Skip to main content

Sefanja 3:9-20 – Ná die oordeel sal die Here julle nuut maak met sy liefde

prayer-shawlSefanja sluit sy boek af met drie van die mooiste boodskappe van hoop wat in die Twaalf Kleiner Profete, trouens in die hele OT, te vinde is:

  • 3:9-13 – Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak – daarvoor kan ons bid.
  • 3:14-17 – Die Here jou God is by jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde – die belofte kan ons toeëien.
  • 3:18-20 – Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het – dit is ‘n groot troos.

3:9-13 – Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak

Sefanja spring weg met ‘n belofte dat God nie net die volk vanuit die ballingskap sal terugbring nie. Hy sal ook wêreldwyd ingryp: “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.” (3:9). Hy neem ook die skande en skaamte weg wat die ballingskap vir die Godsvolk gebring het. Sy doel met die ballingskap sal dan bereik wees: “Jy sal nie meer vol hoogmoed wees daar op my heilige berg nie.” (3:11).

Dit is duidelik dat die Here net ‘n pad kan stap met dié wat nederig en ootmoedig is, dié wat op Hom vertrou en nie op hulleself en hulle eie krag staatmaak nie. Dit is net dié mense wat die wet sal kan nakom, dít wat in die Tôrâ beskryf is. Aan die een kant sal hulle: “nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie.” (3:13). Aan die ander kant sal hulle: “’n kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak nie.” Psalm 23 gaan vir hulle in vervulling.

3:14-17 – Die Here jou God is by jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde

Sefanja se fokus skuif na die toekomstige vrede wat in Juda en Jerusalem sal heers. Die volk kan solank hulleself verheug in wat gaan kom: “Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” Die oorlog sal vergete wees die vyand verslaan. Die Here self sal as Koning optree en hulle van rampe beskerm. Hulle moedeloosheid sal verdwyn.

Let op hoe pragtig Sefanja die teenwoordigheid van die Here beskryf: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (3:17). Die voorgestelde BDV se vertaling gebruik vir die middelste deel ‘n ander tekslesing wat egter net so ‘n pragtige boodskap is: “Die HERE jou God is in jou midde, ‘n held wat bevry. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou nuut met sy liefde. Hy sal met uitroepe van vreugde oor jou jubel.

3:18-20 – Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het

Sefanja eindig met ‘n besondere woord van troos: “Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.” (3:18). ‘n Mens kan daarin iets raaksien van die feit dat die Here baie bewus is van dié wat ter wille van ander regoor die wêreld en regdeur die eeue smaad gedra het. Soos Peterson die vers vertaal: “The accumulated sorrows of your exile will dissipate. I, your God, will get rid of them for you. You’ve carried those burdens long enough.” (The Message).

Dit is een van die helder boodskappe wat Sefanja dus vir ons gee. God tree op en stel onreg reg. Hy vra nie van ons iets wat Hyself nie ook doen nie. Soos Hy van ons verwag dat ons reg sal doen, só sal Hyself altyd reg laat geskied, al sluit dit ook in dat Hy straf om deur die straf dinge reg te stel. “Wanneer die tyd daar is,” sal die Here hulle lot verander.

Boodskap

Drie verse uit dié pragtige hoopvolle gedeelte bly my by, een uit elkeen van die drie perikope. Dit is die moeite werd om dit te memoriseer en met jou saam te dra as gebed, belofte en troos.

GEBED: “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.” (3:9) – dit is ‘n gebed wat ons daagliks kan en moet bid ter wille van hierdie wêreld. Ons mag nie ophou nie. Die Here sal antwoord en meer doen as wat ons bid of dink.

BELOFTE: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (3:17) – dit is ‘n belofte wat vir elke kind van God geld. Jy kan dit vir jou elke dag van jou lewe toeëien. Jy kan ook die voorgestelde BDV se vertaling gebruik wat, hoewel die middelste deel op ‘n ander tekslesing gegrond is, net so geldig is vir ons lewe: “Die HERE jou God is in jou midde, ‘n held wat bevry. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou nuut met sy liefde. Hy sal met uitroepe van vreugde oor jou jubel.

TROOS: “Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.” (3:18) – die Here is baie bewus van dié wat ter wille van ander regoor die wêreld en regdeur die eeue smaad gedra het. Soos Peterson vertaal: “The accumulated sorrows of your exile will dissipate. I, your God, will get rid of them for you. You’ve carried those burdens long enough.” Daar kom ‘n einde aan lyding. Die Here sien raak wat jy doen vir ander, en die pyn wat baie keer daarmee gepaard gaan. Die Here haal uiteindelik die las van ons skouers af. Hy verander die lot van sy mense. Daarvoor kan ons Hom vertrou.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Sefanja


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.