So pas het die vrou die hoop uitgespreek dat die man haar veilig sal laat voel in hulle liefde, dat hy haar vrees sal help besweer van die afskeid van haar ouerhuis. Nou worstel sy in haar droom/nagmerrie met haar eie behoeftes.
Hoewel sy hom beskryf as die een wat sy liefhet, letterlik: “die een wat my siel liefhet” – dws die een aan wie haar binneste verkleef geraak het – wil sy nie, selfs nie in haar droom nie, onbehoorlik optree nie. Sy wil hom eers gaan haal na die geborgenheid van haar ma se huis, háár veilige ruimte.
Die gedig se indeling is voor die handliggend die vrou se gedagtes, behalwe dat ‘n mens nie maklik uit die vertaling agterkom dat sy in vers 6 die subjek is nie, en die man in vers 7. Die woordjie Wie in vers 6 dui op die vrou in die oorspronklike.
Vandag lees ons ‘n aantal gedigte – veral van die man oor sy bruid, behalwe vers 16 wat die vrou se uitnodiging aan die man verwoord – wat uitmond in hulle seksuele eenwording.
Vers 1-7 is ‘n loflied (wasf) van die man op die skoonheid van sy lieflingbruid.
Vers 8 verwoord sy uitnodiging tot saamwees aan sy bruid, maar wat net op haar uitnodiging kan gebeur.
Vers 9-11 besing die bruid se impak op die man: “Jy het my hart gesteel”.
Vers 12 tot hoofstuk 5 vers 1 is die sogenaamde tuin-gedig wat op intieme wyse hulle seksuele eenwording beskryf.
Na die vervulling van die seksuele liefde in die vorige hoofstuk, tref hierdie gedig ‘n mens ‘n bietjie met ‘n skok. Seks kan deur ‘n liefdesmaat as vanselfsprekend aanvaar word of ter wille van eiebevrediging gebruik word, en kan misverstand en verwydering bring. Seks kan ook deur ‘n liefdesmaat geweier word of weens verskillende behoeftes onvervuld bly, en dit kan eweneens misverstand en verwydering bring.
Maar, dit is juis die trefkrag van Hooglied, dat dit nie net die hoogtepunte van die seksuele liefde besing nie, maar ook van die teleurstellings en verwyderings vertel, selfs die ongelykheid wat daar in die proses van seksuele vervulling kan ontstaan.
En dit is die essensie van die wysheid, en waarom dié boek in die Bybel ingesluit is – dat die liefde in al sy dimensies beskrywe word, om te dien as motivering vir ‘n interafhanklike wedersydse ontvanklikheid vir en ontwikkeling van die seksuele liefdesverhouding tussen die man en vrou. Liefhê is ‘n kuns wat nie net op ‘n onderlinge aantrekkingskrag gebaseer kan word nie, maar ook op ‘n emosionele volwasse ontwikkeling van die verhouding in terme van albei partye se behoeftes en begeertes.
Vandag se leeswerk beslaan 2 dele – 5:9-16 en 6:1-3 – wat dieselfde patroon volg:
Die 1ste deel begin in 5:9 met ‘n vraag oor die man se andersheid al dan nie (om hulle te help om hom te vind – onthou dit is ‘n gedig, nie ‘n werklike verhaal nie!), waarop die vrou met ‘n wasf antwoord en die besondersheid van haar man beskryf, amper soos dié van ‘n goddelike standbeeld.
Die 2de deel begin in 6:1 met ‘n vraag oor sy afwesigheid en ‘n aanbod van hulp (in antwoord op haar versoek tot hulp in 5:8), waarop die vrou antwoord dat hulle verhouding herstel is, want hy is weer af na sy tuin (‘n metafoor vir haar – vgl 4:12-5:1) toe.
Hannelie van der WaltonHoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Reis deur die Psalms het my meer insig in die Psalms gegee en waaroor dit eintlik gaan. Meer bewustheid om die Here te loof vir Wie Hy is en opnuut elke dag te besef how getrou en betroubaar Hy is. As kind van Hom weet ek dit maar hierdie reis het my net meer en meer daarvan bewus gemaak en het dit…
San GottschalkonSluit by 49 Dae van Gebed vir Leiers aanMôre! Sal die gebedsaksie vir ons kennisgewings stuur as pns klaar geregistreer het? Hoe kom ons by die website uit as ons elke oggend dit wil oopmaak?
Onlangse kommentaar