Skip to main content

Romeine 8:18-30 – God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet

17 Februarie

Romeine 8:18-30 – God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet

18Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie. 19Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word. 20-21Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. 22Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. 23En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame. 24Ons is immers verlos in hoop. Maar die hoop wat gesien kan word, dit is nie regtig hoop nie; want wie hoop nog op wat ‘n mens reeds kan sien? 25Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. 26So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. 27Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is; 29want Hy het hulle wat Hy reeds tevore geken het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees;30en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Let op hoe Paulus met hierdie gedeelte nie net die gevolge van die vryspraak van God vir sondige mense uitspel nie, maar ook vir die hele skepping. Dit is nie net God se kinders wat bevry sal word om in vrede met God en met vrye toegang tot Hom te kan lewe nie. Nee, dit is ook die skepping wat bevry sal word. Daarmee lê Paulus ook ’n direkte verband met hoofstuk 1 en die beskrywing van die verganklikheid en verydeling wat met die goddeloosheid en ongeregtigheid in die skepping ingekom het. En die skepping wag met gespanne verwagting na die finale bevryding van die kinders van God, omdat dit ook sy eie bevryding sal beteken.

Interessant is dat die werk van die Gees nie net is om ons te oortuig van ons kindskap nie, maar dat Hy ook die hoop in ons aan die brand steek om te wag op daardie bevryding en verheerliking met volharding. Hierdie werk van die Gees is iets wat in ons hart gebeur, wat ons op ‘n baie besondere manier verbind aan ons Vader wat in die hemel is. Die Gees tree vir ons in deur vanuit ons hart, vanuit ons ongevormde gedagtes, met God in gesprek te tree. Hy bring ons sugte voor God in die vorm van sy eie versugtinge, om dié dinge wat ons nie weet nie in goddelike terme aan die Vader te bring. Hy is immers die Helper, die Voorspraak, die Trooster, die Advokaat (Terloops, Jesus doen dit ook in die hemel – Hebr 7:25!). En God, wat weet wat in ons hart, in ons gedagtewêreld, aangaan, weet ook wat die bedoeling van die Gees is. God reageer dus nie net op ons eie onbeholpe woorde nie, maar juis op die gebed van die Gees wat seker maak dat God se wil in ons lewe sal plaasvind. Wanneer ons dus swak is en nie mooi weet waarvoor ons behoort te bid nie, dan kom die Gees ons te hulp!

Met hierdie gedeelte praat Paulus ons dus moed in, spoor hy ons aan om te volhard, motiveer hy ons met die klem op die inwonende Gees. En die belofte van Rom 8:28 dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet, is die spil van ons hoop. Dit is weens die werking van die Gees dat: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.” Dit is hierdie belofte wat ons vandag daarom kan vasgryp. Dit maak nie saak of ons presies weet wat moet gebeur nie. God weet wat moet gebeur. En sy belofte is dat alles ten goede sal meewerk vir hulle wat God liefhet, vir ons wat volgens sy voorneme geroep is. Let op na die feit dat God ons: “vooruit geken” het. Dit is omdat God ons vooruit geken het, van ons geweet het, selfs nog voor ons gebore is, dat Hy ons kon bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word. God wou hê dat Jesus nie alleen as mens in die hemel saam met Hom sal wees nie, maar dat daar ‘n skare broers en susters vir Hom sal wees, ‘n nuwe geloofsfamilie. Jesus is die prentjie wat God vir almal van ons het. Hy is die Eersgeborene (prōtotokos), die sjabloon, die templaat, die “mold” van die tipe mens wat God van almal van ons wat in Hom glo, wil maak. Dit is daarom die doel van alles wat met jou gebeur. Die goeie en die slegte. God laat alles ten goede meewerk in jou lewe sodat jy gelykvormig kan word aan die beeld van sy Seun. Daarom: God sal alles ten goede vir jou laat meewerk.

Lees meer (‘n vorige preek): https://ngkerksomerstrand.co.za/god-laat-alles-ten-goede-meewerk-romeine-826-30/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar