Skip to main content

WEEK 4 – Jesaja 28-35

Die oordeelsboodskap teen die nasies word voortgesit en veral gemik op die verdeelde ryk, Samaria en Jerusalem, sowel as teen Egipte, temas wat in die vorige hoofstukke ook aangeraak is. Tussendeur is daar boodskappe van hoop wat in hoofstukke 32-35 breër uitgespel en gefokus word op die belofte van ‘n koning.

Ons lees die hoofstukke dié week as volg:

Donderdag 10 Februarie Jesaja 28 – Ellende vir Samaria
Vrydag 11 Februarie Jesaja 29 – Ellende vir Jerusalem
Maandag 14 Februarie Jesaja 30-31 – Ellende vir Egipte
Dinsdag 15 Februarie Jesaja 32-33 – Belofte van ’n koning
Woensdag 16 Februarie Jesaja 34-35 – Uitkoms vir Sy volk

Jesaja 28 – ‘n Oor vir God bring voorspoed

Jesaja fokus hier op:

  1. die ellende wat wag vir Samaria in Israel – 28:1-6;
  2. die val van die priesters en profete in Jerusalem – 28:7-13;
  3. die hoop vir Sion van ‘n nuwe fondament, ‘n hoekklip – 28:14-22; en
  4. die kennis van God wat alles voorspoedig kan laat loop – 28:23-29.

Hoewel die gedeelte dus met oordeel begin, eindig dit met ‘n wonderlike woord oor God se voorsiening, en ‘n uiters waardevolle les in geestelike onderskeiding.

28:1-6: Met die metafoor van iemand wat ‘n vy wegsluk, word die val van Samaria, die hoofstad van die noordryk, Israel, aangekondig.  Let op dat dit steeds weens hulle dronkenskap en hoogmoed is (dronk van hoogmoed?).  Let ook op hoe die negatiewe beskrywing van Samaria as ‘n kroon of blommekrans op ‘n positiewe manier op die Here van toepassing gemaak word.  Hý wil die trots wees van sy mense, wat dan aan hulle ‘n sin vir reg sal verleen en in staat sal stel om alle aanvalle die hoof te bied.

28:7-13: Jerusalem se priesters en profete is nie beter as die leiers in Samaria nie.  Hulle waggel ook oor hulle voete en kan nie gesigte uitlê (profete) of reguit beslissings maak (priesters) nie.  Hulle uitsprake word met braaksel vergelyk.  Die opstand teen Jesaja – ons hoor net ‘n bietjie brabbeltaal van hom – sal met God se oordeel oor hulle begroet word – hulle uitsprake sal ‘n bietjie brabbeltaal word.  Let op hoe Jesaja (die hy in vers 12) die priesters en profete se taak as rusbring uitspel, in dié sin dat hulle 1) God se woorde (gesigte) moet uitlê en 2) reguit beslissings moet maak.  Rus is om God se woord reg te hoor en reg uit te leef.

Dit spreek my nogal aan: geestelike leiers moet geestelike insig bring oor wie God is en wat Hy sê en doen, sowel as om geestelike onderskeiding te gee oor wat dit in die praktyk beteken.   Nogal iets wat ek ter harte neem.

28:14-22: Jesaja vat die leiers van Jerusalem aan oor hulle arrogante doodsveragtende leuenagtige lewenshouding.  Hulle lieg oor hulle pro-Assiriese houding, en smee eintlik bande met Egipte teen Assirië en dink dat hulle daarmee sal wegkom.  Teenoor hierdie valsheid sal God geregtigheid bring wat die leuens aan die kaak sal stel en uitwis.  Hulle sal die ongemak – bed te kort, kombers te smal – van geen beskerming teen natuurrampe en die dood beleef.

Die gebeure by Perasimberg verwys waarskynlik terug na Dawid se oorwinning oor die Filistyne by Grootkloof, waar die Here ‘n wonderoorwinning vir hulle behaal het (2 Sam 5:17–25 – daar was ‘n geritsel in die toppe van die  melkbosse! Lees meer by my bydrae daaroor: 2 Samuel 5 – ons is tog almal u eie mense). Grootkloof heet ook Baäl-Perisim, en kan waarskynlik met Perasimberg verbind word.  Die verwysing na die laagte by Gibeon kan na dieselfde oorwinning verwys (hulle het daar verby beweeg) of ook na die oorwinning wat die Here vir Josua laat behaal het met die son wat in Gibeon stilgestaan het (Jos 10).

Die boodskap van die hoekklip vind op ‘n besondere manier in die NT weerklank in Paulus (Rom 9:33; 10:11) en Petrus (1 Pet 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk.  Onthou ook die ander kant, die klip waarteen ‘n mens jou voet stamp, soos Jes 8:14 op die tafel gesit het en ook deur Paulus en Petrus gebruik word.

28:23-29: In ‘n besondere metafoor geleen by die saaiboere, word God se onderrig van sy mense met die strategie en metodiek in die saai en oes van verskillende sade verduidelik.  Daar is duidelike ooreenkomste (voorberei, saai, oes, dors), maar ook duidelike verskille (elke saad het sy plek en word verskillend geoes).  Net so is geestelike onderskeiding nodig om met oorleg die kompleksiteit van God se wil prakties te kan uitvoer.  Daar is algemene beginsels wat geld (reg, afhanklikheid) maar ook uiteenlopende strategieë en metodes.

Wanneer ‘n mens se oor egter so ingestel is op Sy detail onderrig, verloop dinge nie net voorspoedig nie, maar beleef ‘n mens die wonder van Goddelike kommunikasie.  Let ook op hoe hierdie beskrywings ‘n mens leer dat daar ‘n seisoen is van strategiese voorbereiding en werk, gevolg deur ‘n seisoen van geduldige wag en versorging in die rypwordingsproses (veronderstel in die teks), en uiteindelik ‘n seisoen vir die versigtige en sorgvuldige oes en dors van die vrug van die oes.  Alles het sy plek en tyd en moet stap vir stap ten uitvoer gebring word.

Wat my net diep onder die indruk bring van hoe belangrik hierdie reis met God se Woord vir my eie praktiese geestelike lewe is!  Daar is strategieë wat ‘n mens volg in die lees van God se Woord, daar is geduld en vertroue in die wag op God wat groei bring, en daar is nougesette en sorgvuldige uitvoering van wat jy by God hoor.

Hoop dit is ook so vir jou!

Jesaja 29 – God gee insig vir die nageslag

Die hoofstuk het drie perikope:

  1. God straf sy volk, sowel as hulle vyande – 29:1-4; 29:5-8
  2. Die straf is weens hulle hart wat ver van God af is – 29:9-16
  3. God sal egter weer insig gee en hulle leer – 29:17-24

Jerusalem word hier simbolies Ariël genoem, ‘n naam wat verskillend geïnterpreteer word.  Dit kan beteken “leeu van God”, “sterkman/held van God” (afgelei uit die woord vir sterk man in 2 Sam 23:20),  of “vuurherd van God” (soos dit in Eseg 43:15 gebruik word – vgl Jes 31:9b wat dié interpretasie steun).  Dat vers 2 na die stad as ‘n vuurmaakplek (vuurherd) verwys, maak laasgenoemde interpretasie die meer waarskynlike.

29:1-4: God kondig ellende oor sy volk aan, al verloop dit ook langsaam. Hulle val – grusaam en grillerig beskrywe as dat net ‘n spookstem uit die stof van hulle sal oorbly – is verseker.  Dit beteken – soos Jesaja nou al baie gesê het – daar sal eers oordeel wees, voor die vreugde van omkeer en verandering sal aanbreek.

29:5-8: Tog sal die Here Hom uiteindelik oor hulle ontferm en die vyand daarna soos stof laat wegwaai.  Let weereens op hoe kunstig die skrywer-digter dit doen met die parallelle gebruik van die verwysing na die stof uit die vorige deel.  Die omkeer word met groot natuurtekens beskrywe – donderslae, aardbewings, storms, orkane – wat die toekoms van die vyande in ‘n nagmerrie  verander.

29:9-16: Let op hoe die tema van onbegrip – ‘n sleutelopdrag van Jesaja (Jes 6) – hier ook binne die konteks van die blinde profete en onverstandige sieners (1 Sam 9:9 – ‘n vroeëre naam vir profete) van die volk geplaas word.  Die volk se onbegrip is ook veroorsaak deur die geestelike leiers.  Terloops – die Ethiopiër in Handelinge 8 is juis besig om Jesaja te lees wanneer Filippus hom vra: “Verstaan jy wat jy lees?”  Die boodskap van Jesaja word dan vir hom – God sy dank! – op ‘n verstaanbare wyse uitgelê sodat hy die Here kan aanvaar.

Die probleem van die volk in Jesaja se tyd is egter nog dieper as net die gevolg van die geestelike leiers se versuim – hulle geloof in God is net lippetaal; dit kom nie uit die hart nie.  Dit bring God se oordeel oor hulle.  En daaroor sal hulle God nie kan verwyt nie, net maar hulle eie ongehoorsaamheid.  “Julle is agterstevoor met alles!” (vers 16).  Jesus sou later dié woorde op die Fariseërs van toepassing maak – Mark 7:6-7 – lees gerus my bydrae oor dié perikoop.

29:17-24: Tog kan God nie Homself keer om insig te bring nie –Sy lig kan nie in die laaste instansie weggesteek word nie.  Hy verander die lot van die natuur (die Libanon se bos word ‘n vrugteboord) sowel as van die mense: dowes kan hoor en blindes weer kan sien (vgl Jesus wat dit as ‘n sleutelelement van sy eie opdrag verstaan het – Luk 4).  Let op hoe dit spesifiek ook die arm mense betrek.  Wreedheid en ligsinnigheid sal uit hulle samelewing verdwyn, onreg sal uitgeroei word, en almal sal God eer.  Alle lae van die samelewing sal in vrede met mekaar en met God lewe.

Die belofte vir ouers wat hierin opgesluit lê, tref my besonderlik: God belowe in vers 22-24 dat Abraham nie meer hoef skaam te wees (bleek van verleentheid!) vir sy kleinseun Jakob en dié se nageslag se dwaling nie, en netso die nageslag self – hulle sal God eer vir die kinders wat Hy op hulle beurt vir hulle sal gee.  Die kinders sal die Here eer en vir Hom ontsag hê.  Selfs: “dié wat gedurig foutgevind het, sal hulle laat leer”!  Watter belofte om aan vas te gryp, en ‘n droom om voor te lewe!

Jesaja 30-31 – Julle krag lê in stil vertroue en gebed

In die volgende 2 hoofstukke vat Jesaja die leiers aan wat teen die Here se wil ‘n alliansie met Egipte  wil sluit teen die Assiriërs en bied ‘n uitweg aan: 1) Hy sal hulle red; 2) hulle krag lê in stille vertroue en gebed.

Die boodskap is opgedeel in 6 dele:

  1. Egipte sal die volk nie kan help nie – 30:1-7
  2. Juda se krag lê in stil vertroue – 30:8-18
  3. God sal hulle gebede verhoor en na omvattende genesing lei – 30:19-26
  4. God sal hulle van die bedreiging van Assirië verlos – 30:27-33
  5. Egipte is net mense en nie gode nie – 31:1-3
  6. God sal Juda red en bevry van die Assiriërs – 31:4-9

Hoofstuk 30

30:1-7: ‘n Alliansie met wie ook al in die lewe, sonder om God te raadpleeg, is rebellie teen God se pad (‘n tema wat al in Jes 1:2 aangeroer is).  Dit is waarom Jesaja so skerp kritiek uitspreek teen die verdrae wat Juda met Egipte wil sluit, iets wat Hiskia oorweeg het (Jes 36-37, maar gelukkig uiteindelik van afgesien het).  Egipte sal die volk egter nie kan help nie, sê die Here, en eerder skande en vernedering bring.  Die Galdeërs sou die volgende groot wêreldmag wees waarmee Juda onder Nebukadnesar deeglik sou kennis maak ‘n paar dekades later.

“Diere” word in vers 6 gebruik as beskrywing van die Judeërs wat met hulle pakdiere hulp gaan soek, gelaai met presente, en hulle aan baie gevaar blootstel, en dit vir niks!  Egipte gaan nie help nie.  Soos in Psalm 87:4 word Egipte Rahab (“die een wat teister”) genoem, wat niks kan doen nie, omdat dit deur God oorwin word (vgl ook Jes 51:9 waar Rahab as ‘n mitologiese seemonster geteken word).  Die stede Soan en Ganes is onderskeidelik op die noord- en suid-grens van Egipte wat wys hoe wyd die Judeërs gaan hulp soek het.

30:8-18: Jesaja word opdrag gegee om die boodskap vir Juda op te teken as getuienis in die toekoms (vgl Jes 8 se plakkaat), al maak hulle dié stil wat God se wil vir hulle wil uitlê.  Dit is dus ook ‘n getuienis vir ons!

Darem ontstellend dat iemand kan sê: “laat die Heilige van Israel uit ons teenwoordigheid verdwyn!” (vers 11).  En dit is net genade dat God uiteindelik sulke weerbarstigheid kan straf … terwyl Hy steeds ‘n genade-aanbod maak wat mense kan aanvaar as hulle tot inkeer sou kom: “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê” – vers 15.

Let op hoe grafies die oordeel oor die rebelle met 4 verstommende beelde geteken word:

  1. ‘n inmekaarstortende oorhang-muur (soos die toring van Pisa!) – vers 13;
  2. ‘n meedoënloos-fyn-gemokerde kleipot – vers 14;
  3. ‘n oorrompelende blitsige agtervolging van die vlugtelinge op perde – vers 16;
  4. ‘n skrikwekkende uitwissing tot ‘n eensame vlagpaal op ‘n berg – vers 17

Daarteenoor verstom die gretigheid van die Here om hulle genadig te wees ‘n mens (vers 18). Dit tref my hoe werklik hierdie aanbod ook na my toe kom – waar dinge ook my eie bestaan bedreig – om te bedaar met my eie onafhanklike planne, en eerder my krag in God en in die vertroue in Hom te soek (vers 15).

“Dit gaan goed met elkeen wat op Hom vertrou” (vers 18).

30:19-26: Dit is net logies dat hierdie belofte op die vorige opdrag van stilwees en vertroue sal volg: God sal hulle gebede verhoor en na omvattende genesing lei.  Dit gee my groot plesier, want dit is die enigste manier waarop ‘n stilwees modus vir my en ek vermoed ’n hele aantal ander mense kan werk!  God wil hê dat ons Hom vertrou … EN Hy gee vir ons ‘n manier waarop daardie vertroue vir ons kan werk: deur te bid en sy ingrype te verwag.  Dit is immers hoe die redding vir Hiskia gekom het – deur gebed (Jes 37:14-20 met die antwoord van die Here in 37:21-35)

Let op hoe kalmerend die uitnodiging aan hulle gerig word: “jy hoef nie meer te huil nie”.  Saam met die belofte van verandering word ‘n verklaring ook gegee vir die redes vir die oordeel: God wou sy volk leer.  Dit is immers wat Hy immer doen – sy oordeel het ‘n lerende en opvoedende funksie.

Vers 21 is ‘n ongelooflike belofte van praktiese leiding.  Let op dat dit nie ‘n bloudruk is wat jy ontvang en dan nougeset volg nie.  Eerder ‘n dinamiese in-die-moment leiding, wat veral in werking kom as jy die pad verlaat wat God wil hê dat jy moet loop.  En dit lei tot omvattende voorspoed (vers 23-24) beskerming (vers 25) en geestelike genesing (vers 26), iets waaroor selfs die maan so opgewonde sal wees dat dit die son sal naboots in helderheid.  Dit het ook die effek dat ander leidinggewende afgode as waardeloos uitgewys word (vers 22).

30:27-33: En as die vorige perikoop ‘n logiese gevolg was van die opdrag tot stille vertroue wat die belofte van gebedsverhoring inhou, is die boodskap van die laaste deel van hoofstuk 30 net so logies: God sal hulle van die bedreiging van Assirië verlos (wat in hfst 37 beskrywe sal word), dit waarvoor hulle in die eerste plek bang was en waarvoor hulle beskerming by Egipte gaan soek het.  “Sy asem is ‘n siedende stroom wat mense meesleur …” (vers 28) en wat hulle aan die brand steek “soos ‘n stroom swael”(vers 33).

Daarteenoor sal die verloste volk bly wees en sing.

Hoofstuk 31

31:1-3: Om die boodskap aan die volk (Hiskia) stewig vas te bind word ‘n prentjie van Egipte geskets wat hulle menslikheid beklemtoon.  Hulle is nie eers gode nie, laat staan nog die Almagtige.  Hulle maak op hulle eie insig en krag staat, terwyl die Heilige van Israel die enigste een is met totale wysheid en  mag.  Egipte sal nie staande bly nie.

31:4-9: Met twee pragtige beelde – ‘n grommende maanhaar leeu wat by sy prooi waak (vers 4), en swewende voëls wat hulle neste beskerm (vers 5) – word God se redding van Juda van die Assiriërs se mag beskrywe.

Die belofte en optrede van God is bedoel om die harte van die volk tot Hom te bekeer.  Om die waarheid te sê, die dag waarop hulle die afgode weggooi en die Here aankleef om Hom alleen te vereer (vers 9), die dag sal die Assirieërs op ‘n bonatuurlike manier afgemaai word, soos ons inderdaad in Jes 37 gaan lees.

Die twee hoofstukke – met die konkrete illustrasie in die lewe van Hiskia (hfst 36-27) – is ‘n kragtige belofte aan ons:

in stil vertroue en gebed lê die essensie van ‘n gelukkige lewe opgesluit.

Jesaja 32-33 – Die Here is ons Koning

As kroon op die belofte van ‘n omkeer vir die volk wat deur vertroue en gebed te weeg gebring sal word, belowe God ‘n koning wat reg sal regeer saam met ‘n amptenary wat reg sal laat geskied.  Die koning sal met die Gees van Bo toegerus wees (32:15); Hy sal God self wees (33:22).

In 6 perikope word aspekte daarvan uitgespel:

  1. 32:1-8 – Die koning voed mense op om reg te lewe
  2. 32:9-20 – Die Gees vestig reg en vrede
  3. 33:1-6 – God is die Een op wie jy kan vertrou
  4. 33:7-9 – Die oordeel ontsien niemand nie
  5. 33:10-16 – Net dié wat reg bly doen, sal beskerm word
  6. 33:17-24 – Die Here is ons Koning!

32:1-8: Die profeet skets ‘n droom-prentjie van die effek wat die koning wat God sal stuur op die mense sal hê.  Let op hoe die beskerming en versorging van die land se mense voorop staan in die koning en sy amptenare se agenda.  Dit het ‘n opvoedende effek op die mense wat hulle menswaardigheid bou.  Dit laat ‘n mens dink aan wat nodig is vir enige samelewing om voorspoed te beleef: 1) veiligheid, 2) sosiaal-maatskaplike ontwikkeling en 3) onderwys en opvoeding.

Hoe mooi klink die ideaal nie: “’n dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie en ‘n skurk nie meer as edel beskryf word nie”(32:5).  Goed sal goed wees, en kwaad kwaad.  Niemand sal daaroor meer enige twyfel hê nie.  Let ook op die onderskeid tussen ‘n dwaas en ‘n skurk.  Die dwaas weet nie van beter nie; die skurk buit ander se dwaasheid tot sy eie voordeel uit.  Daarteenoor staan die eerbare en edel mens wat weet hoe om te leef, en opkom vir wat eerbaar is.  Die toppunt van dit alles is dat die koning hulle ook in die regte verhouding met God bring, wat die sentrum van alle wysheid is.

32:9-20: Die profeet keer terug na die huidige situasie en kritiseer die vrouens met ‘n skerp tong!  Die rede daarvoor lê in hulle onbesorgdheid en selfversekerdheid wat tot die oordeel van die Here sal lei.  Die verwysing na Ofel (vers 14), dui waarskynlik ‘n heuwel in Jerusalem aan, waarop die paleis gebou was (2 Kron 33:14).

Dit sal egter verander wanneer die “Gees van Bo af op ons uitgestort word”, wat die vrede sal herstel deurdat almal sal fokus op die doen van dít wat reg is.

Die belofte van die Gees is iets wat reeds in Jesaja 11:2 voorspel is, en aan die “takkie” gekoppel is, en weer in Jesaja 44:3 ge-eggo sal word.  Dit is ‘n gedagterigting wat uitgebrei word deur Esegiël (39:29) ‘n bietjie meer as ‘n eeu later.  Ook Joël (2:28), na die ballingskap, borduur hierop voort.  Sy voorspelling word met Pinkster in verband gebring (Hand 2), iets wat Jesaja reeds in die 8ste eeu aangeroer het.

33:1-6: ‘n Oordeelboodskap word ook uitgespreek oor die verwoester – soos telkemale al in Jesaja gedoen is – gekoppel aan die gebed van God se mense, wat op Hom vertrou om reg in Sion te laat geskied.  Let op hoe diepsinnig God beskrywe word: “Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou!” Hy is die kosbare besitting wat werklik kan help!

33:7-9: Jesaja keer terug na die situasie in Jerusalem en beskrywe die nood wat die land beleef weens die verdrag wat verbreek is (waarskynlik met Assirië – vgl 2 Kon 18:14: Hiskia het sy deel nagekom, 10 ton silwer betaal, maar Sanherib het steeds Jerusalem beleër).  Saron is die naam vir die kusvlakte ongeveer waar Tel Aviv vandag is; Basan is ‘n berg op die Golan hoogte; Karmel is ook ‘n berg, dié een waar Elia die Baälgodsdiens so beslissend uitgedaag het (1 Kon 18).

33:10-16: Dié nood is nie net vanweë die bedreiging van buite, maar ook weens die volk se sonde.  Let op die ooreenkoms van die volk se woorde (strooi, kaf) met Jesaja wat ook bewus geword het van sy lippe wat reiniging nodig het (Jes 6).  Die oordeel oor hulle sal as getuienis dien van God se mag.  Net die mens wat opreg is in wat hy sê, en reg en eties bly in wat hy doen, sal ‘n skuilplek hê in die oordeel wat kom.

33:17-24: Jesaja keer hier terug na die tema waarmee hy die gedeelte begin het, die koning wat sal kom en hulle sal red.  Die verwoesting van die oordeel sal vervaag as ‘n onwerklike herinnering, en ‘n era van vrede en veiligheid sal aanbreek met die eintlike koning, Jahwe, wat nie net as Koning sal optree nie, maar ook as die Regter en Leidsman, temas wat in die NT met Jesus se koninkryk verbind word (bv. Hebr 12:4).  Vergifnis en genesing sal almal se deel wees.

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…