Skip to main content

Jesaja 44-45:8 – God is die eerste en die laaste, die enigste God

Israel word weer hier as die dienaar van die Here aangespreek.  God laat nie maklik sy droom oor hulle vaar nie – dat hulle ’n lig vir die nasies sal wees nie.  Daarvoor het Hy hulle gemaak en daarvoor ondersteun Hy hulle steeds.  Darem ’n ongelooflike stuk vertroosting dat God nie die werk wat Hy in ons begin het, versaak nie. Dit is betekenisvol dat Jakob, die Bedrieër, hier Jesurun, die Opregte, genoem word, ’n eretitel wat die verandering wat die Here bring, simboliseer (vgl ook Deut 32:15 waar dit ook so gebruik word).

Let op hoe Jesaja weereens die belofte van die Gees as die stimulus tot nuwe lewe beskrywe, selfs vir die nageslag (vgl Eseg 37).  Dit is ook net die Gees wat mense kan beweeg om vreugde te vind in lidmaatskap van God se mense.

Jesaja beklemtoon weereens God se alleenreg tot die titel God.  Hy is die eerste en die laaste – soos Jesus ook in Openbaring beskryf word (Open 22:13).  Buiten Hom is daar geen God nie.  Die Ek is uitsprake oor God se status en karakter gee ’n mens ook ’n ander perspektief op Jesus se Ek is uitsprake in die Johannes evangelie.  Daarmee het Hy duidelik gesê dat Hy God is (vgl ook God aan Moses by die braambos – Eks 3).

Let ook op hoe goedig-neerhalend daar oor die dierbare afgode – wat nie kan help nie – gepraat word (44:9).  Hulle kan nie sien of hoor nie, en dus nie help nie.  Hulle moet gemaak word (44:12-17).  Let op hoe skreiend ironies die dwaasheid geteken word om dieselfde hout of vir ’n braaivleisvuur of vir die maak van ’n afgod te gebruik en die afgod dan te aanbid.  Sulke mense se oë is toegepleister en het geen begrip nie, sê Jesaja!

Let op hoe Israel, God se dienaar, opgeroep word om terug te keer na die Here, WANT Hy het hulle verlos (44:21-22).  Dit gee ons die regte perspektief op die wyse waarop verlossing en bekering saamhang.  God se werk kom altyd eerste – Hy verlos – en ons werk tweede – ons bekeer ons tot die Here se pad met en vir ons.

Jesaja sluit hierdie beskrywing van God af met ’n beklemtoning van God se onverbreekbare woord – in die Skepping en in die Geskiedenis (44:24-45:8).  Wat God sê, gebeur.  Sy woord is sy verbintenis en Hy laat dit gebeur.  Daarop kan ’n mens reken.  Dit sluit in dat sy boodskappers (profete) se woorde in vervulling gaan; dat Jerusalem weer bewoon sal word; dat Babel gestuit sal word; dat iemand soos Kores (koning van die Perse) gebruik word ter wille van sy eie volk.

Kores is in daardie sin ook God se dienaar – let op dat hy herder en gesalfde (in Hebreeus messias, in Grieks christus) genoem word, wel nie direk dienaar nie.  Watts sê hieroor die volgende:

“Remarkably, this claim of divine sponsorship fits Cyrus’s career. He had profited from many circumstances other than his military strength. He had gained the following of all the Persian tribes with singular ease. He gained an ally in Babylon against Media. Two successive Median armies that were sent against him decided to join forces with him instead. His generosity toward the conquered worked in his favor. He marched without opposition into Armenia and won a surprise victory over the Lydians when their horses were frightened by the smell of Persian camels. And now Babylon, the world’s most heavily fortified city, opens its gates to him without a fight (Olmstead, History of the Persian Empire, 34–51). Truly doors and gates had been opened for Cyrus, and YHWH claims credit for it.”[1]

Daardeur bewys God dat Hy God is van die hele aarde, ’n perspektief wat ons moet aangryp en in ons eie beoordeling van wêreldsake ter harte moet neem.  En let op die doel waarmee God dit doen.  Dit sluit ook in dat Hy Homself aan heidene wil bewys en tot ’n bewussyn en erkenning van sy Goddelikheid wil lei (wat presies is wat Hy ook wil hê die geval moet wees met sy volk – dat hulle Hom sal ken!).  Of die nasies en hulle heersers nou daaraan gehoor gee of nie, dit is wat God wil hê moet gebeur.


[1]Watts, John D. W.: Word Biblical Commentary : Isaiah 34-66. Revised Edition. Nashville : Thomas Nelson, Inc, 2005 (Word Biblical Commentary 25), S. 701

Jesaja 45:9-46:13 – Die Skeppergod alleen kan red

Darem verbasend dat Israel so traag op hierdie verbintenis van God reageer (45:9-10).  Hulle fundamentele misverstand van die verhouding tussen God en mens – Pottebakker en klei, Ouers en kinders – verlei hulle om onafhanklik van God te probeer lewe.  Geen wonder Jesus begin die Bergrede en die saligsprekinge met die klem op afhanklikheid van God (“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”  Matt 5:3).

Ten spyte daarvan is God vas van plan om hulle nie net te red nie (Kores), maar dié redding ook as ’n getuienis vir die nasies te gebruik (Egipte en Ethiopië [Kus]).  Die Here alleen is God.  Let weereens op hoe sy Goddelikheid uitgespel word in terme van sy Skepperwees en sy beheer van die Geskiedenis.

Let ook op die woorde: “ my woorde gee lewe” (45:19).  Petrus eggo dit aan Jesus: “U het die woorde wat ewige lewe gee“  (Joh 6:68).  Dit lei ’n besondere appèl aan die nasies in, waarin hulle – soos die volk in Jesaja 1 – opgeroep word tot bekering: “Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie” (45:22), waaraan God se belofte gekoppel word dat sy woord betroubaar is, en vervul sal word: “voor My sal elke knie buig, in my Naam sal elke tong ’n eed aflê” (45:23).  Paulus gebruik in die Nuwe Testament dié belofte om gelowiges op te roep om nie veroordelend teenoor mekaar te wees nie (Rom 14:10-11) en om Jesus se verheerliking te beskrywe (Fil 2:10-11).

In hoofstuk 46 kondig God vir die eerste keer die val van Babilon aan. Bel en Nebo is twee van die tradisionele gode van die Babiloniërs wat dit nou ontgeld in die verwoesting wat van die Persiese leërs sal kom (46:1-2; ook 47:1-15).

Maar, die klem val hier nog nie soseer op Babel nie, maar op die hardkoppigheid van Israel wat sy verlossing nie sonder meer wil aanvaar nie (46:3-13; later ook in 48:1-19).  Let op hoe God sy betroubaarheid uitspel vir die hele lewe (“vandat julle daar is … tot in julle grysheid).  Weereens word die nutteloosheid van afgode wat met die hand gemaak word, uitgespel.  En word hulle herinner daaraan dat daar niemand soos God is nie, hier uitgespel in die feit dat Hy iets aankondig voor dit gebeur, en dan gebeur dit.

Israel verdien nie wat hulle gaan kry nie – genade en nie oordeel nie!

Jesaja 47-48 – God bepaal die geskiedenis, nie toeval nie

In hoofstuk 47 kondig God vir die tweede keer die val van Babilon aan (47:1-15; vgl ook 46:1-2).  Hulle word hier ook die Galdeërs genoem.  Galdië was die naam van ‘n streek in die weste van Mesopotamië wat die Nieu-Babiloniese ryk gevorm het, met Nebukadnesar die bekendste koning.  Hulle status word van bedorwe (fyn jong vrou [betulâ] wat altyd haar sin kry) na bediende (maal meel) verander.  In die Nuwe Testament sal Babilon as ’n simbool vir die mensdom (en die hoofstad van die tyd, Rome) se opstand teen God gebruik word (Open 16:19; 17:5; 18:10, 21).

Dit bly vir my insiggewend hoe die Here verwag dat daar medelye sal wees met dié wat jy oorwin, selfs al word jy deur die Here aangestel om te heers (47:6).  Een van die redes daarvoor – God se deernis is die belangrikste rede – is dat regerings moet kennis neem dat hulle net vir ’n tyd bestaan en dat dit beteken hulle moet hulle voorberei op hoe die verhouding sal wees met hulle ondergeskiktes wanneer hulle nie meer die mag in eie hand het nie.

Dit is egter moeilik om te doen, veral as jy dink jy is die kat se snorbaard, by wyse van spreke, en in hoogmoed jou aanstel oor dié wat jou minderes is.  Juis dan is jou val egter naby, soos ons nou prakties in die Midde-Ooste en die Noorde van Afrika sien gebeur; iets wat Jesaja al vir die Galdeërs geleer het, maar waarop hulle nie ag geslaan het nie.  Daniël brei uitvoerig later hieroor uit, maar dit vir ’n ander dag.  Wat jy nalaat, haal jou in, net soseer as dít wat jy wel doen.

Die klem val in hoofstuk 48 op die hardkoppigheid van Israel wat sy verlossing nie sonder meer wil aanvaar nie (48:1-19; vgl ook 46:3-13).  God se aandag aan profesieë word hier verklaar as ’n manier om ’n hardkoppige volk te oortuig dat die ontplooiing van die geskiedenis nie maar toevallig is nie; sodat hulle later kan sien, maar wat nou gebeur is al die tyd vroeër alreeds aangekondig.

Let op hoe God Homself en wat Hy doen in die Geskiedenis TEENOOR die interpretasie van toeval opstel.  God en nie toeval nie, is besig in die geskiedenis.  Hy alleen is God.  Dié perspektief is ook belangrik vir die debat oor evolusie – God en nie toeval nie, is die aktiewe agent in die proses, soos ons in 48:13 bv. sien.

Die Here herinner hulle daaraan dat ballingskap een van sy maniere van onderrig was, maar dat dit nie die enigste is nie.  Hulle sou in die eerste plek hulle ore kon oopmaak en luister na Sy wil vir hulle lewe, en hulle redding sou so onkeerbaar soos ’n rivier of soos die golwe van die see gewees het.  Maar hulle wou nie.

God pleit dus by sy volk om te vlug uit Babilon, terug na die Beloofde Land (48:20-22).  Dit moet dien as ’n stuk getuienis wat die hele aarde laat uitbars in lof.  Soos met die eerste Uittog uit Egipte deur die woestyn waar God vir hulle water gegee het, sal Hy nou weer vir hulle sorg met die tweede Uittog uit Babilon.

WEEK 7 – Jesaja 49-55

In hierdie paar hoofstukke word gefokus op die bediening van die dienaar van die Here wat nie net vir Israel nie, maar ook vir die nasies bedoel is.

Ons lees dit as volg:

Donderdag 3 Maart Jesaja 49-50
Vrydag 4 Maart Jesaja 51:1-52:12
Maandag 7 Maart Jesaja 52:13-53:12
Dinsdag 8 Maart Jesaja 54
Woensdag 9 Maart Jesaja 55
Onthou dat ons nie die 9de Maart in die gemeente Somerstrand gaan bymekaar kom nie, wel weer die 16de Maart. Ons gaan dus daardie aand kyk na 2 weke se leeswerk: 49-55 en 56-61.

Jesaja 49-50 – Die dienaar van die Here praat dié wat moeg is, moed in

Hoofstuk 49 fokus eerstens op die bediening van die dienaar van die Here – 49:1-7.  Die dienaar is weereens ‘n individu, soos in hoofstuk 42, wat nie net vir Israel redding moet aankondig nie, maar ook vir die nasies.  Soos Jeremia (Jer 1:3) word hy voorgeboorte al geroep.  En soos Jeremia (bv Jer 11:18-17) ervaar hy pyn in die uitvoer van sy roeping – hy is bang dat sy opoffering verniet en tervergeefs sal wees (Jes 49:4), en dit is ook duidelik dat hy verag en verafsku is (49:7).  Tog staan hy vas in sy vertroue dat God aan hom reg sal laat geskied, en vrug op sy arbeid sal gee, met selfs die konings en leiers wat hom sal erken.  Let op dat die boodskap bedoel is vir die nasies (49:1) en dat dit die redding van die nasies insluit.

Tweedens fokus die hoofstuk op die lotsverandering van die volk Israel – 49:8-26.  Die verandering word as ‘n gebedsverhoring – waarskynlik van die dienaar van die Here – beskryf (49:8).  Hy word die verbintenis, die verbond, van God met die volk om die land te herstel en die mense te versorg.  Maar let op dat die tydsberekening daarvan volledig afhang van die inisiatief van die Here.  Gebed is noodsaaklik vir verandering, maar nie ‘n outomatiese versekering van verandering nie.

Die Siniete is ‘n onbekende volk.  Hoewel hulle ook op ‘n paar ander plekke in die Bybel genoem word (Gen 10:17; 1 Kron 1:15), is die verwysing onbekend.  Sommige geleerdes het dit al met die Sjinese verbind, maar dit is onwaarskynlik omdat die Sjinese benaming eers uit die 3de eeu v C dateer.  Ander het dit met ‘n plek in Egipte verbind (Siëne), maar dit bly steeds ‘n onopgeloste raaisel.

Die redding laat die hemel en aarde uitbars in lof.  Tog is Sion steeds bang dat die Here hulle vergeet het, wat die Here met ‘n pragtige en vertroostende paar metafore beantwoord: vrou kan nie haar baba vergeet nie; Israel is onuitwisbaar in God se handpalms ingegraveer.  Let op hoe die Here die stelligheid van sy belofte aan sy lewe self koppel (:18).  Hy staan met sy lewe in vir die uitkoms.

Die oorvloedige uitkoms (nageslag) vir Israel dien as woord aan die nasies om hulle te oortuig dat God vertrou kan word, en dat Hy die enigste Here is.

Hoofstuk 50 wei weer uit oor die redes vir die ballingskap – hulle sondes – 50:1-3, waarna die dienaar ‘n selfgesprek voer oor sy ervaringe in sy bediening – 50:4-11.   Hy dink na oor sy toerusting wat Hom in staat gestel het om dié wat moeg is, moed in te praat.  Die belangrikste manier waarop dit gebeur het, was dat Hy na God geluister het en dat dít sy bediening gestruktureer het.  Daarom kon Hy volhard in die ontsettende lyding wat Hom in die uitvoering van sy bediening te beurt geval het.  Só het die Here Hom gehelp om staande te bly in die aangesig van onregverdige aanklagtes.

Elkeen wat dus na dié dienaar luister, sal die lig sien aanbreek in sy lewe, en die donker kan ontwyk.  Laat ‘n mens dink aan die eerste hoofstuk van Johannes se evangelie waar Hy oor die Woord van God praat – Jesus – wat die lig vir die mense is (Joh 1:1-14).

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…