Skip to main content

Lukas 6:27-38 – Dié wat in liefde lewe teenoor almal sal kinders van die Allerhoogste wees

16 Februarie

Lukas 6:27-38 – Dié wat in liefde lewe teenoor almal sal kinders van die Allerhoogste wees

27“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê. Doen goed aan diegene wat julle haat. 28Seën die mense wat julle vervloek. Bid vir diegene wat julle sleg behandel. 29As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. 30Gee aan elkeen wat iets van jou vra, en wanneer iemand vat wat aan jou behoort, moet jy dit nie terugeis nie. 31Soos julle wil hê die mense aan julle moet doen, doen ook so aan hulle. 32As julle diegene liefhet wat vir julle liefhet, hoe kan julle enige dank verwag? Want ook die sondaars het diegene lief wat hulle liefhet. 33En as julle net goeie dinge doen vir die mense wat goeie dinge vir julle doen, hoe kan julle enige dank verwag? Die sondaars doen dieselfde. 34En as julle net geld uitleen aan mense van wie julle hoop om dit terug te kry, hoe kan julle enige dank verwag? Sondaars leen ook aan sondaars, solank hulle maar net dieselfde bedrag kan terugkry. 35Nee, julle moet julle vyande liefhê, doen goeie dade, en leen uit sonder om iets terug te verwag. Dan sal julle ‘n groot beloning ontvang en kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self die ondankbares en slegtes goed behandel. 36Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is.” 37“Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word. 38Gee, en aan julle sal gegee word – ‘n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens toe vol, sal in julle skoot val. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word.”

Jesus vra van sy dissipels om hulle vyande lief te hê, om goed te doen aan dié wat hulle haat, om te gee sonder om terug te verwag, om soos God self die ondankbares en slegtes goed te behandel. Dit is deur liefde en goed doen wat die koninkryk aanbreek. Dit is nie genoeg om jouself te keer om te haat of te verwens nie. Die Here vra van ons om ‘n heel ander en radikale gesindheid te openbaar teenoor dié wat dit juis nie verdien nie. Om tot ‘n seën vir hulle te wees en vir hulle te bid. Dit is omdat Jesus wil hê dat ons nie geweld met geweld moet ontmoet nie, want dit sal beteken dat ons nie meer sal kan uitreik na sulke mense nie. Dit sluit nie uit dat ‘n mens in gesprek kan tree met iemand wat jou slaan nie. Jesus illustreer dit later in sy verhoor toe Hy die dienskneg wat Hom met die oop hand geklap het reguit vra oor die wettigheid van sy optrede (Joh 18:22). Maar geweld kan nie met geweld ontmoet word nie.

Jesus wys daarop dat die liefde van sy kinders vir ander nie afhanklik is van daardie mense se wederkerige liefde nie. Sondaars doen immers dieselfde. Kinders van die Allerhoogste moet meer doen as die sondaars. Hulle moet dié liefhê wat nie die liefde terug beantwoord nie, want anders het hulle nie soos God lief nie. Dieselfde geld van goeddoen. Hulle moet soos God goed doen. Dieselfde geld van die leen van geld. As jy leen om dieselfde bedrag terug te ontvang, is jy nie vrygewig soos God nie. Só ‘n radikale liefde bou vir ons ‘n skat by God op, en bevestig aan ons dat ons sy kinders is, die kinders van die Allerhoogste.

Jesus sê ook duidelik hier dat ons nie skynheilig moet oordeel of nog erger veroordeel nie, anders sal jy ook geoordeel of veroordeel word. Daar is ‘n plek vir teregwysing en vermaning in die gemeenskap van gelowiges. Trouens, dit is een van die merktekens van ‘n gesonde gemeenskap waarin leiers ‘n belangrike rol speel (vgl Matt 18;15-35; 1 Tess 5:12-15; 1 Kor 5-6; 2 Tim 3:16; 4:2; Tit 1:9; Hebr 3:13; 13:22; 1 Pet 2:11). Die oomblik wat ‘n mens egter die grens na veroordeling en vergelding oorsteek, gaan jy te ver. Wraak lei tot weerwraak. Die siklus van haat moet verbreek word, en dit kan net deur liefde gedoen word. Waar vyande liefgehê word, kan die vyandskap deurbreek word. Waar goed gedoen word aan haters, kan die haat uitgewis word. Waar vloekers geseën word, kan die vervloektes met hulle versoen word. Waar gebid word vir boosdoeners kan God ingryp om alles nuut te maak. Die oordeel behoort aan die Here. Hy neem daarvoor verantwoordelikheid. Ons kan dit gerus in sy hand laat.

Lees meer: https://bybelskool.com/lukas-61-49-luister-en-leef/


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.
  • Marius smit on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieHoekom beskerm die Here jou juis aan jou regterkant?
  • runawayjoyous2427b27b07 on Eenjaar Bybelleesprogram – 366 daeBaie dankie!