Skip to main content

Sefanja – Ruk julle reg voor die toorn van die Here julle tref

prayer-shawlInleiding

Die negende boek van die Twaalf Kleiner Profete is Sefanja. Hy is ‘n tydgenoot van Jeremia, Nahum, Obadja en moontlik Joël. Sefanja waarsku Juda en Jerusalem dat die belydenis van God se hulp in die profeet Nahum net vervulling kan vind in die nougesette terugkeer na en bekering tot die Here. Anders sal sy toorn hulle net so seker tref as wat dit Nineve sal tref. Hy profeteer ook téén die nasies (2:4-15).

Sefanja verkondig sterk – soos die profeet Joël – dat die “dag van die Here” (1:7,14) gaan aanbreek. Verwysings na “die/daardie dag” kom bv. 16 keer voor tussen 1:7 en 2:3! Hierdie dag van die Here sluit soos by al die ander profete oordeel en genade in. Vergelyk bv. 2:1-3 waar die dag moontlik ‘n geleentheid tot bekering kan wees: “Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here.” Maar, sonder bekering sal die oordeel van die Here die volk verwoes, soos inderdaad met die wegvoering in ballingskap gebeur het.

Continue reading

Sefanja 1:1-18 – Die dag van die Here bring oordeel oor dié wat die Here nie opsoek en raadpleeg nie

prayer-shawlHierdie hoofstuk is literêr baie kunstig saamgestel. Ná vers 1 die profesie histories geplaas het in die tyd van koning Josia van Juda, vervolg Sefanja met die aankondiging van die dag van die Here.

Die Here gaan die hele aarde vernietig met vuur – 1:2-3 en 1:18b

Sefanja omraam die gedeelte oor die dag van die Here met ‘n aankondiging dat die Here metafories die hele aarde gaan vernietig soos eenmaal met die sondvloed in die tyd van Noag. Let op hoe Hy in vers 2-3 sê: “Ek gaan ‘n einde maak aan alles op aarde”. Dit sluit die mense, diere, voëls en visse in. Dit word geëggo in vers 18b: “Hy bring vernietiging en skrik oor al die inwoners van die land/aarde.” Die Hebreeuse woord vir land en aarde is presies dieselfde: ‘êrêtz. In die konteks verkies ek om vers 18 te verstaan as dat dit op die aarde dui, soos dit in die OAV en NIV en verskeie ander vertalings gedoen word.

Continue reading

Sefanja 2:1-3:8 – Kom tot inkeer nasies voor die Here se gloeiende woede julle inhaal

prayer-shawlIn lyn met die raamwerk wat in hoofstuk 1 gegee is, word die oordeel oor die nasies in hoofstuk 2-3 uitgespel. Waar hoofstuk 1 net die oordeel oor Juda ekspisiet uitgespel het, word alle nasies nou ingesluit. Die oordeel oor die nasies sluit natuurlik steeds die oordeel oor Jerusalem in en strek tot by 3:8 voor die verlossing vir die oorblyfsel aan die orde gestel word in 3:9-20.

Let op hoe kunstig dit saamgestel is:

  • 2:1-3 – Oproep tot bekering
    • 2:4-7 – Teen die Filistyne in die weste (9 reëls)
      • 2:8-11 – Teen Moab/Ammon in die ooste (9 reëls)
        • 2:12 – Teen Kus in die suide (1 reël)
      • 2:13-15 – Teen Assirië in die noorde (9 reëls)
    • 3:1-5 – Teen Jerusalem (9 reëls)
  • 3:6-8 – Weiering om te bekeer

Continue reading

Sefanja 3:9-20 – Ná die oordeel sal die Here julle nuut maak met sy liefde

prayer-shawlSefanja sluit sy boek af met drie van die mooiste boodskappe van hoop wat in die Twaalf Kleiner Profete, trouens in die hele OT, te vinde is:

  • 3:9-13 – Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak – daarvoor kan ons bid.
  • 3:14-17 – Die Here jou God is by jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde – die belofte kan ons toeëien.
  • 3:18-20 – Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het – dit is ‘n groot troos.

3:9-13 – Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak

Sefanja spring weg met ‘n belofte dat God nie net die volk vanuit die ballingskap sal terugbring nie. Hy sal ook wêreldwyd ingryp: “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.” (3:9). Hy neem ook die skande en skaamte weg wat die ballingskap vir die Godsvolk gebring het. Sy doel met die ballingskap sal dan bereik wees: “Jy sal nie meer vol hoogmoed wees daar op my heilige berg nie.” (3:11).

Dit is duidelik dat die Here net ‘n pad kan stap met dié wat nederig en ootmoedig is, dié wat op Hom vertrou en nie op hulleself en hulle eie krag staatmaak nie. Dit is net dié mense wat die wet sal kan nakom, dít wat in die Tôrâ beskryf is. Aan die een kant sal hulle: “nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie.” (3:13). Aan die ander kant sal hulle: “’n kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak nie.” Psalm 23 gaan vir hulle in vervulling.

3:14-17 – Die Here jou God is by jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde

Sefanja se fokus skuif na die toekomstige vrede wat in Juda en Jerusalem sal heers. Die volk kan solank hulleself verheug in wat gaan kom: “Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” Die oorlog sal vergete wees die vyand verslaan. Die Here self sal as Koning optree en hulle van rampe beskerm. Hulle moedeloosheid sal verdwyn.

Let op hoe pragtig Sefanja die teenwoordigheid van die Here beskryf: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (3:17). Die voorgestelde BDV se vertaling gebruik vir die middelste deel ‘n ander tekslesing wat egter net so ‘n pragtige boodskap is: “Die HERE jou God is in jou midde, ‘n held wat bevry. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou nuut met sy liefde. Hy sal met uitroepe van vreugde oor jou jubel.”

3:18-20 – Ek gaan nou optree teen almal wat jou verdruk het

Sefanja eindig met ‘n besondere woord van troos: “Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.” (3:18). ‘n Mens kan daarin iets raaksien van die feit dat die Here baie bewus is van dié wat ter wille van ander regoor die wêreld en regdeur die eeue smaad gedra het. Soos Peterson die vers vertaal: “The accumulated sorrows of your exile will dissipate. I, your God, will get rid of them for you. You’ve carried those burdens long enough.” (The Message).

Dit is een van die helder boodskappe wat Sefanja dus vir ons gee. God tree op en stel onreg reg. Hy vra nie van ons iets wat Hyself nie ook doen nie. Soos Hy van ons verwag dat ons reg sal doen, só sal Hyself altyd reg laat geskied, al sluit dit ook in dat Hy straf om deur die straf dinge reg te stel. “Wanneer die tyd daar is,” sal die Here hulle lot verander.

Boodskap

Drie verse uit dié pragtige hoopvolle gedeelte bly my by, een uit elkeen van die drie perikope. Dit is die moeite werd om dit te memoriseer en met jou saam te dra as gebed, belofte en troos.

GEBED: “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.” (3:9) – dit is ‘n gebed wat ons daagliks kan en moet bid ter wille van hierdie wêreld. Ons mag nie ophou nie. Die Here sal antwoord en meer doen as wat ons bid of dink.

BELOFTE: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” (3:17) – dit is ‘n belofte wat vir elke kind van God geld. Jy kan dit vir jou elke dag van jou lewe toeëien. Jy kan ook die voorgestelde BDV se vertaling gebruik wat, hoewel die middelste deel op ‘n ander tekslesing gegrond is, net so geldig is vir ons lewe: “Die HERE jou God is in jou midde, ‘n held wat bevry. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou nuut met sy liefde. Hy sal met uitroepe van vreugde oor jou jubel.”

TROOS: “Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.” (3:18) – die Here is baie bewus van dié wat ter wille van ander regoor die wêreld en regdeur die eeue smaad gedra het. Soos Peterson vertaal: “The accumulated sorrows of your exile will dissipate. I, your God, will get rid of them for you. You’ve carried those burdens long enough.” Daar kom ‘n einde aan lyding. Die Here sien raak wat jy doen vir ander, en die pyn wat baie keer daarmee gepaard gaan. Die Here haal uiteindelik die las van ons skouers af. Hy verander die lot van sy mense. Daarvoor kan ons Hom vertrou.

Sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie

Jacob Jordaens, Diogenes Searching For An Honest Man, ca. 1642 (Gemaldgalerie Alte Meister, Dresden)

Diogenes, ‘n Griekse filosoof, was bekend daarvoor dat hy met ‘n lamp rondgeloop het op soek na ‘n eerlike mens, iemand wat op die waarheid fokus. Sy soektog was egter vrugteloos.

Sefanja gebruik ‘n soortgelyke beeld van God met ‘n lamp wat deur Jerusalem se strate beweeg. Sy missie is egter om die goddeloses uit te roei:

“En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.” (Sef 1:12).

In sy gramskap het Hy die volk in ballingskap gestuur, ‘n teken van wat Hy uiteindelik met die hele aarde sal doen:

“want Hy bring vernietiging, ja, ’n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.” (Sef 1:18).

Die goeie nuus in die NT is dat God uitkoms gee vir dié wat in Jesus Christus glo. God het die wêreld só lief gehad:

“dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Joh 3:16).

Die slegte nuus is egter, soos in Sefanja se tyd, dat ongelowiges die duisternis liewer het as die lig. Hoekom? Want hulle werke is boos. Hulle kan nie bekostig om in die lig te kom daarmee nie, sodat hulle werke nie bestraf kan word nie (Joh 3:19-20).

Watter tragiese keuse vir korttermyn voordele, maar langtermyn gevolge.

 

Onlangse kommentaar