Skip to main content

Sefanja 1:1-18 – Die dag van die Here bring oordeel oor dié wat die Here nie opsoek en raadpleeg nie

prayer-shawlHierdie hoofstuk is literêr baie kunstig saamgestel. Ná vers 1 die profesie histories geplaas het in die tyd van koning Josia van Juda, vervolg Sefanja met die aankondiging van die dag van die Here.

Die Here gaan die hele aarde vernietig met vuur – 1:2-3 en 1:18b

Sefanja omraam die gedeelte oor die dag van die Here met ‘n aankondiging dat die Here metafories die hele aarde gaan vernietig soos eenmaal met die sondvloed in die tyd van Noag. Let op hoe Hy in vers 2-3 sê: “Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde”. Dit sluit die mense, diere, voëls en visse in. Dit word geëggo in vers 18b: “Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land/aarde.” Die Hebreeuse woord vir land en aarde is presies dieselfde: ‘êrêtz. In die konteks verkies ek om vers 18 te verstaan as dat dit op die aarde dui, soos dit in die OAV en NIV en verskeie ander vertalings gedoen word.

Dit enigste verskil is dat die oordeel nie met water geskied nie, maar met vuur. Hier sien ons dieselfde boodskap van die ander profete rondom die oordeel van die Here wat metafories met vuur geskied (Jes. 66; Jer. 21; Eseg. 20; Joël 2; Amos 7; Miga 1) en deur die NT verder geneem en met die voleinding in verband gebring word (Matt. 13; 1 Kor. 3; Hebr. 12; Openb. 14).

Binne hierdie raamwerk wy Sefanja eerstens uit oor die sonde van Juda (1:4-9), beskryf tweedens die reaksie van die mense as God hulle oordeel (1:10-13) en beskryf derdens die katastrofale karakter van die dag van die Here wanneer dit uiteindelik in sy felheid aanbreek (1:14-18a).

Die rede vir dié verwoesting is in vers 2-3 die goddeloosheid van die mense wat nie net God geminag het nie, maar ander: “mense laat struikel het”. ‘n Mens dink onmiddellik weer aan die ooreenkomste met oortredings van die twee tafels van die wet soos dit opgesom is in die liefdesgebod in die NT.

Juda se sonde – 1:4-9

In die res van die gedeelte binne hierdie raamwerk word die sondes van die mense verder uitgepak. Sefanja verwys na die sondes van Baälaanbidding (1:4), hemelliggaam aanbidding (1:5), kinderoffers aan Milkom (1:5), en doodgewoon: “dié wat die rug vir die Here draai, nie na sy wil vra nie en Hom raadpleeg nie.” (1:6).

Daarby word gevoeg: dié wat “uitlandse klere dra” (1:8 – ander kulturele gebruike aanneem), bygelowe handhaaf deur bv, nie op ‘n drumpel te trap nie (1:9 – dit verwys moontlik na die Filistynse gebruik om nie op die drumpel van die tempel te trap nie ná die val van die afgod Dagon, soos in 1 Sam. 5:5 vertel), geweld en bedrog (1:9) en selftevredenheid waarin nie met God rekening gehou word nie (1:12).

Die Here gaan dit alles uit “hierdie plek” uitroei.

Juda se reaksie – 1:10-13

Die nood en smart in die stad word baie konkreet beskryf met die benoeming van die plekke waar dit in Jerusalem ervaar sal word. Die Vispoort was in die noorde, die tweede stadswyk was waarskynlik ‘n nuwer deel (by wyse van spreke, anderkant die spoor), en die Vysel waarskynlik ‘n aanduiding van die markplein. Sosiaal en ekonomies sal Jerusalem verwoes word tot groot verbasing en afgryse van dié wat gedink het dat die Here nie goed óf kwaad kan doen nie.

Die katastrofale karakter van die dag van die Here – 1:14-18a

Die dag van die Here kom met geweld. Dit is ‘n dag van nood en benoudheid – let op hoe poëties dit beskryf word met metafore uit die natuur. Angs pak die mense beet en laat hulle soos blindes loop. Geen rykdom sal in dié dag enigiemand red nie. Silwer en goud sal nutteloos wees, wanneer: “die hele land verteer word deur die vuur van sy woede.

Sefanja


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar