Lukas 13:10-17 – Jy is van jou siekte verlos
Lukas 13:10-17 – Jy is van jou siekte verlos
10Op die Sabbat het Hy in een van die sinagoges onderrig gegee. 11En kyk, daar was ‘n vrou wat al agttien jaar lank gely het onder ‘n gees wat haar siek gemaak het. Sy was kromgetrek, en kon glad nie regop kom nie. 12Toe Jesus haar sien, het Hy haar nader geroep en vir haar gesê: “Mevrou, jy is van jou siekte verlos.” 13Daarna het Hy sy hande op haar gelê, en sy het dadelik regop gekom en God geloof. 14Maar die leier van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus iemand op die Sabbat gesond gemaak het, en hy het vir die skare gesê: “Daar is ses dae waarop ‘n mens moet werk. Kom dan op daardie dae om genees te word, en nie op die Sabbat nie.” 15Maar die Here het hom geantwoord: “Skynheiliges! Maak elkeen van julle nie op die Sabbat sy os of sy donkie los van die krip en lei hom uit om te drink nie? 16En hierdie vrou, ‘n dogter van Abraham, vir wie Satan al agttien jaar lank gevange hou, moes sy dan nie op die Sabbat van hierdie boeie verlos word nie?” 17Toe Hy dit gesê het, het al sy teenstanders beskaamd gestaan, maar die hele skare was verheug oor al die wonderlike dinge wat deur Hom verrig is.
Jesus illustreer die radikale verskil tussen sy lering en dié van die Fariseërs deur ’n vrou in een van die sinagoges op die Sabbat te genees, tot skaamte van sy teëstanders, en tot blydskap van die skare. Dit is ‘n verhaal wat nie in die ander Evangelies voorkom nie, hoewel dit ooreenkomste toon met die verhaal van die genesing van die man met die gebreklike hand wat al drie Sinoptiese Evangelies vertel (Luk 6:6-11; Matt 12:9-14; Mrk 3:1-6) In die sinagoge was daar ‘n vrou wat ‘n “gees van swakheid” gehad het wat haar kromgetrek het. Sy kon nie regop loop nie weens die demoniese invloed (vgl Paulus se ervaring van “swakheid” weens Satan se werking in 2 Kor 12:7-10 en dink na oor die ooreenkomste en verskille, bv dat hy gebid het vir verlossing, maar dat dit geweier is). Let op hoe Jesus heeltemal soewerein optree. Hy sien haar, Hy roep haar nader, en Hy genees haar, sonder enige insette, gebed of geloof van haar kant af. Let ook op dat haar genesing met handoplegging haar in ‘n verheerliking van God laat uitbars.
Die reaksie van die leier van die sinagoge is te wagte, omdat hulle eie reëls vir hom belangriker is as die genesing van die vrou en haar verheerliking van God. Verontwaardig probeer hy die skare leer om nie op die Sabbat vir genesing te kom nie, maar op die ander ses dae met ‘n verwysing na Genesis 1 se ses skeppingsdae en die vierde gebod se verbod om op die Sabbat te werk (Eks 20:8-11). Jesus wys egter hulle skynheiligheid uit – let op die meervoud – deurdat hulle almal heeltemal bereid is om hulle bees of donkie los te maak by die krip om hulle dors te gaan les, maar nie bereid is om op die Sabbat dieselfde genade aan ‘n Joodse vrou te bewys nie. Daarby praat die leier nie direk met Jesus nie, maar eerder met die skare.
Jesus gebruik sterk taal om te sê die vrou “moes” van die bande wat haar bind verlos word, juis op die Sabbatdag, want dit is die betekenis van die Sabbat, dat daar rus kom van die bande wat ‘n mens bind, selfs ook van die werksverpligtinge wat ‘n mens deur die week het. Al Jesus se teenstanders het besef dat wat Jesus sê waar is, en het skaam gekry, terwyl die hele skare verheug was oor al die wonderlike dinge wat Jesus onder hulle gedoen het. Interessant is dat dit lyk asof Jesus hierna nie weer in ‘n sinagoge sou optree nie, hoewel Hy sy onderrig onverpoos voorgesit het.
‘n Bietjie meer: Deur hierdie genesing vat Jesus opnuut die Joodse leiers aan oor hulle eie mensgemaakte reëls van wat mag en wat mag nie op die Sabbat gebeur nie. In plaas daarvan om die Skrif se voorskrifte te volg, het hulle hulle eie tradisies in die plek daarvan gehandhaaf en op alle Jode afgedwing. In die proses het hulle nie die Skrif gehoorsaam nie, maar hulle eie reëls. In die lig van die vorige gesprek oor bekering, sê Jesus dus vir die Jode dat hulle ook van hulle verkeerde interpretasies van die Skrif tot bekering moet kom.
Dit is ook opmerklik dat Jesus se lering oor die Sabbat ‘n verandering tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond teweeg gebring het. Waar elkeen van die nege ander gebooie van die Tien Gebooie gehandhaaf word in die NT (vgl Jesus in die Bergrede [Matt 5:17-48] en in gesprek met die ryk jongman [Mrk 10:18-19; Luk 18:19-20; Matt 19:16-21], sowel as Paulus [Rom 13:8-10; Ef 6:2] en Jakobus [Jak 2:5-13] in hulle briewe), is die vierde gebod oor die Sabbat die een gebod wat só in Jesus vervul is, dat dit nie langer ‘n voorskrif vir Christene was nie. Daarom het Paulus ook geleer dat die Sabbat, dieetreëls en die ander Joodse feeste nie meer verpligtend was vir kinders van die Here nie (Kol 2:16-23). Nie dat dit verkeerd was om dit te vier nie (Rom 14) – Paulus vier immers self die Sabbat en bring selfs nog offers – maar dit was nie meer ‘n verpligting in die Nuwe Verbond nie.
Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-121-1335-god-sorg-vir-sy-kinders-in-gevaar/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Onlangse kommentaar