese gode van die omringende nasies nie.  Milkom en Kemos was spesifiek baie afskuwelike gode vir die Here, veral weens die kinderoffers wat met hulle godsdiens saamgegaan het.

Daarby het Salomo ’n groot klomp perde aangehou wat saam met sy liefde vir vroue (die byvroue was gewoonlik slavinne) ’n duidelike oortreding was van die voorskrifte vir konings wat ons vind in Deut 17:16-17.  Die ideaal was dat ’n koning nie te veel perde of te veel vrouens moes hê nie, want anders sou hy weens die perde sy vertroue eerder op sy militêre mag as op die Here plaas, en weens die vroue verlei word om ontrou te wees aan die Here.

Dit is ook ironies dat die eerste persoon wat die Here kies om in opstand te kom en die proses te begin om die ryk in twee te laat skeur, ’n Edomiet was, Hadad, ’n afstammeling van Esau, tweelingbroer van Jakob, die stamvader van Israel (vgl Gen 36:39 – Hadar = waarskynlik Hadad, hierdie Hadad se oupa).  Uiteindelik is dit Jerobeam, ’n onderdaan van Salomo wat die seun van Salomo, Rehabeam, opponeer en die Noordelike stamme van Juda laat wegbreek.

Salomo – ‘n oorsig van sy lewe

Salomo is die derde koning van Israel.  Sy naam beteken vrede. Die Here het hom liefgehad en hom deur die profeet Natan Jedidja laat noem, wat beteken: “die Here het hom lief”. (2 Sam 12:25).

Tog figureer hy eers baie laat in Dawid se termyn as koning, al is hy vroeg reeds in Jerusalem gebore.  Sy pad na die troon word bemoeilik deur Adonia wat met die afgesette leerowerste Joab en die invloedryke priester Abjatar saamsweer om die troon te bestyg.  Hy het egter ook gedugte metgeselle, Benaja, wat sy oog het op die aanvoerdersrol, en Sadok, wat uiteindelik hoëpriester word.  Hulle mondstuk is die profeet Natan, ‘n gedugte man van God, maar ook ‘n vertroueling van Dawid en Batseba.

Op vernuftige wyse hanteer Salomo die uitdagings deur ontslae te raak van al drie, Joab, Adonia en Abjatar.  Die koningmoeder speel ‘n belangrike rol, soos ‘n mens in die res van die koningsverhaal met ander konings se moeders sal sien.

Salomo is die eerste dinastieke koning.  Saul en Dawid was charismatiese leiers wat deur God aangewys is.  Salomo sit op die troon omdat hy ‘n afstammeling van Dawid is, dws deel van sy dinastie.

Hy word bekend vir sy wysheid, wat voortspruit uit sy gebed om ‘n “luisterende hart”.  Sy tyd is ‘n tyd van vrede en ‘n hoogbloei beide in die stabilisering van die ryk, maar ook in bouwerk en literêre arbeid.  Groot dele van Spreuke word aan hom toegeskryf, sowel as Prediker en Hooglied.  Ook twee Psalms word aan hom toegeskryf: 72 (die regverdige koning) en 127 (pelgrimslied – “as die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs”).

Talle ander volksliteratuur uit dié tyd eer hom as ‘n wyse.  Daar is Joodse, Arabiese en Ethiopiese verhale van Salomo waar sy intellek en ander vermoëns verheerlik word.

Hy staan bekend as ‘n ysterman, ‘n regeerder wat baie sterk leiding geneem en ‘n uitstekende staatsmasjien geskep het.  Hy het gewerk met 12 administratiewe distrikte wat aan hom belasting betaal het.  En hy het dwangarbeid ingestel, wat aanvanklik uit vreemdelinge bestaan het, maar later ook Israeliete ingesluit het.  Dit was alles ter wille van sy groot bouprojekte.

In die proses het hy van sy mense vervreem, bv. deur 20 dorpe in Galilea vir Hiram van Tirus te gee (1 Kon 9:11).  Nie dat Hiram baie tevrede daarmee was nie.  Dit wil ook voorkom asof hy dit later teruggegee het (2 Kron 8:1-2).

Salomo was ‘n ondernemende handelaar wat die strategiese posisie van Israel ten opsigte van die karavaanroetes baie goed benut het.  Sy verbintenis met Hiram het vir hom die hawens verseker.  Hy dryf in alles handel, onder andere in perde met die Hetiete en die Arameërs (1 Kon 10:28-29).

Farao se dogter was ‘n hoogtepunt in sy internasionale betrekkinge, ‘n ongehoorde ding tot op daardie stadium.  In die Arabiese en Ethiopiese tradisies word ook vertel dat hy ‘n kind by die koningin van Skeba gehad het, Menelik I, die stigter van die Ethiopiese dinastie.  En so het hy sy betrekkinge verstewig met huwelik na huwelik.

Maar wat polities gewerk het, het geestelik nie gewerk nie.  In sy latere jare word hy teengestaan deur Hadad, die Edomiet en Reson van die Arameërs.  En sy huwelike stel hom bloot aan afgodediens wat hy mettertyd begin navolg.  En dit lui die doodsklokke vir sy regering wat die ryk laat skeur.

WEEK 2: 1 Konings 12 – Die magswellus van Rehabeam skeur die ryk … deur die beskikking van die Here

Dit tref my hoe die geskiedenis hom herhaal.  Dawid het moeite gehad om ’n goeie pa vir sy kinders te wees, met tragiese gevolge vir Absalom en Adonia.  Salomo vaar nog slegter.  Waar dit darem nog lyk asof Dawid  ’n verhouding met Salomo het en aan hom sekere opdragte gee, wat Salomo uitvoer, lyk dit asof Salomo geen verhouding met Rehabeam het nie.  Hy het wel ’n oneffektiewe poging om Jerobeam te opponeer (11:40), maar min impak op die verdere prosesse.

Rehabeam se koningskap word aanvanklik beide in die Noorde as die Suide aanvaar.  In Sigem (vgl Josua 24) tree hy egter baie onwys op met die eerste uitdaging wat die Israeliete aan hom stel: hoe hy die dwangarbeid gaan hanteer.  Sy radikalisering van sy pa se beleid teenoor die dwangarbeiders lei regstreeks tot die skeuring van die ryk.

Let op hoe Jerobeam die “spokesperson” word vir die arbeiders, veral dié van Israel se noordelike stamme.  ’n Mens weet nie of sy aanbod om deel van die ryk te bly, as die arbeidslas ligter gemaak sou word, ernstig bedoel was nie, maar dit het in elk geval nie die gewenste uitwerking nie.  Rehabeam steur hom nie aan die billike versoek nie, maar volg die raad van die jonger manne – manne wat interessant genoeg “saam met hom grootgeword het” (vers 10) en sy perspektief op die lewe deel – en vervreem so vir Jerobeam en die noordelike stamme.

Sy optrede word egter ook aan die beskikking van die Here toegeskryf, “sodat Hy sy belofte kon hou wat Hy deur Agija van Silo aan Jerobeam seun van Nebat gegee het.” (vers 15; vgl 11:29)  Hier sien ’n mens weer ’n getuienis van die dubbele oorsaak van dieselfde gebeure, beide van menslike kant gesien as van Goddelike kant.  Dit bly ’n paradoks wat moeilik met mekaar versoen kan word.

Rehabeam se pogings om die opstand teen hom te onderdruk word maklik deur die 10 noordelike stamme afgeweer en die breuk is nooit weer geheel nie.  Hy het nie rekening gehou met die feit dat selfs Dawid se koningskap in die Noorde op grond van ’n ooreenkoms/verdrag was (2 Sam 5:3) en nie op grond van oorerwing, soos wel in die Suide die geval was nie.  Boonop stuur hy ook nog die hoof van die dwangarbeid, Adoniram, om sy wil op hulle af te dwing, met tragiese gevolge vir Adoniram.

Let op hoe selfs die oorlogspogings van Rehabeam deur die Here in die wiele gery word, deur ’n profeet te stuur, Semaja, omdat die Here verantwoordelikheid neem vir die skeuring: “wat gebeur het, kom van My af.” (24).  Daarmee het Rehabeam nie net baie grondgebied ingeboet nie, maar ook ’n groot klomp belasting en moes met ’n kleiner werks- en oorlogsmag tevrede wees.  Sy magswellus boemerang lelik op hom.

Jerobeam se koningskap oor die 10 stamme word deur ’n volksvergadering bevestig.  Maar sy poging om beheer ook van die godsdienstige lewe van sy volk te neem, lei tot ’n dwase keuse om twee goue kalwerbeelde te maak wat in die twee heiligdomme Betel (suide – vgl Gen 12:8: Abraham) en Dan (noorde) opgerig word as teenvoeter vir die tempel in Jerusalem, wat Israeliet 3 keer ’n jaar vir die feeste besoek het.  Daarmee oortree hy egter die wet van die Here, soos Aäron lank tevore.  Die Israeliete volg hom in die aanbidding op die hoogtes en by die twee heiligdomme.  Selfs priesters uit ander stamme word aangestel teen die voorskrifte van die Here.

Jerobeam word daarmee ’n voorbeeld van afvalligheid van die Here, al was dit die Here wat hom die koningskap gegee het.  Net soos Salomo, verkwis hy die gawe van die Here aan hom.  Jerobeam vergestalt daarmee vir die Koningskrywers alles wat verkeerd is met die Israelitiete konings, omdat hulle aandadig was aan die spreekwoordelike: “sondes wat Jerobeam die seun van Nebat vir Israel laat doen het.” (15:26; 16:26, 30 ens.)

Wys ’n mens net weer hoe moeilik ’n bevryder ’n goeie koning word.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda