Handelinge 5:27-32 – Jesus as Leidsman en Verlosser skenk bekering en vergewing van sondes
Handelinge 5:27-32 – Jesus as Leidsman en Verlosser skenk bekering en vergewing van sondes
27Hulle bring toe die apostels en laat hulle voor die Sanhedrin staan. Die hoëpriester het hulle begin ondervra: 28“Het ons julle nie ten strengste verbied om in hierdie Naam te leer nie? En kyk, julle het julle leer deur die hele Jerusalem versprei; en julle wil die bloed van hierdie man op ons bring.” 29Maar Petrus en die apostels het geantwoord: “Ons moet eerder gehoorsaam wees aan God as aan mense. 30Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan ‘n kruishout te hang. 31Hom het God as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog, om aan Israel bekering en vergewing van sondes te skenk. 32Ons is die getuies van hierdie gebeure, en so ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan hulle wat aan Hom gehoorsaam is.”
Die storie van Ananias en Saffira in die eerste deel van hierdie hoofstuk is erg ontstellend. Veral die feit van hulle dood, en dat in die geval van Saffira Petrus letterlik vir haar sê dat die dood haar straf sal wees. Dat hulle probeer het om die gelowiges en vir God mislei, is skreiend, en tugwaardig, maar die doodstraf onthutsend. Die gevolg is vrees onder die gelowiges sowel as die gemeenskap, waarskynlik in die sin van ontsag. Dit illustreer iets van God se heiligheid wat ons vandag nie na waarde skat nie. Ons dink dat sy geduld met ons swakhede gelyk is aan ’n oorsien- en laat-maar-staan houding. Oral waar Hy regtig gedien word, en die koninkryk in sy krag kom, word die standaard vir die gelowiges egter gelig, juis omdat hulle nader aan Hom leef en daarom met groter verantwoordelikheid en ontsag moet lewe vir wat God wil en doen. Niemand lieg vir God en kom uiteindelik daarmee weg nie.
Hierdie heiligheid is egter nie ’n afsonderingsaksie soos ons meermale daaroor dink nie. Dit is eerder ’n spesifieke manier van leef, ’n leef as kinders van die lig, waarin daar in ons eie en die gemeenskap se lewe nie vir die duisternis plek is nie. Die woord heilig kan daarom beter verstaan word as “om te straal” of “om te skitter” van God se karakter van heiligheid en heerlikheid. Daarmee saam het die Here die apostels met ‘n groot wonderwerk en genesingsbediening geseën. Die wonders en tekens bediening word dus voortgesit. Die helende krag wat van hierdie heilige skitterende gemeenskap uitstraal, verander mense se lewens radikaal.
Maar, dit is juis omdat baie Jode se lewens, en veral hulle leiers s’n, die lig van God nie kon verdra nie, dat die vrees vir die dissipels in ’n toenemende konflik en teëstand oorspoel, en ’n grootskaalse vervolging uitbreek. En let op, dit gebeur in die konteks van ‘n kerk wat groei in heiligheid en heling, ‘n kerk wat na binne en na buite met integriteit en impak lewe, maar wat onder die skoot kom van mense wat die duisternis liewer het as die lig. Dit lei egter tot ‘n noodsaaklik getuienis aan die Joodse leiers. Al wil hulle die boodskap van Jesus dood druk, omdat hulle besef dat almal weet dat hulle verantwoordelik was vir sy kruisdood, moet ook húlle hoor dat God nou hierdie Jesus as Leidsman en Verlosser tot aan sy regterhand verhoog het, om aan die hele Israel, en uiteindelik die hele wêreld, bekering en vergewing van sondes te skenk. Daarvan is ons getuies, sowel as van die gawe van die Heilige Gees wat God gee aan elkeen wat aan Hom gehoorsaam. Daardie drie beloftes is die hart van ons boodskap: bekering, vergifnis, en die gawe van die Gees.
Lees meer: https://bybelskool.com/handelinge-51-67-die-kerk-groei-in-heiligheid-en-helende-krag/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar