Psalm 118:19-29 – Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword
Psalm 118:19-29 – Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword
19Maak vir my die poorte na geregtigheid oop; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here prys. 20“Dit is die poort na die Here – regverdiges mag daardeur ingaan.” 21Ek wil U prys, omdat U my geantwoord en my te hulp gekom het. 22Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword. 23Van die Here het dit gekom; dit is ‘n wonder in ons oë. 24Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons juig en ons in Hom verheug. 25Ag, Here, verlos ons tog! Ag, Here, gee tog voorspoed! 26Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die huis van die Here. 27Die Here is God; Hy het vir ons lig laat skyn. Voer met gevlegte takke die kringdans uit tot by die horings van die altaar. 28U is my God en ek prys U! My God, ek wil U verheerlik. 29Prys die Here, want Hy is goed; ja, vir ewig duur sy troue liefde.
Ons het verlede week die eerste deel van Psalm 118 gelees. Dit het gefokus op gebedsverhoring wat onderstreep dat God goed is, dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 1-18. Dit was waarskynlik bedoel as ‘n danklied vóórdat hulle die tempel ingegaan het. Die tweede deel wat ons vandag lees, fokus op die lofprysing wat onderstreep dat die Here lewe skenk, steeds met die boodskap dat aan sy liefde daar geen einde is nie – vers 19-29. Dit is waarskynlik bedoel as ‘n loflied met die ingaan die tempel in soos ons uit vers 19 aflei: “Maak vir my die poorte na geregtigheid oop; ek wil daardeur ingaan, ek wil die Here prys.” Van hierdie ervaring van gebedsverhoring moet die wêreld, maar veral ook die geloofsgemeenskap, kennis neem. In God se teenwoordigheid binne die tempel wil die gelowiges Hom prys.
Die Psalm werk dan heel onverwags met die metafoor van: “Die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword.” Die Psalmis bedoel daarmee dat hulle (die koning) eintlik soos die afgekeurde klip was in hulle eie ervaring, en selfs in die oë van hulle vyande. Deur die Here se ingrype voel hulle nou asof hulle van hulle posisie van vernedering verhoog is tot die mees prominente plek in die tempel van die Here, die belangrikste klip in die gebou (vgl Jes 28:16 vir ‘n soortgelyke gedagte, en Jer 51:26 vir die teenoorgestelde boodskap aan Babel). ‘n Belofte wat telkens in vervulling gaan waar God vernedering omskep in verhoging.
Die boodskap van die belangrikste klip vind op ‘n besondere manier in die NT weerklank in Petrus (1 Pet 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk. Soos Jesus verneder is aan die kruis, is Hy verhoog deur sy hemelvaart. En is Hy nou die hoeksteen, die belangrikste klip in die gebou wat God besig is om te voltooi, die hemelse Jerusalem. Dit is daarom een van die belangrike en wonderlike boodskappe wat die OT en NT geloofsgemeenskap aan mekaar bind. Wat hulle verwag het in die ou bedeling, dít is vervul in Jesus en vorm die basis vanwaar af ons as gelowiges in die nuwe bedeling leef. En waarin ons dieselfde omkeer kan beleef, van vernedering na verhoging. Daarom: “Begin die fees! Wuif met takke! Gaan tot by die horings van die altaar.” (vers 27b – 1983-vertaling). Alle gelowiges van alle tye vind vreugde in dié werklikheid.
Lees meer (my preek op Paassondag): https://wp.me/p3yY2R-3kF
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar