Psalm 150 – Lofprysing is die doel van jou bestaan
Psalm 150 – Lofprysing is die doel van jou bestaan en die hart van jou bestemming
1Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy magtige hemelkoepel; 2loof Hom oor sy kragtige dade, loof Hom na die omvang van sy grootheid! 3Loof Hom met die geskal van ramshorings, loof Hom met harp en lier; 4loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snaarinstrument en fluit; 5loof Hom met die klank van simbale, loof Hom met die slag van simbale! 6Alles wat asem het, moet die Here loof! Halleluja!
Psalm 150 roep alles wat asem het op om God te loof: “na die omvang van sy grootheid.” Dit is die laaste van die Psalms wat ingesluit is in die kanon en sluit die vyfde Psalmboek met lofprysing af. Waar elkeen van die ander vier Psalmboeke afgesluit is met ‘n vers van lof (41:14; 72:18-19; 89:53 en 106:48), word die hele Psalmboek hiermee met ‘n volle loflied afgesluit. Die Psalm bevat tien reëls wat op dieselfde patroon die lof van God besing, amper soos ‘n Tien Gebooie van lof, wat afsluit met ‘n elfde oproep: “Alles wat asem het, moet die Here loof”. Die Psalm is baie eenvoudig saamgestel. Die eerste twee verse verklaar dat God oral geloof moet word, in die heiligdom op aarde sowel as in die hemel. Twee redes word gegee: 1) God se kragtige dade waarmee die geskiedenis waarskynlik betrek word; 2) God se omvangryke grootheid waarmee die skepping waarskynlik betrek word.
Die laaste vier verse dien as aanmoediging om jou eie stem by dié van die Psalm te voeg en die Here ook waar jy is, te loof met wat ook al tot jou beskikking is. Tien opsies word gegee: ramshorings, harpe, liere, tamboeryne, koordanse, snaarinstrumente, fluite, simbale (2 keer genoem, wat ‘n mens by tien uitbring!). Dit moet as begeleiding dien vir alles wat asem het, ook vir jou eie stem. Die punt is natuurlik nie dat dié lys van instrumente jou moet beperk nie. Dit moet jou juis vrystel om jou eie stem van lof te vind voor die Here. En sy kragtige dade sowel as sy omvangryke grootheid moet in jou lof ‘n getuienis aan hierdie wêreld word: “Alles wat asem het, moet inderdaad die Here oral loof!” Dit is die doel van jou bestaan en die hart van jou bestemming as mens. Neem tyd vandag om die Here te loof op enige van hierdie maniere.
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-150-alles-wat-asem-het-moet-die-here-oral-loof/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar