Psalm 12
Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.
Ons Vader
“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)
Teks en konteks
Dawid worstel hier met die gebrek aan betroubaarheid in die gemeenskap wat van die wêreld ’n onveilige plek maak. En dit is die armes wat die meeste daaronder ly. Daarom maak hy staat op die Here se beskerming en hulp midde in die goddeloosheid en onreg wat hoogty vier. Die vleitaal kom uit ‘n dubbele hart – die Hebreeus in vers 3 sê idiomaties: “met vleiende lippe spreek hulle uit ’n dubbele hart”. Dit beteken, die goddeloses weet in hulle hart wat die regte ding is, maar kies om anders te praat of vanuit ‘n ander hart te leef. Nog dieper as hierdie onbetroubaarheid is egter hulle hoogmoed, wat na vore kom in hulle grootpratery, waar hulle dan boonop nog dink dat hulle sal wegkom daarmee. Hulle buig voor niemand nie. Hierdie gebrek aan betroubaarheid bring egter die lewe self in gedrang. Daarom bring die vertrapping van die swakkes en armes God in beweging en laat Hom belowe om hulle tot hulp te kom.
Bid die Psalm
“Vir die koorleier: Met basstem. ’n Dawidspsalm. Help tog, Here, want opregtes bestaan nie meer nie! Onder die mensekinders is daar geen getroues oor nie. Bure lieg vir mekaar. Hulle praat met vleiende lippe, maar met bedrieglike harte. Die Here sny hulle vleiende lippe af en ook hulle grootpraterige tong. Hulle sê: “Ons sal lieg soveel soos ons wil. Ons lippe behoort aan ons. Wie kan ons keer?” Die Here antwoord: “Ek het die geweld teen hulpeloses gesien, en Ek het die versugting van die armes gehoor. Daarom sal Ek hulle beveilig, die veiligheid bied waarna hulle smag.” Die Here se beloftes is suiwer, soos silwer in ’n oond gesuiwer, wat sewe keer gesuiwer is. U, Here, hou oor ons wag. U sal ons vir altyd teen sulke mense bewaar, selfs al loop die goddeloses oral rond om boosheid onder mense te saai.” NLV
Boodskap en betekenis
Gebruik die Psalm om die Here te smeek om op te tree, terwyl leuens toeneem onder die mense. Dat Hy sy belofte sal waarmaak om veiligheid te gee vir dié wat daarna smag. “U, Here, hou oor ons wag.”
Lofprysing
“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)
Onlangse kommentaar