Skip to main content

Psalm 130 – Die Here bevry ons van die gevolge van ons sonde

20 Augustus

Psalm 130 – Die Here bevry ons van die gevolge van ons sonde

1‘n Pelgrimslied. Uit die dieptes roep ek na U, Here. 2My Heer, hoor tog my stem, laat u ore aandagtig luister na my smeekbedes. 3As U sondeskuld toereken, Here – my Heer, wie kan dan staande bly? 4Maar by U is daar vergifnis, sodat U ontsag afdwing. 5Ek wag op die Here; my hele wese wag, en op sy woord vestig ek my hoop. 6My hele wese wag op my Heer, meer as wagte op die môre, ja, wagte op die môre. 7Israel, vestig jou hoop op die Here; want by die Here is troue liefde, by Hom is volkome bevryding. 8Dit is Hy wat Israel bevry van al sy sondeskuld.

Soos Psalm 119 bely het dat God se Woord ‘n lig vir ons pad en ‘n lamp vir ons voet is – as ons na sy stem luister – só maak Psalm 130 staat op die feit dat God ook na ons stem luister, dat ons woord aan Hom vir ons vergifnis, ‘n antwoord en bevryding sal bewerk. Deur hierdie belofte verdiep die Here die ontsag vir Hom. Want, inderdaad, wie kan staande bly as die Here nie met sy vergifnis ons sondeskuld – die gevolge van ons sonde – uitwis nie? Die Psalmis bely dat ons nie ‘n intrinsieke aanspraak op die Here het, asof ons Hom kan dwing nie. Ons kan immers nie ons goeie dade teen ons bose dade laat opweeg en ongeskonde ander kant uitkom nie. Ons het nodig dat die Here eenvoudig ons skuld uitwis, soos Hy in Jesus aan die kruis gedoen het. Ons kan ons net verlaat op die genade van die Here. Gelukkig is dit so dat Hy vergewe en dat Hy daardeur die ontsag (vrees) vir Hom verdiep. Soms is ons behoefte nie aan vergifnis nie, maar aan ‘n woord van hoop, ‘n woord wat klaarheid in ons binneste sal bring, wat vir ons die pad vorentoe sal aandui. Die Psalmis wag met sy hele wese daarna, soos wat die wagte uitsien na die môre, ja, soos wagte na die môre.

Die fokus skuif teen die einde weg van die persoonlike behoefte aan vergifnis en ‘n antwoord na die gemeenskap se behoefte aan bevryding. Die Psalmis vestig die pelgrims se aandag dus op die Here se troue liefde en nooi hulle uit om hulle hoop op Hom te vestig vir bevryding, selfs al gaan hulle gebuk onder sondeskuld. Die Here het die vermoë – en die liefde! – om in oorvloed te bevry. Trouens, Hy bevry nie net van sonde nie, maar selfs van die gevolge van sonde, soos die NET Bible die laaste reël van die Psalm pragtig vertaal: “He will deliver Israel from all the consequences of their sins.”

Hierdie Psalm laat dus die behoefte van die gelowige en die geloofsgemeenskap oor mekaar skuif, want die een kan eintlik nie sonder die ander nie. Verandering kom wanneer God sentraal staan in beide jou eie lewe as in dié van jou geloofsgemeenskap. Bid dus vandag met volle oorgawe vir jouself sowel as vir die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is. En vestig jou vertroue volledig op die troue liefde van die Here. Hy sal vergewe. Hy sal ‘n antwoord gee. Hy sal bevry. Selfs van die gevolge van die sonde. Want, dít is wie Hy is.

Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-130-uit-die-dieptes-roep-ek-na-u-hoor-tog-my-stem/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar