Skip to main content

1 Petrus 1 – Jubel oor God en leef uit die hoop

600-x-800px-Voorblad---Petrus-JudasPetrus begin sy brief met ‘n helder trinitariese visie op God – 1 Pet. 1:1-2.  Hy kies drie aspekte van God se verbintenis aan hulle uit om die gelowiges te bemoedig:

  1. God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af,
  2. die Heilige Gees se heiligmakende krag om hulle tot gehoorsaamheid aan God te begelei, en
  3. die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus wat nie net iets is wat met die doop gebeur het nie, maar inderdaad deur hulle hele lewe hulle reinig om voortdurend met God in verhouding te kan staan.

Dit volg hy op met ‘n verdere lofrede op God – 1 Pet. 1:3-5 – waarna hy van hulle op hulle beurt ‘n paar verbintenisse vra:

  1. Hy roep hulle op om oor hierdie God te jubel – 1 Pet. 1:6-12 – en
  2. uit die hoop wat God gee, te leef – 1 Pet. 1:13-25. Dit sluit in dat hulle hele persoonlike lewenswandel heilig moet word (13-21), en dat hulle mekaar in die geloofsgemeenskap innig met rein harte moet liefhê (22-25).

Dit sal opgevolg word met verdere oproepe in die volgende hoofstukke:

  • om te fokus op geestelike groei binne die geloofsgemeenskap – “laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis” (1 Pet. 2:1-10),
  • sowel as op ‘n lewe van respek in die publieke gemeenskap (1 Pet. 2:11-17),
  • wat gewys moet word in arbeidsverhoudinge (1 Pet. 2:18-25),
  • die huwelik (1 Pet. 3:1-7),
  • en ‘n goeie leefwyse (1 Pet. 3:8-16).

Dit is immers wat dit beteken om Christus na te volg as mense wat deur God uitgekies is, en daarom as vreemdelinge in die wêreld lewe.

1:1-2 – Die Drie-enige God is aan julle verbind

Petrus rig sy brief aan die “vreemdelinge van die Diaspora” en dui daarmee die Christene uit die heidennasies aan wat verspreid in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye, woon.  Petrus het duidelik ’n band met dié gelowiges, hoewel ons nie presies weet hoe dit gebeur het nie.

Die drie aspekte wat Petrus in vers 2 van die Drie-enige God se verbintenis aan hulle uitspel, is baie bemoedigend en eintlik al genoeg om vandag oor na te dink:

1.  “Hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader ….(BDV)

God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af dui aan dat God se verhouding met sy mense iets is wat in Homself begin het.  Die Griekse woord wat hier met voorkennis vertaal word, is die woord prognôsis  wat ons natuurlik ook sal herken in die mediese term prognose.  God het dus vooraf geweet dat Hy ons gaan kies! Hy het vooraf besluit om ons te ken!

God se keuse vir en van ons is daarom nie maar ’n tydelike bevlieging nie, maar het ’n ewige karakter.  Sy voorkennis is ook nie gebaseer op hóé sy mense is nie, óf wat hulle gedoen het of nog sal doen nie, maar gebaseer enkel en alleen op grond van sy eie genadige voorneme.  Voorkennis beteken dus: God het geweet wat Hy gaan doen.

Sy uitverkiesende besluit is daarom gebaseer nie op wat ons gaan doen nie, maar op wat Hy gaan doen.  In sy genade het Hy besluit, voordat ons kon kies of kon vra, om met ons die pad te stap na die nuwe koninkryk wat Hy gaan vestig.

Dieselfde gaan in vers 20 oor sy voorkennis van die Christus gesê word, dié een wat in tyd aan ons geopenbaar is.  Hy het ook vooraf geweet dat Hy Jesus as die Christus gaan bekendstel.

Oor só ’n voorkennis en uitverkiesing kan ’n mens net juig.  Trouens dit is al manier om daarop te reageer.  God se keuse vir ons kom dus nie net uit die verre verlede nie.  Dit kom uit die tydlose ewigheid voor alles tot stand gekom het wat ons as die heelal ken!  Tóé al het Hy geweet Hy gaan ons kies om deur die Gees heilig gemaak te word sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees.

Ons het dus in God se gedagtes bestaan, lank voor ons die lewenslig aanskou het.  Wat ’n diep voorreg en vreugde is dit nie!

2.  “om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees ….(BDV)

Die Heilige Gees se heiligmakende krag begelei hulle tot gehoorsaamheid aan God.  Ons dink nie genoeg hieraan nie.  Heiligmaking is net so ’n geskenk van God as wat geloof dit is.  Die feit dat ons aan God gehoorsaam lewe, kom ook van Hom af.  Hy het geweet Hy gaan ons heilig maak sodat ons Hom kan ken.  En Hy is besig om dit nou uit te voer deur die Gees.

Dit gebeur uiteraard nie sonder dat ons Hom toelaat en met Hom saamwerk nie.  Vandaar die oproep in die res van die brief om op God se verbintenis aan ons te reageer met ’n verbintenis aan Hom in die praktyk van die lewe.  Maar, heiligmaking bly steeds iets wat die Gees in ons doen, en daarom ’n geskenk van God.  God werk dus in ons met die oog op die toekoms.  Hy wil ons volmaak saam met Hom in sy koninkryk inneem.

3.  “en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word. (BDV)

Die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus dui nie net op iets wat met die doop en met wedergeboorte gebeur nie, maar inderdaad op iets wat deur die hele lewe van toepassing is.  Die bloed van Jesus Christus reinig ons voortdurend om met God in verhouding te kan staan, soos ’n mens ook in Hebreërs 9:14 lees: “ hoeveel te meer sal die bloed van Christus … ons gewete reinig van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien.

God neem dus ook deur Christus verantwoordelikheid vir ons hede, sodat ons by dié toekoms waarop Hy reeds in die ewigheid besluit het, kan uitkom.

1:3-12 – Jubel oor God in allerhande beproewings

Met hierdie inleiding is dit geen wonder dat Petrus uitbars in ’n lofbetuiging aan God nie.  Hy fokus op die ewige erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word.  Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die basis van ons hoop – ’n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde in besit sal neem.

Let op hoe Petrus in vers 5 ons geloof en die krag van God aan mekaar verbind: “ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing.” Beide God se krag sowel as ons geloof speel ’n rol in ons volharding tot die einde toe.  Ons gryp vas aan God, omdat Hy ons gegryp het.

Oor hierdie erfenis en hierdie toekoms moet ons jubel … “al moes julle nou eers vir ’n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.”  Daar is immers ’n doel met beproewings – dit wys die egtheid van ons geloof, iets wat baie kosbaar is.  Die toetsing deur beproewings wys dat geloof beproefd is, dat dit die moeite werd is.  En die motivering vir ons volharding kom van ons liefde vir die Here Jesus Christus, in wie ons glo, al het ons Hom nog nie gesien nie.  Hy is die Een van wie ons glo dat Hy ons by die verlossing sal uitbring, sodat ons die einddoel van ons geloof kan bereik.

Petrus herinner die gelowiges daaraan dat hierdie verlossing iets is waaroor baie lankal nagedink en navraag gedoen is, sedert die tyd van die profete.  Selfs die engele, sê hy, wonder oor presies hoe dit werk. Ons het egter nou die voorreg om nie net van ons deelname aan die verlossing oortuig te word nie, maar inderdaad mee te werk daaraan deur ons verbintenis aan God.

1:13-21 – Wees heilig, want God is heilig

Petrus roep hulle daarom op om verstandelik paraat te wees (“omgord die lendene van julle verstand”) en nugter op te tree en hulle volledig op God se genade te verlaat.  Hulle hele persoonlike lewe moet van God se heiligheid getuig, omdat dit is hoe God is, aangehaal uit Levitikus (11:44-45; 19:2; 20:7).

Hy spel dit nie meer presies hier uit nie – hy sal later meer prakties skryf oor arbeidsverhoudinge en die huwelik wat hierby aanhaak – maar stel dit in die algemeen dat hulle dus nie meer leef soos hulle natuurlike neigings van vroeër (vers 14) en die oorlewerings van hulle voorvaders (vers 18) aan hulle voorskryf nie, want dit is sonder kennis van God en lei tot ’n sinlose lewe.

Hulle moet leef soos God dit aan hulle geopenbaar het in Christus Jesus.  Hy is die voorbeeld en die inhoud van die geloof.  God se heiligheid moet hulle tot ontsag vir God beweeg, nie om vir Hom bang te wees nie, maar om Hom te gehoorsaam.  Hulle verlossing het Hom duur gekos, omdat hulle: “losgekoop is met die kosbare bloed van Christus, Hy wat soos ’n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.” Die offer van Christus het hulle dus in die regte verhouding met God gebring.  Hulle hele lewe moet nou vir God geleef word.

1:22-25 – Hê mekaar met rein harte innig lief

Maar die oproep is nie net om persoonlik hulleself aan God te verbind nie.  Dit is iets wat ook in die geloofsgemeenskap uitgeleef moet word.  Die hele idee van ’n innerlike verbintenis aan God kom tot sy reg wanneer daar op ongeveinsde manier ware liefde teenoor mekaar betuig word.  Hulle moet mekaar “innig met rein harte liefhê.” Die Griekse woord wat hier met “innig” vertaal is, kan ook met “onophoudelik” vertaal word. Ons moet mekaar onophoudelik lief hê. Dit is immers die tipe liefde wat pas by mense wat deur ’n ewige God liefgehê word!

Die rede hiervoor spruit voort uit die hartsverandering wat hulle beleef het: “Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” Petrus verwys hier na gedagtes wat meer volledig in die evangelie van Johannes en in sy eerste brief uitgewerk is (Joh. 1:13; 3:3,7; 1 Joh. 3:9; 5:18).

Hierdie versekering van God se werk in ons is eintlik ongelooflik.  God se ewige werk in ons kan nie uitgewis word nie, sê Petrus, en hy kontrasteer God se werk met die bestaan van die mens wat net tydelik soos veldblomme en gras is!  Ons onverganklikheid en daarom ons hoop op die toekoms lê dus nie in onsself nie, maar in die ewige God se besluit.

Hy het vooraf reeds goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!

Boodskap

Ja, God het reeds vooraf goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!  Daarin lê die diep evangelie van hierdie teks vir my opgesluit.  Dit maak die volharding in beproewings die moeite werd.  Dit moedig my aan om onverskrokke heiligheid in alles in my persoonlike lewe na te jaag en as geskenk van God te ontvang.  Dit inspireer my om onophoudelik en van harte lief te hê.  Want, God die Vader het my van alle ewigheid af lief. God die Seun neem verantwoordelikheid vir my hede en hou my rein. En God die Heilige Gees neem verantwoordelikheid vir my toekoms. Hy sal sorg dat ek die erfenis in besit sal neem.  Daarom het ek dit eintlik nou alreeds!


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

1 Petrus


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar