Skip to main content

Tag: Samuel

1 Samuel 11- Vandag het die Here uitkoms gegee

Let op dat hierdie oorwinning die werk van die Gees van begin tot einde is.  Dit is die Gees wat kragtig in Saul begin werk en hy gee aan God die eer vir die oorwinning:

Vandag het die Here uitkoms gegee.

Dit is eintlik so logies, maar ons vergeet dit so maklik.

Saul tree hier ook SAAM met Samuel op.  Hy kom van agter die osse af, waaruit ‘n mens aflei dat koningskap nog nie na sy kop toe gegaan het nie.  Hy gebruik ook die osse om ‘n helder boodskap aan die hele Israel en Juda te stuur, wat die twee dele van die volk agter hom verenig.

Ek hou van die dubbelsinnigheid van die boodskap van Jabes aan Nagas die Ammoniet (afstammelinge van Lot se bloedskande met sy jongste dogter – Gen 19) – dit klink wanhopig, maar is eintlik strategies belangrik.  Dit laat hulle houtgerus vir Saul om hulle voor dagbreek te betrek.

Die uiteinde van die geveg is nie net die afweer van die gevaar nie, maar ook die bevestiging van Saul se koningskap in Gilgal.

Let ook op die grootmoedigheid van Saul waarmee hy sy teenstanders hanteer … maar Gilgal sou ook die plek wees van sy eerste ongehoorsaamheid, net ‘n jaar of twee later.

1 Samuel 9 – 10 – God verander Saul se gesindheid en roer die harte van die dapperes

Dit tref my dat so iets gewoons, soos ‘n klomp donkies wat wegraak, ‘n reeks gebeure aan die gang kan sit wat uitloop op die aanstelling van die eerste koning van Israel, Saul.  En darem ironies dat dit die slaaf is wat die drie gram silwer het waarmee hulle die siener-profeet wil betaal!

En dan op meesterlike wyse lig die skrywer ons in dat Samuel al die tyd geweet het wat gaan gebeur, en gereed was vir die ontmoeting met Saul.

Saul se karakter word met ‘n paar pennestrepe getrek, en die prentjie maak gemengde gevoelens by ‘n mens los.  Hy blyk nie baie inisiatief aan die dag te lê nie.  Hy het nie ‘n groot dunk van homself of sy familie nie – of is dit maar net Midde-Oosterse beskeidenheid?  Hy kruip weg as Samuel hom aan die volk bekend stel.  En hy steur hom nie aan die kwaadwilliges wat hom met minagting behandel nie.  Miskien ‘n aanduiding wat gaan kom, ‘n koning wat hom laat lei deur wat ook al gebeur?

Teenoor dié prentjie skyn die werk van God van agter die skerms deur.  Hy neem Samuel vooraf  in sy vertroue en gee hom opdragte oor Saul.  Hy praat  direk met Samuel as Saul voor hom verskyn.  Die Gees van die Here verander Saul se gesindheid en werk kragtig in hom.  God lig hulle in dat Saul wegkruip tussen die bondels goed.  En Hy roer die harte van ‘n aantal dapperes om saam met Saul te gaan.

WEEK 2: 1 Samuel 8 – Samuel se kinders was nie soos hy nie

Hoe tragies dat die geskiedenis homself so herhaal.  Eli se kinders was nie soos hy nie.  En Samuel se kinders was weer nie soos hy nie.  Hulle is as leiers aangestel, maar het hulle eie belange gedien.

Dit is die een rede in die volk se versoek om ‘n koning wat ek begryp.  Maar om darem te sê: “Ons wil ook soos al die nasies wees.”  Hulle is dan juis anders omdat hulle God se nasie is!  Dit wys net vir my hoe domastrant ons kan wees.  Ons waardeer nie genoegsaam die wonder van God se teenwoordigheid in ons lewe nie, soos bv. in hoofstuk 7 met die ingrype in die geveg met die Filistyne bewys is, en met die vrede met die Amoriete.

My nekhare rys as ek die Here hoor sê: “Gee nou maar toe aan hulle versoek.” Want dit beteken dat ons eintlik toegelaat word om ons koppe te stamp, sodat ons hopelik uit skade en skande uit wys kan word. Dit laat my weereens vasgryp aan die Hebreërskrywer se opdrag (13:5):

” Wees tevrede met wat julle het.“

1 Samuel 7 – Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …

Dit tref my dat 20 jaar verloop het na die tragiese buitmaak van die ark en die verdrukking van die Isaeliete na die dood van Eli en sy twee seuns. Miskien moes Samuel eers groot word vir Israel om regtig vertroue in hom te kon hê. Of miskien het dit hulle so lank gevat om hulle afhanklikheid van die Here te besef.

Darem ook interessant dat die Filistyne met kategese oorwin word – Samuel onderrig die Israeliete oor wat reg en verkeerd is, lei hulle in ‘n “met julle hele hart” (die setel van denke en besluite, nie emosies nie) hertoewyding aan die Here en bid vir hulle. En dan veg die Here vir Israel met ‘n groot donderweer wat die Filistyne verwar. Sukses in die stryd teen die Filistyne gaan dus om die lewende teenwoordigheid van die Here, en nie oor die ark per se nie. En bevryding kom deur ‘n naby verhouding met Hom en nie deur militêre krag in die eerste plek nie.

“Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …”

Rama word nou ook ‘n heiligdom met die bou van ‘n altaar daar, hoewel Samuel steeds by ander heiligdomme die regspraak behartig het: Bet-El, Gilgal en Mispa. Binnelands en buitelands was daar nou vrede, en God het weer sy regmatige plek in die lewe van die volk ingeneem. Waarom sou daar dan ‘n koning nog nodig wees in Israel? Die volgende hoofstuk gee die antwoord daarop.

1 Samuel 5 en 6 – Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here?

Tragies vertel die skrywer: “Ja, die Filistyne het die ark van God gevat.” Maar dan word met toenemende ontsag vertel van die effek wat die ark op almal het: Dagon, die god van die Filistyne, buig voor die ark neer; pes breek uit in elke stad waar die ark heen gestuur word; selfs die mense van Bet-Semes op Israelitiese grondgebied word swaar getref deur die Here.

Die Filistyne word dus gedwing om eer aan God te gee ( 6:5) en die Israeliete om ontsag vir sy teenwoordigheid te bewys. Eers in Kirjat-Jearim by die huis van Abinadab, met die wyding van Eleasar om die ark van die Here op te pas, word die toorn van die Here afgewend.

In Levitikus 10:3 word ‘n soortgelyke storie vertel van mense wat in God se teenwoordigheid sterf. Die skrywer spel die betekenis daarvan só uit:

“Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”

Ek word aangegryp deur die noodsaak van ontsag vir die Here en die navolg van sy wil tot in die fynste besonderhede. Dit is slegs diegene wat Hom volg, wat in sy teenwoordigheid kan bestaan.

Onlangse kommentaar