Skip to main content

Sefanja 2:1-3:8 – Kom tot inkeer nasies voor die Here se gloeiende woede julle inhaal

prayer-shawlIn lyn met die raamwerk wat in hoofstuk 1 gegee is, word die oordeel oor die nasies in hoofstuk 2-3 uitgespel. Waar hoofstuk 1 net die oordeel oor Juda ekspisiet uitgespel het, word alle nasies nou ingesluit. Die oordeel oor die nasies sluit natuurlik steeds die oordeel oor Jerusalem in en strek tot by 3:8 voor die verlossing vir die oorblyfsel aan die orde gestel word in 3:9-20.

Let op hoe kunstig dit saamgestel is:

  • 2:1-3 – Oproep tot bekering
    • 2:4-7 – Teen die Filistyne in die weste (9 reëls)
      • 2:8-11 – Teen Moab/Ammon in die ooste (9 reëls)
        • 2:12 – Teen Kus in die suide (1 reël)
      • 2:13-15 – Teen Assirië in die noorde (9 reëls)
    • 3:1-5 – Teen Jerusalem (9 reëls)
  • 3:6-8 – Weiering om te bekeer

2:1-3 – Oproep tot bekering

Die oproep tot bekering word waarskynlik net aan Juda gerig. Vers 1 praat in die enkelvoud van die nasie. Dit word verder ondersteun deurdat 3:6-8 net ná die oordeel oor Jerusalem in 3:1-5 geplaas word. Jerusalem se weiering om hulle te bekeer, selfs al het hulle die oordeel van die Here oor die ander nasies gesien, word daarom téén hulle gehou.

Sefanja roep die volk op om hulle reg te ruk voordat die besluit voltrek word om hulle te oordeel. Die dag van die Here sluit die geleentheid tot bekering in. “Vra na die wil van die Here … Streef na geregtigheid, na nederigheid.” Dit is Sefanja se weergawe van Miga 6:8 se opsomming van wat die Here verwag. Miskien is daar vir hulle uitkoms.

2:4-7 – Teen die Filistyne in die weste

Vier van die stede van die Filistyne aan die westekant van Juda word genoem: Gasa, Askelon, Asdod, en Ekron. Oor hulle almal, ook dié wat van Kreta onder hulle kom woon het, voorspel Sefanja die oordeel van die Here. Hulle sal ekonomies geruïneer word, en interessant genoeg, die eiendom van Juda word wanneer die Here uiteindelik die lot van sy volk verander.

2:8-10 – Teen Moab/Ammon in die ooste

Die oordeel word ook oor die Moabiete en Ammoniete aan die oostekant van Juda uitgespreek, die nageslag van Lot, broerskind van Abraham. Die minagting en disrespek vir Juda se grondgebied word as primêre rede vir die Here se gramskap teen hulle aangegee. Daarmee het hulle die Here self geminag. Hulle sal ook ekonomies geruïneer word en die eiendom van Juda word wanneer die Here die lot van sy volk verander.

2:11-12 – Teen die kuisstreke sowel as Kus in die suide

In ‘n kort oordeelsuitspraak word ook die mense wat in die kusstreke bly sowel as die Kussiete in die suide deur die Here aangespreek. Die Here laat hulle afgode tot niet gaan en almal slegs Hom aanbid, elkeen op sy eie plek.

2:13-15 – Teen Assirië in die noorde

Die fokus skuif na die noorde en die groot bedreiging van Assirië en Nineve. Ook hulle sal tot ‘n einde kom. Nineve sal verwoes word: “Pelikane en uile sal op die stad se mooi pilare slaap, die wind sal deur die vensters huil.” ‘n Droewige prentjie.

3:1-5 – Teen Jerusalem

Ellende wag ook vir Jerusalem wat teen die Here opstandig is en besoedel is deur verdrukking. Hulle vertrou nie op die Here nie. Amptenare, regters, profete en priesters is net op eie gewin uit. Net die Here doen nie onreg in dié stad nie! Vir dié wat dit kan hoor: “Hy gee môre vir môre sy beslissing; sy beslissing bly nie een dag uit nie.” Die Hebreeuse woord wat hier met beslissing vertaal word, is geregtigheid. Die Here is dus onverpoosd besig om die reg te handhaaf, vir dié wat bereid is om daarna te luister.

3:6-8 – Weiering om te bekeer

En tóg, selfs al het die Here vir Jerusalem gewys dat Hy vertrou kan word, wil hulle nie vir Hom ontsag hê nie. Hulle: “het gretig bly sondig.” Daarom sal die oordeel oor hulle voltrek word.

Boodskap

Die Here is nie net geïnteresseerd in die nakoming van die wet nie, hoewel dit natuurlik ook deel van sy opdrag aan ons is. Wat veral opval in sy oordeel oor die volk is dat dit kom vanweë hulle weiering om Hom te raadpleeg. Hy vra van sy mense, trouens van alle mense: “Vra na die wil van die Here … Streef na geregtigheid, na nederigheid.” Hoekom? Want God sal antwoord: “Hy gee môre vir môre sy beslissing; sy beslissing bly nie een dag uit nie.

Om die Here te dien en sy goedkeuring en guns weg te dra, is dus eintlik baie eenvoudig. Ken Hom in alles wat jy doen. Vra van Hom wat sy wil is. En gaan voer dit in nederigheid uit. Dít is die pad van seën wat ‘n mens net tot jou skade ignoreer.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Sefanja


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda