Skip to main content

2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames

Dit tref my hoe gewone mense, veral vroue, in hierdie verhale aangeraak en gehelp word, die vrou van ’n profeet, die Sunemmitiese vrou, sowel as vernames soos Naäman.  Dit tref my verder dat Elisa nie bv. met die skuldeiser gaan gesels om die skuld van die vrou van die profeet af te skryf nie, maar dat hy haar in staat stel om haar skuld af te betaal met die wonder vermeerdering van die olie in die erdekannetjie.  Dit is ook gewone goed wat gebruik word in die wonders: olie by die weduwee, brood by die ete vir 100 mense, water by die genesing van Naäman.

Die broodvermeerdering laat ’n mens onmiddellik ook dink aan Jesus in die Nuwe Testament wat twee keer ’n soortgelyke wonder doen, met duisende mense wat daarby baat vind.  Let ook op dat  Elisa se slaaf ook beswaar maak teen die opdrag om die brood met so baie mense te deel, net soos die dissipels veel later in die evangelies.

Die opwekking van die seun van die Sunemmitiese vrou laat mens ook dink aan die soortgelyke verhale van Elia, Jesus, Petrus en Paulus wat ook by die opwekking van mense betrokke was.

2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word

Die verhaal van Elisa as wonderwerker word voortgesit, waarin hy weereens nie net ’n impak het op die groter gebeure in die land nie – die Arameërs se bedreiging word twee keer afgeweer wanneer hulle met blindheid geslaan word en as die Here verwarring onder hulle saai – maar ook op die kleiner verhale van gewone mense – ’n verlore byl wat weer terugbesorg word aan ’n arm profeet.

Dit gee vir ons ’n visie op God, vir wie ’n mens met alles kan vertrou, omdat Hy nie net besorgd is oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie.  Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop.  Dit is egter slegs vir die geloofsoog sigbaar.  Let op hoe Elisa vir Gehasi (in die eerste oorlog) help om dié aspek van God raak te sien, maar hoe die adjudant (in die tweede oorlog), ‘n vertroueling van die koning van Israel, die uitkoms wat God bring uiteindelik sien, maar weens sy gebrek aan geloof in God, nie kan geniet nie.  Sy gebrek aan geloof in God se belofte veroorsaak sy dood.

Die tydperk van die eerste oorlog tussen die Arameërs en die Israeliete word nie nader gedefinieer nie, en ook nie hulle konings nie.  Let op hoe naby Elisa aan die Here leef, sodat mense later dink dat hy alomteenwoordig is, en weet wat selfs in die Aramese koning se slaapkamer gebeur!  Hy is natuurlik bekend by die Arameërs deur die verhaal van Naäman.

Die Here se barmhartigheid word ook geïllustreer met die ete wat die Arameërs in Samaria te beurt val, eerder as die dood.

Die tweede oorlog waarin Ben-Hadad (III) Samaria beleër was in 797 vC, heel moontlik redelik lank na die vorige een (vgl 6:23 – “Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie”), wat ook met ’n droogte saamgeval het.  Dit lyk ook asof Elisa nie meer die koning van Israel (Joahas of Joas) se guns geniet nie (vgl 7:31 – hy wil Elisa doodmaak).

2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes

Die eerste klein verhaaltjie van dié hoofstuk skets ’n ander kant van Gehasi, waar hy nie net oor sy eie voorspoed bekommerd is nie, maar ook oor dié van ander.  Hier help hy die Sunnemitiese weduwee (vgl hfst. 4) om haar grond na die droogte terug te kry.  Net jammer dat die koning nie uit dié en ander verhale van God se sorg tot gehoorsaamheid beweeg is nie!  ’n Mens wonder of Gehasi nog melaats is, maar die skrywers laat ons in die duister daaroor.

Ek dink baie mense wil heimlik weet wat die toekoms vir hulle en ander inhou.  Moontlik omdat dit jou sekerheid kan gee oor wat gaan gebeur, en jy jou beter daarop kan voorberei.  Dié verhaal van Elisa en Gasael wys my egter dat sulke kennis nie altyd iets is wat vrede en geluk bring nie.  Die openbaring van die Here laat Elisa in trane uitbars, omdat hy sien watter leed Gasael nie net in Aram gaan veroorsaak nie, maar ook in Israel.  En die visie word onmiddellik waar as Gasael vir Ben-Hadad vermoor.

Ek dink dit is een van die redes waarom Jesus later ons sou aanraai om te fokus op vandag en wat God se wil vir vandag is, en doelbewus die dag van môre in die hand van die Here te los en Hom daarvoor te vertrou.

God se getrouheid aan sy beloftes word te midde van die ongehoorsaamheid van Joram en Ahasia volgehou, volgens die skrywers as gevolg van hulle band met die Agabshuis.  Juda het dus nie enige aanspraak op beskerming vanweë hulle eie prestasie nie, maar net op grond van God wat genadig wil wees ter wille van Dawid.

2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie

Wat verrassend is vir my in die gedeelte, is die gemak waarmee die ander generaals Jehu se salwing as koning aanvaar.  ’n Mens wonder hoekom? Moontlik is dit vanweë die samesprekings wat hulle daar gehou het en wat heel moontlik oor ontevredenheid oor die koningshuis gegaan het.  Die profeet se opdrag om onmiddellik te vlug is weer moontlik om te keer dat hy vasgevang word in die konflik, wat ook die rede kon wees dat Elisa nie self gegaan het nie.  Vergelyk die bevel van Jehu in 9:15 dat niemand uit Ramot mag wegkom nie.  Dit was waarskynlik om te keer dat die nuus oor sy koningskap te vinnig versprei.  Jehu was heel moontlik ook nog aan die herstel van die oorlog en wou die voordeel van verrassing gebruik in sy veldtog teen die twee swaers, Joram en Ahasia.

Jehu was nou werklik nie ’n kat wat jy sonder handskoene aanvat nie: “hy dryf soos ’n mal mens”! (9:20).  Beide konings van Juda en Israel, Ahasia en Joram, bly in die slag op dieselfde dag, weens die oordeel wat oor die huis van Agab uitgespreek is.  Let op dat die oordeel ook aan die verhaal van Nabot verbind word.  Trouens dit gebeur op die einste stukkie grond!  Dit is daarom ook gepas dat Isebel, die aanstigter van Nabot se moord, in die slag bly, grimering en al.  Let tog op met hoeveel bravade sy optree, en Jehu se koningskap met dié van die 7-dag-lange-regeerder Simri vergelyk.  Maar die honde het haar verslind … in vervulling van God se woord.

Hierop volg die grusame uitwissing van die hele mansgeslag van Agab, 70 prinse in totaal in Samaria.  Let op hoe slim Jehu te werk gaan om die amptenare aan sy kant te kry, wat ’n paleisrevolusie veroorsaak.  Assirië het immers 3 jaar geneem voor Samaria in die laat 8ste eeu geval het.  Jehu oorwin deur die amptenary aan sy kant te kry.

En die oordeel sprei uit na Ahasia se kinders ook, 42 in getal, moontlik weens hulle verbintenis met Agab se dogter, waarskynlik ook die ma van ’n hele paar van hulle.  Hoe Jehu egter hieruit enige voordeel kon trek, is onduidelik, en hiervoor is hy deur die nageslagte veroordeel (Hos 1:4).

Op ’n verdere slinkse manier word die Baäldiens deur Jehu uit Israel verdelg.  Van die tempel se oorskot bou hulle kleinhuisies!  Maar, in die beoordeling van sy regering, kom ’n mens agter dat selfs dié grusame uitwissing nie genoeg was nie.  Jehu het ongelukkig die goue kalwers in Bet-El en Dan laat voortbestaan, die nalatenskap van Jerobeam, en so nie genoeg gedoen om sy gehoorsaamheid aan die Here end uit te voltooi nie.  Hoewel die Here nog sy kinders tot in die 4de geslag seën, word die grondgebied van Israel al hoe kleiner, weens die rol wat Gasael van die Arameërs begin speel, presies dit waaroor Elisa lang trane gehuil het.

Jehu se verhaal spel dus onomwonde uit dat die Here volledige gehoorsaamheid soek en niks minder nie.

WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda

Die Israelitiese gemeenskap was sterk patriargaal, maar dit het nie gekeer dat ’n hele paar vroue sterk leierskapsrolle gespeel het nie.  Dink maar net aan Debora in die Rigtertyd, ’n sterk leier wat getrou was aan die Here en die volk vir ’n lang tyd gelei het.  Een van hierdie vroueleiers was Atalia, dogter van Agab en Isebel, wat die eerste en enigste vrou word wat Juda in die koningstyd regeer het.  Ongelukkig was sy net so ongehoorsaam soos haar pa en ma aan die Here, veral in terme van die Baäldiens wat sy in stand gehou het in Jerusalem.

Na die dood van haar man, koning Joram van Juda, én die dood van haar seun, koning Ahasia deur die toedoen van Jehu, bestyg sy die troon in Jerusalem en probeer haar bes om die res van die Dawidiese koningsgeslag – ’n hele paar was haar kleinkinders! – uit te roei.  Jehoseba, ’n ander sterk vrou maar gehoorsaam aan God, suster van Ahasia, en getroud met die hoëpriester Jojada (2Kron 22:11), beskerm egter Ahasia se eenjarige seun, Joas, en hou hom een kant, waarskynlik in die tempel, sodat daar een uit Dawid se nageslag kan oorbly om op die troon te sit.  Daarmee is die reële gevaar afgeweer dat vreemde vorste op die troon van Juda kon sit.

Jojada reël dan na ses jaar ’n priesterlike paleisrevolusie, heel moontlik gekombineer met steun uit die platteland, en nogal op ’n sabbatdag, waarmee Atalia se regering tot ’n einde kom en Joas op sewe jaar koning word.  Let op hoe pertinent gesê word “al die burgers van die land was bly” (11:20) en “die stad was weer rustig”.  Met die Baäldiens ’n gevoelige slag toegedien in die stadskonteks het die meer konserwatiewe platteland weer deel gevoel van die verbond, soos Jojada dit dan ook hernu het, en het die stadsmense tot rus gekom in hulle aanbidding van God.

Let op hoe Joas ’n goeie koning was “al die jare wat die priester Jojada sy leermeester was”.  Maar die ou siekte van die konings, om nie die hoogtes te verwyder nie, gooi uiteindelik wel ’n skaduwee oor ’n andersins uitstekende regeringstyd van 40 jaar.  Sy nalatenskap was veral dat hy die tempel herstel het, een van die belangrike kriteria wat die skrywers van die Koningsboek aanlê om te beoordeel of ’n koning goed of sleg gedoen het.  Dit was net die sinkretisme op die hoogtes wat tot sy nadeel genoem word (vgl 2 Kron 24:17 waar hy op tragiese wyse teen Jojada se seun Sagaria optree, nadat dié onder leiding van die Gees van die Here hom oor sy afvalligheid kom aanspreek).

Let ook op hoe hy die priesters aanvat oor hulle selfverryking, eerder as om die geld wat na die huis van die Here gebring word, te gebruik om die huis van die Here in stand te hou én hoe die eerlike voormanne vertrou word met die werk, sonder om boek te hou van die geld wat hulle daarvoor ontvang.

Joas kry dit reg om die bedreiging van Gasael die hoof te bied, egter teen groot onkoste, deur gewyde gawes aan hom te stuur, maar word uiteindelik self deur ’n paleisrevolusie getref, hierdie keer komende van die amptenary, en word in Bethlehem begrawe.  Die koningshuis van Dawid word egter in stand gehou met Joas se  seun Amasia wat hom opvolg en op sy beurt, na hy goed gevestig was, sy pa se dood wreek op die einste amptenare.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda