Skip to main content

Jesaja 5 – ’n begrafnislied oor verworde mense

Hoofstuk 5-6 lei die tema van verwoesting deur die Assiriërs in wat in hoofstuk 7-39 die agtergrond van die profesieë sal vorm.  Watts maak nogal ’n stewige saak daarvoor uit dat ’n mens uit daardie perspektief die res van deel 1 van Jesaja kan lees as drie intervensies wat Jahwe beplan om die dilemma van hierdie verwoesting die hoof te bied:
  1. ’n nuwe Dawidiese koning (hfst. 7-1)
  2. ’n internasionale koalisie van Assirië, Israel en Egipte (hfst. 13-19) en
  3. die bonatuurlike ingryping van Jahwe wat weer lewe sal gee vir sy volk (hfst. 25-27).

Hoe dit ook al sy, hoofstuk 5 is ’n begrafnislied oor die wingerd van die Here, sy volk (vgl 1:21-31 waar getreur word oor die begrafnis van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).  Jesaja 6 is dan die roepingsverhaal van Jesaja wat hierdie begrafnislied oor die volk moes aanhef, maar daaroor eers môre.

Hoofstuk 5 bestaan uit:

  1. ’n metaforiese beskrywing van die volk as die wingerd van die Here (5:1-7) en dan
  2. ’n 6-voudige beskrywing van die ellende wat die Here oor hulle sal bring vir hulle vergrype (5:8-23) telkens aangekondig met die frase: “Ellende wat vir …” (5:8, 11, 18, 20, 21, 22).  Dit word opgevolg met
  3. ’n oordeelsuitspraak (5:24-25) omdat die Here kwaad geword het vir sy volk en daarom
  4. ’n nasie versamel het om dié oordeel oor sy volk te voltrek (5:26-30).

5:1-7 – Let op hoe vers 1-7 dieselfde verrassende element het wat Natan ook in sy veroordeling van Dawid se sonde gebruik het – ’n storie wat vertel word, en dan op verrassende wyse op die hoorder van toepassing gemaak word (2 Sam 12).

Hier is die storie egter nie ’n skaap wat deur ’n gierigaard afgepers word nie, maar ‘n wingerd wat suur druiwe voortbring … en dan op die Israeliete, die volk van Juda, van toepassing gemaak word wat die Here nie wou erken as God en Heer nie.  Let op hoe die suur druiwe net met een ding verbind word, die onreg wat in die samelewing plaasvind.

Dit is ’n noodsaaklike boodskap vir ons – daar kan baie goeie dinge in ’n gemeenskap of ’n land wees, lofwaardige dinge, maar as die reg nie in stand gehou word nie – en baie spesifiek die reg van verontregtes (5:7) – is die dood in die pot.

5:8-23 – Dit is insiggewend om die Ellende uitsprake te lees – dit is soos 6 dele van die begrafnislied – en daarin te sien hoe diep die Here raaksien wat in ’n gemeenskap kan gebeur.  Hy sien 6 basiese vergrype raak by die volk, die vooraanstaandes en die gewone burgers, weens hulle gebrek aan kennis en geestelike sensitiwiteit (5:13):

  1. uitbuiters wat grond en besittings inpalm totdat daar niks vir ander oorbly nie (5:8-10);
  2. partytjie-mense wat die Here nie in ag neem nie (5:11-17);
  3. rebelle wat afgodsdienaars word en die Here uitdaag om iets daaraan te doen (5:18-19);
  4. perverses wat goed en sleg, lig en duisternis omruil (5:20);
  5. arrogante wyses (5:21);
  6. eerlose korruptes (5:22-24).

5:24-30 – En Hy het net een antwoord – oordeel wat Israel polities, sosiaal en ekonomies vernietig.

Nogal ’n mondvol dié hoofstuk – en ek wil dit nie relativeer nie, maar my net herinner dat daar ook ’n hoofstuk 4 was …  Maar dan lees ek weer in vers 2, 4 en 7 wat God se verwagting was (in die grondteks staan wag) en hoe konsekwent dit gedwarsboom is, en weet, dit kon nie anders nie.  God se geduld is tot die uiterste beproef totdat daar geen omkeer of terugkeer meer moontlik was nie.  Versoberend.

Jesaja in die Nuwe Testament

Jesaja het ’n enorme invloed op die NT skrywers gehad.  Die NT skrywers haal meer aan uit Jesaja as uit enige ander boek, behalwe die Psalms.  Vir ‘n lys van aanhalings kan jy hier gaan kyk: http://www.levendwater.org/companion/append80.html .  Ons gaan in die laaste week hierna kyk.

Bv die Dienaar van die Here van Jesaja 52-53 funksioneer in 7 boeke in die Nuwe Testament en word met Jesus Christus verbind.

  • Jesaja 52:15 aangehaal in Romeine 15:21.
  • Jesaja 53:1 aangehaal in Johannes 12:38 en Romeine 10:16.
  • Jesaja 53:4 aangehaal in Matteus 8:17.
  • Jesaja 53:5–6 aangehaal in 1 Petrus 2:22–25.
  • Jesaja 53:7–8 aangehaal in Handelinge 8:32–33.
  • Jesaja 53:12 aangehaal in Markus 15:28 en Lukas 22:37.

Jesus verbind sy eie roepingsverstaan ook direk aan Jesaja 61:1-2 in Lukas 4:16-19.  Voor hom het Johannes die Doper dieselfde gedoen (Jes 40:3 in al vier evangelies: Mark 1:2; Mat 3:3; Luk 3:4; Joh 1:23).

Die konsep van ’n nuwe hemel en aarde soos bv. 2 Pet 3:13 daaroor praat, is ook eerste op die tafel gesit deur Jesaja 65:13-25.

En in die kerk bly Jesaja van groot belang.  In die tyd van Advent lees gemeentes wêreldwyd uit Jesaja 7,9 en 11, terwyl in Lydingstyd Jesaja 53 prominent funksioneer.  Jesaja 1 en 58 is fundamentele tekste wat die verskil tussen ware en valse godsdiens uitspel en Jesaja 6 is ’n model-voorbeeld van God se roeping van sy boodskappers.

Jesaja 6 – Hoop kom uit ’n afgekapte stomp

Die toneel speel hom af in die jaar 740 v C.  Dit is nie duidelik of dit aan die begin van Jesaja se bediening is of nie.  As dit was, sou ’n mens dit as ’n roepingsvisioen kon beskryf, hoewel dit in elk geval ’n deurslaggewende rol speel in die tipe boodskap en rol wat hy verkondig en vervul.

Hoofstuk 6 val in drie dele uiteen:

  1. Die visioen van God se heilige teenwoordigheid oor die hele aarde (6:1-4);
  2. Die reiniging van Jesaja wat hom voorberei vir sy taak (6:5-7);
  3. Die gesprek tussen God en Jesaja waarin hy geroep en gestuur word met ’n boodskap van oordeel sowel as ’n stukkie hoop vir die oorblyfsel (6:8-13).

Die gesprek tussen God en Jesaja het sterk raakpunte met temas wat reeds in die eerste 5 hoofstukke aangeroer is, beide in terme van die oordeel as die heil wat God aankondig.  Dit dien ook as ’n belangrike inleiding vir die verdere profesieë aan die sterwende Ussia se kleinseun Agas op wie se halstarrigheid God ook met ’n boodskap van oordeel en hoop reageer (hfst 7 vv).

6:1-4 – Ussia (vgl die ekskursus oor hom aan die einde van dié bydrae) was waarskynlik ’n oom of neef van Jesaja volgens ’n Joodse tradisie in die Talmoed.  Ussia word ook Asarja genoem in 2 Kon 15 wat moontlik sy geboortenaam was met Ussia sy troonnaam.  Hy was ’n goeie koning, wat ’n lang en voorspoedige regering gehad het, hoewel hy aan die einde daarvan met melaatsheid gestraf is weens sy arrogante poging om – soos Saul lank tevore (1 Sam 13) – priesterlike verpligtinge op homself te neem (2 Kon 15; 2 Kron 26).

In die sterfjaar van Ussia, waar dinge reeds verval het weens Ussia se sonde, en daar groot internasionale bedreiginge is (Peka van die buurvolk Israel, en Resin van die Arameërs probeer Juda oorreed om teen Assirië, die wêreldmoondheid, ’n alliansie te sluit) sien Jesaja die gesig van God se heerlikheid, sy heiligheid, sy heerskappy.  “Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid (כָּבֹוד)” – sy heerlikheid is soos ‘n kleed wat swaar oor die aarde hang.

Die serafs (vergelyk ‘n eksursus oor hulle aan die einde van hierdie bydrae) bevestig dit dat die grote God ook op die aarde werksaam is – trouens die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid.  Letterlik sê hulle dat God se gewig soos ‘n kleed oor die aarde lê. Die woord wat hier in Hebreeus gebruik word,  beteken “gewig” of dan spesifiek “dít wat gewig dra of wat tel” en word dikwels met “Majesteit” of “heerlikheid” vertaal.  Met ander woorde:  God kan nie geïgnoreer word nie – Hy rus op die hele aarde en op elke persoon – en Hy is te swaar om af te gooi.  Vra maar vir diegene wat dit al probeer het!

En die uitstaande kenmerk van dié God, sê die serafs, is sy Heiligheid.  Normaalweg verstaan ons heiligheid as apart, afgesonderd, onaantasbaar, maar dit kan as ‘n onweerstaanbare lig (van ‘n ander woord quddushu [ipv qadosh] afgelei) verstaan word wat beteken “om te skyn” of te “suiwer”.

6:5-7 – Daarom dat Jesaja die gesig ervaar as ‘n ontnugterende ervaring.  Hy is oorweldig: “Dit is klaar met my!” En hy is bewus van sy en sy volk se onheiligheid: “Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is.”

Ons het ‘n heersende praktiese teologie in die kerk, dat God geen eise stel nie, dat Hy die vriendelike aanvarende goedige kondukteur omie is wat vir ons ‘n kaartjie hemel toe gee en sal sorg dat ons die trein nie verpas nie.

Niks kan verder van die waarheid wees nie.  God is heilig – Hy duld nie onheiligheid nie.  God is rein – Hy duld nie onreinheid nie.

6:8-13 – En dié God stuur sy mense – Hy duld nie onaktiewe gelowiges nie.  In sy oë is hulle slegter as die ongelowiges.  In die brief aan die gemeente in Laodisea sê Hy, Hy spoeg sulke mense uit sy mond uit (die 7de brief aan ’n gemeente in Open 3:14-22).

Gen wonder dat Jesaja amper van angstigheid oor sy voete val om gestuur te word!  Dit is die teologie wat ons moet aangryp.  “ Ek sal gaan, Here” “Hier is ek. Stuur my!”

Eers na sy antwoord besef Jesaja hoe moeilik sy werk as profeet gaan wees – hy moes die totale ondergang van die volk gaan verkondig.  Hulle land sou ‘n puinhoop word danksy die oordeel van God (vers 11).  Alles sou tot niet gaan.  Hy sou lynreg teenoor die heersende koning, sy nefie, standpunt moes inneem.  En net om sy werk nóg ‘n bietjie moeiliker te maak, sou God sorg dat die volk niks verstaan of glo van Jesaja se woorde nie (vers 9-10)!  Letterlik gaan hulle harte vet word en hulle ore swaar.  Wie se hart vet is, kan nie reageer op God se Woord nie.  Jesaja se werk as profeet is eerder om hulle verdwaas en deurmekaar te laat (vers 9-10), sodat hulle hulle nie bekeer nie.

Teologies is dit sekerlik die mees problematiese deel van die perikoop.  Kan God dit doen?  Mense verblind en laat stol in hulle sonde?  Ja, vra maar vir Farao (Eks 9:12 ev.).  Wat ons moet verstaan, is dat die boodskap van Jesaja hier eintlik alreeds deel van God se oordeel is en nie deel van ‘n uitnodiging tot bekering nie.

Terloops, Jesus haal die verse in Mark 4:10-12 en Matt 13:14-15 aan om op dieselfde wyse sy doel met gelykenisse, en meer spesifiek die gelykenis van die Saaier, te verduidelik!  En ook Paulus verwys na dié profesie as hy verduidelik hoekom die evangelie na die heidennasies uitgebrei is, omdat die Jode nie wou luister nie (Hand 28:26-27).

Daar  kom dus ‘n tyd dat jy nie meer God se aanbod om bekering kan aanvaar nie.  En God stuur ook mense om dit te gaan sê!  En hy neem sy boodskap van bekering dan na ander …

Dit torring aan ons heersende idee van God, dat Hy altyd goed is, altyd vergewe, altyd weer ‘n kans gee … en aan wat ons moet sê as ons God se opdrag uitvoer …

Maar dit is nie die laaste sê oor God en sy betrokkenheid in die wêreld nie.  Op die vraag van Jesaja, “Tot wanneer” antwoord die Here, “tot alles verwoes is” … maar vervolg met ‘n boodskap van hoop, dat na die verwoesting, daar ‘n afgekapte stomp sal oorbly, die gelowiges wat nie moed opgegee het nie, die gewyde geslag, die geslag van die mense van God.

Dat ons enigsins en hoegenaamd glo, is God se werk!  Die evangelieskrywer Johannes vertel in verwondering, hoe, ten spyte van die werklikheid van onbegrip onder die Jode met die evangelieverkondiging van Jesus, daar tóg selfs mense van die Joodse Raad was wat tot geloof gekom het, al was dit menslik gesproke onmoontlik (Joh 12:40).

Ons moet dus nie te gou oordeel of ons self as beter ag as ander nie.

In die laaste toneel van die fliek A walk in the clouds, net nadat die wingerd afgebrand het, en almal dink dit is klaar met hulle, hardloop die hoofkarakter (gespeel deur Keanu Reeves) om ‘n stukkie van die wingerd te gaan haal wat nog lewe – ‘n brandende stomp wat oorgebly het.  Daarmee bring hy weer hoop vir ‘n nuwe begin.

Geen wonder dat Jesaja se naam is: die Here is Verlossing.  Daarin lê die hoop, al is dit ook iets wat groei uit ‘n afgesnyde stomp.

Ekskursus oor Ussia en sy tyd

Ussia was ’n goeie koning wat die grondgebied van Israel wyd uitgebrei het in sy 52 jaar van regering.  Hy het Elat, aan die golf van Akaba van die Rooi See, ingeneem en herbou wat die Jode weer ‘n noodsaaklike hawe vir handel na die Ooste gegee!  Hy het groot veldslae teen die Filistyne aan die Weste gevoer en van hulle grondgebied  aan die Middellandse See ingewin, om ook sy toegang tot die see in die Weste uit te brei.  Hy het Jerusalem se mure versterk, die ekonomie laat bloei deur onder andere uitgebreide landbou bedrywighede  in die Negev, suid van Jerusalem.  Die grense van Juda was weer so groot as in die tyd van Dawid en Salomo.

Maar, Ussia het een probleem gehad.  Hy het nie van die hoogtes, die plekke waar die volk nog diereoffers en wierookoffers gebring het aan ander gode, ontslae geraak nie.  En die Here het hom gestraf daarvoor met melaatsheid en hy moes die laaste twaalf jaar van sy lewe in ‘n plek van afsondering bly.  Sy seun Jotam moes op ‘n baie vroeë ouderdom, net 13 jaar oud, die paleis bestuur en eintlik die hele land regeer.

Op die koop toe, in die sterwensjaar van Ussia, 742 vC – daar is ‘n grafsteen uit die tyd van Christus met sy naam op – het daar nog ‘n paar dinge gebeur wat die stabiliteit ondermyn het.

Peka het in die jaar koning oor Israel geword – die ryk van die 10 noordelike stamme – en die vrede wat daar op die stadium tussen die Israeliete en die Judeërs – die 2 suidelike stamme – geheers het, amper onmiddellik tot niet gemaak en saam met Resin, die koning van die Arameërs, vir Juda ingeval.

Koning Tiglat-Pileser III van Assirië was besig om sy ryk algaande sterk uit te brei.  Hy het Israel net hierna ingeval en ‘n stukkie verligting gebring deur Peka se regering onder druk te plaas.  Maar hy het ook vir Juda ingeval en algaande onder sy beheer gekry, sodat net 9 jaar later, in 733 vC, Juda ‘n deel van sy ryk was.

Sy opvolger, Salmaneser, het die noordelike stamme van Israel finaal oorwin, hulle hoofstad Samaria verwoes en die 10 stamme van die volk van Israel weggevoer na Assirië.  Dit was in die jaar 722 vC.  Juda het dié katastrofe vrygespring, maar moes steeds onderdanig aan die Assiriërs bly.

Assirië was die wêreldmoondheid van dié tyd en het op hulle hoogtepunt die hele huidige grondgebied van Iran, die hele Irak, Sirië, Israel, Jordanië, en die boonste deel van Saoedië –Arabië, sowel as die hele Egipte in hulle mag gehad.

Interessant genoeg het die mense in die Weste juis in dié jaar van Ussia se dood begin bou aan Rome, wat uiteindelik oor die groot Romeinse ryk van Jesus se tyd sou heers.

Ekskursus oor die Serafs

Die serafs (שָׂרָף) was vurige of brandende wesens, soms geïdentifiseer met slangvormige wesens, op voetspoor van die giftige slange in Num 21:4 vv, waarvoor Moses ‘n koperslang as genesingsmiddel moes maak. Jesaja self praat ook op ‘n ander plek van serafs, giftige slange, wat kon vlieg, wat hy ook vlieënde drake noem (Jes 14:29 en 30:6).  In die Nederlandse vertaling word hulle “bliksemgedaanten” genoem, met as titel vir die perikoop “Jesaja en de Slangewezens”.

Hoe dit ook al sy, dit is vurige wesens wat vir ewig in die teenwoordigheid van God is, altyd besig om Hom te vereer, altyd gereed om te doen wat Hy vra.  Serafs is nie dieselfde as die gerubs, engele, wat bv oor die ark gewaak het nie.

Hulle het 6 vlerke – met 2 maak hulle die gesig toe twv die verblindende heiligheid van die Here en met 2 maak hulle die “voete” toe, eufemisme vir hulle privaatdele, wat ‘n verbintenis tot reinheid impliseer en 2 vlerke word gebruik om gereed te wees om God se opdragte uit te voer.

WEEK 2 – Jesaja 7-12

Jesaja 7 – Uitgenooi van vrees na vertroue

Die verhaal van Jesaja se ontmoeting met Agas op bevel van die Here word meesterlik vertel.  Dit wemel van beskrywende beelde en metafore wat die situasie  vertolk en die boodskap van die Here grafies oordra:
  • vers 2 die volk het “gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind”;
  • vers 4: “Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net” (die 2 nasies is letterlik in 732 en 722 v C onderskeidelik deur Assirië verwoes);
  • en die metafore wat Assirië as vlieë en ’n skeermes en Egipte as bye beskryf (vers 18-20).

Jesaja tref Agas aan waar hy sy watertoevoer na die noorde, vanwaar hulle die aanval verwag het, wil beveilig (vers 3).  Sy seun is saam en is op sy beurt ook al reeds ’n boodskap aan Agas, want sy naam, Sear-Jasub, beteken “’n Oorblyfsel kom terug”. Maar die boodskap beweeg Agas nie van vrees na vertroue nie.  Lees meer oor Agas in my bydrae oor 2 Konings 16.

Die Here gee aan hom die opsie van ‘n teken – anders as met Gideon (Rigt 6), is dit die Here wat die teken aanbied – maar hy weier.  Sy vroom verweer – ek wil die Here nie tart nie (Deut 6:16) – is eintlik gemaskeerde ongeloof.  Hy vertrou die Here nie, eerder sy eie alliansie planne met Assirië (2 Kon 16:7).

Die jong vrou wat swanger word, was waarskynlik iemand wat Agas geken het, wat hom in lewende lywe kon herinner dat die Here sy Woord sal waarmaak, dat Hy inderdaad Immanuel, God-met-ons is (vgl Jes 8:8 waar Juda self Immanuel genoem word, die plek waar God-met-ons is, as hulle dit maar net wou glo!  Dit kom ooreen met die Dawidiese belofte soos in 2 Sam 7 beloof).

Sommige geleerdes dink selfs dat die jong vrou op Agas se eie vrou gedui het, wat dan sou beteken dat Hiskia Immanuel sou wees (vgl Jes 36 vv), ‘n aantreklike interpretasie.  Volgens sommige daterings was Hiskia teen die tyd egter al gebore, wat dit onwaarskynlik maak.

Wat wel seker is, is dat Agas die vrou geken het, anders sou die teken vir hom geen betekenis gehad het nie.  En soos Watts sê, wat vir ons duister is, was nie noodwendig vir Agas duister nie!

Die Hebreeuse woord, ha-almâ, wat in Afrikaans vertaal word met jong vrou is interessant.  Dit word in Grieks met een van twee woorde vertaal: 1) parthenos – maagd, en 2) neanis – jong vrou, wat volgens sommige geleerdes ook jong getroude vrouens insluit tot en met die geboorte van hulle eerste kind, hoewel só ‘n interpretasie nog nie ‘n breë aanvaarding geniet nie.  Albei betekenisse word egter as ‘n interpretasie van die Hebreeuse woord gebruik.

In die OT word die woord ha-almâ in die eerste betekenis, maagd, bv. gebruik vir die meisies by die put waar die slaaf van Abraham vir Isak ‘n vrou soek (Gen 24:43) en vir Miriam (Eks 2:8);  die tweede betekenis kom heel waarskynlik voor waar van vroue-sangers gepraat word (Ps 46:1; 68:26) en dit nie noodwendig op maagde hoef te dui nie. Dit is egter onseker wat dit hier in Jesaja beteken, hoewel die Griekse vertaling hier parthenos is.  Die Afrikaanse vertaling het egter vir  jong vrou gekies, wat ook maagd kan insluit.

Die boodskap van ‘n jong vrou wat sal swanger word, is natuurlik ook deur die evangelieskrywers van toepassing gemaak op Maria met Jesus se geboorte, wat op ‘n besondere wyse hierdie woord vervul het, en vir alle gelowiges die heersende interpretasie geword het, die Immanuel, God-met-ons (Mat 1:23).

Agas se ongeloof en gebrek aan vertroue laat ontvlam egter die toorn van die Here en versterk Sy voorneme om die oordeel oor die volk te voltrek.

Die boodskap in vers 9 tref my: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Letterlik staan daar: Julle moenie vrees nie, net vertrou.” Dit bly ‘n uitnodiging ook aan my, veral wanneer ek self bewe vir die uitdagings in my lewe en gemeenskap.

En die Immanuel van Kersfees, Jesus, het natuurlik ook beloof dat Hy deur Sy Gees in my sal woon, wat op ‘n ander manier God-met-my geword het (Joh 14:16-17)!

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms