Skip to main content

Tag: Johannes

Johannes 2:1–12 – Jesus bewys deernis sonder vertoon

RUS

  • Ek het vandag krag nodig om ’n lang “to-do” lysie af te handel.
  • Ek bid vir wysheid met prioritisering en afhandeling.

HOOR

  • Ek lees die Skrifgedeelte terwyl my huismense begin roer.
  • Die volgende aspekte uit die gedeelte tref my:
Jesus is by ’n bruilof in die dorpie van Natanael, Kana.  Sy ma is daar sowel as sy dissipels (en waarskynlik ook sy broers [2:12]).  Miskien was dit ’n familie-troue wat moontlik verklaar hoekom Maria verantwoordelik gevoel het om die gebrek aan wyn aan Jesus uit te wys – hulle gevolg was immers ’n groot groep ekstra gaste!

Sy ma se interaksie met Hom en die kelners sê vir my dat sy ook iets verstaan het van Sy deernis met mense, selfs wanneer so iets doodgewoons gebeur as wyn wat by ’n partytjie opraak.  En dat sy ook geweet het dat Sy deernis tot optrede sal lei.  Hoe dit ook al sy, sy bring die behoeftes van die gasheer en –vrou na Hom toe, in die verwagting dat Hy iets sal kan doen.

Continue reading

Johannes 1:19–51 – Oortuig deur die getuienis van die eerste dissipels

RUS

  • Ek het vandag behoefte om versterk te word in my oortuiging dat Jesus God is en betrokke by my.
  • Ek raak stil voor God dat dié oortuiging my diepste wese tot rus kan bring.

HOOR

  • Ek lees die gedeelte met die son wat al blink op die blare van die bome in my tuin.
  • Die volgende aspekte van hierdie gedeelte tref my:

Johannes skets ’n opeenvolging van gebeure versprei oor 4 dae wat almal iets sê van wie Jesus werklik is:

  1. die getuienis van Johannes die Doper – 1:19-28 (vgl 1:6),
  2. die koms van die Heilige Gees wat op Jesus bly – 1:29-34,
  3. die eerste volgelinge van Jesus as die Lam van God deur Johannes die Doper se getuienis – 1:35-42, en
  4. Jesus wat self begin om volgelinge te werf – 1:43-51.

Continue reading

Johannes 1:1–18 – Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop

RUS

  • My diepste behoefte is aan God se teenwoordigheid.
  • My gebed is dat die lees van Johannes my in God se teenwoordigheid sal bring.  Ek wil daarin leef.

HOOR

  • Ek lees die gedeelte stil, want alles is stil rondom my – huismense slaap rustig.
  • My nadenke:
Johannes begin nie by Jesus se geboorte nie.  Hy begin ook nie met ’n geslagsregister wat Jesus binne die geskiedenis van die mens en Israel sou plaas nie (anders as Matteus).  Hy begin selfs nie by Jesus se betrokkenheid by die skepping waarvan die Psalms (33:6) en die Pentateug (Gen 1:3) vertel nie (anders as Lukas).  Hy begin by God se tyd, die ewigheid, voordat alles gemaak is, voordat daar selfs iets soos ons tyd was.

Jesus is die Woord (logos[1]) van God, nie net goddelik nie, maar Godself (ook 1 Joh 1:1; Open 19:13)!  Uit Hom is alles gemaak, want Hy was die lewe van alles (Kol 1:16).  En dit skyn soos ’n lig in die duisternis wat ons lewens verlig (Joh 5:26 – vgl Spr 6:23 – “die tôrâ is ’n lig”).

Continue reading

WEEK 1: 1:1-3:36

Ons begin ons leeswerk in die evangelie van Johannes met die proloog waar Jesus as die Woord van God aan ons bekend gestel word.  Johannes die Doper en die eerste dissipels word ook aan ons bekendgestel as die eerste getuies daarvan.  Drie tonele uit Jesus se bediening word vir ons beskryf: die 1ste teken: water in wyn; die reiniging van die tempel; die gesprek met Nikodemus.  Daarmee word Jesus se heerlikheid as God-mens geïllustreer, sowel as sy passie vir die vestiging van die regte verhouding tussen mense en hulle God: gesamentlik EN individueel.

Daar is verskeie maniere waarop jy die evangelie van Johannes kan lees – lees meer daaroor in hierdie artikel van my: Kies ‘n manier van Bybellees.

Ek kies self om die eenvoudige luistersiklus te gebruik en sal my insette dan ook maak in die HOOR gedeelte van die luistersiklus:

RUS

  • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
  • Gee dit in gebed aan God.

HOOR

  • Lees die Skrifgedeelte hardop.
  • Dink na oor wat jou daarin tref.

LEEF

  • Wat lê die Here nou op jou hart?
  • Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af.

Nuttige boeke

Beasley-Murray, GR 2002 John. Word Biblical Commentary. Vol 36. Word, Incorporated: Dallas.

du Rand, JA 1997 Johannine perspectives : Introduction to the Johannine writings – Part 1. Orion: Halfway House.

Fee, G & D Stuart 2002 How to Read the Bible book by book. A Guided Tour. Zondervan: Grand Rapids.

Groenewald, EP 1998 Die Evangelie van Johannes. Skrifuitleg vir Bybelstudent en gemeente. NG Kerk Uitgewers: Kaapstad.

McFadyen, P 1998 Open Door on John: A gospel for our time. Triangle: London.

Morris, L 1971 The Gospel according to John.  Eerdmans: Grand Rapids.

Onlangse kommentaar