Skip to main content

1 Petrus – Volhard vol vreugde in vervolging en lyding

Petrus in die Bybelteks

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasDit is maklik om met Simon Petrus te identifiseer. Hierdie dissipel en apostel van die Here Jesus Christus word in die Bybelteks as ‘n oop en eerlike, selfs effens driftige mens geteken. Hy het alles wat hy gedoen het met passie aangepak, selfs soms ‘n bietjie oorboord gegaan in sy ywer, ‘n paar keer heel letterlik van die skuit in die see! In die proses het hy soms foute gemaak en soms bitterlik gehuil oor sy beperkinge. Die Here Jesus het hom egter telkens weer op sy voete geplaas en op ‘n wonderlike manier gebruik as herderleier in die ontwikkeling van die vroeë kerk.

Petrus se leierskap en geloofsmoed was uitsonderlike gawes aan die kerk van sy tyd. Hy het op onverskrokke wyse die uitdagings van die groeiende vervolging deur die godsdienstige en politieke instansies die hoof gebied, beide persoonlik in die tronk as publiek namens die kerk voor die Joodse Raad. Hy het tegelykertyd baie gedoen om die uiteenlopende diversiteit van die groeiende uitbreiding van die kerk te hanteer, onder andere deur self grense oor te steek en gelowiges uit die heidene in te sluit, soos ons in die verhaal van Kornelius lees. In die proses het Petrus dit reggekry om die geloofsgemeenskap van die vroeë kerk oor alle grense heen as ‘n eenheid te bewaar, waarin sy twee briewe ‘n belangrike rol gespeel het.

Die versoeking is dus groot vir my om in diepte sy menswees en bediening na te speur in die NT. Dit sal egter ‘n omvattende studie wees, aangesien ‘n mens dan die ongeveer 180 verwysings na hom in die NT in berekening sal moet bring. Dit sal ‘n uiters fassinerende studie wees om die 30 plus groter verhale oor hom te neem as ‘n venster op hierdie geloofsheld se unieke pad met God. Daaruit sal ons baie kan leer wat ons op ons eie pad met God kan inspireer.

Dink maar net aan die volgende:

  • Sy geloofsmoed om uit die skuit te klim om op die water na Jesus te loop – Matt. 14. Hy het daarmee ‘n aanmoediging vir ons geword om dit met die Here te waag en op Hom te vertrou.
  • Sy belydenis dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God – Matt. 16; Mrk. 8; Luk. 9. Geen wonder Jesus het hierdie belydenis as ‘n rots vir die kerk beskrywe nie. Sy naam Petrus, dié naam wat Jesus aan hom gegee het, beteken immers rots in Grieks. Daarby het hy het in ‘n sekere sin só die rots van die eerste kerk geword. Dit is ook Petrus wat gesê het: “U het die woorde wat ewige lewe gee.” (Joh. 6:68).
  • Sy eerlike interaksie met Jesus waarin hy Hom bv. lyding wou spaar – Matt. 16; Mrk. 8. Al was dit dwaas in die lig van die kruispad wat Jesus móés ondergaan, gee dit ‘n mens ‘n kykie in die hart van dié weerbarstige okkerneut van ‘n man. Dit gebeur juis meermale dat hierdie eerlike interaksie met Jesus belangrike waarhede na vore bring: rondom die vraag na tempelbelasting en die vraag oor vergifnis (Matt. 17) sowel as die vraag na die beloning vir hulle dissipelskap (Matt. 18; Luk. 12). En wie kan die voetewas episode vergeet toe hy eers nie wou hê dat Jesus sy voete was nie, maar toe hy besef dat dit noodsaaklik is, sommer heeltemal gewas wil word! (Joh. 13).
  • Sy verwondering oor Jesus op die berg van verheerliking wat hom verdwaas laat voorstel dat hulle hutte daar bou om die moment vas te vang – Matt. 17; Mrk. 9; Luk. 9. Dié optrede van hom word ‘n geleentheid vir God om vir ons almal te sê, luister na Jesus. Petrus was die katalisator vir dié baie belangrike uitspraak van God.
  • Sy verwildering en verloëning in Jesus se uur van nood in Getsemane sowel as in die binnehof van die hoëpriester se woning – Matt. 26; Mrk. 14; Luk. 22. Hy het nie net aan die slaap geraak nie, maar ook die hoëpriester se slaaf, Malgus, se oor afgekap, wat Jesus gelukkig genees het (Joh. 18). En uiteindelik het Petrus die Here Jesus verloën voor ‘n eenvoudige diensmeisie wat as deurwagter opgetree het. Dit staan vir ons almal vir altyd as ‘n waarskuwing teen vleeslike bravade en oormoedigheid.
  • Sy getuienis oor die leë graf wat die vroue se waarnemings bevestig het en die kerk se vaste belydenis oor die opstanding van Jesus Christus geword het – Luk. 24; Joh. 20. Die effek hiervan is haas onbepaalbaar groot. Met Jesus se ontmoeting met hom by die see van Galilea, waar hulle verhouding op só ‘n intieme manier herstel is, kon dié boodskap met krag verder gevoer word. Boonop het Jesus hom aangestel as herderleier van die vroeë kerk, ‘n taak wat hy met onderskeiding vervul het (Joh. 21).
  • Sy helder verduideliking van die uitstorting van die Heilige Gees en die impak wat dit nie net vir hulle eie tyd sou hê nie, maar vir alle generasies en tot in lengte van dae (Hand. 2). Dit is daarom ook betekenisvol dat dit juis hy is wat deur die Here gebruik is om eerste dié boodskap uit te dra na gelowiges uit ander nasies, waarvan Kornelius die eerste was wat ingesluit is (Hand. 10). Hy was ‘n sendeling van formaat, kom ons in die loop van Handelinge agter. Trouens, hy beskryf sy bediening as volg: “Julle weet dat God my al van die vroeë dae onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. En God die kenner van die harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle net soos aan ons, geskenk het.” (Hand. 15:7-8). Al het Paulus dus uiteindelik meer grense oorgesteek en ‘n groter wêreldwye impak gehad as Petrus, moet ons altyd onthou dat die grensoorskryding by Petrus begin het. Daarom kon Petrus saam met Paulus en Jakobus by die eerste “sinodesitting” van die vroeë kerk ‘n beslissende stem uitbring in die guns van die insluiting van gelowige uit die heidennasies (Hand. 15). Anders sou die Christelike beweging ‘n eng sektariese Joodse beweging gebly het.
  • Die beginsels wat hy deur die loop van sy bediening neergelê het, en deur ander as Christelike leerstellings oorgelewer is en tot vandag toe nog ‘n impak het: “Geld het ek nie; maar wat ek het, gee ek vir jou: in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!” (Hand. 3:6). “’n Mens moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!” (Hand. 5:29).

Maar, dié paar opmerkings moet vir eers genoeg wees oor die lewe van hierdie ongelooflike instrument in God se hand.

Die eerste brief van Petrus

Petrus skryf hierdie eerste brief van hom in die vroeë sestigerjare van die eerste eeu n.C. uit Rome (aangedui as Babilon in die brief – 1 Pet. 5:13 – soos dit ook in Openbaring gedoen word – Openb. 14:8; 17:5).

Daar is twee oorwegings vir die datum. Die eerste oorweging is die feit dat dit uit Petrus se brief duidelik is dat lyding en vervolging van Christene begin toeneem het, en ons weet dat dit juis in die sestigerjare onder keiser Nero begin toeneem het. Trouens, die eerste amptelike vervolging van Christene deur die staat is deur Nero begin in 64 n.C. toe hy onverdiend die Christene vir ‘n brand in Rome verantwoordelik gehou het. Die tweede oorweging is die feit dat Petrus ‘n marteldood gesterwe het in Rome aan die hand van keiser Nero êrens tussen die jare 64-68 n.C. Omdat Nero in 68 n.C. dood is, moes dié brief voor 68 n.C. geskryf gewees het.

Petrus rig sy brief aan die vreemdelinge van die Diaspora (1 Pet 1:1), die term wat normaalweg gebruik is om Jode buite Palestina aan te dui en wat nou op Christene van toepassing gemaak word. Hy doen dit egter op ‘n ander manier as wat Jakobus dit gedoen het in sy eie brief (Jak. 1:1). Jakobus het Joodse Christene bedoel, terwyl Petrus duidelik van Christene uit die heidennasies praat (vgl. 1 Pet. 1:14: “As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike neigings van vroeër toe julle nog sonder kennis was nie.”; 2:10: “Julle wat eers nie ‘n volk was nie, maar nou volk van God is …”; 4:3: “Julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen …”).

Die term vreemdelinge dui dus aan die een kant die vreemdelingskap van Christene aan binne die politieke bedelings van die streke waar hulle woon. Aan die ander kant sluit Petrus hulle met die term Diaspora ook duidelik in binne die een volk van God wat verspreid is oor die aarde, iets waarvoor sy oë die eerste oopgegaan het in die vroeë kerk, soos die verhaal van Kornelius bewys (Hand. 10).

Hoewel die brief waarskynlik ook die status van ‘n omsendbrief gehad het en deur baie gemeentes ontvang is, rig Petrus dit ook spesifiek aan Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië (1 Pet. 1:1). Dit is provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, interessant genoeg juis dele wat nie deur Paulus op sy sendingreise besoek is nie. Trouens, Paulus is deur die Heilige Gees verhinder om in Asië en Bitinië te gaan werk (Hand. 16:6-7) wat tot die evangelisering van Europa gelei het met die werk wat in Filippi begin is in antwoord op die roepstem van die Masedoniese man in Paulus se nagvisioen.

Sou dit dus gebiede wees wat Petrus besoek het en onder wie hy die evangelie verkondig het? Hy praat immers van homself ook as ‘n sendeling na die heidene en verwys daarna as iets wat aan die vroeë kerk bekend was (Hand. 15:7-8). Was dit moontlik die rede hoekom die Gees van Jesus Paulus verhinder het om daar te gaan werk, omdat Petrus reeds daar aan die werk was? Ons weet nie, maar die moontlikheid prikkel ‘n mens se verbeelding.

Wat ons wel weet, is dat die wyse waarop die vyf gebiede genoem word ‘n natuurlike roete van opeenvolgende besoeke sou kon beteken, omdat ‘n mens by een van Pontus se hawens sou kon aandoen in die noordooste, die roete deur Galasië kon volg (die noordelike provinsie – Paulus se brief aan die Galasiërs is waarskynlik aan die suideliker etnies-geografiese streek in Turkye gerig, wat ook Galasië genoem is), dan afswaai meer na die binneland in Kappadosië en die roete verder wes na die provinsie Asië kon volg, en dan weer opswaai na die noordweste in Bitinië om weer die reis per boot na Rome te kon voortsit.

Die vraag kan dus gevra word of Petrus in die wyse waarop hy hulle noem, verwys na vorige besoeke aan hulle, of dui dit moontlik die roete aan waarlangs Silvanus die brief moes gaan aflewer? Dat Petrus ‘n band met hulle gehad het, is duidelik. Ons weet egter te min om daaroor sekerheid te kan hê.

Petrus skryf die brief in samewerking met Silvanus (1 Pet. 5:12). Dit kan ook wees dat Silvanus die brief volledig geskryf het, gesien in die lig van die hoë kwaliteit van die Grieks in die brief. Silvanus is die Latynse vorm van die naam van dieselfde man wat ons in Handelinge aantref en daar regdeur met sy Griekse naam Silas beskryf word. Hy was sedert Paulus se tweede sendingreis sy vennoot in die bediening en het saam met hom baie deurgemaak, onder die tronkervaring in Filippi (Hand. 16). Silvanus was ook ‘n medeskrywer van Paulus in sy briewe aan die Tessalonisense en het saam met hom en Timoteus gepreek in Korinte (2 Kor. 1:19).

Uit die brief van Petrus lei ons dus af dat Silas nie net van groot hulp vir Paulus in dié se bediening was nie, maar ook vir Petrus. Hoe jammer dat ons nie meer van dié begintyd van ons geloof weet nie!

Petrus dra ook groete oor van (Johannes) Markus (1 Pet. 5:13), dié een wat deur Barnabas, sy oom, met Paulus versoen is ná hulle uitval op Paulus se tweede sendingreis (vgl. Hand. 15:36-41 met Kol. 4:12 en 2 Tim. 4:11). Markus was dus ook by beide Paulus as Petrus betrokke. Volgens oorlewering het Markus sy evangelie geskrywe aan die hand van die herinneringe van Petrus en is dit daarom geen wonder nie dat ‘n mens baie ooreenkomste kry tussen die evangelie van Markus en die twee briewe van Petrus nie, bv. die fokus op Jesus as die Lydende Kneg van Jesaja (vgl. Mark. 10:45; 1 Pet. 1:18).

Die boodskap van 1 Petrus

In sy brief beklemtoon Petrus dat die gelowiges burgers is van God se koninkryk. Hulle lewe op aarde dus as vreemdelinge en bywoners (1 Pet. 2:11). Dit beteken dat hulle waardes nie bepaal word deur hierdie lewe nie, maar deur God se koninkryk (1 Pet. 2:9). Hulle is mense wat uitverkies is om deur Hom heilig gemaak te word deur die Heilige Gees (1 Pet. 1:2, 14-16), om aan Hom gehoorsaam te wees en die Here Jesus met hulle hele lewe lief te hê (1 Pet. 1:8).

Dit is daarom ook die rede waarom hulle houding teenoor ander mense getransformeer kan en moet word. Hulle word opgeroep om mekaar hartlik en ongeveinsd lief te hê (1 Pet. 1:22) en hulle “goed (te) gedra” onder die heidene sodat dié God kan verheerlik omdat hulle die gelowiges se “goeie dade” gesien het (1 Pet. 2:12). Die hoop is dat die “onkunde van dwase mense” stopgesit sal word deur goeddoen, nie deur kwaaddoen nie (1 Pet. 2:15). God het hulle immers vry gemaak om alle mense te respekteer, sowel as die keiser en die owerhede (1 Pet. 2:13,17).

Nie dat dié inskiklike ingestelheid altyd met grasie deur die wêreld ontvang sal word nie. Daarom moet hulle nie verbaas wees wanneer daar teenstand en beproewings oor hulle pad kom nie. Dit is nie iets vreemds nie, maar deel van die pad van lyding wat alle Christene tref (1 Pet. 4:12-14). “Dus moet ook hulle wat in oorstemming met die wil van God ly, hulle lewe aan die getroue Skepper toevertrou deur te doen wat goed is.” (1 Pet. 4:19). Goeddoen bly die goue reël vir gelowiges in alle omstandighede.

Indeling

Ek gaan die eerste brief van Petrus as volg lees:

Hoofstuk Tema Datum
Inleiding Volhard vol vreugde in vervolging en lyding 17-Nov
Hfst. 1 Jubel oor God en leef uit die hoop 17-Nov
Hfst. 2 Laat julle opbou tot ’n geestelike huis 18-Nov
Hfst. 3 Seën mekaar 19-Nov
Hfst. 4 Bo alles moet julle mekaar innig liefhê 20-Nov
Hfst. 5 Versorg mekaar en wees voorbeelde vir mekaar 21-Nov

1 Petrus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar