Skip to main content

Spreuke 12:1-7, 21-28 – ‘n Goeie mens geniet die Here se goedkeuring

19 Augustus

Spreuke 12:1-7, 21-28 – ‘n Goeie mens geniet die Here se goedkeuring

1Wie vermaning liefhet, het kennis lief, maar wie teregwysing haat, is dom. 2‘n Goeie mens geniet die Here se goedkeuring, maar iemand met slinkse planne veroordeel Hy. 3‘n Mens kan nie bestendig wees deur goddeloosheid nie, en die wortel van regverdiges kan nie losgeskud word nie. 4‘n Knap vrou is ‘n kroon vir haar man, maar soos verrotting in sy gebeente is ‘n vrou wat skande maak. 5Die planne van regverdiges is reg, maar die leiding van goddeloses is bedrieglik. 6Die woorde van goddeloses is ‘n hinderlaag tot bloedvergieting, maar die monde van opregtes red hulle. 7Goddeloses word omvergewerp en is nie meer daar nie, maar die huis van regverdiges bly staan.

21Geen onreg sal die regverdiges tref nie, maar goddeloses het onheil in oormaat 22Afstootlik vir die Here is vals lippe, maar hulle wat betroubaar optree, geniet sy goedkeuring. 23‘n Slim mens hou sy kennis verborge, maar die harte van dwase roep uit: “Sotheid!” 24Die hand van vlytiges sal regeer, maar trae hande is bestem vir dwangarbeid. 25Kommer in die hart van ‘n mens maak die hart neerslagtig, maar ‘n vriendelike woord beur dit op. 26‘n Regverdige soek sy vriende uit, maar die pad van goddeloses lei hulle op ‘n dwaalspoor. 27‘n Trae persoon braai nie sy wild nie, maar vir ‘n vlytige mens is besittings kosbaar. 28Op die weg van geregtigheid is daar lewe, maar die pad van hulle wat ‘n wrok koester, lei na die dood.

Spreuke 12 gee ‘n aantal antiteses of teenstellings weer waarin ’n mens die lewenslesse van die inleiding van Spreuke 1-9 steeds hoor weerklink: die wysheid teenoor die dwaasheid, die regte pad teenoor die verkeerde een, die regverdig teenoor die goddelose, ’n lewe gebou op gehoorsaamheid aan die Here teenoor een waar slinksheid en goddeloosheid oorheers. Die doel is om ons te oorreed om na raad te luister sodat ons die goedkeuring van die Here die mikpunt van ons hele lewe sal maak (vers 2). Ek fokus op die eerste sewe verse (vers 1-7) en dan weer die laaste agt (vers 21-28). Jy is welkom om die res ook te lees.

Vers 1 kontrasteer die dom-astrante persoon wat teen alle dissipline rebelleer met die leergierige persoon wat weet dat dissipline wesenlik is om jou kennis te verbreed.

Vers 2-3 stel dit sterk. ’n Goeie mens – iemand wat sy wil gehoorsaam – vind genade van die Here. Die mens met slinkse planne word deur Hom veroordeel. Niemand wat aanhou kwaaddoen en onreg pleeg, kan ooit bestendig wees nie. Terwyl regverdiges soos ’n boom met ’n diep penwortel is. Hulle kan nie ontwortel word nie.

Vers 4 besing die lof van ’n knap vrou teenoor een wat skande maak. Die een bou haar man op. Sy is vir hom soos ’n kroon. Die ander breek haar man af. Sy is vir hom soos ’n kanker. Die woord “knap” (ḥayil) kan ook met “sterk”, “dapper”, “vermoënd”, en “vaardig” vertaal word. Dit kan selfs met “kragtig” vertaal word wat seksuele konnotasies het (vgl Spr 31:3). Die woord “skande maak” (mĕḇîšâ) het ook seksuele konnotasies in sommige kontekste. Dit word bv in kontekste gebruik waar onsedelikheid ter sprake is (Hos 2:7). Interessant genoeg word die Spreuke 31 vrou ook met die woord ḥayil beskryf (Spr 31:10). So ook Rut (Rut 3:11). Dit is waarom Peterson hierdie vers só vertaal: “A hearty wife invigorates her husband, but a frigid woman is cancer in the bones.” Food for thought.

Vers 5-7 kontrasteer die betroubaarheid van die regverdiges met die bedrog van die goddeloses. Die regverdiges meet alles wat hulle sê en doen aan dit wat vir God reg is. Dit red hulle en dié wat na hulle luister. Dit word bevestig in hulle nalatenskap. Die goddelose mense bedrieg ander vir eie gewin – dink aan Jakob se bedrog (Gen 27:35) – en soek ander se ondergang. Dit sal hulle egter suur bekom, want hulle kom tot ’n val deur hulle eie toedoen. Soos Jesus sê, die wyse man bou sy huis op die rots – om te luister na en te leef in wat God sê. Die dwase man bou sy huis op die sand van sy eie bose planne (Matt 7:24-27).

Die eerste deel van vers 21 kan heeltemal verkeerd verstaan word. Dit is nie asof niks slegs met ’n regverdige kan gebeur nie, soos baie vertalings dit weergee nie. Rashi, ’n Joodse geleerde, vertaal dit so: “The righteous will not be caught up in wickedness.” Die NIV vertaal: “No harm overtakes the righteous.” Die HCB vertaal: “No disaster overcomes the righteous.” Die regverdige sal dus nie heeltemal ten gronde gaan weens onheil of onreg nie (vgl Rom 8:28,37). Die teendeel is waar van die goddelose. Hulle val vas in ongeluk.

Vers 22 bevestig dat God betroubaarheid lief het. Hy haat bedrog.

Vers 23 wys die wysheid uit van nie te vinnig met jou kennis te spog nie. Dit is wat dwase doen. Hulle loop te koop met hulle stommiteite.

Vers 24 spel die oeroue waarheid uit. Hardwerkende mense styg uit. Die mense wat lyf wegsteek, sak uit. Jerobeam is ’n voorbeeld daarvan (vgl 1 Kon 11:28 vv).

Vers 25 beklemtoon die algemene waarheid dat bekommernis ’n mens neerslagtig kan maak, maar ’n vriendelike (goeie) woord jou daaruit kan haal. Let op dat dit nie goeie nuus oor die bekommernis as sodanig is nie, maar doodgewoon ’n woord van bemoediging, ’n woord wat jou kan opvrolik. Gee só ’n woord aan iemand vandag wat dit nodig het.

Vers 26 se eerste deel kan op verskillende maniere vertaal word. Ek hou van die ESV se vertaling: “One who is righteous is a guide to his neighbor, but the way of the wicked leads them astray.” Die NET se vertaling is die naaste aan die oorspronklike: “The righteous person is cautious in his friendship, but the way of the wicked leads them astray.” Die eerste vertaling fokus op begeleiding van jou naaste. Die tweede op die keuse van jou vriende. Jy moet dus rekening hou daarmee dat jy ’n groot invloed het op ander, en hulle op jou.

Vers 27 kontrasteer luiheid met hardwerkendheid. Die luiaard voltooi geen projek nie: “hy braai nie sy wild nie“. Die hardwerkende verwerf kosbare besittings.

Vers 28 verheerlik die pad van geregtigheid. Dit het betekenis nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die ewigheid (“dié pad is ‘nie-dood’” in die oorspronklike). Nog ‘n voorbeeld van die OT nadenke oor die ewige lewe.

Lees meer: https://bybelskool.com/spreuke-121-28-leerbaarheid-getuig-van-wysheid/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.