Skip to main content

1 Konings 13 – ‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets … en God se geloofwaardigheid

Die gedeelte is vir my soos ’n skop in die maag.  Dit ontbloot aan die een kant die eiegeregtigheid van Jerobeam wat nie net self offers bring op die altaar wat hy opgerig het nie, maar ook die godsdienskalender verander en enigeen aanstel wat priesters wou word.  Dit is so tragies dat iemand wat gekies word om dinge reg te stel, die reg in eie hande begin neem en so ontrou raak aan die roeping wat aan hom gegee is.

Wat egter vir my nog erger is, aan die ander kant, is die man van God wat ’n groot risiko neem om met groot oortuiging, op bevel van die Here (6 keer word dit genoem: verse 1,2,5,9,15) uit Juda teen Jerobeam in Bel-El te kom getuig, wonderwerke in die proses aankondig, vir Jerobeam bid om genade, en dan val vir die misleiding van die óú profeet en die Here se bevel verontagsaam.

Die Here soek gehoorsaamheid bo alles, maak nie saak watter struikelblokke daar in jou pad gerol word nie, selfs nie eers as die struikelblok in die vorm van ’n óú profeet kom, wat aanspraak maak op ’n engelboodskap nie.  Let ook op hoe dit klein persoonlike goed is, om te eet en te drink, waaraan die man van God se gehoorsaamheid getoets word.

Interessant dat die man van God die altaar aanspreek, en dat dit juis die altaar is wat uitmekaar geruk word dat die as op die grond val.  Dié as van die offers het daarmee natuurlik onrein geword (Lev 6:11) waarmee God duidelik sê, die offers is nie vir Hom aanvaarbaar nie.

Sy profesie dat die latere koning Josia in Bet-El “operasie skoonmaak” hier sou uitvoer en mensbene op die altaar sou verbrand, het ’n paar eeue later waar geword (2 Kon. 23:15–18).

’n Mens sou vandag dink dat Jerobeam se versoek dat die man van God bid tot SY God, nes Saul ’n paar geslagte gelede (1 Sam 15:15, 21) getuig van ’n afstand tussen hom en God.  Dit was egter net ’n manier van praat, soos ons bv. by Jakob (Gen 27:20) en Moses ook kry (Deut 11:1).

Ons moet ook raaksien dat die groot verskil tussen iemand soos Jerobeam en bv. Dawid, ’n man na God se hart nie lê in die feit dat die een meer sonde as die ander gedoen het nie.  Die verskil lê in wat hulle doen as hulle besef hulle het iets verkeerds gedoen.  Elke keer wat Dawid aangespreek is oor sy verkeerde dade, het hy die Here opgesoek en sake in die reine probeer bring.  Jerobeam kry dit nie oor sy hart nie.

Die toets waarvoor die óú profeet die man van God stel, is natuurlik nie net gemik op die gehoorsaamheid van die man van God nie.  Dit bevestig ook die geloofwaardigheid van die boodskap van God, deurdat die Here optree toe hy nie end-uit gehoorsaam is nie.  Daarom kan die óú profeet verklaar dat die woord van die man van God sal uitkom, al het hy in die proses gesneuwel.

Die leeu tree ietwat vreemd op deur nie aan die liggaam van die man van God te eet nie, of die donkie en ander omstanders aan te val nie.  Die skrywer beklemtoon daarmee God se ingrype in die situasie.

Die lot van die man van God was natuurlik ook ’n verdere waarskuwing aan Jerobeam en sy volk dat die Here van hulle gehoorsaamheid verlang, anders sou die lot van die man van God ook vir hulle tref.

1 Konings 14 – God is nie onverbiddelik nie

’n Mens wonder waarom Jerobeam nie die lig sien nie.  Eers was daar die duidelike boodskap aan hom in die vorm van die man van God se profesie en wonderwerke in die vorige hoofstuk.  God keur sy afgodediens en eiegeregtigheid nie goed nie.

Nou raak sy seun Abia (die Here is my vader) siek en die blinde Agija sien deur die vermomming van Jerobeam se vrou en voorspel dat die kind sal doodgaan, ironies genoeg die enigste manlike nasaat van Jerobeam in wie God iets goeds gevind het, hoewel hy steeds doodgaan as ’n teken vir Jerobeam.  Maar steeds verander Jerobeam nie.

Die arrogante Rehabeam in Juda loop eintlik dieselfde pad, tart die Here uit met die hoogtes, klippilare en gewyde pale, en selfs manlike tempelprostitute, soveel so dat die Here Egipte gebruik om hulle te straf.  Sisak se veldtog in 927 vC word op ’n muur in die Amontempel in Karnak Egipte uitgebeeld.

Interessant genoeg stroop die Egiptiese leërs net die skatte in die tempel en die paleis, sonder om die stad te vernietig of mense weg te voer in ballingskap.

2 Kronieke 12:1-11 gee die verklaring daarvoor – nadat Rehabeam gewaarsku is oor die inval, het hy en sy leiers hulle verootmoedig voor die Here: “Die Here doen reg” (!) waarop die Here besluit het om hulle nie uit te roei nie.

Dié gebeure gee dus ’n perspektief op God se oordeel wat baie hoopvol is.  Hy is ernstig oor gehoorsaamheid,  maar Hy is nie onverbiddelik nie.  Sy hart versag wanneer daar erkenning en berou is.

1 Konings 15:1-31 – Die Here help dié wat met hulle hele hart op Hom vertrou

Die tema van gehoorsaamheid onder die konings al dan nie, word voortgesit in hierdie hoofstuk.

Abia, Rehabeam se seun by Maäga, ’n (klein)dogter van Abisalom, word koning in Jerusalem. Abisalom verwys waarskynlik na Absalom (vgl 2 Kron 11:20). Maäga word ook as Migaja aangedui, ‘n wisselvorm van Maäga (2 Kron 13:2). Migaja se pa word daar egter as Uriël aangedui wat waarskynlik beteken dat sy Abisalom se kleindogter was. ’n Interessante idioom word gebruik in die Hebreeuse teks om sy ongehoorsaamheid uit te druk: “sy hart was nie lojaal/volledig/perfek toegewy aan die Here nie”.  Vergelyk dit met die “luisterryke hart” van Salomo (1 Kon 3:9) soos “gehoorsaamheid” in die oorspronklike teks lui.

Die Here seën hom egter ter wille van Dawid.  Soos die geval was met sy pa, is daar oorlog tussen hom en Jerobeam van Israel (lees in 2 Kron 13 hieroor, waar dit blyk dat die Here aangeroep word deur Abia en Hy vir hulle die stryd wen – Kronieke dui Abia se ma aan as Miga).

Sy seun Asa was ’n goeie en gehoorsame koning in Juda wat groot hervormings gebring het.  Hy het die tempelprostitute verban, die afgodsbeelde verwoes, selfs sy ouma Maäka as koninginmoeder onttroon en haar Asjerabeeld vernietig.  Hoewel die hoogtes nie heeltemal verdwyn het nie, was Asa, volgens die Konings skrywers, sy hele lewe lank getrou aan die Here.  Hy was ook ‘n slim strateeg en hernu ’n ou verbintenis met Ben-Hadad en die Arameërs (Siriërs) in Damaskus in sy oorlog teen Baesa van Israel.

Die Kronieke skrywers (2 Kron 16:7-10) beoordeel dié verbintenis egter uit ’n ander hoek, deurdat die siener Ganani Asa voor stok kry omdat hy nie op God in sy stryd met Israel gesteun het nie, maar op die Arameërs.  Dit was volgens Ganani die rede waarom hy nooit vrede sou ken nie, maar voortdurend in oorlog gewikkel sou wees.  Let op die pragtige belofte wat in Ganani se profesie voorkom:

“Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9)

Ook die terloopse verwysing na die voetkwaal wat Asa opdoen (1 Kon 15:23) word in Kronieke (2 Kron 16:12) gewyt aan sy keuse om dokters te vertrou eerder as die Here.  Twee jaar later is hy oorlede.

Nadab, seun van Jerobeam, was, soos ’n mens nou al verwag, ’n ongehoorsame koning.  Sy kortstondige regering word beëindig deur Baesa wat in ’n veldtog teen die Filistynese stad Gibbeton vir Nadab om die lewe bring.  Dit lei tot ’n familiemoord, waar al die nasate van Jerobeam uitgeroei word, presies soos Agija van Silo voorspel het (dit is ’n ander Agija as Baesa se pa wat ook die naam Agija dra).

1 Konings 15:33-16:20 – Onbetroubare eiesinnige leiers

Dit bly steeds ’n tyd van storm en drang in die noordelike ryk, wat nie net afgeskeur het van die suide nie, maar ook dreig om onderling uit mekaar te spat.  Drie konings volg mekaar op voordat die dinastie van Omri ’n aanvang neem.  Elkeen van hulle is egter onbetroubare eiesinnige leiers.

Baesa word koning in die plek van Nadab maar vertoorn ook die Here, deur nie die kans wat die Here hom gee met erkenning aan God aan te gryp nie en dieselfde dwase afgodery as Jerobeam te bevorder.  Weereens word die oordeel van die Here oor hom en sy hele huis uitgespreek, dié keer deur Jehu, seun van Ganani, waarvan ons nie veel af weet nie, behalwe dat hy blykbaar ook ’n skrywer was (2 Kron. 20:34).  Die enigste positiewe kommentaar oor Baesa was dat hy dapper was.

Baesa se verhaal belig ’n interessante feit, dat ’n mens die Here se wil kan uitvoer – in sy geval, om die huis van Jerobeam uit te wis – maar dit te doen ter wille van jouself of om jou eie redes, en dan juis daarvoor gestraf te word.  Baesa word dus geteken as ’n eiesinnige rebel en nie ’n  gehoorsame dienaar nie.

Sy seun Ela word na hom koning, maar regeer net 2 jaar voordat een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwa-mag, teen hom saamsweer.  Ela klink na ’n dronklap koning en word in sy paleis vermoor.

Simri volg hom op maar regeer op sy beurt net 7 dae lank voor hy deur Omri, die hoof van die leër, om die lewe gebring word.  Dit is opmerklik dat, anders as met die ander konings tot dusvêr in Israel, dit die volk is wat Omri tot koning uitroep.  Dit is baie betekenisvol in die lig van die latere vereniging van die noordelike volk, hoewel die Konings skrywers nie baie van hom as koning dink nie, weens sy afgodediens.

Hoewel daar hierna egter nog steeds verdeeldheid heers, word die aanhang van Omri al hoe sterker en het hy uiteindelik na die dood van sy hoofteenstander, Tibni, koning oor die hele Israel geword.

Die leeswerk vir hierdie week sluit hier af, omdat die Omri dinastie se verhaal in die volgende verse begin wat nie net ’n verenigende rol gespeel het onder die noordelike stamme nie, veral ook met die bou van die hoofstad Samaria, maar ook voortgesit is met die regeringstyd van sy seun Agab wat so ’n groot rol in die verdere verhaal van Konings speel.

Dit bly steeds ’n tyd van storm en drang in die noordelike ryk, wat nie net afgeskeur het van die suide nie, maar ook dreig om onderling uit mekaar te spat. Drie konings volg mekaar op voordat die dinastie van Omri ’n aanvang neem. Elkeen van hulle is egter onbetroubare eiesinnige leiers.

Baesa word koning in die plek van Nadab maar vertoorn ook die Here, deur nie die kans wat die Here hom gee met erkenning aan God aan te gryp nie en dieselfde dwase afgodery as Jerobeam te bevorder. Weereens word die oordeel van die Here oor hom en sy hele huis uitgespreek, dié keer deur Jehu, seun van Ganani, waarvan ons nie veel af weet nie, behalwe dat hy blykbaar ook ’n skrywer was (2 Kron. 20:34). Die enigste positiewe kommentaar oor Baesa was dat hy dapper was.

Baesa se verhaal belig ’n interessante feit, dat ’n mens die Here se wil kan uitvoer – in sy geval, om die huis van Jerobeam uit te wis – maar dit te doen ter wille van jouself of om jou eie redes, en dan juis daarvoor gestraf te word. Baesa word dus geteken as ’n eiesinnige rebel en nie ’n gehoorsame dienaar nie.

Sy seun Ela word na hom koning, maar regeer net 2 jaar voordat een van sy onderdane, Simri, die aanvoerder van die helfte van die strydwa-mag, teen hom saamsweer. Ela klink na ’n dronklap koning en word in sy paleis vermoor.

Simri volg hom op maar regeer op sy beurt net 7 dae lank voor hy deur Omri, die hoof van die leër, om die lewe gebring. Dit is opmerklik dat, anders as met die ander konings tot dusvêr in Israel, dit die volk is wat Omri tot koning uitroep. Dit is baie betekenisvol in die lig van die latere vereniging van die noordelike volk, hoewel die Konings skrywers nie baie van hom as koning dink nie, weens sy afgodediens.

Hoewel daar hierna egter nog steeds verdeeldheid heers, word die aanhang van Omri al hoe sterker en het hy uiteindelik na die dood van sy hoofteenstander, Tibni, koning oor die hele Israel geword.

Die leeswerk vir hierdie week sluit hier af, omdat die Omri dinastie se verhaal in die volgende verse begin wat nie net ’n verenigende rol gespeel het onder die noordelike stamme nie, veral ook met die bou van die hoofstad Samaria, maar ook voortgesit is met die regeringstyd van sy seun Agab wat so ’n groot rol in die verdere verhaal van Konings speel.

WEEK 3: 1 Konings 16:21 – 18:46 – Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking

Omri se koningskap is die begin van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom opvolg as koning van Israel.  Uit ’n politieke hoek was hy ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne vermeld word.  Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is.  Die Assiriërs verwys bv. ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld.

Maar hy loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart.  Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af.

Hy word opgevolg deur sy seun Agab wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou.  Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El aanmoedig om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig.  Daar is min oor Elia bekend.  Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn.  Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe.  Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!

Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan, ’n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes.  Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ’n Tisbiet uit Tisbe uit Gilead”.

Maar in sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”.

Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant was. Die sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl.  Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom.  Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer.  Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek.  Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Die res van die verhaal kleur vir ons Elia se lewe in as ’n man van God wat veral ’n kragtige gebedsbediening het, en vir wie die Here nie net gebruik nie, maar vir wie Hy ook sorg.  Let op dat elke wonder van die Here ’n sinvolle rol speel in sy bediening.

  1. Die eerste is die droogte wat Elia aankondig, as teken aan Agab en die volk.
  2. Die tweede is by die Kritspruit waar die kraaie vir hom brood en vleis bring, as teken dat die Here sorg.
  3. Die derde is die meel in die kruik en die olie in die kan wat nie opraak nie, weereens as teken dat die Here sorg, net dié keer ook vir die heidense vrou in Sarfat.
  4. Die vierde is die seuntjie wat uit die dood teruggebid word, weereens as teken aan haar.
  5. Die vyfde is die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl nie.
  6. Die sesde is die reëns wat as antwoord op sy gebed kom, as teken aan Agab en die volk.
  7. Die sewende is die feit dat hy voor die wa van Agab uit kon hardloop deur die mag van die Here, as teken aan Agab.

Dit tref my hoe ’n belangrike rol gebed in sy lewe speel en dat gebed ook meesal die wonders voorafgaan.  Dit is in gebed dat die teenwoordigheid van God ons en ander se lewens verander.

“Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” (Jak 5:16)

Let ook op die klein verhaaltjie van Obadja (nie dieselfde persoon as die profeet van die 6de eeu nie) wat op sy stil en pligsgetroue manier ’n 100 profete weggesteek het wat aan die Here getrou wou bly.  Elia mis egter dié feit as hy in hoofstuk 19 kla dat hy al een is wat oorgebly het wat die Here bly dien.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda