Skip to main content

Die “boeke” van God

Die Bybel praat op vier maniere oor die “boeke van God”.

1. Die boek van jou lewe

Daar is  ‘n boek van God wat jou lewe bepaal. Dawid skryf in Psalm 139 van ‘n boek waarin al sy dae opgeskryf is, selfs vóór hy nog bestaan het (Ps 139:16). Dit is ‘n boek waarin God se besluite vir ons lewe opgeskryf is. Dit beweeg Dawid tot ‘n diep ontsag vir God.

Dit lyk ook asof daar voortdurend in hierdie boek geskryf word, want Dawid sê dat selfs gelowiges se trane opgeskryf word in hierdie boek van God (Ps 56:9). God is nie net intens bewus van alles wat in ons lewe aangaan nie. Hy is intiem betrokke by elke detail daarvan. Selfs van voor jou geboorte af.

2. Die boeke van alle lewens

Daar is  boeke wat by die oordeelsdag oopgemaak word om oor alle lewende wesens te oordeel. So lees ons in Daniël 7. Dit is boeke wat in die oordeel van God oor alle lewens gebruik word. Die uiteinde van dié oordeel is dat die Seun van die mens die koningskap van God ontvang waarna die heilige volk van die Allerhoogste hulle plek saam met Hom in die koninkryk van God inneem (Dan 7:10).

Johannes wys ook In Openbaring 20 hoe by die “wit-troon” oordeel al die dooies voor die troon van God versamel word vir die oordeel. Die belangrikes en die geringes. Die dooies uit die see, en dié uit die dood en die doderyk. Al die boekrolle met die mensdom se dade word daar oopgemaak (Openb 20:12). Dit is die basis waarop die werke van alle mense geoordeel sal word (vgl Matt. 25:31-40).

Die dood en die doderyk (Hades – vgl Openb. 6:8 se vaalgroen perd) word by hierdie oordeel summier in die poel van vuur gegooi waar die onheilige driemanskap  – die antichris, vals profeet, en die Satan – reeds is. Dit word as die tweede dood beskryf.

Die boeke van die almal se dade word egter saam met die boekrol van die lewe oopgemaak, want dit is die uiteindelike basis waarop sommige in God se teenwoordigheid kan bly, en die ander nie. Soos ons later sal sien, is dié wie se name nie in die boek van die lewe gevind is nie, saam met die dood en die doderyk in die poel van vuur gegooi.

Niemand word dus gered  deur die boekrolle van die dade nie. Dit is net dié wie se name in die boek van die lewe is, wat gered word, alhoewel die regverdige dade steeds deel van die proses is (vgl 2 Kor. 5:10 en Rom. 10:14 waar daar sprake is van ‘n regterstoel van Christus / God vir gelowiges). Die oordeel van God met die boek van die lewe is dus beslissend.

3. Die boeke vir ons lewens

Daar is ook die boeke van God vir ons lewens.  Dit word op drie maniere beskryf.

Daar is in die eerste plek die skepping wat as ‘n “boek van God” beskryf kan word (Ps 19). Van die skepping van die wêreld af kan God se Godheid en ewige krag daaruit afgelei word (Rom 1:18-23). Dié boodskap is voortdurend en bereik alle mense sonder uitsondering.

Die wet word in die tweede plek as ‘n “boek van God” beskryf. Hierdie boek spel God se geskrewe opdragte uit vir ons lewens. Dit bevat die wil van God wat Dawid met sy hele hart begeer om uit te voer (Ps 40:8-9). Deur die wet as ‘n “boek van God” te beskryf, word ‘n integrale verband gelê tussen die wil van God soos dit in die hemel opgeskryf is, en die wil van God soos dit op aarde in die wet van Moses opgeskryf is.

Die Hebreërskrywer sluit by Psalm 40:8-9 se beskrywing van die wet as ‘n “boek van God” aan. Waar Dawid in sy  begeerte om God se wil volmaak uit te voer, gefaal het, is dit deur Jesus volmaak uitgevoer. Deur sy offer aan die kruis kon Jesus ‘n nuwe verbond sluit om vir altyd die gelowiges volmaak en heilig te maak vir God se koninkryk.

Jesus self word vir ons op onvergelyklike wyse as die Woord van God geteken wat nie net van die begin af by God was nie, maar inderdaad God is. Hy het die lig van God vir ons geword wat sy genade in sy menswees aan ons uitgedeel het (Joh 1:1-18).

Uiteraard word die hele Skrif uiteindelik ook as die Boek van God, die Woord van God, beskryf. Die skrifstelling daarvan begin by die bevel aan Moses om die groot werke van God (Eks 17) sowel as sy woorde neer te skryf  (Eksodus tot Deuteronomium). Hierby voeg Josua, Samuel, Dawid, die Skrifprofete, digters, wyses en geskiedskrywers die woorde wat God hulle gegee het en uiteindelik word God se Woord afgerond deur die skrywers van die NT.

Daar is in die derde plek ook die “boek van goddelike besluite of voorafbepaalde gebeure”. Dit spel die waarskuwings (Eseg 2:9–10 vv) en vervloekinge (Sag 5:1–4) uit wat deur God se agente – engele en mense – aangekondig en uitgevoer word. In Daniël word hierdie boek waarskynlik as die “boek van die waarheid” beskryf. Hierdie boek beskryf God se wil vir die geskiedenis (Dan 10:21).

In die Openbaring 4-11 word die sluier verder oor hierdie boeke van God se besluite gelig. Daar word van twee boeke gepraat wat die agenda vir die wêreld en die agenda vir die kerk bepaal.

Die eerste boek is die boekrol in God se hand met sy plan vir die heelal (Openb 5). Dit is binne en buite vol geskryf en met sewe seëls goed verseël, sodat niemand dit sonder meer kan oopmaak en dié agenda in werking kan stel nie. Trouens, dit is net Iemand wat die volle verlossingspad reeds geloop het, wat reeds die mensdom met God versoen het, wat die verdere verloop van die verlossingsplan vir die heelal kan bekendmaak en in werking stel.

Een van die ouderlinge wys dan vir Johannes op hierdie Een wat die boekrol uit God se hand kan neem en die seëls daarvan kan breek. Dit is die Leeu van Juda, die nakomeling van Dawid, die Lam wat geslag is, Jesus. Hy is waardig om die boekrol te neem, want Hy is die Verlosser en daarom die Bemiddelaar van die verlossing. En soos Hy die seëls hierna breek, word die inhoud van die boekrol nie net bekend  nie, maar ook deur Hom in werking gestel word. Die verlossende oordeel van God.

Die tweede boek is die boekrolletjie (let op die verkleinwoordjie) wat Johannes aangesê word om uit die hand van die engel te gaan haal, dit te eet en die boodskap daarvan verder te gaan verkondig (Openb 10).

Hierdie boekrolletjie bevat die verlossingsplan vir die aarde wat aan die kerk toevertrou is, op soortgelyke wyse as wat die vorige boekrol in hoofstuk 5 die verlossingsplan van die heelal wat aan Jesus Christus toevertrou is, bevat. Dit kan daarom met die Woord van God verbind word en is iets wat eintlik vir die hele kerk gegee word. Johannes verteenwoordig dus hier die kerk as sodanig wat dit uit die hand van die engel ontvang.

Die simboliek van die soet smaak (vgl. Eseg. 3:3) en die bitter uitwerking in die maag dui op die ervaring wat gelowiges telkens het – die besig wees met God se Woord en sy opdragte aan ons roer ons hart en bring ons in beweging, terwyl die uitwerking van die gehoorsaamheid aan die Woord baie keer tot konflik, stryd en teenstand in hierdie wêreld lei, soms selfs tot konflik in jouself en binne die gemeenskap van gelowiges. Dit is die ander kant van die boodskap wat aan die kerk toevertrou is, die aankondiging van God se oordeel.

In beide hierdie aspekte van die boodskap van die kerk, lê ons opdrag. Aan die eenkant moet ons die genade van die verlossing met alles wat in ons is aan alle mense so ver as wat ons dit kan doen, verkondig. Aan die ander kant moet ons die sekerheid van die oordeel van God oor sonde en afvalligheid verkondig aan die hele wêreld. Dit is die somtotaal van ons getuienis. En belangrik, dit is ook nodig dat leiers (konings) dit hoor, nie net die gewone mense van die nasies van hierdie wêreld nie.

4. Die boek van die lewe

Die belangrikste boek van God – uit ons perspektief – is die boek van die lewe. Ons hoor vir die eerste keer van die bestaan hiervan in Eksodus 32. Moses praat daar van die “boek wat U geskryf het”. Hy versoek egter dat sy naam uitgevee word daarin ter wille van die behoud van die volk (Eks 32:32-33).

God weier egter om Moses se naam uit te wis uit “sy boek”. God verklaar dat Hy die alleenreg het oor wie se name Hy uitwis uit sy boek. “Wie teen My gesondig het, dié sal Ek uitdelg uit my boek.” Soos Hy natuurlik so pas gedoen het in die woestyn met die drieduisend wat dood is weens die volk se sonde – losbandigheid en afgodery – met die episode van die goue kalf.

Hierdie boek van God in Eksodus word dus beskryf as ‘n boek waarin God bepaal wie lewe en wie sterwe. Dit lyk asof alle name van alle mense daarin is, maar dat God dié mense wat teen Hom sondig uitvee uit sy boek. Dié wat uitgevee word, sterf dan ook, soos die drieduisend. Die uitwissing beskryf egter nie noodwendig ‘n ewige besluit op hierdie stadium nie.

Dawid sluit by hierdie gedagtes aan in Psalm 69 waar hy die eerste keer hierdie boek direk die “boek van die lewe” noem (Ps 69:29). Soos in Eksodus is dit ‘n boek waarin die name van alle lewende mense geskryf is. Dawid vra egter van God dat sy vyande se name uitgewis word uit hierdie boek van die lewe. Hy bedoel daarmee doodgewoon dat hulle sal sterf, sonder dat hy hom oor die ewige konsekwensie daarvan uitspreek. Verder vra hy dat die regverdiges apart gelys sal word in die boek van die lewe.

Jesaja skryf ook oor hierdie boek in sy profesie oor die ballingskap van Israel en praat van die name van die “oorblyfsel van Israel” wat “vir die lewe in Jerusalem” opgeskryf is (Jes 4:2-6). Dit verwys dus in die eerste plek na die mense wat die ballingskap vrygespring het.

Sy boodskap neem egter Messiaanse trekke aan met die verwysing na die “Spruit van die Here” wat God se teenwoordigheid soos die wolk in die woestyn oor hulle sal laat rus. Die profesie van Jesaja het dus ‘n dubbele betekenis. Dit verkondig die lewe vir ‘n oorblyfsel van die Israeliete van die ou bedeling. Dit verkondig ook die lewe vir die “heiliges” wat bestem is om in God se Messiaanse teenwoordigheid te lewe (vgl Jer 23:5; 33:15; Sag 6:12 vir soortgelyke profesieë).

Daniël lig die sluier verder oor wat met hierdie boek van die lewe aan die einde van die tyd sal gebeur (Dan 12:1-3). Dit bepaal wie gaan vir ewig lewe en wie nie. By Daniël kom ‘n mens duidelik agter dat hierdie boek van die lewe nie net betekenis het vir die aardse lewe nie, maar ook vir die toekomstige. Almal wat in hierdie boek van die lewe opgeskryf is, sal gered word. Met die opstanding uit die dode sal sommige dus opstaan tot die ewige lewe en ander tot die ewige skande. Alles begrond op die boek van die lewe.

Maleagi sluit ook hierby aan waar hy praat oor die name van die regverdiges wat opgeskryf is in ‘n “gedenkboek”, en waarin die name van die goddeloses nie voorkom nie (Mal 3:16).

Jesus verwys waarskynlik na hierdie boek van die lewe in Lukas 10. Hy leer daar die dissipels dat hulle bly mag wees oor die wonderwerke wat hulle in sy Naam doen. Maar hulle moet weet dit is van baie minder waarde as die feit dat hulle name “in die hemele opgeskryf is” (Luk 10:20; vgl Hebr 12:22-23).

Paulus verwys direk na die “boek van die lewe” waarin die name van sy medewerkers opgeskryf is as ‘n aanmoediging vir onderlinge eensgesindheid by sy medewerkers.

In die Openbaring aan Johannes moedig Jesus die gemeente van Sardis aan om tot bekering te kom en heilig voor Hom te lewe. Jesus sal dié wat oorwin – enduit getrou bly aan Hom – beloon met wit klere en “Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie”.  Jesus sal sy naam bely voor sy Vader en voor sy engele (Openb 3:5)

Johannes lig die sluier nog ‘n bietjie verder oor hierdie boek van die lewe in Openbaring 13. Die boek van die lewe word die “boek van die lewe van die Lam wat geslag is” genoem. Dit word dus direk aan die Here Jesus self verbind. Dit is ‘n boek waarin die name van die “heiliges” reeds van die grondlegging van die wêreld af in opgeskryf is. Trouens, dit is net dié wie se name nie daarin opgeskrywe is nie, wat die dier uit die see (antichris) en die draak (Satan) sal aanbid en saam met hulle oorlog sal maak teen die “heiliges” (Openb 13:8; 17:8).

Met die finale “wit-troon” oordeel word hierdie boek van die lewe gebruik om te bepaal wie in God se teenwoordigheid kan bly, en wie nie. Dié wie se name nie in die boek van die lewe gevind is nie, is saam met die dood en die doderyk – waar die bose driemanskap reeds is – die antichris, valse profeet en Satan – in die poel van vuur gegooi (Openb 20:12). In die nuwe stad Jerusalem mag net diegene kom wie se name in die “boek van die lewe van die Lam” opgeskrywe is (Openb 21:27).

Die enigste ding wat jou naam uit daardie boek kan uitwis, sê Jesus, is as jy iets van die woorde van die boek van die profesie oor die eindtyd in Openbaring wegneem. As jy woorde byvoeg, sal die plae van die boek jou tref. As jy iets wegneem van die woorde, sal God jou deel wegneem uit die boek van die lewe (Openb 22:19).


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar