Skip to main content

Tag: Wie is God?

Hoe moet jy bid? – Psalm 17:1-2

Luister na my wanneer ek smeek dat U aan my reg moet laat geskied, Here, luister na my geroep om hulp. Gee tog aandag aan my gebed, want wat ek sê, is met opregtheid. Verklaar my nou onskuldig; U sien tog self wat reg is! (NLV)

1. Psalm 17 gaan oor die feit dat God die gebed van die hulpeloses nie verontagsaam nie.  Die Psalmis bid om verlossing op grond van God se regverdige karakter. Hoe dink jy oor God se regverdigheid?

2. Die Psalmis maak ook staat op die feit dat hy in opregtheid bid en oortuig is van sy onskuld. Watter rol speel dit in gebed?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner aan die feit dat die Here regverdig is en aan jou reg sal laat geskied.

4. Jy kan later vanaand die verse weer in die konteks van Psalm 17 (en Psalm 22 wat dieselfde tema het) lees en my bydrae daaroor: Psalm 17 + 22 – God verontagsaam nie die gebed van die hulpelose nie.

Vraag 41: Hoe moet jy bid?

1. Hoe moet jy bid?

2. Lees my antwoord en oordink dit.

Ek moet ernstig en opreg vir alles en almal bid. God sal my gebede verhoor soos Hy dit in die Woord belowe. Die Gees en die Woord sal my onderskeiding en insig laat groei. Ek bid daarom met vurige liefde, nederige volharding en vreugdevolle dankbaarheid. Omdat God se Gees in my werk, sal ek altyd gelowig in gebed volhard.

3. Lees die gelykenis van die onregverdige regter in Lukas 18:1-8. Wat tref jou?

4. Lees my opmerkings daaroor. Oordink dit.

God sal reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat na Hom roep

Jesus het vir sy dissipels ’n gelykenis vertel. Hulle moes aanhou bid sonder om moedeloos te word. Daar was ’n regter wat God en medemens nie gerespekteer het nie. Daar was ook ’n weduwee wat aanhou vra het dat hy aan haar reg laat geskied. Vir ’n tyd lank was hy onwillig. Naderhand besluit hy om haar te help. Hy was bang dat sy hom heeltemal gedaan sal maak. Jesus sê toe dat God nog makliker reg sal laat geskied aan sy uitverkorenes – hulle wat dag en nag na Hom roep. En baie gou ook! Hy wonder egter of mense dit sal glo.

5. Lees die Dordtse Leerreëls 3-4.1.15 oor gebed en dink na oor wat dit jou leer oor gebed vir ander.

DIE VERDORWENHEID VAN DIE MENS, SY BEKERING TOT GOD EN DIE WYSE WAAROP DIT PLAASVIND

15 . Hierdie genade is God aan niemand verskuldig nie. Wat sou God immers aan iemand skuld wat Hom vooraf niks kan gee nie en waarvoor hy dan vergoed moet word? Inderdaad, wat sou God aan die mens verskuldig wees wat self niks anders as sonde en leuens het nie? Die mens wat hierdie genade ontvang, is aan God alleen ewige dankbaarheid verskuldig en hy dank God ook daarvoor. Die mens wat hierdie genade nie ontvang nie, heg geen waarde aan hierdie geestelike dinge nie en skep net in sy eie dinge behae, of beroem hom, sonder om na te dink, tevergeefs op wat hy het, terwyl hy niks het nie. Verder moet oor hulle wat hulle geloof in die openbaar bely en hulle lewe verbeter, volgens die voorbeeld van die apostels, baie gunstig geoordeel en gepraat word, want die binneste van die hart is aan ons onbekend. Vir die ander wat nog nie geroep is nie, moet ons tot God bid wat die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Ons mag ons volstrek nie teenoor hulle in trotsheid verhef asof ons onsself in so ‘n bevoorregte posisie geplaas het nie.

Tien gebede van Nehemia

Nehemia was ‘n man van gebed. Dit sien ons in die tien gebede van hom wat in die boek Nehemia opgeteken is. Hierdie gebede gee ons ‘n intieme kykie in die tipe verhouding met God wat nodig is om nie net sy wil te ken nie, maar inderdaad uit te voer.

Ek nooi jou uit om die hele boek Nehemia deur te lees en spesifiek op te let na die tien gebede van hom wat deur die boek versprei is (ook een van Esra):

  1. Nehemia vas en bid om ‘n helder visie (Neh 1:5-11)
  2. Nehemia nader die koning met ‘n skietgebed tot die Here (Neh 2:5)
  3. Nehemia reageer op teenstand met publieke gebed (Neh 4:4-5)
  4. Nehemia roep almal op tot gebed terwyl hy waaksaamheid opskerp (Neh 4:9)
  5. Nehemia bid dat sy werk bevestig sal word (Neh 5:19)
  6. Nehemia vra dat die Here sy hande sal sterk (Neh 6:9)
  7. Nehemia vra dat die Here die teenstand sal hanteer (Neh 6:14) *Esra lei die volk in gebed om aan God alleen verbind te wees (Neh 9-10)*
  8. Nehemia bid dat sy liefdesdiens nie verlore sal gaan nie (Neh 13:14)
  9. Nehemia bid vir God se ontferming met die herstel van die Sabbat (Neh 13:22)
  10. Nehemia tree in vir die volk en sy leiers (Neh 13:29-31)

Gebruik dit as inspirasie om in jou eie omgewing die Here se aangesig te soek vir die roeping wat Hy op jou hart wil lê.

Wat is gebed? – Die belydenisskrifte

1. Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis 26 en die Heidelbergse Kategismus 116-118. Wat leer jy oor gebed? Wat beteken dit vir jou? Wat vra dit van jou?

Nederlandse Geloofsbelydenis 26

CHRISTUS ONS VOORSPRAAK

Ons glo dat ons geen ander toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus, die Regverdige. Hy het juis hiervoor mens geword en in Hom die

Goddelike en menslike natuur verenig, sodat ons, mense, tot die Goddelike majesteit toegang kan hê, anders sou die toegang vir ons gesluit wees. Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ‘n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie. Want daar is niemand in die hemel of op die aarde onder die skepsels wat groter liefde vir ons het as Jesus Christus nie, Hy wat, alhoewel Hy in die gestalte van God was, Homself ontledig het deur vir ons die gestalte van ‘n mens en van ‘n slaaf aan te neem en aan sy broers in alle opsigte gelyk geword het (Filp. 2:6-7 en Heb. 2:17). As ons dus moes soek na ‘n ander middelaar wat ons goedgesind sou wees, wie sou ons dan kon vind wat groter liefde vir ons sou hê as Hy wat sy lewe vir ons afgelê het, selfs toe ons nog sy vyande was (Rom. 5:8, 10)? En as ons een soek wat mag en aansien het, wie besit soveel daarvan as Hy wat aan die regterhand van sy Vader sit en alle mag in die hemel en op die aarde het (Matt. 28:18)? En wie sal eerder verhoor word as die eie, geliefde Seun van God? Dit is slegs deur gebrek aan vertroue dat hierdie gewoonte posgevat het om die heiliges te onteer in plaas van hulle te vereer. So doen hulle iets wat die heiliges nooit gedoen of gesoek het nie maar wat hulle onophoudelik en pligsgetrou verwerp het, soos dit uit hulle geskrifte blyk.

Hier moet ook nie ingebring word dat ons dit onwaardig is nie. Daar is mos geen sprake van dat ons ons gebede op grond van ons waardigheid voor God bring nie. Ons doen dit alleen op grond van die uitnemendheid en waardigheid van Jesus Christus, want sy geregtigheid is ons geregtigheid deur die geloof. Daarom sê die apostel – wanneer hy hierdie dwase vrees of liewer die gebrek aan vertroue van ons wil wegneem – dat Jesus Christus in elke opsig aan sy broers gelyk geword het, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen.

Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2:17-18). En om ons nog meer moed te gee om na Hom toe te gaan, sê die apostel vervolgens: ‘Terwyl ons dan `n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word’ (Heb. 4:14-16). Dieselfde apostel sê: ‘Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus … laat ons toetree met `n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid…’ (Heb. 10:19, 22). En voorts: ‘maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ‘n priesterskap wat nie op ander oorgaan nie. Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree’ (Heb. 7:24-25). Wat kom daar dan nog kort, aangesien Christus self sê: ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh. 14:6)?

Waarom sou ons ‘n ander voorspraak soek, aangesien dit God behaag het om ons sy Seun as Voorspraak te gee? Laat ons Hom geensins verlaat om ‘n ander een te neem of liewer ‘n ander een te soek sonder om hom ooit te vind nie. Want toe God Hom aan ons gegee het, het Hy goed geweet dat ons sondaars is. Volgens die bevel van Christus roep ons daarom die hemelse Vader aan deur Christus, ons enigste Middelaar, soos dit ons in die gebed van die Here geleer word; en ons is verseker dat alles wat ons die Vader in sy Naam sal bid, aan ons gegee sal word (Joh. 16:23).

1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:26; Deut. 4:24; Gen. 3:10; Eks. 20:19; Jer 2:33; Jes. 43:22; Hos. 13:9; Luk. 18:19; Ef. 3:20; 1 Joh. 4:10; Ef. 3:19; Filp. 2:7; Joh 15:13; Matt. 28; Heb. 1:3, 7; Jes. 55:1-3; Matt. 11:28; Jak. 5:17; Ps. 115:1; Hand. 14:15; 10:26; Heb. 9:24; Joh. 11:9; Hand. 4:12; 1 Kor. 1:30; Ps. 34:7; Jer 2:5; Heb. 4:14, 16; Jer. 17:5, 7; Heb. 2:17-18; 4:14-16; Ef. 2:18; Heb. 10:19; 7:25; Joh. 14:6; Ps. 44:(21) 6; 1 Tim. 2:5; 1 Joh. 2:1; Rom. 8:34; Luk. 11:2; Joh. 14:13; Jer. 16:20; Heb. 13:15; Rom. 5:8.

Heidelbergse Kategismus 116-118

116 Vraag: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?

Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (a): En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank (b).

(a) Ps 50:14. (b) Matt 7:7; Luk 11:9, 13; 1 Tess 5:17.

117 Vraag: Hoe moet ‘n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?

Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het (a), van harte aanroep (b) vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid (c). Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken (d) sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig (e). Ten derde het ons hierdie vaste grond (f) dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor (g) soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het (h).

(a) Op 19:10; Joh 4:22-24. (b) Rom 8:26; 1 Joh 5:14; Jak 1:5. (c) Joh 4:24; Ps 145:18. (d) 2 Kron 20:12. (e) Ps 2:11; 34:19; Jes 66:2. (f) Rom 10:14; Jak 1:6. (g) Joh 14:13;16:23; Dan 9:18. (h) Matt 7:8; Ps 27:8.

118 Vraag: Wat het God ons beveel om van Hom te bid?

Antwoord: Alle geestelike en liggaamlike behoeftes wat Christus saamgevat het, in die gebed wat Hy self aan ons geleer het (a).

(a) Jak 1:17; Matt 6:33.

2. Loof die Here in gebed vir die spesifieke wysheid en insig wat die geloofsbelydenisse jou gee oor gebed.

Wat is gebed? – Jakobus 5:13-17

Is daar van julle wat swaarkry? Dan moet julle aanhou bid daaroor. En dié wat opgeruimd is, moenie ophou lofliedere sing nie. Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word.

Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking. Elia was ’n mens net soos ons. Nogtans, toe hy ernstig gebid het dat dit nie moes reën nie, het daar drie jaar en ses maande lank nie ’n druppel op die aarde geval nie! Toe hy vir reën gebid het, het God reën gegee. Die plante het weer gegroei. (NLV)

1. Jakobus, broer van Jesus, gee in die eerste gedeelte vir ons vier voorbeelde van gebede wat ons in die gemeenskap van gelowiges mag bid: in swaarkry, opgeruimdheid, siekte en sonde. Hoe doen julle dit in jou eie geloofsgemeenskap? Watter geleenthede is daar wat die Here wil hê dat jy moet benut?

2. In die tweede gedeelte gebruik Jakobus Elia as ‘n voorbeeld van die tipe gebed wat ons in die gemeenskap van die wêreld mag bid. Hoe dink jy daaroor? Is dit iets wat ons vandag kan bid? Wat is nodig vóór ons bid – dink aan die eerste sin? Wie antwoord – dink aan die tweede laaste sin?

3. Lees die verse later vandag weer om jou te herinner daaraan dat jou hele lewe in gebed gelewe moet word: in hartseer en blydskap, in siekte en sonde – binne die geloofsgemeenskap. Selfs vir dinge soos droogte en reën – binne die publieke gemeenskap.

4. Jy kan later vanaand die gedeelte weer lees in die konteks van Jakobus 5 sowel as my bydrae daaroor: Jakobus 5 – Volhard in gebed.

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm