Skip to main content

Tag: Heilige Gees

1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse

Daar is altyd die gevaar dat ’n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk.  Paulus herinner ons daaraan dat ’n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is.  ’n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar.

Daarom het Paulus – en onthou sy ervaring op die Areopagus in Atene, waar hy argumentatief gewerk het en min sukses gehad het (Hand 17:16 vv), hoewel daar geleerdes is wat hiervan verskil – hom hier voorgeneem om by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister.

Dit herinner my net weer daaraan dat ’n mens versigtig moet wees wanneer jy met ongelowiges in gesprek tree oor die Here, en nie te veel tyd moet spandeer aan argumente vir die geloof nie, maar veel eerder aan getuienisse oor geloof en oor God (die vertaling in vers: “geheimnisvolle waarheid” word letterlik as “getuienis” in die oorspronklike aangegee!), want daarin lê die krag van ’n openbaring van God se Gees.  Argumente vir die geloof het immers meer betekenis vir gelowiges as vir ongelowiges.

Dat Paulus hier op Jesus as die gekruisigde fokus het te make met van die probleme wat hy met die gemeente ervaar, spesifiek dat hulle nie hul eie voorkeure in terme van leiers kruisig en die eenheid in Christus belangriker ag as hulle eie “wysheid” nie.  Tog kan hy nie anders as om later voluit te praat oor die opstanding en ook die wederkoms nie (hfts 15), omdat dit die kruis in perspektief plaas en die sentrum van ons hoop vorm.

Dit is interessant dat sy bewussyn van sy swakheid, nie net terugverwys na sy ervaringe in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene nie, maar die opening laat vir God om Sy krag te demonstreer.  Dit is juis hier waar hy die gesig gekry het van God wat hom aanmoedig om aan te hou met die bediening (Hand 18:9).  En in 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (die doring in die vlees), as swakhede wat inherent aan jouself of jou omstandighede is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9).  Daarom sê Paulus: “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (12:10).

“Heersers van hierdie wêreld” dui waarskynlik hier die politieke leiers van sy tyd aan (dieselfde woord word gebruik as in Rom 13:3, waar dit onteenseglik op aardse leiers dui), hoewel die gedagte van die gevalle engele wat ’n rol speel in wêreldsake ook op die agtergrond is, waaroor Paulus meer uitgebreid sal skrywe in sy brief aan die Efesiërs (hfst 6).

Markus 3:7-30 – Die impak van die bediening verskerp

Dié week lees ons hoofstuk 3:7-6:6a

Ek gaan dit as volg lees:

  • Donderdag: 3:7-30
  • Vrydag: 3:31-4:12
  • Maandag: 4:13-29
  • Dinsdag: 4:30-41
  • Woensdag: 5:1-6:6

Oorsig

Hoofstuk 3:7-4:34 – Die impak van die bediening verskerp – op Jesus self, sy familie, die dissipelkring en in al groter wordende kring op die mense van die Midde-Ooste.  En die teenstand verskerp natuurlik daarmee saam.  Aan die een kant is Jesus se familie daaroor verward, en aan die ander kant doen Jesus die wyse ding (soos Moses) om 12 apostels aan te stel, juis om die eise van die bediening die hoof te bied.

Hoofstuk 4:35-6:6a – Dit word opgevolg met ‘n reeks wonderdade (see, duiwels, dood, onreinheid) waarin geloofshoudings ‘n belangrike rol gaan speel.  Soos Gordon Fee sê:

“Wonder and awe come easy; true faith not.” (How to Read the Bible Book by Book, p 282)

‘n Groot toeloop van mense na Jesus toe – 3:7-12

Jesus wissel sy bediening af tussen optredes by die see van Galilea en in die dorp by Kapernaum.  Dit wil voorkom of Hy meer afsondering by die see wou hê, dit is waar Hy bv. gaan bid het (1:35), maar mense stroom van oral oor na Hom toe om deur Hom aangeraak te word, uit Judea, uit Sirië, uit Fenisië en selfs uit Edom (Idumea), die gebied van Esau.  Dit samedromming van die skares by die see is so groot, dat Hy vanuit ‘n skuitjie begin bedien.  Telkens gee Hy steeds die bevel tot geheimhouding, veral rondom die bediening van duiweluitdrywing, hoewel dit in die praktyk ‘n baie beperkte effek het.

Matteus en Lukas

Matteus en Lukas plaas die gebeure aan die begin van die Bergrede (of in Lukas se geval, miskien eerder die Vlakterede!).  Matteus verkort Markus se verhaal, hoewel hy Dekapolis (‘n gebied met 10 Griekse stede wat aan Sirië onderdanig was) byvoeg.  Lukas kombineer die bevel rondom geheimhouding met die gedeelte oor die genesing van Petrus se skoonma.  Lukas verklaar ook hoekom die mense so naby Jesus gekom het – hulle wou Hom aanraak omdat daar krag tot genesing uit Hom gegaan het.

Die aanstelling van die twaalf apostels – 3:13-19

Soos in die vorige perikoop gesien kan word, Jesus se impak neem steeds toe met ‘n hele klomp meer dissipels as die aanvanklike 5 wat hy geroep het, dat Hy besluit om 12 apostels aan te stel.  Hy noem hulle hier vir eerste keer apostels, d.w.s. gestuurdes.  Hulle moes by Hom bly, sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek.

Matteus en Lukas

Matteus verkort Markus se weergawe, maar sit tog iets ekstra by, die verwysing dat die dissipels ook die mag verkry om siekes gesond te maak.  Lukas noem hoe die aanstelling gekom het na Jesus ‘n nag lank gaan bid het daaroor, hoewel hy nie hier spesifiek oor hulle bediening uitwei nie (vgl Luk 10 egter).

Meer inligting oor die verskille in die lyste van die apostels

Die lastering teen die Heilige Gees – 3:20-30

Die samedromming om Jesus het nou so groot geword, dat Hy by die huis nie kans kry om te eet nie (vgl Joh 4:34 – sy voedsel is om die wil van sy Vader te doen).  Sy familie (“sy mense” uit Nasaret) word daardeur baie verontrus, veral omdat hulle sy bediening nie regtig verstaan nie, en dink dat Hy versteurd geraak het.  Daarom kom hulle na Kapernaum om Hom te kom haal, hoewel dit vrugteloos blyk te wees(die vertelling gaan voort in 3:21-23). Die skrifgeleerdes gryp dié kommer van die familie aan om Jesus se bediening verder verdag te maak, en dit ironies genoeg toe te skryf aan besetenheid deur Beëlsebul (“die Heer van die huis” van die Hebreeus Baäl-Zebûl), die duiwel.

Dit bly vir my interessant hoe Jesus telkens op hierdie verdagmakery reageer.  In plaas daarvan om hulle net af te skryf, of te ignoreer, antwoord Hy hulle en probeer verduidelik met 3 voorbeelde – koninkryk, huisgesin en Satan se koninkryk – hoe hulle mening nie sin maak nie.  Hy plaas sy eie bediening dan in die konteks van ‘n “berowing” van Satan.  Hy spel ook die gevaar uit van die mening van die skrifgeleerdes, dat dit uiteindelik God se werk aan die duiwel toeskryf, en dit is ‘n ewige fout, ‘n keuse teen God, die sonde teen die Heilige Gees.

Matteus en Lukas

Daar is redelike onderlinge verskille in detail en beklemtoninge tussen die drie evangelies rondom hierdie verhaal, hoewel dit nie wesenlik is nie, en net die eie Jesus-portret helder skilder wat elkeen vertel.  Waar Markus sy verhaal nie hier aan ‘n konkrete voorbeeld koppel nie, koppel Matteus en Lukas dit aan die uitdrywing van ‘n bose gees uit ‘n blinde en stom man.  Lukas noem net dat hy stom was.

Matteus noem nie die reaksie van Jesus se familie nie in hierdie konteks nie, Lukas ook nie.  Matteus koppel die negatiewe reaksie van die Fariseërs aan die uitspraak van die menigte dat Jesus miskien die Seun van Dawid (die verwagte Messias) kon wees.  Lukas weer voeg by dat ander Hom op die proef wou stel met ‘n versoek om ‘n wonderteken.

Matteus en Lukas brei verder uit op Jesus se opmerking dat die skrifgeleerdes en Fariseërs se mening nie sin maak nie, deur met ‘n retoriese vraag hulle te wys daarop dat hulle eie volgelinge ook nie die duiwel inspan om die duiwels uit te dryf nie.  Matteus koppel dan die uitdryf van duiwels aan die Heilige Gees en Lukas aan die vinger van God, en wys hoe dit tekens is van die koninkryk van God wat naby gekom het.

Matteus en Lukas vul Markus se verhaal ook aan met Jesus se uitspraak dat dié wat nie aan sy kant is nie, is téén Hom (Jesus gebruik die omgekeerde uitspraak in Markus 9:40: “Wie nie téén ons is nie, is vir ons.” waar dit ook oor duiweluitdrywing gaan).

Onlangse kommentaar